Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moenie dat jou ouderdom jou arm maak omdat jy berou oor jou verlede het nie. Daar is die wonder van berouvolle sondebelydenis voor God. Jesus sê: “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee”.
HANG JOU SPIEËL?
Ds Andrè van den Berg
“Want as iemand ʼn hoorder van die Woord is en nie ʼn dader nie, dié is soos ʼn man wat sy natuurlike gesig in ʼn spieël sien; want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het” Jak.1:23,24
Om in die hemel te kom, moet jy jou tot Jesus Christus bekeer. Daar is geen ander manier nie. Bekering is die toegangskaartjie. Jesus sê: “... Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6). Om hemel toe te gaan, moet jy in ʼn persoonlike verhouding met Jesus verkeer as jy jou laaste asem uitblaas.
Waar begin so ʼn verhouding? By jou berouvolle erkenning dat jy ʼn sondaar is, dat jy jouself nie kan red nie en derhalwe ʼn Redder nodig het. So ʼn verhouding is nie staties nie, maar groei soos ʼn liefdesverhouding tussen man en vrou.
Om dit vir ons moontlik te maak, skep God sekere roetes om te bewandel ten einde hierdie verhouding volwassenheid te laat bereik. Een daarvan is gebed. Ons het die voorreg om met God te kan praat; iets wat nie een van sy ander skeppings kan doen nie. Tweedens smee ons deur kerkgang en gemeente betrokkenheid geestelike bande met God en met mekaar. Derdens gee God ook vir ons sy Woord sodat ons Hom kan leer ken en sy wil te wete te kom.
Ek staan by God se voorsiening van sy Woord stil. Baie mense se gebrek aan geestelike groei is aan ʼn verkeerde manier van omgang met die Bybel te wyte. Mense sien die verstandelike aspek van Bybelkennis in en stem saam dat dit waar, betroubaar, ewig en derhalwe onveranderlik is en lees dit hoogstens.
Nee, ʼn studie van die Bybel is onontbeerlik vir geestelike groei. Want daarin leer ons Wie God werklik is en wat sy doel met ons lewens is: “En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar. Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here. En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom” (Kol.3:15-17). Dis die verstandelike aspek.
Baie mense is ook met die gedragsdoelwitte van die Bybel vertroud. Hulle lees graag die Bybel omdat dit hulle help om reg te leef. Die Bybel bevat riglyne en opdragte wat mense leer hoe om tot God se eer en tot voordeel van ander te leef. Die Bybel help ons op pad na ons ewige reis. “U woord is ʼn lamp vir my voet en ʼn lig vir my pad” (Ps.119:105).
Ongelukkig beland so baie mense se strewe om volgens God se Woord te leef, spoedig op ʼn syspoor en mis hulle die belangrikste rede waarom God vir ons die Bybel gegee het - om ons verhoudings reg te hou. Hierdie verhoudingsaspek hang aan die spyker van liefde. Waarom lees ons die Bybel? As dit nie is om ons te help om in ʼn innige, liefdevolle verhouding met God wat dit geskryf het en diegene vir wie Hy lief is, te leef nie, kan ons net sowel strokiesverhale lees!
Jakobus skryf dat God se Woord soos ʼn spieël teen die muur van ons hart hang. Paulus skryf in dieselfde trant: “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ʼn spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Kor.3:18).
Soos wat ʼn spieël aan ʼn spyker/skroefie hang, hang God se spieël (Bybel) aan liefde: “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand..... En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.... Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete” (Mt.22).
Kennis van die Bybel moet tot liefde vir God en die medemens lei: “As iemand sê: Ek het God lief – en sy broeder haat, is hy ʼn leuenaar...” (1 Joh.4:20). Elke Bybelboek, elke goddelike opdrag en elke geestelike beginsel hang aan die spyker van liefde. Liefde voorsien ook die raamwerk waarbinne die Bybel verstaan moet word. God se Woord leer ons hoe om in ʼn geestelike liefdesverhouding met Hom en ons medemens te staan.
As die skroefie wat die spieël vashou, uitgetrek word, val dit stukkend op die vloer. En al plak jy die stukke een vir een aan mekaar, sal die beeld wat jy sien, nooit weer so duidelik wees soos tevore nie. Sonder die skroefie in die muur is dit ʼn verwronge beeld.
Dit was die probleem met die Fariseërs. Hulle het ʼn spieël gehad wat geval het waarna hulle net sekere stukke van God se waarheid gesien het. Jesus wys telkens op die Fariseërs se goeie kennis van die Woord (verstandelike aspek), maar ook hul ontoereikende toepassing daarvan (verhoudingsprobleem): “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie” (Joh.5:39,40).
Die Jode het geglo dat ʼn verstandelike aspek van God se Woord plus ʼn goeie gedragspatroon wat daaruit voortspruit, hulle hemel toe sou laat gaan. Dit was ʼn fatale fout wat hulle die ewige lewe gekos het! As kennis van die Bybel jou nie tot ʼn beter verhouding met God en jou medemens lei nie, mors jy jou tyd. Om Bybeltekste te leer, maar dit nie in ʼn goeie verhouding met God en mens uit te leef nie, is ʼn vermoeienis en alles tevergeefs.
Die Fariseërs het baie erns daarmee gemaak om mense met Skrifkennis toe te rus. Desondanks het hulle in gebreke gebly om mense die verhoudingswaarde te leer. Dit help nie dat leraars gelowiges toerus met stukke van God se waarheid en hulle daarna soos ʼn geestelike polisiemag uitstuur om diegene wat oortree, aan die pen te laat ry nie!
Ek is bevrees dat die kerk van die 21ste eeu die skroef wat die spieël van God se Woord vashou, verloor het. Kerklui verloor toenemend sig van die twee groot gebooie waaraan God se Woord hang; die liefde vir God en die medemens. Liefdeloosheid neem oorhand toe soos Christus vir die einde van die tyd voorspel het: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Mt.24:12).
Dit verduidelik waarom daar soveel kennis van God se Woord is, maar so min werklike uitlewing daarvan. Dis waarom so baie kerkgangers weet hoe om in die hemel te kom, maar paaie bewandel wat ver daarvandaan verbyloop.
Die Bybel getuig van homself: “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” (Heb.4:12). Dit help egter niks as die skroefie waaraan dit hang in mense se harte ontbreek nie.
Kyk na jou eie lewe. Hang jou spieël? Kyk jy nog daarin? Wat sien jy? ʼn Bekeerde mens wat God en sy medemens liefhet? Of sien jy iemand wat aan die liefde vir Gods en sy medemens mank gaan?
Elke gelowige is geroep tot diens. En die tyd om vir Christus diens te verrig, raak baie kort. Diens aan Christus sonder liefde is soos ʼn bedekte spieël in die huis. “Want as iemand ʼn hoorder van die Woord is en nie ʼn dader nie, dié is soos ʼn man wat sy natuurlike gesig in ʼn spieël sien; want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het” Moenie dat dit van jou lewe waar is nie.
Amen!