Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Het ons volk ons hart wat aan God behoort van Hom gesteel? Seker daarom dat ons Hom nie meer ken nie - afgedwaal het. Die troos is egter dat Hy dit nie so aanvaar nie! In Jeremia 24:7 sê Hy wat Hy ook vandag vir die Boerevolk in Suid-Afrika sê: "En Ek sal hulle 'n hart gee om My te ken, dat Ek die HERE is; en hulle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees, want hulle sal na My terugkeer met hul hele hart".
GOD VERLOS GELOWIGES IN HUL NOOD
Ds A.E. van den Berg
“Verlos ons dan nou tog uit sy hand, Here onse God, dat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, Here, alleen God is” (2 Kon.19:19).
Wyle Ronnie Belcher skryf: “Die lewe is soos 'n Eenster hotel, kry nie altyd wat jy bestel”. Dis so waar. Eers skyn die son in jou lewe en dan word dit skielik donker. Soms is daar rus en vrede in jou lewe en eensklaps keer dit in onrus en onvrede om, selfs so erg dat jy wonder of die lig ooit weer sal skyn. Israel het eeue gelede ook gewonder of dit nie dalk klaar met kees was nie!
Die gelese gedeelte speel ongeveer 700vC in Israel af. Die volk was in so 'n benarde situasie, dat hulle algehele uitwissing in die gesig gestaar het. Koning Agas was alreeds dood, 'n diplomatiese man wat in relatiewe vrede met Assiriër geleef het al was dit teen 'n duur prys. Assirië was destyds baie sterk en het oor swakker lande gestoomroller, hul onderhorig gemaak en hoë belastings op hul afgedwing. Na Agas se dood was Israel bang om tot volle onderdanigheid aan Assirie gedwing te word.
Israel het op daardie tydstip nog die dwingelandy vrygespring omdat Agas vrede met Assirië beding het. Benewens ligter belastings moes Israel die Assiriese godsdiens onderskryf en afgodsbeelde in die land toelaat. Agas het en selfs van sy eie kinders as brandoffer aan Molog geoffer net om sy inskiklikheid met die vyand te betuig. Daarvoor het gelowiges hom verag.
Toe hy sterf, het sy seun Hiskia koning geword. Hy was geheel anders as sy pa en godvresend. Slegte ouers het gewoonlik slegte kinders. Hier was dit 'n slegte ouer met 'n goeie kind. Toe Hiskia koning word, het hy onmiddellik met die Assiriese godsdiens gebreek en geweier om belasting te betaal. Gevolglik was die gort gaar en het Sanherib, 185,000 krygers na Jerusalem gestuur om dit te beleër en in te neem.
Waarom het Hiskia sy volk se toekoms onverskrokke op die spel geplaas? Was hy dwaas of dapper? Vers 15 antwoord: “En Hiskia het voor die aangesig van die Here gebid en gesê: Here, God van Israel.... U is alleen die God van al die koninkryke van die aarde ...”
Sanherib het homself as koning van die aarde geag; onaantasbaar en onoorwinlik. Assiriese beeldhouers het hom as 'n man met teuels in sy hande en ringe deur die neuse van onderdanige volke voorgestel; beeld van uitsonderlike mag en vernedering.
Juda was nie teen so 'n mag opgewasse nie.
Sanherib was op daardie tydstip die magtigste koning op aarde. Daarom doen Hiskia die regte ding as hy die magtigste Koning van die heelal om hulp nader. Hierdie Koning hoor en waarsku Sanherib: “Omdat jy teen my raas en jou trotsheid opgekom het in my ore, daarom sal Ek my haak in jou neus sit en my toom tussen jou lippe en jou terugbring met die pad waarmee jy gekom het” (:28).
Hierdie godspraak het Hiskia bemoedig, ook toe boodskappers hom van die 185,000 vyandige krygers vertel het wat om die stad saamgetrek het. Hy het God vir verlossing vertrou, veral na 'n tweede godspraak: “Daarom, so sê die Here aangaande die koning van Assirië: Hy sal in hierdie stad nie inkom en daar geen pyl in skiet en dit met geen skild aanval en daar geen wal teen opgooi nie” (:32).
'n Waarom sou God Israel red? Omdat sy koning 'n gelowige was en baie van sy onderdane hul voor God verootmoedig het. Hulle het God geken toe die son in hul lewens geskyn het, daarom kon hulle op Hom reken toe dit donker word.
Die nag voor die beplande inval kon niemand slaap nie. 'n Somber atmosfeer het soos 'n swaar kombers oor die stad gelê. Mense het die dood in die gesig gestaar. Was dit miskien hul laaste dag op aarde? Hulle het geweet dat die vyand vir die eerste lig gewag het om aan te val. Net God kon hulle van 'n gewisse dood red!
Dan breek die dag. Juda was gewoond aan die onophoudelike krygsrumoer rondom die stad; alles bangmaak-taktiek. Maar daardie oggend is alles doodstil. Verspieders loer versigtig oor die muur. Benewens die afwesigheid van krygsrumoer is geen slagordes opgestel of 'n mens in sig nie. Waar is die Assiriërs? Is hulle weg? Voetjie vir voetjie gaan hulle nader. Dan snak hulle na hul asems; al 185,000 van die vyand is nog steeds daar, MAAR hulle is dood! Wat het gebeur? “En in dieselfde nag het die engel van die Here uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd -vyf-en-tagtigduisend verslaan....” (:35).
God het ingegryp en Israel van die dood gered. Niks is vir God onmoontlik nie. Alle mag in hemel en op die aarde behoort aan Hom. Hierdie wonder-gebeure het die ore van die mense van die Ou Nabye Ooste bereik en hul sprakeloos gelaat. Daarna het die Assiriërs 'n redelik onbenullige volk geword.
God red elkeen wat Hom vrees. Ook die Boerevolk by Bloedrivier. Met God aan jou sy, is jy 'n meerderheid. Cilliers en sy 406 krygsmanne kon dit beaam. Hulle het die nag van 15 Desember 1838 iets soortgelyk as Juda ervaar toe hulle teen 'n oormag van minstens 40 teen 1 in die spervuur van Satan beland het. God alleen kon hulle red. Die Zoeloes was soos die Assiriërs wreed en sonder God en sy Gebod.
Die Voortrekkers het op daardie tydstip alreeds nare ondervindings met hulle barbaarsheid gehad. Van geloof, medemenslikheid of beskawing was daar by hulle geen sprake nie. Wat kon hulle nie moontlik met hul geliefdes doen nie? Net die gedagte daaraan het rillings langs die ruggraat afgestuur!
Hulle het God vertrou en vir sewe dae lank 'n gelofte wat in Cilliers se hart opgekom het, saans herhaal. Toe Sondag 16 Desember aanbreek, het die Zoeloes met die eerste lig aangeval. God het ingegryp en soos in die dae van Gideon met die Midianiete ook 'n gees van verskrikking onder die Zoeloes gestuur waarna hulle gevlug het.
Hoe wonderlik is geloofsvertroue in ons hemelse Vader nie! Gelowiges roep Hom aan en Hy gee gehoor. Die opskrif van Ps.34 lui: “Die Here beskerm die gelowige” Vers 18 sê: “Hulle roep en die Here hoor en red hulle uit al hul benoudhede”.
Ons verwonder ons vandag opnuut aan die magtige optrede van ons grote God. Die dapper Voortrekkers by Bloedrivier is bysaak. Die genadige God is hoofsaak. Wat Hy vir ons volk by Bloedrivier gedoen het, was niks nuuts nie. Hy het dit al tevore gedoen en gaan dit binnekort weer doen. Siener van Rensburg, ons geëerde Boere-profeet, sien dat daar in die hitte van ons stryd om ons vryheid te herwin, 'n tweede gelofte gemaak gaan word met 'n soortgelyke uitslag wat die wêreld verstom laat.
Skep moed en stry die goeie stryd. Onthou: Moed is nie die afwesigheid van vrees nie, maar die teenstaan en oorwinning daaroor. Moenie dat korrupte politici en verraderlike kerklui ons mismoedig maak nie. God is met ons. Hy laat vaar nie die werk van sy hande nie, maar bevestig dit!