Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Weet jy dat Jesus jou sondes aan die kruis gestraf het sodat jy vergewe kon word? Gaan lei dan met dankbaarheid 'n vrugbare lewe tot eer van sy heilige Naam.
IS JY WERKLIK LIEF VIR JESUS?
Ds A.E. van den Berg
“As julle My liefhet, bewaar my gebooie .... As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar” (Joh.14:15; 23).
Toe Jesus die woorde van Joh.14 uitgespreek het, was sy inhegtenisname voor die deur en nie lank daarna nie ook sy hemelvaart. Jesus wou die dissipels op ʼn toekoms sonder Hom voorberei. Hulle was uiteraard baie ontsteld oor sy voorgenome vertrek want wat sou van hulle sonder Hom word?
Die Christendom was op daardie tydstip ʼn nuwe geloof. Hoe sou die dissipels sonder Jesus se fisiese teenwoordigheid daarmee kon volhard? Hy antwoord hulle dat daar een manier is om wel in die geloof te volhard:
“...bewaar my gebooie”.
Wie God se wil doen, struikel nie op die lewenspad nie.
ʼn Duisend jaar voor Jesus skryf Salomo:
“ Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak” (Spr.3:5,6).
Wat beteken Jesus se woorde: “...bewaar my gebooie”? Om Hom en sy leer teen dwaling te beskerm en soos ʼn goeie boom vrugbaar te wees:
“ En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit” (Ps.1:3).
Wie God se Woord gehoorsaam, is van sy bystand verseker:
“Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak” (Spr.3:6).
Let op: in al jou weë.
Om vir Jesus diensbaar te wees, moet ons die waarheid liefhê en gehoorsaam. Dis die beste bewys dat ons God liefhet. Baie mense gee voor om Jesus lief te hê, maar verdedig nie die Bybelse waarhede nie. Sommige verdraai dit om hul eie leer te pas en soek na leraars wat preek wat hulle graag wil hoor:
“Want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim.4:3,4).
Die dissipels wou deur hul ontsteltenis vir Jesuswys hoe lief hulle Hom het.
“Here, kyk hoe ontsteld is ons. Ons wil nie hê dat U moet weggaan nie!”
Nee, emosionele vertoon beteken niks nie want liefde vir God lyk anders; dis volstrekte gehoorsaamheid aan sy Woord. Wie Hom liefhet, doen wat Hy vra. Dis soos kinders wat hul liefde vir hul ouers deur gehoorsaamheid bewys.
Gehoorsaamheid aan Jesus vind nie heimlik plaas nie. Dis sigbaar. In Joh.21 vra Jesus vir Petrus:
“...het jy My waarlik lief? en sê: “Laat my lammers wei” (:15).
Gelowiges word aan ʼn lewe van gehoorsame toewyding gekenmerk. In Joh.15 vergelyk Jesus dit met ʼn wynstok en lote.
“Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie” (:5).
Liefde vir Jesus lewer vrugte op.
Wie Jesus liefhet, staan mense wat sy Woord aanrand en verdraai bewustelik teen:
” Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Gal.6:7).
“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim.3:16,17).
Wie Jesus liefhet ken die Bybel, die bron van alle waarheidwat verhoed dat mense struikel:
“Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord” (Ps.119:9).“U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (:105).
Die Bybel is in elkeen wat Jesus liefhet se hart. Niemand gaan hemel toe net omdat hy die Bybel lees en tekste kan opsê nie. As die Bybel nie deur ʼn sondaar se hart spoel nie, bly sy hart vuil en verdoemenswaardig.
By geleentheid sê ʼn ongelowige vir ʼn gelowige: ”Ek is al ʼn paar maal deur die Bybel en voel nog dieselfde. Dit het niks aan my lewe verander nie”waarop die gelowige hom vra: “Ja, maar is die Bybel al eenmaal deur jou?” Dit laat ʼn mens aan die woorde van Ges.93 dink: “O, Heer, maak oop my hart se poort; maak my ontvanklik vir u Woord”.
Ons moet veral baie versigtig vir emosioneel-godsdienstige opwelling sonder Bybelse begronding wees. Dit neem skerp toe. Jesus waarsku in die Bergrede:
“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk” (Mt.7:21-23).
Gelowiges durf dwaalleer nie gelate aanvaar nie. As God se soldate moet ons die waarheid verdedig en daardeur ons liefde vir Hom bewys:
“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Efes.6:11-13).
Mense het talle verskonings om nie te doen wat Jesus vra nie. Sommige sê so maklik dat hulle nie genoeg Bybelkennis het om dwaalleer teen te staan nie. Is so ʼn verskoning vir Jesus aanvaarbaar? Geensins. Mense het nie kennis nie omdat hulle nie tyd daarvoor inruim nie. Tydelike dinge is vir hulle belangriker.
Wat maak jy met jou tyd? Let op die Gelykenis van die Talente; een wat die meeste mense misverstaan word. Dit gaan nie oor natuurlike talente nie, maar oor die geleenthede (tyd) wat Jesus ons gee om iets vir Hom te doen.
Om Jesus lief te hê, moet ons die Bybel liefhê deur tyd vir bestudering te maak:
“Ék het lief die wat my liefhet, en die wat my soek, sal my vind” (Spr.8:17).
Die Bybel is God se liefdesbrief aan sy kinders en ʼn liefdevolle verhouding met die Skrywer daarvan is onontbeerlik vir ʼn sinvolle Bybelstudie. Dis al hoe ons die waarheid leer ken en verdedig. Liefde vir Jesus en liefde vir sy Woord gaan hand aan hand.
Wie die Bybel opsy skuif, het Jesus nie lief nie:
“Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie...” (Joh.14:24).
Jesus vra jou die selfde vraag as vir Petrus – “Het jy My lief?”
Bewaar en verdedig dan sy Woord met oorgawe!