Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Agterlikheid is geen lewenslange vonnis waaronder sekere mense noodwendig gebuk moet gaan nie. Dis nie 'n onvermydelike toestand nie, maar 'n sieklike mentaliteit wat mense laat glo dat hulle onder geen verpligting is om werk van dieselfde gehalte te lewer as die res van die wêreld nie. Dis baie gerieflike bos waaragter hulle hul innerlike swakhede, luiheid en totale gebrek aan ambisie kan verskuil.
DRIE AANSLAE VAN SATAN
Ds A.E. van den Berg
“Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie” (1 Pet 4:12).
Charismatiese groepe beskou die eerste Christen-kerk as die volmaakte voorbeeld waarheen alle kerke moet terugkeer om ware kerk van Jesus te wees en gee baie aandag aan die boek Handelinge. Gelowiges moet egter versigtig met Handelinge omgaan want wie die strekking daarvan nie verstaan nie, dwaal baie maklik.
Handelinge is die verhaal van die oorgang van die ou na die nuwe verbond en lê nie standaarde vir die kerk van alle tye neer nie. Paulus se briewe is meer normatief. Indien Handelinge normatief was, sou ons verplig gewees het om al ons se besittings te verkoop en die opbrengs vir arm gelowiges te gee.
Paulus se briewe is egter vir die kerk van alle tye normatief omdat dit met die praktiese geloofslewe te doen het. Dink maar aan al sy waarskuwings en raadgewing, veral in Paulus se pastorale briewe soos Timoteus, Tessalonisense en Titus.
In hierdie briewe waarsku Paulus gereeld teen misleiding. Satan doen aan die einde van die tyd presies weer dit wat hy aan die begin gedoen het – hy mislei mense om leuens aan te hang en die waarheid te verag. Hy is immers die vader van die leuen. “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim.4:1)
Petrus sluit hierby aan en sê dat Satan soos ’n brullende leeu rondloop en kyk wie hy kan verslind (1 Pet.5:8). Satan wil hê dat mense die waarheid moet los en leuens glo. Die leuen moet die waarheid en die waarheid die leuen word. Om mense te mislei, vermom Satan hom soos ’n engel van die lig (2 Kor 11:14) en aan die einde van die tyd as God self: ”... die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess.2:4). Dit gaan miljoene mense skoonboul.
In Openbaring sien Johannes die vermomde Satan soos twee diere wat uit die see en die aarde opkom. Hy is ongelooflik sterk met kerklike, ekonomiese en politieke mag oor almal wie se name nie in die boek van die lewe opgeskryf is nie. Ons moet egter nooit dink dat God soos in ’n toutrek-wedstryd met Satan gewikkel is nie. Nee, Satan beskik slegs oor die mag wat God hom toelaat. Hy is soos ’n gevaarlike hond aan ’n ketting gebind wat net binne daardie perke kan optree.
Satan se beperkte mag word veral op drie terreine duidelik: Kerklik, geldelik en staatkundig. Op kerklike gebied poog hy om mense aan God se bestaan, skeppingsmag en wêreld-beheer te twyfel. Hy sypel onbewaakte kerke binne waarna hy talle kerklui aan die inspirasie en geskiedkundige korrektheid van die Bybel laat twyfel. Wie daaraan twyfel se geloof kom op losse skroewe te staan en doen wat Satan van hulle verwag. Mense moet van die ware kennis van God losgemaak word, want dan het hulle geen geestelike anker nie en dryf verder van die waarheid af weg!
“Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie. Want as die woord deur engele gespreek, onwankelbaar was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regverdige vergelding ontvang het, hoe sal ons ontvlug as ons so 'n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het,” (Hebr.2:1-3)
'n Volgende terrein wat Satan wil beheer, is geldsake. Johannes waarsku: “...sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het” (Open.13:17). Dinge gebeur alreeds. Geld-instansies smelt al hoe meer saam. Die een sluk die ander in. Daar word van globalisering gepraat. Dis ’n sentrale geldmag wat die hele mensdom gaan raak; internasionale koophandel, olie-voorsiening, handelsbank beheer, geldsirkulasie, aandelebeurse ens. Wie nie sterk in die Here staan nie, gaan meegesleur word!
'n Volgende terrein waarop Satan hom veral toelê, is staatsmag. Dit gaan al hoe meer gewelddadig word sodra kerk- en wêreld-owerhede saamspan. Dan is vervolging onafwendbaar. Jesus waarsku dat valse kerke aan die einde van die tyd gelowiges gaan vervolg en doodmaak soos wat die Roomse Kerk in die Middeleeue gedoen het: “Maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in sinagoges en gevangenisse en julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam” (Luk.21:12).
Jesus het vooraf geweet hoeveel van sy dissipels hul lewe om sy ontwil sou verloor. ”Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: 'n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar” (Joh.15:20).
Mattheus is bv. in Ethiopië gemartel en daarna met ’n swaard doodgesteek. Markus het in Alexandrië gesterf nadat hy aan perde vasgemaak en deur die strate gesleep is. Lukas is in Griekeland in die openbaar opgehang. Johannes is in Rome in kokende olie gegooi, maar het wonderbaarlik aan die dood ontkom. Daarna is hy na Patmos verban om later na Efese terug te keer en op rype ouderdom te sterf. Petrus is volgens oorlewering onderstebo gekruisig en Jakobus die broer van Jesus is van die tempel se dak afgegooi en daarna met knuppels doodgeslaan.
Jakobus die seun van Sebbedëus asook Paulus is onthoof. Bartolomeus is met swepe doodgeslaan. Thomas is tydens ’n sendingstog in Indië met ’n spies doodgesteek en Judas, die broer van Jesus, is met pyle doodgeskiet. Matthias en Barnabas is beide gestenig. Ja, wie Een wil volg wat deur die wêreld gekruisig is, moet self verwag om gekruisig te word!
Gelowiges moet altyd verdrukking te wagte wees. Paulus skryf aan gelowiges in Thessalonika: “...sodat niemand verontrus mag word onder hierdie verdrukkinge nie; want julle weet self dat ons hiervoor bestemd is” (1 Thess 3:3). Gelowiges gaan ’n hewige stryd tegemoet wat tot die wederkoms van Jesus hewiger gaan word. Die internasionale media berig gereeld oor Christen-vervolgings in sekere wêreldlande.
Gelowiges moet op hul hoede wees. Satan kom nie met weermag-stewels op hulle afmarsjeer nie, maar op die punte van sy tone. Hy is ’n misleier en behaal groot sukses in kerke wat hul rug op die waarheid draai. “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? “ (1 Pet.4:17)
Let op hoe gereeld verskuif ontspoorde kerke nie hul doelpale nie net om mense ter wille te wees. Mag God ons elke dag die nodige krag en genade gee om hierdie aanslae van Satan die hoof te bied en nie, soos so baie van ons volksgenote, van die suiwere Bybelse leer van die waarheid afvallig te word en leuens te glo nie.