Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Selfkennis is groter as alle wetenskap. Om jouself te ken soos jy werklik is, is die sleutel na feitlik elke sukses. Die meeste huwelike misluk nie omdat eggenotes met mekaar ontevrede is nie maar omdat hulle hulself nie ken nie. Om te weet presies wat jou sterkpunte en jou tekortkominge is, is om te weet wat jou lewensdoel is, en dít is die grootste skat wat 'n mens in hierdie wêreld kan verwerf. Dán alleen kan jy seker wees dat jy Godvrugtige besluite dwarsdeur jou lewe sal neem.
KERSFEES VIER OF NIE?
Ds A.E. van den Berg
“En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle 'n goeie tyding van groot blydskap .... dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is. (Luk2 :10,11).
Is 25 Desember die werklike geboortedag van Jesus of kom hierdie datum uit die heidendom soos sommige mense beweer? Die antwoord op beide die vrae is nee. 25 Desember is nie die werklike geboortedag van Jesus nie, maar kom ook nie uit die heidendom nie. Wat wel waar is, is dat 25 Desember sedert die vierde eeu nC. die Christenkerk se feesdag is waarop Jesus se geboorte gevier word. Let wel: sy geboorte en nie sy geboortedag nie.
Wyle koningin Elizabeth het ook ’n amptelike verjaarsdag met ’n nasionale fees gehad maar wat nie op haar werklike verjaarsdag gevier is nie. Met Kersfees is dit dieselfde; dis nie ’n geboortedag-herdenking nie, maar ’n herdenking van Jesus se koms na die aarde. Dis twee verskillende dinge.
Dat Jesus se geboorte op of naby 25 Desember geskied het, is ’n moontlikheid. Die vroeë kerk het aan die hand van ou Joodse geskrifte die tyd van Sagaria se diensbeurt in die tempel uitgewerk. Dit was in September van daardie jaar. In daardie tyd het ’n engel aan hom verskyn en van Johannes (die Doper) se komende geboorte in kennis gestel. Werk dit uit - Elizabeth was ses maande swanger toe ’n engel Maria oor Jesus se komende geboorte ingelig het - dus in Maart van daardie jaar. Die kerk het hierdie datum op 25 Maart bereken. Die geboorte van Jesus was nege maande later – 25 Desember.
Daar is talle vraagtekens rondom die datum 25 Desember. Desember is winter in die Noordelike Halfrond en herders sou glo nie dan in die ope veld wees nie. Dis moontlik. Tog moet daar rekening gehou word dat skape dwarsdeur die jaar by die tempel geslag is en hoofsaaklik van Bethlehem (naby Jerusalem) gekom het. Gevolglik kon Jesus se geboorte wel in Desember gewees het.
Uit ou geskrifte blyk dit dat Kersfees nie in die vroeë kerk gevier is nie, maar eers in 386 nC. Dit het ’n vaste datum in die kerk geword waarna 25 Desember oral byval gevind het. Veertien eeue later het kritici beweer dat Kersfees ’n heidense oorsprong het en dat die Roomse Kerk ’n heidense fees verchristelik het. Daar is geen bewyse daarvoor nie.
Kersdag is wel naby aan die wintersonstilstand wat deur die Romeine op 26 Desember gevier is. Dit was ’n weeklange fees van 16-23 Desember. Uit vroeë kerklike geskrifte is daar geen aanduiding dat ’n datum van die heidene geleen is of dat Kersfees die betrokke heidenfees vervang het nie.
Die kerk was egter bewus van hierdie heidense fees, maar het geglo dat die herdenking van Jesus se geboorte op 25 Desember nie blote toeval was nie, maar so deur God so beskik is. En daar was ’n goeie rede voor. In die Noordelike halfrond het die son dan gedraai en somer se kant toe begin beweeg. Die heidene het dan ’n sonfees ter ere van die onoorwinlike son gevier.
Maar Wie is die ware onoorwinlike? Jesus Christus. Hy is ook 'n lig wat in die donker verskyn en die son van redding en geregtigheid laat opkom het. Dit was vir gelowiges genoegsame goddelike bevestiging van ’n wonderlike waarheid.
Die presiese datum van Jesus se geboorte maak regtig nie saak nie. Christene herdenk nie sy geboortedag nie, maar sy geboorte. Nie die dag nie, maar die wonder gebeure waarvan die Bybel melding maak.
Die vraag is nie of ons Kersfees mag vier nie, maar hoe dit na reg gevier moet word. Kersfees is ’n tyd van welwillendheid en omgee. God het gegee; ons gee ook. Ongelukkig het Kerstyd wat heilig moet wees 'n handelsfees geword. Mense word aangespoor om geld uit te gee. En om te voorkom dat Kersfees die heidene aanstoot gee, word daar in baie gevalle van die Festive Season gepraat.
Ongelukkig bied Kersfees aan ongelowiges geleenthede om ydele partytjies te hou en hul te vergryp. Baie mense vier Kersfees sonder 'n gedagte aan Jesus. Nee, Kersfees is die geleentheid vir 'n getuienis van wat Jesus se menswording vir die mensdom beteken het. Laat almal weet dat Jesus as Verlosser gebore is.
Vergelyk Kersfees met Paasfees. Die een herdenk Jesus se koms na die aarde en die ander een sy vertrek. Die een gaan oor ’n geboorte en die ander een oor ’n dood. Kersfees is ’n tyd van ware feesviering en Paasfees een van droefheid oor sonde. Ja, daar is ’n tyd vir alles, soos Salomo sê.
Gelowiges moet in die Kerstyd in die goeie sin van die woord ook gees vang. Ons verkeer net in ’n anderse stemming as ongelowiges. Hoe wonderlik sou dit nie wees indien ons die Kerstydgees in flesse sou kon opvang en elke maand een daarvan in ons lewens oopmaak nie!
Ek glo dat Kersfees ’n feestelike geleentheid is wat deur God beskik is. Indien dit ’n heidense ding was, sou God eeue gelede al ingegryp en dit in die kerk stop gesit het. Hy sit aan die regterhand van God vanwaar Hy sy kerk regeer.
Christene moet iets mooi van Kersfees maak – huise versier en aan kinders verduidelik waarom ons geskenke gee en dat daar ’n God en nie ’n Kersvader is nie. Die hoofsaak is: Vier Kersfees rondom Jesus. Wie dit nie doen nie, hou Krismis en doen ons Verlosser ’n oneer aan!
Dis goed om op Kersfees opgewonde soos ’n kind te wees want ons Verlosser het as ’n kind aarde toe gekom. Vier Kersfees met liefde. Lê die strydbyl neer. Wie Kersfees nie in die hart het nie, soek dit tevergeefs in geskenkpapier onder 'n kersboom toegedraai.
Kersfees gaan wesenlik oor God se liefde. “Want so liefhet God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het….” (Joh 3:16). Dit wat God in Jesus kom doen het, is die ewige maatstaf van wat liefde is. Vier derhalwe Jesus se geboorte deur liefde te bewys. Ons liefde vir mekaar spruit uiteraard uit God se liefde vir ons. Ons het mekaar lief omdat ons God liefhet. Daarom is dit lekker om as familie by mekaar te kom en iets spesiaal vir mekaar te doen.
Wat sien mense Kerstyd in jou huis? By geleentheid was koning Hiskia tot die dood toe siek waarna God hom genees het. Daarna het hy buitelandse besoekers ontvang wat ’n bondgenootskap met Israel wou sluit. Tydens ’n besigtigingstoer het Hiskia hulle alles, van sy wapenrusting tot sy skatkamers toe, gewys. Toe hulle weg is, vra Jesaja: “Wat het hulle in u huis gesien?” (2 Kon.20:15).
Jesaja was nie nuuskierig nie, maar wou Hiskia ernstig teregwys. Hiskia het hulle alles behalwe sy siekbed gewys, God se grootste gawe aan hom; gesondheid. Hy het nagelaat om teenoor heidene van sy God te getuig. Moenie dat mense hierdie Kersfees alles behalwe Jesus in jou huis sien nie!