Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Winston Churchill het gesê: Ons maak ‘n bestaan uit wat ons ontvang, maar ons skep ‘n lewe deur wat ons gee.
KOM SAAM MET MY
Ds Andrè vd Berg
Nuwejaar
“En na die dood van Josua het die kinders van Israel die Here geraadpleeg en gesê: Wie van ons moet eerste optrek teen die Kanaäniete om teen hulle te veg? En die Here het gesê: Juda moet optrek. Kyk, Ek gee die land in sy hand. Toe sê Juda aan sy broer Simeon: Trek saam met my op in my aandeel, dat ons die Kanaäniete kan beveg, dan sal ek ook met jou optrek in jou aandeel. En Simeon het saam met hom getrek”. (Rigt.1:1-3)
As daar iets sleg met mense gebeur, gee hulle maklik die noodlot die skuld daarvoor. Maar wat is die noodlot? Is daar so ʼn iets? Nee, dis ʼn heidense begrip en nie deel van gelowiges se woordeskat nie. Gelowiges glo in die raad van God. Dit beteken dat alles volgens God se wil geskied. Heidene glo weer dat mense se lewens deur ʼn magdom van onsigbare magte beheer word wat woer-woer daarmee kan speel en dinge toevallig willekeurig laat gebeur.
Gelowiges glo dit vir geen oomblik nie. Niks gebeur toevallig nie. Israel was tydens hul woestyntog deeglik daarvan bewus. As gelowige volk het hulle God in alle sake geraadpleeg ook toe hulle moes besluit watter een van die stamme die Kanaäniete eerste moes aandurf om hul beloofde deel in Kanaänland te ontvang. ʼn Mens sou dink dat Ruben die oudste seun, aangewys sou word. Hy sou nie.
God het Juda met ʼn doel aangewys want eeue later sou Hy sy Seun uit die stam van Juda gebore laat word om Israel na ʼn nuwe Kanaän te lei – ʼn geestelike ryk sonder geografiese grense en met ʼn eie burgerskap. Die Heilige Gees het gelowiges in ʼn nuwe eenheid begin saamtrek - die “geestelike Israel”. Nie meer ʼn geografiese volk soos met Israel nie maar ʼn nuwe geestelike volk.
“En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Gal.3:29).
Israel was eeue lank die uitverkore volken gunsgenote van God. Toe hulle Jesus verwerp, het God hul hierdie goddelike guns ontsê. Jesus het Israel reeds op aarde gewaarsku dat dit met hulle gaan gebeur:
“Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra” (Mt.21:43).
Dit kom op ʼn splinternuwe erfenis neer. ʼn Erfenis is iets wat jy ontvang en waarvoor jy nie gewerk het nie. Iemand anders het wel daarvoor gewerk. Die ontvanger ontvang dit slegs omdat hy die gewer se guns gehad het. Dis hoe ons redding werk; ons het niks daarvan verdien nie maar God het ons op grond van ons bekering guns betoon en ons erfgename van ʼn ewigheid saam met Hom gemaak.
In die OT lees ons dat Abraham, nadat God hom geroep en hy gehoorsaam weggetrek het, ʼn erfenis van God ontvang het. Dit was egter nie ʼn Utopia nie. Hy en sy gesin het soos vreemdelinge op vreemde grondgebied in tente moes woon. Dit het hom egter nie ontnugter nie. Hy het in sy geestesoog gesien hoe God se uiteindelike erfenis vir hom lyk.
Die Hebreërbriefskrywer skryf:
“Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (11:10).
Van Moses skryf hy iets soortgelyk:
“.. want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien” (:27)
Die erfenis wat Juda en die ander stamme van Israel ontvang het, het meer as bloot terloopse betekenis. Die wyse waarop Juda sy erfdeel in besit gaan neem het, verdien ons aandag. Juda se versoek aan Simeon om saam met hom op te trek om dit in besit te gaan neem is ʼn universele oproep aan elke gelowige om sy geestelike erfgoed in besit te gaan neem.
Alhoewel Israel die beloofde land saam uit die hand van God ontvang het, het elke stam sy afsonderlike deel van Kanaän in ontvangs gaan neem. Die hemelse Landmeter het elkeen se eie woongebied afgemeet, vooraf hoekpale ingeplant, die oordragdokumente geteken en daarna die kaart en transport aan elk besorg. Dis tot vandag toe hulle land en so sal dit tot aan die voleinding bly al maak die Palestyne ook wat!
Met ons geestelike erfenis is dit eenders. Enersyds behoort die wonder dat God ʼn blanke volk aan die suidpunt van Afrika geplant het aan ons almal. Andersyds moet elkeen die deel wat God vir hom bestem het as ʼn gawe uit sy hand bewaar en waardeer. God wil dat elkeen van ons in hierdie begenadigde volk se siel gered word. Hy verskaf die nodige hulpmiddels soos die Bybel, evangeliese kerke wat die volle waarheid preek, Bybel-gefundeerde belydenisskrifte, geroepe predikers en die nodige kerklike amptes om gelowiges teen Satan se aanvalle te bewaar en geestelik op te bou.
Kanaän het destyds nie soos ʼn ryp vrug in Israel se skoot geval nie. Hulle moes vyande op hul pad verslaan om hul erfenis te bekom en dit telkens daarna te bewaar. Nadat hulle gevestig geraak het, was hulle gereeld in oorloë gewikkeld ten einde hul erfenis te verdedig.
Dis nie anders met ons Boerevolk gesteld nie. Soos wat die eerste kerk baie vyande gehad het wat die hoof gebied moes word, het die kerk van die nuwe bedeling ook met vyande te kampe. Efes.6 skets hierdie vyande as onsigbare bose magte wat daarop uit is om ons van ʼn goddelike erfenis te beroof. Daarom is elke burger van die koninkryk van God (gelowige) in ʼn worstelstryd gewikkeld totdat Jesus op die wolke kom!
Hierdie stryd durf nie ʼn eensame stryd te wees nie. Daar is talle gelowige wat saam met ons stry. En dis die les wat Juda en Simeon ons vandag leer:
“Kom saam met my en ek gaan weer saam met jou”.
Ons geestelike erfenis lê soos dié van Israel met mekaar verbonde. Ons het onderlinge ondersteuning, gebede, bemoediging en kameraadskap meer as ooit nodig.
God wil ons deur eendrag versterk. Eendrag maak Mag. Na die hemelvaart lees ons in Hand.1:14:
“Hulle almal het eendragtig volhard in gebed en smeking....”
In die volgende hoofstuk lees ons dat die eerste Christene so eendragtig was dat dit die publieke oog opgeval het:
“...terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is “ (:47).
Toe Juda en Simeon saam teen die volksvyand opgetrek het, het God die vyand in hul hand gegee. Hulle sukses was eerstens aan God se genadebeskikking en tweedens aan die krag van samehorigheid toe te skryf. Hulle het soos een man saamgestaan en oorwin. Die Griekse woord vir samehorigheid is symphonia. Samehoriges is soos ʼn simfonie-orkes wat saamspeel. As elke lid besluit om na goeddunke te speel, sal die musiek die wanklanke lewer. As almal saamspeel, is die resultaat harmonieus en wonderlik.
Dis tyd dat ons as gelowiges teen die werklike vyand begin saamstaan. Ons is ʼn verspreide minderheid in ʼn vyandige meerderheidsbestel wat niks vir Jesus voel nie. Ons is saam in hierdie geestelike en staatkundige verval en het mekaar meer as ooit nodig. Al is ons in verskillende bootjies, vaar ons op dieselfde volkswater. Ons is soos engele met net een vlerk, wat net kan vlieg as ons aan mekaar vashou. As ons nie as helde gaan saamstaan nie, gaan ons as dwase omkom!
Eenheid gee krag. Let op sneeuvlokkies - dis sag, maar as hulle saamstaan, is dit ʼn krag om mee rekening te hou. Die volksvyand het ons fondamente hard geskud. Moenie toelaat dat hulle ons geestelike staal vernietig nie!
Die geskiedenis getuig van mense wat weens hul onwrikbare geloof in Christus asook hul liefde vir hul volk uitsonderlike instrumente in God se hand was. Wat van jou? Is jy te sleg om ook een te wees? Daar is niks met ons land verkeerd wat nie met dit wat reg is gesond gemaak kan word nie.
Pleit saam met my aan die begin van hierdie nuwe jaar dat God vanjaar deur sy Gees eenstemmigheid onder ons Boerevolk sal bring sodat die verval in ons volkslewe daadwerklik einde sal kry.
Ons het ʼn wonderlike belofte uit die Woord van God:
“...en as my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees: (2 Kron.7:14).
Ons stryd om oorlewing is soortgelyk aan dié van oud-Israel en ten diepste ook ʼn geestelike stryd teen lig versus duisternis. Laat ons hartstog vir die waarheid asook vir reg en geregtigheid vir almal net te belangrik wees om ooit die stryd vir ons Here Jesus aan die suidpunt van Afrika gewonne te gee!