Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jósafat waarsku in II Kronieke die regters van die volk teen partydigheid en "aanneming van geskenke" – omkopery. Dit sien ons deesdae elke dag in ons eie land. Calvyn verklaar indien regters iets verkeerd doen, is hulle nie alleen onregverdig teenoor die mense wat hulle wederregtelik krenk nie, hulle verag ook God. Wat word van 'n land waar die 'leiers' en regters God verag? Verwonder ons ons dan dat dit met Suid-Afrika so sleg gaan?
GEEN REDDING BINNE ROME
Ds. A.E van den Berg
Oral waar die kerk van Christus gevestig is, was die Satan gereed om sy kapel van misleiding op te rig. Die ideologiese samesmelting van die ou Romeins-Babiloniese godsdienste met die vroeë kerk is so ʼn voorbeeld wat die Roomse Kerk (RK) betreklik vroeg op die kerktoneel laat verskyn het.
Die eertydse Roomse kerkleiers was nie met die eenvoud van die oorspronklike kerk tevrede nie en het mettertyd heidense gebruike van Christelike name voorsien en in die kerk gevestig. Die gevolg was dat ʼn heidense duisternis op die kerk toegesak het wat in die geskiedenis as die Donker Eeue bekend staan omdat die lig van Christus ontbreek het.
Die Roomse leer verskil so ingrypend van die Bybel, dat daar vir lidmate geen kans op redding is nie. Die leer van die wedergeboorte deur die doop, redding deur kerklidmaatskap, regverdiging deur goeie werke, boetedoening, vagevuur, die aanbidding van Maria en gebede vir dooies is skadelike dwaalleer. ʼn Amerikaanse teoloog wat 18 jaar lank ʼn deeglike studie van die Roomse leer gemaak het, het bevind dat 82 % van hierdie leer geensins met die Bybel ooreenstem nie.
Die RK dwaal met haar sewe sakramente terwyl die Bybel slegs twee leer; die doop en die nagmaal. Desondanks leer Roomse kerklui dat die kerk die enigste brug tussen God en mens is en beskou die klug-sakrament van aanneming (confirmation) as uiters noodsaaklik terwyl dit in werklikheid mense die ewige verdoemenis instuur.
Die RK leer dat Christus se dood aan die kruis nie ʼn genoegsame vereffening vir sondeskuld is nie en dat die uitstaande balans deur sakramente gedelg moet word. Jesus se kruisoffer was glo slegs nodig omdat God baie kwaad oor sonde was en dié offer Hom gepaai het om nie te hard teen sondaars op te tree nie. Dit het God glo tevrede gestel waarna Hy vir sondaars ʼn nuwe pad hemel toe gebaan het nl. deur die RK.
Die RK dra lidmate op grond van hul kerklidmaatskap en sakramente die hemel in. Gevolglik is kerklidmaatskap ʼn volstrekte vereiste vir saligheidsverwerwing. Vandaar haar geykte sinspreuk: Daar is geen redding buite Rome nie.
Die Roomse leer van doopsaligheid dat mense deur sakramente soos die doop en die mis (ʼn nagmaalkarikatuur) deel aan God se genade verkry, het geen Bybelse begronding nie. Dit laat lidmate die dood vir die lewe aansien en ʼn minagting van die Bybelse leer van regverdigmaking deur die geloof alleen:
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God” (Efes.2:8).
Die RKis soos ʼn lugspieëling in die woestyn – sonder lewenswater en geen kerk nie, maar ʼn dodelike misleiding wat mense met skyngodsdiens manipuleer. Ongelukkig verrig mense geen boosheid so gelate as wanneer dit uit godsdienstige oortuiging geneem word nie!
Geen kerk op aarde dra lidmate die hemel in nie. Die RK laat miljoene lidmate al vir meer as 1,800 jaar verlore gaan. Hulle hamer soos die vyf dwase maagde aan die deure van die hemel:
“Meneer, meneer, maak vir ons oop!”
en al wat hulle hoor, is:
“Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie” (Mt.25:11,12).