Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons glo gewoonlik dat ons lewe bepaal word deur ons omstandighede, die buurt waarin jy woon, jou werk, geld, besittings; maar dis 'n leuen want ons leef nie van buite af nie maar van binne jouself na buite: verander net jou ingesteldheid, en jy sal vind dat alles rondom jou verander!
DIE BEDIENING VAN VERSOENING
Ds A.E. van den Berg
“En dit alles is uit God wat ons met Hom versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen” (2 Kor.5:18-20)
Ons leef net eenmaal op die aarde. Daarna sterf ons en gaan dan na een van twee plekke – die paradys of doderyk. Na die oordeelsdag gaan hulle wat in die paradys is na die nuwe Jerusalem en wie in die doderyk is na die hel. Elkeen kies self waar hy die ewigheid wil deurbring. Die meeste kies verkeerd: Jesus sê: “...want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan”.
Hoe beërwe ons die ewige geluksaligheid? Kom ons vra: Hoe kom ons in Kaapstad? Met 'n motor of 'n vliegtuig; ons kan self daar kom. Werk dit ook so met die ewige geluksaligheid, op eie krag? Nee, jy het Iemand nodig om jou daarheen te neem nl. Jesus Christus. Daarvoor moet ons 'n geestelike verhouding met Hom hê en word dit bekering genoem. Dis al wat ons ewigheidsroete van ewige smart na ewige heerlikheid verander en niks anders nie.
Johannes 1:14 sê dat almal wat Jesus as Verlosser aangeneem het, kinders van God is en dat die ewige geluksaligheid soos 'n Vaderhuis is met plek vir almal is wat as God se kinders sterf. Die bekering is ons toegangskaartjie tot hierdie Vaderhuis.
Maar hoe kom 'n mens tot bekering? Wanneer jy besef dat jy geestelik stukkend is. Sonde maak mense stukkend en stukkende mense kan nie die heerlikheid beërwe nie, maar moet eers heel gemaak word; iets wat net Jesus kan doen. Hierdie proses van heelmaking word versoening genoem. Jy word met God versoen.
Sonde maak ons wild en wil ons soos Adam en Eva van God af wegvlug. Versoening maak ons mak en nuwe mense. “Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het”(2 Kor.5:17)
Die mens het van vroeg af besef dat hy stukkend voor God is. Sommige het met God vrede gemaak soos Henog waarvan ons lees dat hy met God gewandel het. So ook Noag wat regverdig bevind is en wie se lewe met sy gesin gespaar is. Ons lees in Hebr.11 van OT geloofshelde; almal stukkende mense wat deur God heelgemaak is.
Met verloop van tyd het God voltydse werkers begin gebruik om mense te help om met God te versoen. Hulle is priesters genoem. Lev.16 praat van die Groot Versoeningsdag en vertel hoe die bediening van die versoening destyds geskied het. Diere is geslag en as 'n versoening van sonde aan God geoffer. God het die offer aangeneem waarna die priesters God se kwytskelding van straf aangekondig het. God het deur hulle na sondaars gewerk sodat stukkende mense heel kon word en van 'n ewige geluksalige woning seker kon wees.
Toe Jesus aan die kruis sterf, het die diere-offers asook die priesteramp verval. Omdat Jesus toe die volmaakte versoeningsoffer was, kon niemand meer op die ou manier die ewige geluksaligheid beërwe nie, Jesus was die Lam van God en het mense slegs op grond van die geloof en bekering die ewige Vaderhuis laat beërwe. Daarom sê Paulus: “Maar die regverdige sal uit die geloof lewe” (Rom.1:17) .
Dit beteken egter nie dat die bediening van die versoening gestaak is nie. Dis eerder in alle erns voortgesit, maar nie meer deur priesters nie, maar deur leraars. Daarom word 'n leraar se werk die bediening genoem – die bediening van die versoening. Dis elke opregte leraar se begeerte dat mense met God versoen en heel word: “Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen” (2 Kor.5:20).
Dis die kerk se taak om mense met hierdie versoening te help. 'n Kerk wat dit nie doen nie, is soos 'n horlosie sonder wysers en vir mense 'n struikelblok. Dit beroof hulle soos wat die Roomse Kerk (RK) mense van die ewige heerlikheid beroof.
Toe die RK teen die vierde eeu ontstaan het, is die ou Babiloniese afgodediens onder die dekmantel van Christendom voortgesit. Teenstanders is vervolg, gemartel en op brandstapels verbrand; alles in die naam van kerk! Daarom noem die geskiedenis hierdie era as die Donker Middeleeue omdat die lig van Jesus nie uit so 'n kerk kon vloei nie waarna 'n sataniese duisternis vir eeue lank op die mensdom neergedaal het.
God laat vaar egter nooit die werk van sy hande nie. Op Sondag 31 Oktober 1517 het Hy 'n hervorming onder Martin Luther, ʼn 34 jarige priester in Wittenberg (Duitsland), tot stand laat kom. Dit was die begin van Protestantisme; 'n kerklike erfenis wat ook in ons geliefde kerk se naam gehoor word. So het die ontspoorde kerk vir Babel afgeskud en weer kerk van Christus geword.
Wat het Luther hierdie stap laat neem? Dit waarvan die teksverse melding maak nl. die bediening van die versoening. God het hierdie bediening van die begin af aan die kerk toevertrou. Die kerk moes mense lei en vertel hoe om met God te versoen. Daar is geen taak belangriker as dit nie. 'n Kerk wat dit nalaat, laat mense die hel beërwe. En dis wat Luther gepla het – die RK het siele die ewige verderf ingestuur!
Die probleem was die RK se siening van die bediening van die versoening en die leuen wat sy verkondig het dat as jy gedoop is, aan die RK behoort en goeie werke doen, jy gered is. Daarbenewens moet jy ook gereeld tot Maria bid omdat sy die eintlike middelaar en meer vergewensgesind as Jesus is. Verder het die RK ook met die priesteramp volhard en het priesters Jesus met elke nagmaal as te ware opnuut geoffer.
Hierdie leer is die evangelie van die hel omdat die versoeningskarikatuur nie oor Jesus se kruis-offer loop nie. Hy sê self: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6). Daar word mos gesê dat alle paaie na Rome lei. Nee, die pad na die Vaderhuis loop ver verby Rome!
Dit gaan 'n gelowige se verstand te bowe dat sekere Protestantse kerke so blind-onverskillig is om te glo dat die RK se bediening van die versoening reg is terwyl sy nie eens die weg van saligheid verkondig nie! Hoe kan die RK die evangelie helder verkondig as sy lidmate leer dat geloof in Jesus nie nodig vir redding is nie? Hoe kan sy die evangelie helder verkondig as sy leer dat redding van die deelname aan die sakramente en goeie werke afhang? Dis 'n dwaalleer wat miljoene mense verby die poorte van die ewige geluksaligheid reguit hel toe stuur!
Laat ons vanoggend baie seker maak van waar ons met Jesus staan. Is ons geestelik weerbaar of weerloos? Die Bybel is die mees korrekte dokument in ons besit. Glo dit van Genesis tot Openbaring met jou hele hart en siel en plaas jou lewe opnuut in die hand van die Skrywer daarvan. Hy belowe diegene wat volhard dat hulle aan die einde van die stryd die kroon van die lewe sal ontvang (Open.2:10).
Ons kan God nie genoeg vir Protestantisme en die suiwere bediening van die versoening dank nie. Maar dan moet ons geloofssekerheid hê. Daarsonder is ons niks beter af as Roomse Katolieke wat gereeld voor hul afgode neerval en glo dat die kerk hul die ewige geluksaligheid sal indra nie. Gevolglik tree ek vanoggend as gesant van God op en pleit by elkeen: Laat jou met God versoen!