Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
'n Dapper mens is een wat 'n duidelike doel het en dit dan tegemoetgaan. Maar as jy weet wat jy moet doen en dit nie doen nie, is jy 'n lafaard.
UIT GENADE ALLEEN
Mense word deur al die eeue nog altyd uit genade gered.
Anita Joubert
Het jy ook gedink dat die Israeliete hulle redding moes verdien deur wetsonderhouding en die bring van offers aan God? Kom ons kyk wat sê die Bybel.
In Johannes 8:56 tot 58 het Jesus aan die Jode gesê:
56 Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly.
57 Toe sê die Jode vir Hom: U is nog nie vyftig jaar oud nie, en het U Abraham gesien?
58 Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.
Hoe is dit moontlik dat Abraham Jesus se koms kon sien? Ons lees in Genesis 22:1 tot 19 dat God vir Abraham op die proef wou stel. Hy het aan hom opdrag gegee om sy enigste seun, Isak, die seun wat hy liefhet, te gaan offer. Abraham het die hout vir die brandoffer op Isak se rug gesit om dit te dra na die plek waar hy geoffer móés word, net soos wat die Here Jesus ook self sy houtkruis moes dra na die plek waar Hy toe wél geoffer is. Toe Abraham met sy seun, Isak, by sy bestemming aangekom het, het God ʼn plaasvervangende offerlam voorsien.
Jesus vertel dus vir die Jode dat Abraham profeties gesien het dat Hy as eersgebore Seun teen die Golgota-heuwel sou opgaan met hout op sy rug om as plaasvervangende offer te sterf vir die wêreld se sondes.
Paulus skryf aan die Galasiërs: “Hy wat julle met die Heilige Gees toerus en kragtig onder julle werk, doen Hy dit omdat julle die wet onderhou of omdat julle die evangelie glo? So was dit ook met Abraham: ‘Hy het in God geglo en God het hom vrygespreek.’ (aanhaling uit Gen. 15:6). Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is. Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo. Daarom het die Skrif al voorheen die goeie nuus vir Abraham gebring: ‘In jou sal al die nasies geseën word.’ Dit is dié wat glo, wat saam met die gelowige Abraham geseën word. Maar almal wat staatmaak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: ‘Daar rus ʼn vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie.’ (aanhaling uit Deut. 27:26). ‘En dat niemand op grond van die wet deur God vrygespreek word nie, is duidelik, want hy wat deur God vrygespreek word omdat hy glo, sal lewe’ ” (aanhaling uit Hab. 2:4). (Gal 3:5-10)
In sy brief aan die Romeine haal Paulus weer die woorde in Genesis 15:6 aan wanneer hy sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek” (Rom. 4:3).
Die Jode kon nie in Jesus glo as hulle Messias nie, want Hy was nog nie daar nie, maar die gelowige Jode het wel geglo in die belofte van ʼn Messias wat sou kom. Hulle het steeds geglo in dit wat God aan hulle geopenbaar het.
Die skrywer van die Hebreërsbrief sê dat die wet van Moses slegs ʼn skadubeeld is van die weldade wat sou kom, dit is nie ʼn werklike beeld daarvan nie. Jaar na jaar word die offers gebring, en tog kan diegene wat offers bring, nooit volkome van sonde vrykom nie (Heb. 10:1). In vers 4 sê hy uitdruklik dat die bloed van bulle en bokke onmoontlik die sondes kan wegneem (Heb. 10:4). Waarom moes hulle dan offers bring?
Daar is verskeie redes daarvoor. Dit het onder andere vir die Jode gewys dat sonde vir God só erg is, dat daarvoor gesterf móét word. Dit is ʼn baie ernstige saak. Dit het ook gewys na Jesus wat die volkome offer sou wees. Dit was ʼn heenwysing na Jesus se offer wat nie net vir die redding van mense ná sy kruisiging bedoel was nie, maar ook vir gelowiges in God wat offers gebring het om hulle eie sonde te bedek, al het hulle nie die Naam van die Here Jesus geken nie.
Jode wat dus hulle geloof gevestig het op die beloftes wat na Jesus heengewys het, is ook gered deur hulle geloof in Hom. Noudat ons Hom ken, kan ons nie meer ons geloof net in beloftes en profesieë oor Hom plaas nie, want ons ken Hom as ons Redder, ons Advokaat wat vir ons intree by God en ons Koning wat gaan kom om te regeer. Hy is die vervulling van al die Ou Testamentiese profesieë en beloftes, en ons moet ʼn persoonlike verhouding met Hom hê.
Ons moet nooit dink dat enigeen ooit sy redding kan verdien nie. Ons word gered slegs wanneer ons die ontsettende groot offer wat Jesus, uit liefde, in ons plek aan die kruis gebring het, aanvaar en toelaat dat Hy ons sonde vergewe en ons reinig deur sy bloed. Hy moet elkeen van ons op die naam ken, sodat ons eendag die volgende woorde uit sy mond kan hoor: “En sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.” (Matt. 25:21)