Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Is jy bekommerd oor ons volk? Booshede verteer ons soos roes yster verteer. Kan ons iets doen of is ons magteloos teen hierdie booshede? Ja, ons kan iets doen; nee, ons staan nie magteloos nie. Deur jou hart te ondersoek, gee God jou die potensiaal om die wêreld te verander.
NÁ DIE DOOD ?
Waarheen gaan ons ná die dood?
Ds A.E. van den Berg
“En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem” (Luk.16:22,23).
Statistiek toon dat 56 miljoen mense jaarliks sterf. Dit is 155,000 per dag, 6500 per uur, 108 per minuut en 2 per sekonde. Die dood is ʼn harde werklikheid! Tog is talle verhale van mense wat beweer dat hulle gesterf, hemel toe was en teruggekeer het om daarvan te vertel in omloop. Boeke daaroor verkoop by die miljoene al weerspreek sommiges mekaar. Wat moet gelowiges glo? Glo die Bybelse weergawe van die lewe na die dood soos in Luk.16:19-31opgeteken is.
Die Bybel sêdat die mens uit die stof van die aarde (materie) gevorm is en God lewensasem (siel) in hom geblaas het. Ons het geestelike sowel as materiële elemente. Ons geestelike element laat ons juis na God verlang en Hom bewustelik in ons eie lewens soek: Jesaja sê:
“Met my siel begeer ek U in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U.” (Jes.26:9).
Die dood is ʼn ewige skeiding. Niemand keer dit nie; selfs nie die slimste dokter nie. Woestynbewoners sê die dood is die swart kameel wat op een of ander tyd by elkeen se tent inloop.Salomo skryf:
“...die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.” (Pred.12:7).
Jesus se aardse lewe bevestig dit. Met sy kruisiging gee Hy sy gees aan God oor terwyl sy liggaam vir ʼn klompie dae tot met sy hemelvaart agtergebly het.
Die dood is egter nie die einde van alles nie. Die liggaam vergaan maar die siel bestaan voort soos in Luk.16 duidelik gemaak word. Na Lasarus se dood is hy na die boesem van Abrahamgeneemterwyl die ryk man in die doderykverkeer het. Beide ervaar bewustelik vreugde of pyn sonder hul aardse liggame.
Wat van Lasarus se liggaam na sy dood geword het, word nie gesê nie. Dit kon straks deur die honde wat sy wonde tevore gelek het, geëet gewees het of op die ashoop buite Jerusalem beland het. Al wat saak gemaak het, is dat sy siel gered was. Dit het hom na sy dood ʼn sitplek digby Abraham, die vader van gelowiges en vriend van God,in die paradys besorg.
Kon Lasarus dalk ander gelowigesdaar sien? Alhoewel dit nie spesifiek in die Bybel genoem word nie, werp Lukas tog insiggewende lig op hierdie vraag in Jesus se gesprek met die bekeerde misdadiger op Golgota. Jesus beloof hom dat beide van hulle dieselfde dag saam in die paradys sou wees: “ .... Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees. (Luk 23:43).
As die misdadiger na sy dood saam met Jesus sou wees, is ditlogies dat Lasarus na sy dood ook by Hom was en Hom kon sien. Dit gee gelowiges ʼn wonderlike versekering dat hulle na hul dood by Jesus in die paradys sal wees. Stefanus, die eerste Christen martelaar is vir sy getuienisdat Jesus as die langverwagte Messias is, gestenig. Hy getuig in sy sterwenswoorde: “Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God” (Hand.7:55).
Die woord paradys is Persies van oorsprong om ʼn omheinde gebied soos ʼn park of tuin aan te dui. Nadat die Grieke die Persiese wêreld in 300 v.C. verower het, is diéwoord in die Griekse taal opgeneem om ʼn ideale tuin mee te beskryf. Toe die OT in 250vC in Grieks vertaal is, is die Hebreeuse tuin van Edenmet paradys vertaal; die plek waar mensemet God verkeer.
Die Bybel sê dat Jesus 40 dae na sy opstanding in die hemel opgeneem is. Is hemel en paradys twee verskillende plekke? Kan dit wees dat diegene in die paradys Jesus nie kan sien nie? Nee, hulle kan want Hy is alomteenwoordig. Omdat daar so ʼn hegte band tussen Jesus en gelowiges is, is dit ondenkbaar dat Hy nie by hulle in die paradys sal wees nie!
Is die paradys ʼn fisiese plek of slegs ʼn toestand van ongekende heerlikheid? Neem in ag dat die mens se siel, net soos dié van Abraham en Lasarus, nie alomteenwoordig is nie. Hulle kan op ʼn gegewe oomblik net op een plek wees. Daarom is die paradys en hemel twee verskillende plekke, beide weg van die aarde. Die paradys is die wagkamer na die hemel en wie daar is, herken mekaar.
Die Sewendedagadventistedwaal as hulle sê dat siele tot en met die opstanding in hul grafte slaap. Het Jesus dan nie aan die misdadiger gesê dat hy op die selfde dag met hom in die paradys sou wees nie? Het engele dan nie vir Lasarus direk na die boesem van Abraham gedra nie? Die sg. sieleslaap is dwaalleer!
Voor sy hemelvaart het Jesus vir die dissipels gesê dat daar in sy Vader se huis baie wonings is en Hy vir hulle plek gaan berei (Joh.14:2,3). Daarna sou Hy terugkeer om hulle te kom haal sodat hulle ook kon wees waar Hy is. Waar is dit? In die Nuwe Jerusalem. Soos wat die stad Jerusalem die aardse setel van God was, is die Nuwe Jerusalem die ewige woonplek van Jesus en gelowiges.
In die NT word die Nuwe Jerusalem met ʼn stad vergelyk; ʼn plek waar miljoene woon. “En ek het ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ʼn bruid wat vir haar man versier is. (Openb.21:1,2).
Voordat dit gebeur, gaan iets verskrikliks gebeur; die aarde gaan van alle lewe ontruim en vernietig word: “Maar die dag van die Here sal kom soos ʼn dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. (2Pet.3:10).
As die skepping ophou bestaan, Bly slegs diegene in die paradys en die doderyk oor. Daarna daal die nuwe Jerusalem vanuit die hemel op dit wat aarde was neer en word die deure van die paradys vir die gelowiges oopgemaak om vir ewig saam met Jesus die hemelstad te bewoon. “Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thess.4:17).
Waar is diegene wat nooit tot bekering gekom het nie? Hulle is ook in ʼn wagkamer – dié na die hel! In die Gelykenis van die Talente sê die huisheer: “En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande” (Mt.25).
Die paradys is die wagkamer waarin gelowiges na die ewige heerlikheid uitsien. Die buitenste duisternis (doderyk) is die wagkamer van ongelowiges wat alreeds ʼn bitter voorsmaak het van dit wat vir hulle voorlê, beleef: “ Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam” (Luk.16:24).
Wat ʼn vreugde wag daar nie op gelowiges na die dood nie! Luk.16 leer dat ons mekaar in die paradys as verheerlikte wesens sal herken, want ons is daar almal in ʼn geestelike dimensie.Het jy familie, vriende of kennisse wat alreeds oorlede is en waarvan jy seker is dat hulle gelowiges was? Jy gaan hulle weer sien; in die paradys! Omdat Jesus ons lewe daar so gaan vervul, gaan onsas verheerlikte mense met nuwe oë na mekaar kyken verhoudings baie anderste as op die aardehê. As jy dit wil mis, moet jy aangaan om verkeerd te leef. Niemand leef verkeerd maar sterf reg nie.