Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe lyk jou persoonlike verhouding met God? Kan mense werklik sien dat jy Jesus liefhet? Getuig jy ooit van Hom? Onthou: niemand kan jou nie die hemel indra nie. Jy moet ’n persoonlike verhouding met Jesus hê, anders is jy verlore!
UITSTEL
Ds A.E. van den Berg
“ ... Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ʼn damp wat vir ʼn kort tydjie verskyn en daarna weer verdwyn” (Jak. 4:14).
Mense is lief om slegte dinge met mooier-klinkende woorde te versag. Dit word eufemismes genoem. So praat mense bv. van kinders wat buite die eg verwek is as liefdeskinders. Is kinders wat binne die eg verwek is nie eerder liefdeskinders nie? Sonde word met ʼn suikerlagie bedek. Van een wat gesteel het word gesê dat hy gegaps het, of as iemand besope is, dat hy te veel gekuier het. Alles eufemismes om sondes onskuldig te laat klink!
Nog ʼn gevaarlike woord waarmee die werklike stand van sake dikwels omseil word, is die woord môre. Iemand sê: “Ek kan dit nie vandag doen nie, maar sal dit môre doen” terwyl hy dit vandag kan doen, maar nie daarvoor lus is nie. Iemand skryf nou onlangs die volgende ware woorde: “Môre is ʼn hersenskim, môre is skone illusie, dit is kaf; ja, môre is soete bedrog, want jy leef nie môre nie, maar vandag”.
Die woord môre word al te graag as ʼn rookskerm vir uitstel gebruik. En dis ʼn baie gevaarlike woord, veral wanneer dit by geloofsake kom want dit kan jou die hemel kos! Let op ʼn paar Bybelse voorbeelde van mense wat môre gesê het toe hulle eerder vandag moes gesê het.
Die eerste voorbeeld is Absolom; Dawid se oudste seun. Absolom beteken ironies vader van vrede. En hoe het hierdie vader van vrede nie juis die swaard in ʼn burgerlike opstand teen sy eie vader opgeneem om die koningskap te probeer bekom nie! Hy het Israel in ʼn burgeroorlog sy eie probeer maak.
Absolom het destyds daarin geslaag om sy vader uit Jerusalem tot anderkant die Jordaan te verdryf en met sy hele leër vas te keer. Toe hy die finale slag moes lewer, het Absolom getwyfel oor wat hy moes doen. Een van sy raadgewers, Agitofel, het hom aangeraai om daardie selfde nag met sy 12,000 uitgesoekte manskappe Dawid aan te val en te oorweldig. ʼn Ander raadgewer, Husai, het hom weer aangeraai om die aanval tot die volgende dag uit te stel ten einde die strategiese posisie van Dawid se leër vas te stel. Agitofel sê vir Absolom: vandag! Husai sê vir hom: môre! En Absolom stel uit.
In die geveg wat die volgende dag uitbreek het, is Absolom se mag vernietig en het sy haarlokke in die vlug in die woud van Efraim aan takke verstrengel geraak waar Dawid se manne hom gedood het. Daarna is sy lyk in ʼn sloot gegooi en het al die soldate wat verby beweeg het elkeen ʼn klip daarop gegooi. Waar Absolom in ʼn praalgraf in Jerusalem begrawe sou word en ʼn hele volk oor hom rou, het hy dood in ʼn sloot gelê omdat hy gesê het: “Nie vandag nie, maar môre”.
ʼn Tweede voorbeeld kom uit die NT. In Handelinge lees ons van Felix die Romeinse goewerneur van Judea wat Paulus moes verhoor. Die Joodse leiers het Paulus destyds aangekla dat hy ʼn vreemde leer verkondig en daardeur die Joodse godsdiens ondermyn het. Die Jode was veral fel teen sy verkondiging van Jesus se opstanding uit die dood gekant!
Feliks en sy Joodse vrou, Drusilla, het waarskynlik iets van die Christelike geloof geweet, maar omdat hulle goddeloos geleef het, hul nooit bekeer nie. Desondanks sy sondige, lelike lewe het Feliks by geleentheid vir Paulus na hom laat kom om meer van die Christelike godsdiens te verneem. Paulus het hierdie geleentheid aangegryp om van Jesus en redding uit sonde te getuig en geen doekies omgedraai nie. Soos dit ʼn kragtige getuie van Christus betaam, het Paulus reguit oor die lewe van gehoorsaamheid aan God, selfbeheersing, die komende oordeel en die opstanding uit die dode gepraat.
Hierdie helder getuienis het Feliks so bang gemaak, dat hy die gesprek stop gesit en Paulus aangesê het om vir eers te gaan. Hy sou, so het hy belowe, as hy weer tyd kry, verder met Paulus praat. Feliks se gewete het hom gepla. Hy was skuldig en het God se oordeel oor hom gevrees. Hy was by ʼn kruispad.
Toe maak Felix die fout van sy lewe; hy gee nie sy hart vir Jesus nie, maar stel dit eerder uit. Môre is nog ʼn dag! Daardie môre het nooit aangebreek nie. Kort daarna is Felix deur Festus opgevolg en het hy nooit weer die geleentheid gehad om met Paulus te praat nie. Felix is later onbekeerd oorlede waarna sy siel in die ewige verderf beland het waar dit tot vandag toe nog is!
Die laaste voorbeeld van ʼn fatale uitstel kom uit een van Jesus se gelykenisse; dié van die dwase boer in Luk.12. Jesus vertel by geleentheid van ʼn baie vooruitstrewende boer wie se oes een jaar so groot was, dat sy skure te klein was om dit in te stoor. Hy besluit toe om die ou store af te breek en groteres op te rig waarna hy sou ophou boer omdat daar genoeg vir môre en oormôre en die dae daarna sou wees. Hy kon vir die res van sy lewe baie gemaklik leef.
Terwyl hy met hierdie beplanning vir die dag van môre besig was, het God soos ʼn verkeerskonstabel voor hom kom staan en sy aardse reis beëindig. Hy is die selfde nag skielik oorlede en het die mense wat die fondament van die nuwe skuur sou kom grawe het, die volgende dag sy graf gegrawe. Ander mense het die opbrengs van die oes geniet. Wat leer Jesus ons deur hierdie gelykenis? Dat ons nie ons sieleheil gerieflikheidshalwe na more moet uitstel nie. Ons weet nie of daar ʼn more in ons lewe gaan wees nie. Vandag kan die laaste dag van ons lewe wees! Daarom kan die woord môre baie gevaarlik wees!
Waar staan Jesus op hierdie oomblik in jou lewe - binne of buite? Hoor ek iemand sê: “Jesus staan so halfpad in my lewe. Ek gaan Hom binnekort heeltemal inlaat?” Ons weet wat die regte ding is om te doen. Die Heilige Gees praat met ons. Nogtans is ons wederstrewig en gooi wal: Net nie vandag nie, miskien môre of oormore; laat die groot dae net verby gaan. Dit kan selfs ʼn baie goeie Nuwejaarbesluit wees, maar net nie hierdie jaar nie.
Die probleem is net, so sê Jakobus, dat ons nie weet of ons môre nog gaan leef nie. Doen dit wat jy met jou siel moet doen, vandag. Niemand kan vir jou ʼn more waarborg nie. Die skrywer van die Hebreër-brief gee die beste raad: “.... Vandag, as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie...” (Hebr.3:15).