Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Miskien het jy vir my gebid; miskien het jy net stil gesit. Miskien het jy terwyl jy werk gehoop ek word weer sterk. Maar altyd is jy iewers daar waar jy vir my 'n tydjie spaar. Met groot verstaan en woorde min bly jy maar my GOUDVRIENDIN.
LEEF DEUR DIE WOORD VAN GOD
Ds. A.E. van den Berg
“... Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Mt.4:4).
“En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie” (Joh.6:35).
ʼn Mens moet eet om te kan leef anders gaan jy dood. Dis ook in ʼn geestelike sin waar. Geestelike voedsel kom deur die Woord van God te hoor en toe te pas. Daarom is die kennis en aanhoor van die Bybel onontbeerlik vir ʼn goeie lewe. Die Bybel leer ons hoe om reg te leef sodat ons reg kan sterf. Niemand leef verkeerd en sterf reg nie. Om reg te sterf, moet jy reg leef. En dis waar die Bybel vir ons van onskatbare waarde is. Dit leer ons om reg te leef en te sterf.
Die profeet Sefanja skryf wat van die mens word wat God se Woord minag: “Ellende wag vir Jerusalem, die opstandige, besoedelde stad waarin daar soveel verdrukking is. Hy is ongehoorsaam en wil hom nie laat teregwys nie, hy vertrou nie op die Here nie en dien nie sy God nie” (3:1,2). Hy gaan verlore!
Gelowiges moet egter versigtig wees om nie alle godsdienstige uitings as in ooreenstemming met die Bybel te ag nie. Satan is ʼn bedrieër. Paulus het dit met dwaalleer wat in Korinthe verkondig is, ervaar en gelowiges versoek om alles wat hierdie dwaalgeeste gesê te sif en vas te stel of dit Bybels korrek is.
“Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar kragtige wapens van God ... Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak” (2 Kor.10:4-6).
Dwaalleer veroorsaak lelike skeurings in gemeentes soos in Korinthe en ander gemeentes daarna ervaar is. “Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening”(1 Kor.1:10).
Jesus vat die godsdienstiges van sy tyd aan: “ ... Want uit die oorvloed van die hart praat die mond. Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn” (Mt.12:34,35). Kyk maar net watter skade het dwaalleer in ons land veroorsaak het – ons het vorige kerkverbande weens dwaalleer verlaat!
Kennis van die Bybel en die gereelde aanhoor daarvan is baie belangrik. Jare gelede skryf ʼn ongelowige aan 'n tydskrif waarin hy kla dat kerkgang vir hom niks beteken nie. Hy skryf: "Ek gaan al vir meer as 30 jaar lank kerk toe en het gedurende dié tydperk na ongeveer 3000 preke geluister, maar kan nie een daarvan onthou nie. Gevolglik het ek my tyd Sondae gemors soos al die predikante wat Sondag vir Sondag preek".
ʼn Gelowige antwoord hom: "Ek is reeds 30 jaar getroud. In dié tyd het my vrou ’n paar duisend etes voorberei. Maar, net soos jy, kan ek nie een van die spyskaarte onthou nie. Al wat ek weet, is dat al daardie etes my gevoed en versterk het. Want was dit nie daarvoor nie, was ek al lankal dood! Dieselfde geld ook vir die kerk. As ek nie gegaan om geestelik gevoed te word nie, was ek vandag geestelik dood".
In Joh.6 preek Jesus vir ’n paar duisend mense wat honger was. Hy het vyf brode en twee visse geneem en almal op ’n wonderbaarlike wyse gevoed. Daarna het Hy, met die eet van brood in gedagte, aan die mense ’n nuwe beeld van Hom as die Brood van die Lewe voorgestel.
Alle mense gebruik brood. Selfs primitiewe inboorlingstamme bak dit op warm klippe. Alle mense se spysverteringsisteem kan brood hanteer en versadig soos min ander kos. Jesus vind aansluiting hierby. Hy is van die Brood van die Lewe en versadig elke mensesiel wat tot bekering kom en Hom as Verlosser aanneem.
Brood is vandag duur. Die Brood van die Lewe is gratis. “O almal wat dors het, kom na die waters en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk!” (Jes.55:1). Om met die Brood van die Lewe versadig te word, is ʼn innige geestesverhouding met Jesus nodig: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe” (Joh.6:47).
Toe Jesus die skare gevoed het, het Hy ook gewys dat Hy oor hul menslike behoeftes besorg was en daarin voorsien. Johannes skryf dat elkeen daardie dag so versadig was dat daar selfs mandjies vol kos oorgebly het (:13).
Na hierdie wonderwerk het ʼn klompie Jode wat nie van dit wat hulle gesien het oortuig was nie na Jesus gekom en ’n wonderteken gevra. Hulle het van die manna wat in die tyd van Moses in die woestyn geval het melding gemaak. Dis toe dat Jesus aan hulle gesê het dat Hy die ware brood uit die hemel is. Manna het net snags geval. Jesus het in ’n wêreld gekom wat weens sonde in duisternis verlore was soos Jesaja lank voor Jesus se geboorte voorspel het: “Die volk wat in duisternis wandel, het ’n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ’n lig geskyn” (Jes.9:1).
Toe die Israeliete manna vir die eerste keer sien, het hulle nie geweet wat dit was nie. Manna beteken ‘wat is dit?’ Dit wat God uit die hemel gestuur het, was vir 40 jaar genoegsaam vir almal se behoefte. Vandag bereken, is dit ongeveer 240 treinvragte vol vir 13,870 dae!
Jesus sê dat Hy die volmaakte Brood is. Die Israeliete het wel manna geëet, maar op die ou end tog gesterf. So ook die skare daardie dag by Jesus. Jesus is egter groter as brood. “En Ek gee hulle die ewige lewe en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie en niemand sal hulle uit My hand ruk nie” (Joh.10:28).
Wêreldse dinge kan nooit die behoefte van ’n mens se siel tevrede stel nie. Die Griekse mitologie vertel van koning Tantalus wat gesterf het. As straf is hy in die hiernamaals in ’n meer vasgeketting waarvan die water net tot by sy ken gekom het. Telkens as van die water wou drink om sy dors te les, het die water buite sy bereik weggesak. Bokant hom het vrugte gegroei. As hy daarvan wou eet, het die tak opgelig sodat hy dit nie kon bykom nie. Sy naam is met die Engelse woord tantalize verewig wat uittart beteken. So is dit met wêreldse dinge; dit bied geen sieleheil nie – slegs Jesus as die Brood van die Lewe doen dit.
Hoe voed Jesus ons? Deur die Woord van God. “… Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan”. Baie mense proe maar net aan die geestelike kos terwyl daar meer as genoeg ter versadiging is; mandjies vol, veral op Sondae.
Die vroeë kerk het alreeds met ʼn probleem in der minne te kampe gehad. Mense wat eers kerk toe gekom het en toe nie meer nie. “…en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan...”(Heb.10:25).
Moenie kerkdienste uit onverskilligheid oorslaan nie. Geestelike diëte maak siele dood. Anorexia van die siel laat mense in die ewige verderf beland. Al kan jy aan die einde van jou lewe nie een Bybelteks opsê of een van die preke wat jy gehoor het onthou nie, het God se Woord jou siel versterk. Dit het verhoed dat jy geestelik honger ly en jou siel verlore gaan!