Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Soos Jehiskia gesond geword het toe hy sy hoogmoed laat staan het, so sal die Afrikanervolk genees wanneer hy biddend op sy knieë sy hoogmoed teenoor God bely en laat staan – dan eers sal ons land herstel.
EK HET GESTERF ! (10)
Hierdie naby-dood ervaring is in Afrikaans vertaal en neergeskryf deur Anita Joubert
Ek het voor Jesus gestaan. Sy oë het gebrand van hartseer, maar terselfdertyd met liefde. “Daniël, Ek moet vir jou wys wat gebeur wanneer twee mense saamwoon as een, sonder ʼn huweliksverbond.”
My naam is Daniël. Ek is 34 jaar oud en vir die grootste deel van my volwasse lewe, het ek gedink dat ek presies net soos al die ander jongmense lewe. Ek het grootgeword in ʼn Christenhuis en my ouers was getroue kerkgangers. My vader was ʼn stil man wat baie lang ure in die konstruksiebedryf gewerk het. My moeder was ʼn gelowige vrou. Sy het voor elke maaltyd gebid en Skrifgedeeltes gefluister terwyl sy die wasgoed opgevou het.
Sy het haar bes gedoen om my in die weë van die Here groot te maak, maar soos so baie jongmense het ek rusteloos geword. Ek wou onafhanklikheid en vryheid hê en my eie reëls maak.
Teen die tyd dat ek 27 jaar oud was, het ek ʼn goeie werk gehad, ʼn baie goeie salaris verdien en soos wat die meeste mense dit sou noem, ʼn stabiele verhouding gehad. Ek en my meisie, Emily, het al 3 jaar lank uitgegaan en het besluit om saam in te trek. Dit het so skadeloos gelyk. Almal rondom ons, selfs ons kerkvriende, het gesê: “Dit is hoe jongmense dit deesdae doen. Mens het nie ʼn stukkie papier nodig om jou liefde te bewys nie.”
Ek het vir myself dieselfde leuen vertel. Dat ʼn huwelik net ʼn wettige formaliteit is, en dat God ons harte ken.
Tog het ek diep in my binneste geweet dat my ouers baie teleurgsteld is. My ma het, met trane in haar oë, vir my gefluister: “Daniël, jy speel met vuur.”
Ek het dit afgelag. Ons was lief vir mekaar en dit is al wat saakgemaak het. Ek het gedink dat God verseker nie twee mense sou veroordeel wat só baie vir mekaar omgee nie.
Ons lewens het soos gewoonlik voortgegaan tot een nag, toe alles verander het. Ek het baie lang ure gewerk en was baie moeg en uiters gespanne. Ek het op die woonkamer se vloer inmekaar gesak. Emily het eers gedink dat ek net flou geword het, maar my asemhaling was baie oppervlakkig en my hart het gaan staan.
Die paramedici het later gesê dat ek vir ʼn hele paar minute weg was. Wat in daardie minute gebeur het, het my hele lewe daarna verander .
Ek het my liggaam verlaat en die geesteswêreld ingegaan wat ʼn baie groter realiteit is as enigiets in hierdie wêreld.
Ek het voor Jesus self gestaan, sy teenwoordigeid was stralend. Sy oë het gebrand van hartseer, maar terselfdertyd met liefde.
“Daniël, Ek moet vir jou wys wat gebeur wanneer twee mense saamwoon sonder ʼn huweliksverbond.”
Die oomblik toe my hart gestop het, het alles rondom my stil geword. Ek kon nog vir oulaas Emily se gesig sien, in paniek saamgetrek, haar mond wat beweeg asof sy my naam skreeu, maar ek kon nie langer haar stem hoor nie. My sig het dof geword en ek was skielik bokant my eie liggaam. Ek het afgekyk op wat daar gebeur.
Paramedici het ingestorm, hartmassering toegepas – hulle stemme ferm en dringend. Ek het niks gevoel nie: Geen pyn, geen gewig, net stilte.
Soos wat ek verder weg gesweef het, was die mure van ons woonplek ook nie meer sigbaar nie. Ek was in ʼn uitgestrekte duisternis. Dit was nie leeg nie, maar oral was lewe – ʼn versmorende donkerte wat my laat besef het hoe klein en kragteloos ek was.
Vrees het my vasgegryp en ek het gewonder of ek in die hel is. Op daardie oomblik het daar skielik lig deurgebreek – so oorweldigend helder dat die duisternis weggedeins het soos ʼn gewonde dier. Die lig was nie net lig nie, dit was ʼn Teenwoordigheid. Dit was Hy – Jesus Christus.
Toe my oë in syne kyk, het ek tot in my diepste wese ontbloot gevoel. Elke gedagte, elke keuse, elke verskoning wat ek gehad het, het oop en bloot voor my gelê. Sy gesig was gevul met ʼn liefde wat ek nog nooit ervaar het nie. Dit was liefde wat gebrand het, deurdringend, heilig. Ek wou in sy arms inhardloop, maar ek kon nie.
Jesus se gesigsuitdrukking was streng, en ek het besef waarom Hy my na Hom toe laat kom het. Hy het met ʼn stem gepraat wat deur my siel weerklink het.
“Daniël, Ek moet vir jou wys wat gebeur wanneer twee mense saamleef as een, sonder ʼn huweliksverbond.”
Ek het gevoel hoedat die grond onder my beweeg en skielik was ek in ʼn groot hofsaal, maar dit was nie ʼn aardse hofsaal nie. Die mure het soos kristal geglinster, en bokant ons was daar ʼn eindelose uitspansel van lig. Ek het onmiddellik besef dat ek die hemelse, die ewige realiteit beleef.
“Daniël,” het Jesus vir my gesê: “Ek weet dat sommige mense ʼn huwelik sien as net ʼn papiertjie wat deur die regering onderteken word, maar die Goddelike werklikheid is dat ʼn huwelik ʼn verbond is wat in my teenwoordigheid geseël word. Wat mense ʼn wet noem, noem Ek ʼn verbond. Dit is nie net ʼn kontrak nie, dit is ʼn gelofte wat met mekaar in die gees aangegaan word. ʼn Huwelik tussen ʼn man en vrou wat My dien, is ʼn profetiese prentjie van die mooi verhouding wat daar tussen My en my bruid gaan wees. (Ef. 5:31-32)
Voor ons het ʼn toneel verskyn. ʼn Bruid en bruidegom staan voor ʼn kansel. Agter hulle is daar nie net familie en vriende nie, maar ook engele – skitterend blink en afwagtend op die paar om hulle beloftes aan mekaar te maak. Die oomblik toe hulle dit doen, het daar ʼn lig neergedaal en die paartjie omvou. Dit was soos ʼn ketting van goud wat geen mensehand sou kon breek nie. Dit is ʼn verbond wat deur engele aangeteken word. “Die hemele erken dit en die hel vrees dit,” het Jesus vir my gesê.
Die toneel het weer verander. Ek het ʼn paartjie gesien wat saamwoon, ongetroud. Hulle het gelag, saam geëet, ʼn bed gedeel en vir mekaar gesê: “Ons is in ons harte getrou aan mekaar. Dit is genoeg.”
In die geesteswêreld het ek iets skrikwekkend gesien. Geen engel het wag gestaan nie. In plaas daarvan was daar donker skadu’s wat in die hoeke van hulle huis rondgehang het – fluisterend. Hulle het kettings van agterdog, wellus en jaloesie om die paartjie gedraai. Die kettings was nie goudkleurig nie, dit was grys en kon maklik breek.
Ek het na Jesus toe gedraai met ʼn bewende binneste. “Here, hulle het mekaar tog lief. Waarom is dit nie vir albei pare dieselfde nie?”
Sy oë het van hartseer, maar waarheid getuig. “Omdat liefde sonder ʼn verbond, soos saad is sonder grond. Dit kan nie groei in dít waarvoor dit bedoel en ontwerp is nie. Dit sal vir ʼn oomblik uitspruit, maar verdroog wanneer die storms kom. ʼn Verbond is die grond waarin liefde groei. Daarsonder het die eenheid tussen ʼn man en ʼn vrou geen wortels in die hemel nie. Dit is net vleeslik en aards. Wat in die vlees opgerig is, gaan tot niet. Wat in ʼn verbond verseël is, is blywend.”
Ek het hemelse boeke met aantekeninge gesien wat oopgemaak word. Huwelike wat in ʼn verbond verseël is, is daarin aangeteken in lig, maar diegene wat saamgewoon het, se name as paartjies, was nie daarin nie. Hulle het as individue bestaan, nie as ʼn eenheid nie. (Gen. 2:24)
Jesus het vir my gefluister: “Sonder ʼn verbond, kan die hemel hulle nie as een erken nie.”
My oë was skielik vol trane toe ek aan my en Emily dink. Vir die eerste keer het ek besef dat ons verhouding in die hemel niks anders as ʼn skadu is nie – ʼn namaaksel wat my geflous het, maar nie vir God nie.
Die beeld voor my het verander en ek het myself in ʼn woonkamer van ʼn jong paartjie bevind. Alles het so gewoon en normaal gelyk. Daar was foto’s, ʼn televisie en ʼn rusbank. Jesus het aan my skouer geraak en gesê: “Kyk dieper.” My oë het oopgegaan vir die geesteswêreld. Wat ek gesien het, het my yskoud laat word. Donker skadu’s met hol oë het in die hoeke van die huis rondgehang. Hulle het nie openlik aangeval nie, maar gefluister – saad geplant. Een het leuens van jaloesie in die man se oor gefluister. ʼn Ander het wellus in die vrou se gedagtes geblaas, haar herinner aan vorige verhoudings. ʼn Ander een het oor hulle finansies gehurk, strepe van vrees vir tekorte daaroor getrek. “Hierdie geeste het outoriteit, omdat daar nie ʼn verbond is nie,” het Jesus gesê. Saamwoon word nie beskerm nie, want dit is nie my ontwerp vir die mensdom nie. Waar my beskerming nie teenwoordig is nie, daar kry die koninkryk van die duisternis toegang.”
Ek het toegekyk hoe sinlose argumente tussen die twee ontstaan; wantroue al hoe erger word. Agter elke rusie het demone onsigbare toutjies getrek, die konflik aangeblaas, lekker gelag as die verhouding verswak. Jesus het my iets anders gewys: Kettings, dik en swaar, gedraai om albei se liggame. Hulle was nie bewus daarvan nie, maar elke keer wanneer hulle intiem verkeer het sonder ʼn verbond, het die kettings stywer getrek. Die vyand het wetlik reg gehad om hulle te bind, want hulle bymekaarkom as een, was in die vlees, en nie in die gees nie.
Jesus se stem het vol hartseer geklink: “Baie dink hulle is vry, want hulle het mekaar gekies, maar sonder My is hulle gebind.” Wat hulle onafhanklikheid noem, is gevangenskap. Wat hulle liefde noem, is wellus.
Die beeld het weer verander en ek het ons eie blyplek gesien – die mure van die plek wat ek en Emily gedeel het. Ek het met afsku gekyk na die geeste wat in die hoeke gesit het, na dieselfde kettings waarmee hulle ons gebind het. Ek wou vir hulle skreeu: “Neem dit weg!” maar ek kon nie.
My hart was stukkend om te dink dat ons hulle deur ons eie keuses ingenooi het. Jesus het met deurdringende oë na my gekyk. “Sien jy, Daniël? Saamwoon maak die deur wawyd oop. Jy mag dalk in beheer voel, maar jy is nooit alleen in daardie huis nie. Geeste kom in waar ʼn verbond nie bestaan nie; en hulle gaan ook nie gewilliglik weg nie, want hulle het reg.”
Ek het my kop in skaamte laat sak, sprakeloos. Vir die eerste keer het ek ten volle verstaan watter onsigbare prys ʼn mens betaal vir dit wat die samelewing ʼn normale lewe noem.
Nadat Jesus vir my al die geeste gewys het wat ʼn huis sonder ʼn verbond binnesluip, het Hy my na ʼn baie, baie groot biblioteek toe geneem. Die rakke het verder gestrek as wat ek kon sien, vol boeke en boekrolle, wat met lig gegloei het. Ek het geweet dat dit die hemelse aantekeninge en verslae is. Jesus het sy hand gelig en een van die boeke het voor my oopgemaak. Binne het ek die name van pare gesien – nie langs mekaar nie, maar inmekaar geweef tot een skitterende inskrywing. Dit was die huwelike wat in ʼn verbond voor Hom verseël is. Engele het die huweliksbeloftes neergeskryf en in hemelse standaarde, is hulle waarlik een vlees. (Gen. 2:24; Matt. 9:5-6; en Mark.10:8; Ef. 5:31-32)
Jesus het die bladsy omgedraai en ek het verwag om my en Emily se name ook daar te sien, maar net my eie naam het daar gestaan. Ek het yskoud gevoel. “Waar is Emily se naam?” Jesus het na my gekyk met ʼn hartseer gesig en gesê: “Daniël, die wêreld verkoop aan julle ʼn leuen. ʼn Huwelik is nie net ʼn papiertjie nie. Liefde is nie genoeg nie. Dit mag so voel, maar dit is nie in my geseël nie. Dit is nie ewig nie.”
Ek het skielik beelde gesien van ontelbare pare wat ongetroud saamwoon. Hulle het voor etes gebid, soms selfs God se seën oor hulle huise gevra – gedink hulle is binne sy wil. In die hemele, bokant hulle, het hulle gebede teen ʼn koperplafon vasgeslaan. Jesus het verduidelik: “Wanneer daar geen verbond is nie, het hulle woorde ook geen outoriteit nie en die vyand kla hulle dag en nag aan. (Op. 12:10). Solank as wat hulle buite my wil en beplanning vir die mensdom leef, is hulle gebede swak en word hulle seëninge teruggehou. Hulle dink hulle is onder my beskerming, want Ek sorg vir hulle uit genade, maar hulle is geestelik ontbloot.”
My knieë was lam. Hoeveel kere het ek en Emily nie vir God se voorsiening, leiding en gesondheid gevra nie? Nou sien ek egter die waarheid. Ons gebede is geblokkeer, verstring met kettings van leuens.
Jesus se stemtoon het ernstiger geword: “Satan maak seëninge na. Hy gee oomblikke van geluk, illusies van stabiliteit, maar onder dit alles, is daar vernietiging. ʼn Huis sonder wat sonder ʼn fondament gebou word, lyk aanvanklik sterk, maar die eerste storm openbaar die krake, en dit kan nie bly staan nie. (Matt. 7:24).
Jesus het weer aan die skitterende boek geraak, en ek het ʼn ander paartjie se name gesien – mense wat Hom deur hulle verbond met mekaar en met Hom, geëer het. Hulle name het soos vuur gegloei, saamgebind as een. Hulle gebede het ongehinderd opgegaan, vergesel van engele tot in die troonkamer van God.
Ek het letterlik geween toe ek besef wat ek verruil het vir gerief.
Jesus het weer sy hand gelig, en meteens het ons in ʼn hospitaal se kraamkamer gestaan. ʼn Pasgebore baba het in die moeder se arms gelê. Die kamer het gegloei van vreugde, maar hierdie keer was my oë oop vir die geesteswêreld. Bokant die kind het die donker skadu’s gehang, geeste wat gewag het vir hulle geleentheid. Sommige het vloeke van verwerping gefluister, ander het vloeke van verwarring en swak selfbeeld kom oordra.
Jesus het na my gekyk, sy stem swaar van hartseer. “Kinders is ʼn geskenk van My af, Daniël. Ek weef hulle liggame aanmekaar in hulle moederskoot (Ps. 139:13). Wanneer hulle egter buite my verbond gebore word, veg die koninkryk van die duisternis baie hard om besitreg oor hulle te kry. Nie omdat Ek hulle nie liefhet nie, maar omdat hulle ouers hulle nie deur ʼn verbond beskerm het nie.”
Terwyl Hy gepraat het, het ek nog ʼn visioen gesien. Kinders speel saam op ʼn speelterrein: Sommige skitterend en vol lig, ander omring deur onsigbare gewigte. Diegene wat lig uitgestraal het, se ouers het hulle eenheid met ʼn verbond voor God beseël en die engele omkring hulle soos wagte wat hulle beskerm. Die ander, alhoewel hulle ouers hulle ook liefhet, is broos. Geeste van onsekerheid fluister vir hulle: “Julle was onwelkom, ʼn fout. Julle hoort nêrens nie.”
My hart het gepyn toe ek vra: “Here, is hierdie kinders dan verlore?’
Jesus se oë was vol liefde en meegevoel. “Nee, Daniël, my genade is baie groter as hulle ouers se sonde. Ek het vir elkeen gesterf. Ouers moet egter verstaan dat hulle keuses deure oopmaak. Wanneer hulle dit bely en trou binne my verbond, en My om vergifnis vra omdat hulle buite my wil opgetree het, dan plaas hulle die kinders onder ʼn nuwe verbondsdekking. Al is hulle buite ʼn verbond gebore, kan hulle beskerm word deur my bloed aan die kruis, wanneer hulle ouers na My toe draai.
Die toneel het weer verander en ek het gesien hoedat swak keuses van ouers na hulle nageslagte oorspoel. Jesus het gesê: “Wat een geslag toelaat, word deur die volgende geslag omhels – en die derde geslag word daardeur verslaaf. Sonder my verbond, dryf families al hoe verder weg van my bedoeling vir die mensdom.”
Jesus het ook vir my iets gewys wat my hoop gegee het. ʼn Paartjie wat saamgewoon het, het dit bely en getrou. Die oomblik toe hulle hul beloftes uitgespreek het, het daar engele neergedaal om hulle en hulle kinders, te omsirkel. Die kettings wat die kinders gebind het, het afgeval en ek het vreugde in hulle ogies gesien.
“Sien jy dit, Daniël,?” het Jesus met soveel vurige liefde gevra. “My genade staan gereed om dinge te herstel. Geen kind is buite my bereik nie, maar ouers moet kies of hulle die deure vir die vyand wil ooplos, of dit deur ʼn verbond wil sluit.”
Ek was ontsettend hartseer. Jesus het weer sy hand gelig en ʼn nuwe visie het voor my ontvou. Hierdie keer het ek ʼn huwelikseremonie in ʼn klein kerkie gesien. Die versierings was baie eenvoudig. Die bruidspaar het senuweeagtig voor die pastoor gestaan. Die families was teenwoordig en met die eerste oogopslag, het alles baie eenvoudig gelyk. Toe die geestelike sluier weggetrek word, het ek na my asem gesnak. Die hemele het toegetree – engele het in rye gestaan, skitterend blink, magtig. Hulle vlerke was soos ʼn koepel van lig bo-oor die paartjie. Toe die bruid en bruidegom hulle beloftes aan mekaar maak, het goue lig soos ʼn rivier vanaf die hemel gevloei. Hulle is albei toegedraai daarin.
“Dit is my verbond,” het Jesus met ʼn sterk stem gesê: “ Wanneer twee mense beloftes voor My aflê, dan nooi hulle my Gees om hulle te vergesel. Wat ʼn mens in sy swakheid dan nie kan doen nie, sal Ek in my krag voltooi. Wat deur die vlees nie bewaar kan word nie, sal Ek deur my kragtige hand bewaar.”
Die beeld het weer verander en ek het dieselfde paartjie jare later gesien. Die huwelik was nie sonder probleme nie. Hulle het ook baklei, finansiële spanning beleef, met twyfel gestoei. Elke keer wanneer die storms egter opgesteek het, het God se verbond soos ʼn skild bly staan. Engele het hulle swaarde uit hulle skedes getrek en die geeste van verdeeldheid, wellus en wanhoop, teruggedryf.
Hulle gebede het onverhinderd tot voor God se troon gegaan – dit het sy pyle opgeskiet, sonder enige teenstand.
Jesus het in my oë gekyk: “ ʼn Huwelik is nie knegskap nie, Daniël. Dit is vryheid. ʼn Verbond is nie ʼn hok nie, dit is ʼn veilige vesting. Dit is ʼn plek waar liefde volwassenheid bereik, waar kinders beskerm word, waar gebede kragtig word. Dit is waarom die vyand van my mense so hard werk om dit goedkoop te maak, om dit te verwoes, om dit uitmekaar te dryf. Die koninkryk van die duisternis wil paartjies laat glo dat hulle iets misloop wanneer hulle aan My onderdanig is. In werklikheid verloor hulle álles wanneer hulle My ignoreer.”
Hy het toe vir my twee paaie gewys – aan die eenkant was daar pare wat saamgewoon het sonder ʼn verbond. Skadu’s het hulle huise gevul, hulle gebede is doodgedruk, hulle kinders was weerloos. Op die ander pad was daar huwelikspare wat in ʼn verbond met God en met mekaar gestaan het. Lig het hulle huise gevul, hulle kinders was omring deur bewaarengele. Die verskil was soos dag teenoor nag.
Jesus het in my oë gekyk. Daar was vuur in sy oë. “Daniël, as my mense weet wat ware huwelike in die geesteswêreld beteken, dan sal hulle hardloop vir ʼn verbond, nie weg daarvan nie. In ʼn verbond stel Ek nie net seëninge in hierdie lewe vry nie. Dit beteken ook beskerming vir die ewigheid.”
Ek het op my knieë neergeval – so geraak deur alles wat ek gesien het. Toe die visioene vervaag, was daar vir ʼn paar oomblikke stilte. Jesus se gesiguitdrukking het nog meer intens geword.
“Daniël, wat jy gesien het, is nie net vir jou nie. Dit is ʼn waarskuwing vir hierdie generasie. Die vyand werk in hierdie laaste dae onverpoosd om dít wat vir My heilig is, te ondergrawe en te verwoes. As hy dit nie kan regkry om die huweliksverbond te vernietig nie, dan verwoes hy families. Hy verswak volke, kerke en selfs die getuienis van my mense.”
Meteens het ek ʼn klomp beelde, vinnig, een na die ander, gesien. Stede oor die hele aarde waar pare ongetroud saamwoon asof dit normaal is. Selfs televisieprogramme, films, en musiek bespot die huwelik, of maak asof dit maar sommer net ʼn keuse is.
Ek het pastore en kerkleiers gesien terugdeins uit vrees, te bang om die waarheid te praat – bekommerd oor hulle lidmaatgetalle. Gemeentes bly doodstil, hulle kansels vol kompromieë.
Jesus se stem was soos donderweer: “My woord het nog nooit verander nie. Wat Ek van die begin af verklaar het, staan nog steeds net so – twee sal een word in die vlees. Tog, baie wat my Naam bely, buig voor die kultuur eerder as om by die waarheid te bly. Hulle probeer seën wat Ek nooit geseën het nie. Hulle verontskuldig dit wat Ek sonde noem.”
Jesus het vir my die rimpelingseffek van dit alles gewys – verswakte geloof, stukkende huise, stukkende kinders. Geslagte wat al hoe verder in rebelsheid verval het.
Tog, te midde van dit alles, het ek ʼn oorblyfsel gesien – mans en vroue wat manmoedig bly staan het, die huweliksband geëer het, hulle kompromieë bely het. Oor hulle het ʼn lig geskyn wat die duisternis teruggedruk het.
Jesus het trots geglimlag toe Hy na hulle gekyk het. “Hulle is my getuies. In die dae van duisternis, sal hulle huise helder skyn. Hulle huwelike sal getuig teenoor die wêreld dat Ek God is.”
Hy het na my toe teruggedraai en met ʼn pleitende dringendheid gesê: “Daniël gaan vertel vir die mense wat jy gesien het. Gaan verduidelik vir hulle wat Ek vir jou gesê het. Tyd is só kort. Satan wil hulle in kettings vasbind, maar Ek wil hulle vrymaak in my verbondsliefde. My mense moet in hierdie tyd kies wie hulle wil dien – hulleself, die kultuur of vir My.”
Die gewig van sy wonde het my soos vuur in my gebeente getref. (Jer. 20:9) Ek het geweet hierdie was nie net ʼn openbaring vir myself nie. Dit was ʼn boodskap vir die wêreld. Ek het bewend voor Jesus gestaan. Hierdie was ʼn opdrag, ʼn heilige taak wat ek nooit kan ignoreer nie.
“Daniël, gaan waarsku ander mense. Hulle dink hulle is veilig net omdat hulle in My glo. Tog lewe hulle in rebelsheid en eiesinnigheid teenoor my beplanning vir die mensdom. My Woord sê: “ Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery” (1 Sam. 15:23).
Hulle noem My Here met hulle lippe, maar deur hulle optrede verwerp hulle My en my Woord. As hulle dit nie bely en laat staan nie, sal hulle vernietiging maai. (Hand. 3:19)
Sy woorde het in my gebrand. Ek het tallose pare gesien wat soos ek en Emily geleef het. Hulle lag, plaas foto’s op sosiale media, bou ʼn lewe saam – alles buite ʼn huweliksverbond. Hulle het geen idee van die geestelike oorlog in en om hulle huise nie.
“Here, maar wat as hulle nie wil luister nie?”
“Jou taak is nie om hulle te oortuig nie, maar net te vertel wat jy gesien het. Vertel my waarheid met liefde. Dit is my Gees wat oortuig. Sommige sal jou spot, ander sal jou ignoreer, maar ander sal wakker word. Elke siel wat van vernietiging gered word, is die moeite werd.”
Ek het geweet my getuienis sou ʼn wapen in God se hand wees. Ek moes skreeu, skryf, getuig en praat – elke oop deur wat ek kon kry, gebruik. Ek moes pare waarsku dat saamwoon nie só skadeloos is as wat hulle dink nie. Dit is ʼn geestelike lokval. Ek moes pleit want ek het met my eie oë gesien wat in die geesteswêreld gebeur.
Ek het wakker geword met die klank van ontstelde stemme en hospitaalgeluide – helder ligte om my. My bors het soos vuur gebrand. ʼn Verpleegster het oor my gebuk en geskreeu: “Hy is terug!”
Emily het langs my gesit en huil, my hand vasgehou asof sy my nooit sou laat gaan nie.
Alhoewel ek na hierdie wêreld teruggekeer het, was ek nie dieselfde mens wat dit verlaat het nie. Die erns van wat ek gesien het, die woorde van Jesus, die visioene van diegene met ʼn huweliksverbond en diegene wat dit nie gehad het nie, het my soos vuur gebrand.
My eerste besluit was om dinge in ons lewens reg te stel. Binne weke nadat ek uit die hospitaal gekom het, is ek en Emily, voor God en almal daar teenwoordig, wetlik getroud. Ons het huweliksbeloftes afgelê en ek het gevoel hoedat die hemele glimlag.
Ek het nou ʼn nuwe doel in die lewe. Ek kan nie stilbly nie en praat met elkeen wat wil luister – vriende, kerke, vreemdelinge. My boodskap is eenvoudig, maar baie dringend: “Moenie tevrede wees met ʼn namaaksel en ʼn leuen nie. Kry die beskerming van die huweliksverbond.”
“Daar staan in die Skrif: “Daarom sal ʼn man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees. Hierin lê daar ʼn diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk” (Ef. 5:31-32).