Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is talle genadegawes wat ons by God ontvang soos om barmhartig te wees, ander te vermaan, te onderrig, ens. Hierdie gawes moet beoefen word met net een doel voor oë: om in dankbaarheid God te verheerlik. Dit kan ons NIE regverdig maak en in die hemel bring nie – ons gebruik ons genadegawes uit dankbaarheid omdat ons reeds gered is!
NG KERK BELY EN ROU WEER (2)
Alhoewel Skriftuurlike dwaling sonder twyfel die primêre oorsaak is dat die NG Kerk leierskap op ‘n glybaan van geestelike afvalligheid beland het, moet daar met groot hartseer erken word dat ook ons behoudende leraars en lidmate bewustelik of onbewustelik meegewerk het dat fondamente ondermyn is (Ps 11:3).
- Deur aan die AS bevoegdheid te gee om bindende besluite te neem oor gemeentes wat nie op die AS verteenwoordig is nie. Die AS is ‘n sinode van sinodes maar neem besluite wat vir lidmate en gemeentes bindend is;
- Deur versuim is afwykende en liberale Skrifbeskouings, lering en praktyke toegelaat om te infiltreer. Dit het grootliks daartoe bygedra dat kerklike vergaderings toenemend deur liberale leierskap oorheers word.
- Deur versuim is toegelaat dat die Kerkorde, reglemente en sinodale besluite in kerkvergaderings soms voorkeur geniet bo die kerkregering van Christus deur Sy Woord en Gees.
- Deur versuim is strukture geskep wat oneffektief en duur is, en eerder ‘n las vir die geloofsgemeenskap is.
- Deur versuim, eie belang en apatie het die oproep tot radikale reformasie sover slegs ‘n beperkte impak gemaak.
- Deur versuim en dubbele standaarde is ekumeniese bande met verskeie liberale kerkgroeperinge soos bv. die WRK gesluit, maar verhoudinge met behoudende groepe in ons midde is ernstig verwaarloos.
- Deur versuim, en strewe na internasionale erkenning, het ons teologiese fakulteite van die NG Kerk verval in ‘n teelaarde van liberale denke en afwykende teologiese indoktrinasie;
- Deur versuim, en apatie het leraars en kerkrade die toerusting van ampsdraers en kategete, asook die amp van gelowige, so verwaarloos dat die NG Kerk al meer ontaard het in ‘n kragtelose “dominees-kerk”.
Ontstaan van die beplande Sinode
Verskeie NG gemeentes is nou al so moedeloos oor die geestelike verval in die NG Kerk dat hulle dit ernstig oorweeg om die NG kerkverband heeltemal te verlaat. Ten einde verdere kerkskeuring te stuit, het KN besluit om intussen alternatiewe kerkvergaderinge byeen te roep waar Skrifgetroue NG gemeentes ín ’n atmosfeer van eensgesindheid in liefde en waarheid mekaar kan ondersteun en inspireer om draers en beskermers van die Waarheid te wees (1 Tim 3:15). Daar kan ons mekaar ondersteun om die AS asook die streeksinodes tot bekering en reformasie te roep. Hieruit is ‘n visie gebore van ’n alternatiewe tussentydse sinode vir behoudende gemeentes. Ons noem dit voorlopig die Koinonia Sinode weens die klem op ware geestelike eenheid en broederskap binne hierdie sinode en om dit te onderskei van bestaande sinodes en kerkverbande. Hierdie naam kan later deur die sinode self gewysig word indien nodig. In lyn met hierdie visie het ons gemeentes aangemoedig om nie die kerk te verlaat nie, maar om hul eie besluite te neem oor die moontlikheid van doleansie. Dit is onder andere om die kerk van binne tot bekering te roep. Sovêr ons kennis strek het ongeveer 100 gemeentes hierdie keuse gemaak.
Ons visie was om as volgende stap behoudendes te konsolideer in ’n familie van behoudende Gereformeerdes. Dit het gebeur in Julie 2022 met teenwoordigheid en ondersteuning van verskeie ander gereformeerde kerke van buite die NG Kerk.
As ons nou kom by die volgende stap nl. die vorming van alternatiewe sinodes, bly ons doel steeds reformasie van binne. Die beplande sinode vervang dus nie bestaande kerkverbande of gemeentes se betrokkenheid daarbý nie. Tans is ons visie om onder te begin, nie bo nie. Ons beplan dus ter voorbereiding op ons Koinonia Sinode om eers tussen Januarie en Maart 2023 ’n paar kleiner streeksinodes saam te roep wat dan later die jaar kan uitloop op een oorkoepelende Koinonia Sinode waar afgevaardigdes uit elke gemeente asook erkende dissipelskap groepe teenwoordig kan wees. Dit is ’n amptelike vergadering wat amptelike bindende besluite kan neem.
Dit dan die bekendmaking van die NG Kerk se nuwe sinode. Laat ons maar bid en vertrou dat die vyand nie reeds in die midde van die nuwe sinode sit nie want die ou strategie van infiltreer, verdeel en heers is nog net so in gebruik soos eeue tevore.