Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Vrees is ‘n nare ding. Dit maak jou siek en verlam daardie noodsaaklike krag wat jy vandag nodig het om môre se beproewing te kan dra. Wanneer ons egter leer om nie bang te wees nie, ontdek ons hoe wonderlik dit is om beproewing te verdra en nog steeds geestelik sterk te bly.
GOD GEE SY EIE SEUN
Ds A.E. van den Berg
“En Hy sê: Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie” (Gen22:12). .
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh.3:16).
Geen geskenk is wonderliker as iets wat jy baie graag wou hê, nie kon bekostig nie, maar toe wel gekry het. As 'n jong seun wou ek baie graag 'n fiets hê. Maar as alleen kind en 'n moeder as alleen-sorg was daar net nie geld daarvoor nie. Aan die einde van my standerd ses jaar het my moeder toe vir my 'n fiets vir Kersfees op afbetaling gekoop. Dit was my wonderlikste geskenk.
Wat 'n teleurstelling sou dit nie wees indien 'n wonderlike geskenk na 'n tyd teruggeneem is nie. Abraham het so 'n nare ondervinding gehad. Hy was 'n Arameër wat 'n roeping van God ontvang het en 'n beduidende rol in die geskiedenis van Israel sou speel. Hy word dan ook die vader van gelowiges genoem, nie net in die OT nie maar ook in die NT. Paulus skryf:“En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Gal.3:29).
In Hebr 11 is daar 'n helde-galery van uitsonderlike OT gelowiges. Die skrywer noem 'n paar name maar wy skaars twee verse aan elkeen van hulle. Met Abraham wy hy 11 verse aan hom; 'n besondere gelowige. Daarom stel God Homself dikwels as die God van Abraham, Isak en Jakob in die OT bekend.
Waarom het God vir Abraham geroep? Was hy bloot net 'n goeie mens? Nee, God het hom uit vrye wil geroep. Abraham sou die stamvader van die volk wat God sou dien, word. Hierdie volk moes God se getuies in 'n barre heidense wêreld wees. Mense het God nie geken nie. Hy moes deur Abraham se nageslag bekend gestel word.
Sommige geleerdes beweer dat Abraham tydens sy roeping nie 'n gelowige maar 'n afgodsdienaar was. Dit maak werklik nie saak nie en beklemtoon juis die feit dat God uit genade en nie uit verdienste nie, kies en red.
Abraham was 75 jaar oud toe God hom die opdrag gegee het om met sy hele gesin na 'n onbekende bestemming te verhuis. 'n Mens sou dink dat hy met so 'n sprong in die duisternis dwaas was. Nee dit was nie 'n sprong in die duisternis nie maar eerder 'n sprong in die geloof. As God vir ons vra om in sy arms te spring, dan doen ons dit. “Toe het Abram weggetrek soos die Here hom gesê het, en ….Abram was vyf-en-sewentig jaar oud by sy vertrek uit Haran” (Gen12:4).
Abraham het hom in Kanaan gaan vestig en welvarend geword; vee, slawe en goud. God het hom op alle materiële gebiede geseën. Hy het alles gehad behalwe die belangrikste – 'n kind. Sara was onvrugbaar en verby die jare van swangerskap. 'n Mens sou haar nie kon verkwalik dat sy gelag het toe engele opdaag en sê dat sy swanger sou raak nie. In jou wildste drome!
Abraham het God nie verstaan toe Hy vir hom gesê het dat uit hom 'n groot nasie sou ontstaan nie. Miskien uit Ismael wat Abraham by 'n slavin verwek het? Nee, dis nie waarvan God gepraat het nie. Ismael het die vader van die latere Mohammedane geword wat tot vandag toe 'n groot en opstandige nasie is.
Na 25 jaar in die vreemde het Sara swanger geraak en is Isak gebore. Daarmee het Abraham die grootste geskenk uit die hand van God ontvang. Isak was ongeveer 12 jaar oud toe God Abraham se geloof op die proef gestel het. “.....Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys” (Vers 2). Dit het donker in Abraham se lewe geword; hy moes die geskenk teruggee – 'n brandoffer!
Sal jy jou kind keelaf sny en sy liggaam verbrand? En dit nogal 'n enigste kind? Net die gedagte daaraan laat koue rillings teen die ruggraat afloop. Sou ons Abraham kon verkwalik as hy geweier het? “Nee, Here, enigiets anders, net nie my kind nie!”
Ons weet nie wat Abraham se eerste reaksie was nie maar wel sy keuse in vers 2: “Daarop het Abraham die môre vroeg klaargemaak en sy esel opgesaal en twee van sy dienaars en sy seun Isak saam met hom geneem; en hy het hout gekloof vir 'n brandoffer en opgestaan en na die plek gegaan wat God hom aangewys het”.
Abraham se keuse vervul 'n mens eers met afsku en dan bewondering. Weersin in die sin dat hy gewillig was om 'n grusame daad te pleeg en bewondering dat sy liefde vir God sterker as sy liefde vir sy seun was. Geen wonder dat die skrywer van Hebr.11 dan ook 11 verse aan Abraham wy nie.
Die reis na die berg Moria was ongeveer 75 km ver. 'n Ent daarvandaan het Abraham en Isak alleen die berg bestyg – een met 'n houtstapel en die ander met 'n mes. Bo op die berg is Isak is op die brandstapel geplaas, gereed vir die offer. Net toe Abraham die mes lig, het 'n engel na hom geroep: “.... Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie”. Sy geloof is getoets en sy geskenk teruggegee.
In die NT vind ons feitlik 'n soortgelyke verhaal – ook van 'n Man wat sy enigste seun moes offer. So anders as Abraham se verhaal, is hierdie Man se seun wel geoffer. Die Man is God self en die Seun ons Here Jesus.
Ons kyk in ons geestesoog na twee vaders wat na hul seuns kyk. By Abraham is daar blydskap want sy seun is gespaar. By God is daar hartseer. Dit word op 'n Vrydag helder oordag donker in Jerusalem. God trek vir die natuur 'n roukleed aan. “En dit was omtrent die sesde uur, en daar het duisternis oor die hele aarde gekom tot die negende uur toe; en die son is verduister....” (Luk.23:44,45). Die kernboodskap is dat Jesus vir jou en my gesterf het.
Net so onskuldig soos wat Isak op Moria was, so onskuldig was Jesus op Golgotha. Die een se lewe word gespaar, maar nie die ander Een s'n nie. Die loon van die sonde is die dood. Ek en jy moes ook weens sonde gesterf het. Maar ons het nie. Ons staan soos Isak op van die brandoffer altaar.
Soos wat 'n ram in Isak se plek gesterf het, het 'n ander Lam vir ons gesterf – God se Lam. Johannes die Doper het dit voorspel: “Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh.1:29).
Dis tragies dat die wêreld niks met Jesus te doen wil hê nie en dit terwyl God die grootste geskenk gegee het. “Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie” (Joh.1:11). Dis soos 'n geskenk wat in 'n skenker se gesig teruggegooi word! Al doen mense dit nie opsigtelik nie, getuig hul verkeerde lewenswandel daarvan. Wie Jesus verwerp, verwerp die ewige lewe.
God het sy Kind geoffer sodat jy kind van God kon word: “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; (Joh.1:12). Ons kom vanoggend om met die gebruik van die Nagmaal Jesus opnuut as die grootste geskenk uit God se hand te ontvang. Is jy werklik dankbaar vir hierdie geskenk?