Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gaan ons Jesus weer sien? Ja, ons gaan! God belowe in sy Woord dat Jesus nie net eenmaal na die aarde gekom het nie, maar vir ‘n tweede en finale keer gaan kom. Luister wat sê die twee engele vir die dissipels na afloop van die hemelvaart in Hand.1:11: “Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het”.
GENERAAL CHRISTAAN DE WET...
...AFRIKANER SONDER WEERGA
Dr Pieter Swart
By die lees van die boek van professor MCE van Schoor oor generaal De Wet getiteld Christaan Rudolph de Wet: Krygsman en Volksman, ontbreek dit mens aan woorde om ‘n paslike kort artikel te skryf oor hierdie edel Afrikaner. Tog is dit nodig om, in hierdie tye van verwardheid en verslaentheid onder volksgenote, die een en ander op te merk oor hierdie onverskrokke volksheld.
Waar ons enkele jare gelede die liedjie gesing het oor daardie ander diep gelowige dapper generaal, De La Rey, wonder ek wanneer ons dieselfde hulde sal bring aan dalk die grootste militêre strateeg en leier wat ons volk ooit opgelewer het. Ja, mens sê dit met versigtigheid en sonder om engsins afbreuk te doen aan dit wat generaal De La Rey en Andries Pretorius vermag het.
Ek het oor al drie breedvoerig gelees en die drie staan vir my voorop as Afrikanerhelde van die slagveld. Wat boonop opval oor die drie here, is in die eerste plek hulle Godsvresenheid. In volle afhanklikheid van God het hulle geleef. Daarnaas die moed, onverskrokkenheid en dapperheid; so nou aan mekaar verbonde. Verder, hulle liefde vir hulle volk.
Dit is laasgemelde aspek – die liefde vir hulle volk – wat my vandag bekommerd maak oor die stand van ons volk. Want u sien, die karaktereienskappe is baie nou aan mekaar verbonde. Geloof, karakter en volksgebondenheid. Uit geloof spruit karakter en uit karakter volksgebondenheid
Reeds jare gelede het Jaap Marais gewys op die kenmerke van Afrikanerskap waarvan die hoekstene gelê is deur geloof, gesin, gesag en geskiedenis. By uitstek was dit die kenmerke van ons heldedom. As dit dan aan eer en respek en kennis van en vir ons geskiedenis en heldedom by ons volksgenote (en veral die kinders) ontbreek, is dit nie ‘n baie geldige vraag dat daar ook iets drasties skort met die geloof, gesin en gesag nie? Die een is tog afhanklik van die ander? Is daar uit die geledere van ons volk nog Afrikaners te haal wat hierdie kenmerke besit? In só ‘n mate dat hulle in die bresse kan tree vir ons volk?
Maar terug by De Wet. Sy hele lewe was geanker in sy God en in sy volk. Uit ‘n leunstoel sou mens vandag kon opmerk dat hy as generaal, en president Steyn as die leier van die volk, dalk van meet af die leiding in beide Transvaal en die Oranje-Vrystaat moes neem. Want dan sou dinge bepaald gans anders verloop het. Hier is generaal Smuts se opmerking van belang:
(Sy) energieke genialiteit (is) in elke stadium deur die stommiteit van sy meerderes en die insubordinasie van sy ongedissiplineerde burgers gedwarsboom.
Hoe dit ookal sy, niks, maar niks, kon generaal De Wet stuit in sy strewe om sy volk se vryheid in hulle eie republieke te herstel nie. Hy word eenvoudig nooit moedeloos nie. Hy het fisieke krag wat byna bomenslik is en wat blyk uit sy wedervaringe te velde. Hy stel in elke opsig ‘n voorbeeld vir sy makkers – wat hy van hulle verwag, doen hyself tot in die uiterste. Sy energie is onblusbaar. Sy teenwoordigheid van gees in die mees spanningsvolle situasies deurslaggewend en ongeëwenaard.
Tog handhaaf De Wet met almal ‘n formaliteit wat nodig is om sy gesag te laat geld. Hy is met niemand intiem nie. Hy is selfs geheimsinning. Hy is een van hulle, maar tog steeds die generaal na wie hulle opsien.
Daar is baie veldslae waaroor mens kan skryf en waaroor al geskryf is maar dit is die ontsetting van Dewetsdorp waaroor weer eens geskryf kan word, aangesien dit iets vertel van die nederigheid en Godvresenheid van De Wet.
Ná die ontsetting het dames van die NG Kerk vir hom liedere wou sing. Sy versoek was Ps 118:8
Ek sal nie lewe in slawelande
wat my ter dood toe wil omknel
Ek sal nie sterf deur vyandshande
maar al Gods werke bly vertel.
Nie alleen die woorde nie maar die feit dat De Wet ‘n haas onbekende Psalm kies vertel iets van sy kennis van die Bybel en soveel ander Psalms. Dít van ‘n man te velde wat alles dus uit sy kop moes ken.
De Wet het in sy waaksaamheid nooit verflou het nie en het in sy pligte as veldheer geheel daarin opgegaan. Persoonlike gemak het nie by hom getel nie en sy lewe was selfs moeiliker as sy burgers s’n.
In ‘n Engelse tydskrif in Desember 1900 word die volgende geskryf:
De Wet het weer deur die vingers geglip. Net soos ‘n ongebonde gees... verskyn en verdwyn hy met die snelheid en herhaling wat ons net so deurmekaar maak as wat dit tot krediet vir hom strek... Maande lank is hy al deur ons mense so dig omsingel dat hy onmoontlik kan vryspring; en maande lank ontsnap hy... Hy is die interessantste persoonlikheid in die oorlog, ‘n mirakel en ‘n geheimenis; en tog, die man wat die hele Engelse leër teëhou, is ‘n eenvoudige man. Hy het geen militêre handboeke gelees nie en was op geen militêre skool nie.
In die haglike omstandighede asook wanneer hy uitgevra is hoe hulle dan hierdie keer die Engelse gaan ontkom, was sy antwoord:
Ek het met die feite niks te make nie, net dat ek hulle uit die weg moet ruim!
De Wet het geglo dat die Afrikaner nie weer sou opstaan as hy sy vryheid in daardie oorlog sou prysgee nie. Dat die Afrikaner toe wel opgestaan het, spruit juis uit die inspirasie wat De Wet en sy manne vir latere leiers gegee het om weer op te staan. Dit strek tot sy eer.
Op ‘n stadium, op 17 Augustus 1901 te Fouriesburg, hou hy ‘n toespraak om sy krygers te bemoedig.
“Wat is roem?”, vra hy. “‘n Mens is maar stof. Wie roem wil vergader se tyd is afgekoop nog voordat hy roem verkry het. Dit is dwaasheid om na roem te strewe. Ons moet slegs werk na God se wil. Elke volk moet gelouter word soos grond. So moet ons volk gelouter word, alle skuim moet daarvan af. Ons moet gevorm word tot ‘n Christenvolk.”
Christiaan de Wet het altyd te velde gevra dat die Here hom en sy krygers getrou moet maak tot die dood. En by aanskoue kan dit sonder enige vrees vir teenspraak van hom gesê word. Hy was egter veel meer as dit. Hy sou vir geslagte die Afrikaner besiel met ‘n gees van volharding. Hy het ons ook voorouers, dié wat ná hom gekom het, verhef om ook in die bresse te tree vir die Afrikaner.
Ja, stil kêrels! Daar gaan ‘n man verby! Daar was maar één soos hy!