Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is min dinge so onaangenaam as ‘n nare lewensondervinding wat jou die dood in die oë laat staar het; ‘n motorongeluk, 'n roof of 'n frats-ongeluk. Jy kon gesterf het, maar God was jou genadig en het jou die lewe laat behou. Maar wat is die héél slegste ding wat ‘n mens kan oorkom? Wanneer jou naam nie in die Boek van die Lewe opgeskryf staan nie!
HEILIGE HAAT IS VANAF GOD
Ds A.E. van den Berg
“HERE, sou ek nie dié haat wat vir U haat en ’n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met ’n volkome haat; vyande is hulle vir my!” (Ps.139:21,22).
Moet gelowiges alle mense ongekwalifiseerd liefhê? Baie beskou dit as ʼn Bybelse opdrag wat met die liefdesgebod om God en jou naaste lief te hê, ooreenstem. Nee, dis nie waar nie. Die Bybel staan nie ongekwalifiseerde liefde voor nie. Dawid sê in die teksverse dat daar mense is wat hy haat. Is dit sonde?
Nee, die haat waarvan hy praat is iets heeltemal anders. Dis heilige haat en nie sonde nie. Ongelukkig preek baie leraars dat jy mense ongekwalifiseer moet liefhê want Jesus sê dan: “Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê...” (Mt.5:43,44). Let baie mooi op wat hier staan. Jesus praat hier van jou vyande, maar nie van God s’n nie. Jou vyande en God se vyande is twee verskillende dinge en dis waaroor Dawid in Ps.139 skryf.
Sommige teoloë sê dat Ps.139 tot die Ou Testament behoort en die gedagtegang daarvan van dié van die Nuwe Testament verskil. Hierdie Psalm was kwansuis Dawid se persoonlike gevoelens en nie normatief nie. Dis ʼn gevaarlike siening wat die hele inspirasie van die Skrif in gedrang bring. Ps.139 is net so geïnspireerd as die hele Bybel!
Die haat waarvan Dawid hier praat, is werklike haat. Dis nie mindere liefde nie. Dawid sê nie: ‘Here, sou ek nie dié minder liefhet wat U nie liefhet nie’. Hy sê: “HERE, sou ek nie dié haat wat vir U haat nie…” Sy haat stem met dié van God ooreen. En dis wat heilige haat so anders as menslike haat maak.
Dawid skryf: “Ek haat hulle met ’n volkome haat; vyande is hulle vir my!” Dis ’n haat wat nie uit sonde spruit nie. Kan ʼn mens dan haat sonder om te sondig? Ja, slegs as dit God se vyande is. Menslike haat bestaan uit emosies, afguns en wraak, maar nie heilige haat nie. Heilige haat kom met heiligmaking ooreen. Dawid bid in die daaropvolgende verse: “Deurgrond my, o God en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart en lei my op die ewige weg!” (:23, 24). Dis ʼn gebed om heiligmaking!
Wanneer gelowiges God se vyande haat, betuig hulle hul liefde vir God. Wie sê dat hy God liefhet, durf nie God se vyande liefhê nie en sal vermetel wees en God se toorn op hom trek: “Want kyk die dag kom en dit sal brand soos ’n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe,’n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek” (Mal.4:1).
Die Bybel sê dat God sekere mense haat: In Rom.9 haal Paulus die profeet Maleagi aan: “Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat”(:13). Dawid bid in Ps.139:19: “O God, as U tog maar die goddelose wou ombring!” Hy wens dat dit onmiddellik kon gebeur!
God se vyande haat Hom en probeer van meet af aan om sy Koninkryk op aarde te vernietig. Die opskrif van Ps. 2 lui: “Stryd en oorwinning van die Messias”. “Die konings van die aarde staan gereed en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp” (Ps.2:2,3). God se vyande stook geweld. Daarom noem Dawid hulle “manne van bloed”. God haat hulle!
Heilige haat is nie persoonlik soos gewone menslike haat nie. Dit gaan nie om dit wat mense my aandoen nie, maar wat hulle my God aandoen. Hul optrede roep egter nie om menslike wraak nie. God alleen vergeld: “My kom die wraak toe en die vergelding…” (Deut.32:35).
Hoe moet ons Jesus se opdrag in sy Bergrede verstaan? “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê; seën die wat julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat en bid vir die wat julle beledig en vervolg” (Mt.5:44).
Die vyande waarvan Hy praat, is mense met persoonlike wrokke jeens mekaar. Ons moet ons vyande waar moontlik vergewe en liefhê, maar nie God s’n nie. Ongelukkig gebeur die teenoorgestelde; mense haat hul vyande, maar het God s’n lief. Let op die toenemende verdraagsaamheid jeens dwaalleer en afgodery.
In 1 Kon.20 is daar ʼn sprekende voorbeeld van heilige haat. Ben Hadad, die koning van Aram, het teen Israel oorlog kom voer. Hulle was afgodsdienaars en het God as maar net nog ʼn afgod beskou en Hom kwaad gemaak. Toe stuur God ʼn boodskapper na koning Agab: “Die man van God het by die koning van Israel gekom en gesê: So sê die Here: Omdat die Arameërs gesê het: ‘Die Here is ’n berggod....gaan. Ek het hierdie hele groot menigte in jou mag oorgee. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”(:28).
Aram is verslaan waarna Ben Hadad gevang en Agab sy lewe in stryd met God se opdrag gespaar het. Daarna het God ʼn profeet na Agab gestuur: “En hy sê vir hom: So preek die Here: Omdat jy die man wat deur my banvloek getref was, uit die hand laat gaan het, daarom sal jou siel in die plek van sy siel en jou volk in die plek van sy volkwees” (:32). Agab is kort hierna gedood.
Heilige haat moenie geheim gehou word nie. Dis ’n geloofshandeling waarvan die wêreld kennis moet neem. Elia het selfs die Baäl-profete in opdrag van God op Karmel laat slag (keel-af laat sny), omdat hulle God se vyande en die profeet ʼn werktuig in sy hand was.
Gelowiges het geen gemene sake met God se vyande nie. Dawid sê in vers 19: “...gaan van my af weg”. Paulus sê vir Timotheüs: “...en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein” (1 Tim.5:22).
Dit geld uiteraard ook vir die kerk wat as liggaam van Christus geen gemene sake met die vyande van God durf hê nie. Hoor wat sê die profeet Jehu vir koning Josafat: “…Moet ’n mens die goddelose help en het u lief dié wat die Here haat? Daarom kom daar nou ’n toorn op u van die Here” (2 Kron.19:2).
Gelowiges glo in die gemeenskap van die heiliges en het daarom slegs bande met diegene wat God eer en geen bande met God se vyande het nie. God se geliefdes is gelowiges se geliefdes en God se vyande is gelowiges se vyande. Heilige haat is ’n geestelike deug wat van gelowiges se liefde vir God getuig.
Moenie jou onder die leuen van “liefde vir almal” laat toeploeg nie. Dit word wyd en syd verkondig maar kom nie van God nie. Paulus waarsku die gemeente in Galasië teen ʼn valse evangelie wat die rondte gedoen het: “Maar al sou ons of 'n engel uit die hemel julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom 'n vervloeking wees!”(Gal.1:8). En dis presies wat gelowiges moet doen!