Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mense werk met groot ywer om eendag met gemoedsrus af te tree. So het die lewe 'n malle gejaag na geld en goed geword. Dit het ons hele lewe, ook daardie deel wat ons aan God moes spandeer, oorgeneem. Ons het nie meer balans tussen goed vergader (neem) en tyd wat ons tot eer van die Here se Naam moet deurbring nie (uitdeel). God sê aan so 'n persoon in Luk 15:20: "Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis, en wat jy gereed gemaak het, wie s'n sal dit wees?"...
DIE TEÏSTIESE EVOLUSIE
ʼn Satansknuppel
Ds. A.E van den Berg
Die evolusieleer bots lynreg met die Bybelse leer van die oorsprong van alles wat op die aarde leef. Daarom durf gelowiges geen goeie woord daarvoor hê nie. Nogtans huldig talle mense wat hulself gelowig noem hierdie leer en glo dat hulle godsdiensoortuigings by die bevindinge van die moderne wetenskap, insluitende biologiese evolusie aansluit.
Hul siening word teïstiese evolusie genoem en as ʼn versoeningsbenadering tussen die Christengeloof en evolusie beskou. |Voorstanders daarvan glo dat die aarde en van sy diere miljoene jare oud is en met ʼn oerknal (Big Bang) begin het. Hulle glo wel dat God bestaan maar dat Hy juis evolusie as meganisme gebruik het om sy skeppingsproses te begin en te voltooi. Evolusie komplimenteer dus die geloof!
Die leer van die evolusieteorie is musiek in die ore van ateïste wat dit as ʼn knuppel gebruik om die geloof in God en sy Woord te probeer vernietig. Die skeppingsverhaal van Genesis is en bly egter vir hulle ʼn hindernis. As dit nie in die Bybel was nie, kon die evolusieleer sonder teenstand aanvaar word.
Sedert die eerste Christen-eeu tot sowat 150 jaar gelede het alle Christene geglo dat Gen.1 en 2 ’n letterlike beskrywing van God se skeppingsopenbaring was en die dae uit letterlike 24 ure bestaan het. Gelowiges het ook geglo dat die Ou en Nuwe Testament God se onfeilbare openbaring aan die mens is en geen ander bron van Goddelike openbaring bestaan het nie.
Baie mense glo vandag nie meer in die skeppingsverhaal soos in Genesis staan nie en skeur die goddelikheid van die Bybel as’t ware aan flarde. Wie die skeppingsverhaal en die goddelikheid van die Bybel betwyfel, bevraagteken mettertyd ook of daar ooit ’n God is om in te glo. Is Hy nie dalk ’n menslike skepping en derhalwe mities van aard nie?
Wie by so ʼn punt gekom het, kan nie meer die Bybel met goddelike gesag aanhaal nie. Dan kan daar ook nie sondermeer aanvaar word dat homoseksualiteit onnatuurlik en ʼn gruwel vir God is nie!
Waar evolusie floreer, kan die geloof in God nie gedy nie. Enige siening of teorie wat God se bestaan en betrokkenheid by die wêreld ontken, is vir gelowiges taboe. Niemand kan ʼn uitspraak oor God maak deur hom op rou wetenskaplike data te beroep nie.
Die evolusioniste se verduideliking van die verskeidenheid van lewensvorme op die aarde is heeltemal teenstrydig met die Bybel se skeppingsverhaal. Gelowiges aanvaar op grond van die Bybel dat daar geen evolusionêre verandering van organismes was wat van die een soort in ʼn volgende een ontwikkel het nie.
Wat God se spesifieke doel is met die wêreld wat Hy geskep het, kan nooit uit die blote feit dat daar ʼn wêreld is, afgelei word nie. Dis iets wat God aan die mens deur sy Woord geopenbaar het.
Ons kan God se skepping nooit volledig verstaan nie:
“Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie” (Hebr.11:3).
Die wysheid van God is dwaasheid vir die wêreld. Ook die geloof in God as Skepper is dwaas in die oë van die godvyandige wêreld en 'n struikelblok vir hulle wat nie glo nie.
“Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God; want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak” (1 Kor.1:18,19).