Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg vangeld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie; ook dit isdan tevergeefs – Prediker 5:9
ONS VADER (1)
Ds A.E. van den Berg
“Onse Vader wat in die hemele is.”(:9)
'n Gelowige ken God as sy hemelse Vader en spreek Hom in sy gebede so aan. Die Onse Vader is die modelgebed wat Jesus op sy dissipels se versoek “Here, leer ons bid” geantwoord het. Kom ons kyk ook op 'n ander manier daarna. Dit bevat ses geestelike kenmerke wat ʼn mens as kind van God kenmerk. Ons gebruik dit soos die ou ID-dokument (groen boekie).
Die Onse Vader is ons geestelike ID-boekie. As dit oopgemaak word, is die eerste ding wat opval, dat die gelowige, God as ʼn hemelse Vader ken, en eerste kenmerk van geloofsidentiteit erken. Dis immers die manier waarop Jesus die gebed begin het: “Onse Vader wat in die hemel is.” Die eerste aanduiding dat iemand tot bekering gekom het, is dat hy God liefdevol as sy Vader aanspreek.
Moes hierdie gebed nie maar eerder met Jesus self begin het nie? Dis tog Hy wat ons deur sy bloed gered het? Wanneer iemand tot die saligmakende geloof kom, is alle fokus tog op Jesus. Jy plaas jou vertroue juis op Sy versoenende verdienste aan die kruis. Hoe moet ons dan die Onse Vader verstaan as jou nuutgevonde geloof in Jesus jou fokus na God die Vader verplaas en jou leer om primêr op die Vader te fokus as jy bid. Let op hoe Jesus die dissipels leer bid; Hy leer hulle nie om die gebed met Onse Here Jesus te begin nie, maar om op God as die hemelse Vader te fokus.
Dit beteken nie dat dit verkeerd is om tot Jesus te bid nie. Dink aan Stefanus se woorde tydens sy steniging: “Here Jesus, ontvang my gees.” (Hand 7:59). Met die Onse Vader leer Jesus gelowiges dat 'n kind van God eerstens moet leer dat sy geestelike verhouding ten diepste ʼn verhouding met God die Vader is. Voor die bekering praat mense sommer van die Man daarbo, maar nie na bekering nie want dan leer jy God as jou hemelse Vader ken.
God is egter nie almal se vader nie. In Joh.8:44 sê Jesus vir die Fariseërs: “Julle het die duiwel as vader.” Paulus sê in Efes.2:3 dat ons, voordat ons gelowig geword het, van nature “kinders van die toorn” was. Niemand durf God as Vader aanspreek bloot omdat Hy die Skepper is nie. Alleenlik hulle wat tot bekering kom, het die reg om God hul Vader te noem. Jou hart moet eers reg wees voordat jou mond reg is.
Wie deur die bekering hulle volle vertroue op Jesus se kruisdood en opstanding uit die dood plaas, ken God as Vader en roep Hom telkens in gebed so aan. Hierdie vertroue in die hemelse Vader verander ʼn mens se hele lewenskoers en uitkyk op die lewe. Jy is 'n nuwe mens en God nie meer die man daarbo nie, maar die Vader wat in die hemel is en jou as sy kind niks laat kortkom nie
Waarom bid Jesus die woorde: “...wat in die hemel is”? Waarom is dit belangrik? Omdat God die gans andere is en ons derhalwe nie aards van Hom moet dink nie. Ek sidder om te hoor hoe oneerbiedig mense van om Hom praat; familiêr! Stop! God is hoog bo die mens verhewe en niemand se goeie pêl nie. Hy is in majesteit en heerlikheidverhewe en leef ons derhalwe eerbiedig teenoor Hom.
Hy woon immers in die hemel en ons op die aarde. Gevolglik moet alles wat ons in sy Naam doen van heilige eerbied getuig. As ʼn mens hoor wat in sommige kerke in eredienste opgedis word, is dit al te duidelik dat die eerbied vir God verloor is! As leraars meer klem daarop lê dat God in die hemel is en eerbiedig moet word, sal mense hul plek en doel op aarde beter verstaan.
God is ook baie soos ʼn aardse vader. Net so min as wat 'n aardse vader goeie dinge van sy kind sal weerhou, net so min doen God dit. In Mt.7:13 sê Jesus dat geen vader vir sy kind nie 'n slang sal gee as hy om ʼn vis vra of 'n klip as hy brood vra nie. Ook nie ons hemelse Vader nie.
Die modelgebed leer ons dat God se hart ten diepste 'n Vaderhart is. Dit staan heel eerste in gelowiges se geestelike ID boekies; hulle weet en ervaar dat God se Vaderhart alles vir hulle beteken.
Ons hele lewe word ten diepste bepaal deur hoe jy oor God dink. Ongelukkig het baie mense ʼn negatiewe vaderbegrip. Met watter beeld van ʼn vader het jy grootgeword? Jy dra baie maklik hierdie beeld op God oor. Daarom is dit noodsaaklik dat ons die beeld van God as Vader uit die Bybel moet kry. Dis immers sy selfopenbaring van Homself aan ons. As Hy homself nie aan ons getoon het nie, sou ons niks van Hom geweet het nie. Die Bybel trek die gordyn oop sodat ons kan sien dat God ʼn Vader vol vaderlike liefde is.
Hoe lyk hierdie Vaderlike liefde? Dit spreek van ʼn Vader wat intens in die alledaagse lewe van sy kinders betrokke wil wees. Elke mens het van baba-dag af sekere basies behoeftes - jy wil voel dat jy waardeer en aanvaar word en baie liefde ontvang. En dis wat ons hemelse Vader gee. Jy is vir Hom waardevol en Hy het jou lief. Dit geld egter nie vir alle mense nie, maat net vir die skape van sy kudde, hulle wat deur bekering nuwe mense geword het.
Hierdie waarheid word vir ons in Lukas 15 in die Gelykenis van die Verlore Seun opgeteken. Jesus skuif die gordyn weg om binne-in God se vaderhart te kyk. Wat het die verlore seun laat besluit om na sy vader terug te gaan? Hy het geweet hoe sy vader se hart geklop het. Kyk hoe word hierdie vader geteken; een met ʼn onvoorwaardelike liefde vir sy kinders, soet of stout. Die verlore seun hoef nie by sy terugkeer eers aan 'n lys voorwaardes te voldoen of proeftydperk uit te dien nie. Die liefde van sy vader se hart het hom weer laat opneem.
God se vaderhart is egter nie iets waarmee ons onverskillig mag omgaan nie. Ons redding is immers daaraan te danke. Was dit nie vir sy vaderhart en liefde vir verlore seuns en dogters nie, sou Jesus nooit aan ʼn kruis vir al ons sonde gesterf het nie. Dis nie ʼn goedkoop saak nie!
God wil ons foute en tekortkominge in iets positief te omskep. Daarom poog Hy altyd om ons vanuit ons natuurlike verdorwenheid na sy heerlikheid terug te bring. “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol” (Jes.1:18).
Let ten slotte op hoe God se vaderhart vanuit sy verskillende Hebreeuse name spreek:
Adonai(Gen.18:3,27): Heerser, Heer, Hoogste in bevel.
Elohim (Gen.1:2,4): Skepper, Soewerein, Heerlikheid.
El-Olam (Gen. 21:33): die Ewige, Een met geen begin of einde.
El-Elyon (Gen. 14:19): Hoogste een.
El-Shaddai (Gen. 15:8): die Algenoegsame.
Yahweh: God van die verbond.
Yahweh-Yireh (Gen. 22:14): die Here voorsien.
Yahweh-Rofe (Ex. 15:26): Here genees.
Yahweh-Nissi (Ex. 17:15): die Here is my banier.
Yahweh-Shalom(Eseg.38:35): die Here is vrede.
Yahweh-Rohi (Ps. 23:1): die Here is Herder.
Opgesom: God het ʼn vaderhart. Daarom bid ons tereg as ons bid: “Onse Vader.....”