Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons lyding op aarde vergelyk geensins met die vreugde wat vir ons in die hemel wag nie. Laat ons dus nie kla as ons ’n kruis moet dra nie. As iemand anders dit moes dra, sou hy die oorwinnaarskroon ontvang het en nie ons nie! Anders gestel: Wie geen kruis wil dra nie, verdien geen kroon nie.
VURIGE GEBED
Ds A.E. van den Berg
“Die vurige gebed van ʼn regverdige het groot krag” (Jak.5:16).
Die mensdom is geweldig behep met krag. Hoe meer, hoe beter! Let maar net op die moderne meganika; masjiene raak al hoe kleiner, maar sterker. Dit wat 'n 1600cc masjien 20 jaar gelede gedoen het, verrig 'n 1100cc masjien vandag! 'n Paar jaar gelede kyk ek op TV hoe 'n groot boot wat met die destydse getygolf in Japan hoog en droog op land gelaat is, met masjinerie in die water teruggeplaas is en die toejuiging wat die bergingspan van die skare ontvang het. Ja, mense het eerbied vir krag. So ook vir mag, veral wanneer die skynbaar onmoontlike vermag word.
Wat is die grootste krag waaraan u kan dink? Gebed. Waarom sê ek so? Omdat gebed die hand beweeg wat die heelal beweeg; God se hand! In die gelese gedeelte skryf Jakobus aan gelowiges in die verstrooiing – ontredderde mense wat tydens die Joods-Romeinse vervolging vir hul lewe uit Jerusalem en die omliggende omgewing gevlug het; mense wat die mag van die Romeinse ryk aan hulle lyf gevoel het!
Net soos wat baie volksgenote wonder of die bose ANC se mag ooit gebreek sal word, het gelowiges destyds gewonder of die Romeinse mag gebreek kon word? Wie was teen die Romeinse ryk bestand? Jakobus neem hul terug in die verlede om die toekoms in fokus te kry. Dis mos die waarde van geskiedenis – jy draai jou om na die verlede ten einde die toekoms in fokus te kry. En dis presies wat Jakobus doen. Hy wys ontnugterde gelowiges op 'n bitter tyd in die geskiedenis van Israel – die goddelose regering van koning Agab. Hierdie man het selfs 'n tempel vir Baäl langs diè van Salomo laat bou en afgodspriesters uit die staatskas vir hul dienste vergoed!
Dit het Elia so ontstel, dat hy God gebid het om Israel met droogte te straf. En God het! Dis wat gelowiges se gebede kan doen – die hand beweeg wat die heelal beweeg! Stem u saam dat gebed die grootste menslike krag denkbaar is? Net jammer dat dit bewonder maar so min gebruik word! Om krag te bewonder, bring jou nêrens nie. Gebruik wel! Dis presies wat God van ons wil hê; om hierdie krag te gebruik.
Hierdie krag kom uiteraard net tot sy reg indien dit reg gebruik word. Dit gaan mos met alle kragbronne so. Dit moet reg gebruik word. Die Bybel leer ons hoe om dit reg te gebruik. Luister maar net 'n bietjie hoe bid mense. Baie gebede is niks anders as 'n verlange-lys nie. Nee, gebed is nie 'n inligting-sessie waarmee ons God se aandag op ons eie verlangens en versugtinge probeer vestig nie! Gebed is nog minder 'n lys van opdragte wat ons aan God oorhandig. Dis waarom daar geen krag in baie gelowiges se gebede lê nie – hulle bid verkeerd! Verkeerde gebede verkry nie regte antwoorde nie.
God is ʼn goeie Gewer en gee graag vir sy kinders. Vir ʼn kind wat sy hande in opregtheid saamvou, maak God syne vir hom oop. Gebed is egter nie ʼn middel om God te probeer gebruik nie, maar eerder 'n manier waarop ons onsself aan Hom gee sodat Hy ons kan gebruik.
Gebed maak kinders van God ook moedig in die stryd. Kort na die priesterslagting by Karmel, het koning Agab Elia raakgeloop. Luister hoe groet hy hom: “Is dit jy, jou beroerder van Israel?” waarop Elia hom onverskrokke op sy sonde gewys het. Wie voor God kniel, kan voor enige mens staan. Baie kniel-werk laat jou altyd regop loop en die waarheid praat.
Gebed is wonderlik. Veral in tye van nood. Dan is God soveel nader aan sy kinders. Ja, daar is geen afstand so kort as dié tussen God en 'n biddende geloofskind nie! God geniet dit as ons van Hom afhanklik is. Gelukkig is die mens wat weet hoe afhanklik hy van God is. So 'n persoon steun nie op sy eie krag nie. Hy besef dat gebed 'n krag van God is waarop hy met sy menslike swakheid kan leun.
Ons almal raak, soos Petrus van ouds, van tyd tot tyd bang vir die lewe om ons. Weet een ding, as ons knieë die dag bewe, is dit tyd om te kniel. God hoor ons hulpgeroep vanuit die diepste put. Geen kind van Hom bid ooit tevergeefs nie. Ons hulpgeroep styg tot in die hoogste hemel op!
Dink maar net aan die arme Jeremia toe sy koning hom in ʼn modder-put laat gooi het om sy getuienis stil te maak. Hy het in sy nood gebid en God het hom verlos. Dit laat ʼn mens aan Dawid se woorde in Ps.40 dink: “Ek het die Here lank verwag, en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor; en Hy het my uit die kuil van vernietiging , uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ʼn rots gestel....” (:2,3).
Jeremia het nie baie hard na God geroep nie. Hy het geweet dat sy hemelse Vader baie nader aan sy kinders is as wat die meeste besef. Maar wat was Jeremia se gebedsgeheim? Hy het ook gebid toe die son in sy lewe geskyn het. As ons nie in die sonskyn van ons lewe bid nie, moet jy nie verwag om verhoor te word as dit donker om ons word nie! Gebed is nie ʼn noodwiel nie, maar ʼn stuurwiel!
Wanneer ons bid, moet ons nooit met ons woorde God se wil probeer verander nie. Toe Jesus in Getsemane tot God bid om tog die lydensbeker van Hom weg te neem, bid Hy tereg – nie My wil nie, maar u wil. Dis wat ons ook met gebed moet doen – om God se wil te leer ken. Want wat is die waarde van gebed? Om by 'n antwoord uit te kom of by God? Deur gebed soek ons die wil van die Vader en vra Hom dat sy wil ook ons wil moet word. Daarom is gebed vir 'n kind van God soos om by sy ouerhuis aan te doen.
Gebed bestaan nie altyd uit woorde nie. Sekere gedagtes is in werklikheid gebede. Daar kom oomblikke dat 'n mens nie woorde het nie, maar jou siel is op sy knieë! Nog minder bestaan gebed uit sekere liggaamshoudings. Gebed gaan per slot van sake nie om liggaamshouding nie, maar oor die houding van ons hart jeens God.
Nie almal hou van gebed nie. As daar een persoon is wat niks van gebed hou nie, dan is dit die Satan. Hy vrees gebed! Ja, hy spot met ons godsdiens. Hy spot met ons kerkgang. Hy spot met ons goeie werke. Maar hy sidder wanneer ons bid omdat gebed ʼn krag is wat hom aan bande lê!
Maar, hoe bid ons? Hardop of sag? Dit maak werklik nie saak nie. Baie mense wil nie hardop bid nie, omdat hulle bang is hulle struikel oor woorde. Wat is erger – om oor jou woorde of oor jou hart te struikel? ʼn Stamelaar wat bedoel wat hy bid, se gebed is vir God meer werd as die welsprekende wat nie bedoel wat hy sê nie. As jy bid, is dit beter om ʼn hart sonder woorde te hê, as woorde sonder ʼn hart. Gebed is meer hart as tong.
Ons moet elke woord wat ons bid bedoel. Ons kan God nie ʼn rat voor die oë draai nie. Hy ken ons harte! So baie mense bid vir dinge wat hulle in werklikheid nie wil hê nie. So asof God dit nie weet nie! Dit laat my dink aan kinders wat toktokkie speel – klop aan ʼn deur en hardloop weg! Bedoel wat jy sê! Koue gebede verkry nie warm antwoorde nie.
ʼn Laaste aspek waarby ek wil stilstaan, is voorbidding. Tydens die verstrooiing het gelowiges baie ernstig vir mekaar gebid. Jakobus skryf ook daaroor. Daardie eerste Christene het onder die diepe besef van die waarde van voorbidding gekom en in daardie moeilike tye mekaar daardeur gedra. Om vir iemand met gebed in te tree, spreek van liefde op die knieë.
Let daarop dat die eerste Christen-gelowiges nie net met mense oor God gepraat nie. Hulle het ook met God oor mense gepraat – hulle medegelowiges en susters. Luister wat skryf die apostel Paulus oor voorbidding: “Ons dank die God en Vader van ons Here Jesus Christus altyd as ons vir julle bid. Daarom hou ons ook nie op nie...om vir julle te bid....en bid tegelykertyd ook vir ons...” (Kol.1:3,9; 4:3). “Broeders, bid vir ons” ( 1 Thess.5:25). O, die onmisbare waarde van voorbidding!
Jak.5:17 meld iets baie belangrik vir die gebedslewe – vurigheid. Gelowiges moet geesdriftig bid; groot bid. God is by magte om ons ver bo ons verwagting te gee. 'n Gelowige moet bv. nie vir krukke bid as jy weet dat God vir hom vlerke kan gee nie!
Bid jy? Bid jy werklik? Hoe bid jy? Bid jy genoeg? Kom ons gaan maak baie meer van hierdie krag wat God tot ons beskikking gestel het. Maak gebed so deel van jou lewe soos asemhaling. Laat gebed die sleutel wees waarmee jy elke nuwe dag van jou lewe oopsluit en die slot waarmee die aand daarvan toesluit.