Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy kan geen verdriet van jou afskuif asof dit jou nie aangaan nie. Jy kan leed en bekommernisse nie vermy nie, jy moet moet daardeur gaan na nuwe rus en vreugde.
ONS SKAT IN ERDEKRUIKE
Ds AE van den Berg
“Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God moet wees en nie uit ons nie” (2 Kor.4:7).
Naas Jesus was Paulus die grootste evangelis. Sy prediking het eerstens uit oproepe tot sondevergifnis bestaan. Mense moes tot bekering kom. Tweedens was sy prediking op geloofsversterking gerig. Gelowiges moet volwasse in die geloof word. Hy het soos ʼn goeie verkoopsman geesdriftig in sy produk geglo omdat hy self die nuutword in Jesus ervaar het.
Paulus se lewe was ʼn oop boek sonder verskuilde agendas. Hy het nooit sy amp om selfsugtige redes misbruik nie en slegs die waarheid gepreek. Ongelukkig het dit wat met baie predikante gebeur ook met Paulus gebeur; Satan het etlike teenstanders verwek om hom te probeer ontsenu.
Sy tweede brief aan die Korintiërs is ʼn verdedigingskrif. Hy was genoodsaak om hom teen kwaadwillige stories wat oor hom versprei is te verdedig. Wat dit was, weet ons nie. Uit sy tweede brief aan die Korintiërs kan ons aflei dat daar vertel is dat hy sy eie beuel blaas en sy bediening oëverblindery was.
Omdat ʼn leraar se amp aan sy persoon verbind is, was Paulus genoodsaak om homself te verdedig. Hy vergelyk sy amp in vers 7 met 'n beeldspraak: “Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God moet wees en nie uit ons nie”. Die Korintiërs het erdekruike baie goed geken. Hulle was ʼn welvarende gemeenskap wat selfs skatte vir bewaring in kruike geplaas het.
Paulus gebruik hierdie beeld om die grootste skat wat 'n mens kry te belig nl. geloofsekerheid: “ Want God wat gesê het dat daar uit die duisternis lig moet skyn – dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus” (vers 6). Watter kennis is hier ter sprake? Die sekerheid wat 'n mens het dat sy siel gered is. “Maar ek, ek weet my Verlosser leef....” (Job.19:25).
Dis die kosbaarste skat van almal. Geld kan dit nie koop nie. Jesus sê: “Want wat baat dit ʼn mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ʼn mens gee as losprys vir sy siel?” (Mt.16:26).
Paulus sê dat gelowiges hierdie vaste wete soos ʼn skat in ʼn erdekruik het. Sy beeldspraak het die Korintiërs aan twee dinge laat dink – eerstens aan ʼn skat wat vervoer en daarna bewaar moes word. So ʼn kruik was ʼn vervoer- en bewaarmiddel. Paulus sê dat God die skat van die Evangelie van verlossing in gelowiges geplaas het om te bewaar maar ook om uit te dra.
Hy verwys eerstens na die apostels wat die boodskap van verlossing begin verkondig het. Daarna het dit ook die taak van elke dienskneg van God geword; nie net leraars nie, maar ook doodgewone gelowiges.
Elke gelowige het die opdrag om hierdie skat te bewaar en uit te dra. Jesus se laaste opdrag was om dissipels van alle mense te maak (Mt.28:19). Elke gelowige is ʼn erdekruik waarin die boodskap van verlossing bewaar en oral bekend gemaak moet word.
Wat moet gelowiges met hierdie skat doen? Die verlossingsboodskap aan verlorenes te bring en die waarheid van God se Woord teen dwaalleer te gebruik. Dis ons bewaringstaak: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtig-heid” (2 Tim.3:16).
Destyds is skatte in verskillende soorte kruike bewaar. Soms was die kruik self van kosbare materiaal gemaak. Ons lees in die Evangelie van die vrou met die albasterfles met kosbare salf waarmee sy Jesus se voete gesalf het. Soms was die kruik byna net so waardevol soos die skat wat dit gehuisves het.
Met erdekruike was dit anders. Dit was so ʼn algemene gebruiksartikel dat dit nooit deel van die skat kon wees nie. Dit was goedkoop en het maklik gebreek. Dis hoe Paulus ʼn dienskneg van die Here sien – dit gaan nie oor die kruik wat selfs onaansienlik kan wees nie, maar oor wat binne in is. Dis hoe Paulus sy eie bediening gesien het; ʼn erdekruik sonder uiterlike waarde.
En dit geld vir elke dienaar van Jesus. Wie in sy diens staan, is nooit meer as net ʼn erdekruik nie. Hoe meer 'n kruik op sy eie sou skitter, hoe minder aandag sou die skat binne in aandag kry. Oral waar leraars net erdekruike is, skitter die skat daarin.
Die skat moet van die erdekruik verskil – altyd kosbaarder as die kruik self. Al is die kruik van klei gemaak, lelik, vol barste en krake, is die skat daarbinne altyd vlekloos en volmaak.
Gelowiges is almal erdekruike wat dieselfde skat huisves – die evangelie van verlossing. Uiterlik beskou, niks om oor opgewonde te raak nie. En so moet dit bly. Die buitekant van die erdekruik moet mense nooit vir dit wat binne in is blind maak nie.
Wanneer 'n predikant preek, is daar soms kritiek. Miskien is hy nie so ʼn goeie spreker of het genoeg skop in sy preek nie. Moet nooit die skat aan die kruik beoordeel nie. Uit die eerste brief aan die Korintiërs blyk dit dat Paulus self nie ʼn dinamiese prediker was nie. Daarom skryf hy in sy tweede brief aan hulle dat hy nie belangriker as ʼn erdekruik is soos van sy teenstanders beweer het nie.
Kruike wat meer as die skat wil wees, is doodsake vir 'n kerk. Dis moontlik een van die redes waarom al hoe meer kerke ontspoor. Leraars preek nie meer die waarheid nie en trek met tierlantyntjies en leuens baie mense en maak geld.
Tydens ʼn opname oor kerkgang in Amerika het dit aan die lig gekom dat 85% van alle kerkgangers rylopers is – mense wat van die een kerk na die ander reis op soek na beter ervarings of kanselvermaak. Kansels het ʼn verhoog vir vermaaklikheidskunstenaars geword met eredienste wat na sirkusse lyk!
Vir Paulus het dit nie om guns te wen gegaan nie, maar om in gehoorsaamheid aan Christus die Woord suiwer te bedien. Die gelowiges in Korinte kon dit sien. Daar was daar egter ook mense wat geestelik blind was en nie wou sien nie.
In vers 6 maak Paulus melding van God se eerste opdrag aan die skepping; dat daar lig moes wees. “Want God wat gesê het dat daar uit die duisternis lig moet skyn – dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus”.
Deur die prediking skyn die lig van God se vergifnis in donker harte in. God wil nie hê dat mense verlore moet gaan nie. Daarom het Hy Jesus gestuur en daarna predikers om sy lig in mense se sonde-duister te bring. Dis ook al wat vir Paulus belangrik was. Hulle moes nie na die erdekruik kyk nie, maar na die inhoud.
Gelowiges is die draers van die grootste skat. Wees egter ook baie versigtig om jouself nie minder as ʼn erdekruik te beskou en vir God te sê om iemand beter te kry om vir Hom te werk nie. Want dan begrawe jy jou talent soos die lui dienskneg in die bekende gelykenis. Laat hierdie skat eerder tot op die dag van jou dood in jou lewe bly skitter.