Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie is verstandig? Hy wat by almal leer.
Wie is magtig? Hy wat sy hartstogte beheer.
Wie is ryk? Hy wat tevrede is .
Wie is hy? Niemand nie.
Benjamin Franklin
VERMY HIERDIE MENSE!
Ds. A.E van den Berg
Inleiding
Vrede is die mooiste vorm van gelukkig wees en word slegs in die doen van God se wil gevind. Gelowiges het ʼn opdrag om sover as moontlik in vrede met almal te leef:
“En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar” (Kol.3:15).
“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Hebr.12:14).
Daar is egter uitsonderings - mense met wie geen vrede gesoek mag word nie. Hulle moet sonder enige gewetenswroeging vermy word. Wie dit nie doen nie, kan sy innerlike vrede en geestelike krag verloor.
1. God se vyande
Dawid noem in Ps.139 een van die groepe – die vyande van God:
“Here, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ’n afsku hê van die wat teen U opstaan nie?Ek haat hulle met ’n volkome haat; vyande is hulle vir my” (Ps. 139:21,22).
Dawidverstrek die rede vir sy weersin in hulle:
“Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef ....” (:20).
Gelowiges moet hul van mense wat die Naam en eer van God vertrap, afskei. God het aan mense tonge gegee om Hom te vereer en nie om sy Naam ydellik te gebruik nie:
“ Want wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, moet sy tong bewaar vir wat verkeerd is ....” (1 Pet 3:10).
Mense wat hul tonge vrye teuels gee om God se heiligheid aan te rand, is sy vyande. Gelowiges durf nie met hulle versoen nie, maar hul daadwerklik vermy.Dawid sien dit as ʼn verpligting om die vyande van God met ʼn heilige haat gehaat. Hierdie haat is anders as sondige haat.
Hoe meer gelowiges God liefhet, hoe groter word hul weersin in mense wat God se eerbewustelik vertrap:
“... en ’n afsku hê van die wat teen U opstaan nie?
Dawid neem nie ʼn neutrale houding teenoor hulle innie. Sy haat vir God se vyand is net so sterk soos sy liefde vir Hom. Dit maak van sulke mense ook sy vyande.
2. Slegte karakters
Paulus vra dat gelowiges mense met slegte karakters openlik moet vermy:
“Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes” (1 Kor.15:33).
“’n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur”(Gal.5:9).
Mense wat toelaat dat ongelowiges hul denke beïnvloed, dink spoedig net soos hulle. Hulle val maklik by hulle lewenswyse in en praat gruwels in die oë van God goed. Slegte geselskap is aansteeklik en ruïneer lewens:
“Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg” (Spr.13:20).
3. Valse leraars
Johannes waarsku gelowiges om valse leraars te vermy:
“As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie” (2 Joh.1:10).
Johannes vra dat gelowiges mense wat die ware leer oor Jesus verloën en hul eie weergawe verkondig, die deur wys. Hulle mag geen gasvryheid of hulp aan sulke mense verleen nie om die verspreiding van dwaalleer te voorkom.
Johannes het dit nie teen godsdienstige mistastings nie, maar teen die leuen wat as ware Christendom voorgehou word; veral diegene wat dit verkondig. Daar is ʼn verskil tussen diegene wat ʼn Christus-ontkennende leer versprei en hulle wat dit bloot net glo, sonder om dit te verkondig. Dwaalleraars mag nooit in huise toegelaat word waar mense saam verkeer nie. Hulle kan sulke geleenthede aangryp om hul leuens te verkondig en mense saam te sleep.
Die vroeë kerk het geen bande met dwaalleraars gehad en geen hulp aan hulle verleen nie. Hulle is egter nie vervolg soos wat in die Roomse Kerk later met mense gebeur het wat nie met die kerk se leer saamgestem het nie.
Gelowiges word nie net aan dit wat hulle verwerp gekenmerk nie, maar ook aan dit wat hulle aanvaar. Sommige mense se gemoed is egter net so oop as wat hulle verstande weens ʼn gebrek aan Bybelkennis leeg is. Dis goed om ʼn oop gemoed oor dinge in die lewe te hê, maar nie oor dit wat die siel vergiftig nie. Gelowiges moet dit wat reg is bewustelik voorstaan en dit wat verkeerd en vals is ewe sterk teenstaan.
Die mensdom word vandag onophoudelik met vrysinnigheid gebombardeer. Dis die voorportaal van alle moderne dwaalleer. Sommige leraars en teologiese dosente ontken eeu-oue basiese Skrif-waarhede en verlustig hul skynbaar daarin as onkundiges dit vir soetkoek opeet!
4. Skyngelowiges
Paulus laat hom ook oor skyngelowiges uit wat openlik ergerlike lewens lei:
“...maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie” (1 Kor.5:11).
“Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige” (2 Kor.6:14,15).
Talle mense gee voor om gelowig te wees maar lei ergerlike lewens sonder dat daar met die kerklike tug teenoor hulle opgetree word. Daarom het talle hoofstroomkerke met ʼn toename in seksuele sedeloosheid soos saamblyery, huweliksontrou en homoseksualisme te kampe. Die morele krisis wat dit veroorsaak, is die gevolg van kerke se afwyking van die Bybelse weg. Hulle moet vermy word:
“ Maar al sou ons of ’n engel uit die hemel julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ’n vervloeking wees” (Gal.1:8).
5. Partyskapskeppers
“Aan ’n man wat partyskap verwek, moet jy jou onttrek ná die eerste en tweede vermaning, wetende dat so iemand op ’n verkeerde pad is en sonde doen en selfveroordeeld staan” (Tit. 3:10,11).
Partyskap is die gevolg van ʼn persoon wat sy eie mening bo die leer van die kerk verhef en steun daarvoor verkry. Dit skaad die vrede in ʼn gemeente en is nie vir die gemeenskap van die gelowiges bevorderlik nie. Ware geloof verdeel nie, maar voeg mense saam.
Almal wat foutiewe Bybelsienings het, is nie ketters nie. Nadat Apollos verder in die evangelie onderrig is, het hy ʼn kerkleier geword (Hand.18:24-28) terwyl Himeneus en Filetus ketters gebly het (2 Tim.2:16-18).
Wie verdeeldheid in die gemeente veroorsaak, moet vermy word (Mt.18:15-17). In Rom.16:17 waarsku Paulus gelowiges om sulke mense nie te volg nie. Hy gee Titus raad om hulle na twee waarskuwings uit die gemeente te ban. Hulle keer as ʼn reël nooit weer na die kerk terug nie.