Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Want die HERE sal aan sy volk reg doen en medelye hê met sy knegte – Ps 135:14
KOM ONS KNIEL VOOR HOM IN AANBIDDING!
Anita Joubert
“Daarom kniel ek in gebed voor die Vader aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het” (Efes. 3:14-15).
Nederigheid is die heerlikheid van Jesus Christus, ons Here!
Toe die stem soos die geluid van ʼn trompet met Johannes gepraat het en hy meteens voor die troon van God gestaan het, het hy gehoor hoedat vier engele dag en nag, sonder om te rus, sê: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.”
Hy het ook gesien dat elke keer wanneer die lewende wesens heerlikheid, eer en dank toebring aan Hom wat op die troon sit, wat tot in ewigheid lewe, dan kniel die vier en twintig ouderlinge voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in ewigheid lewe. Hulle sit dan hulle krone voor die troon neer en sê:
‘Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep’ ” (Op. 4).
Judas sluit sy brief ook af met die pragtigste lofprysing wanneer hy sê: “Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar enjulle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid” (Judas 24-25).
Judas was ʼn broer van Jesus, wat heel waarskynlik saam met die res van sy familie gegaan het om Hom te gaan haal omdat die mense so om Hom saamgedrom het en sy familie besluit het dat Hy nie regdenkend is nie (Mark. 20:21). Johannes vertel dat selfs nie eers sy broers in Hom geglo het nie (Joh. 7:5).
Jesus moes só van sy broers verskil het, in elke enkele opsig – Hy wat volkome mens was maar ook God, sonder sonde – dat ʼn mens goed kan verstaan dat hulle wat gebore is met ʼn sondige natuur waar trots hulle harte oorheers het, wel jaloers op Hom moes gewees het. Tog het sy broers nie net volgelinge van Hom geword nie, maar ook leiers en martelare in die vroeë Kerk. Dit is aangrypend wanneer Jakobus, een van Jesus se ander broers, na Hom verwys as “Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort” (Jak. 2:1). ʼn Mens kan amper nie dink wat dit vir Jakobus moes beteken het om hierdie woorde neer te skryf. Hierdie Jesus aan wie die heerlikheid behoort, het eens op ʼn tyd langs hom geslaap, saam met hom aan etenstafel gesit, saam met hom gespeel, sy stoutigheid en ongeloof verduur, vir sy sondes gesterf, hom tot geloof gebring en aan hom die ewige lewe gegee.
En hierdie Jesus is ook elkeen van ons wat in Hom glo, se oudste Broer, Verlosser, se Here en Koning voor wie ons net kan buig en kniel in aanbidding. Hoe vinniger ons dit doen, hoe veiliger is dit vir ons, want daar gaan ʼn dag kom wanneer elke knie gaan buig en elke tong gaan bely dat Jesus Christus die Here is. Vir baie gaan dit egter te laat wees. God het Hom tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is (Fil. 2:9-11).
Paulus begin die pragtige gebed wat hy vir die Efesiërs gebid het, met die woorde: “En daarom kniel ek in gebed voor die Vader aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op aarde sy bestaan te danke het” (Efes. 3:14-15). Die res van sy gebed is werklik aangrypend en ons kan dit dikwels vir onsself en ook vir ander mense bid.
Die groot geheim van ons Christelike lewe as volgelinge van hierdie Jesus, is om sy nederigheid te bestudeer, want dít is die wortel van ons redding. Ons moet met ons hele hart glo dat God Hom aan ons gegee het en dat dit deur sy Goddelike nederigheid is dat Hy vir ons redding bewerk het. Daarom moet sý nederigheid ook in ons wees sodat ons vir God, ons Vader, aanneemlik kan wees.
Ons ken almal die fisiese swaartekragwet wat deur die hele skepping geldig is. Wanneer jy deur ʼn venster of vanaf die vierde verdieping van ʼn gebou spring, dan val jy jou te pletter. Jý verbreek nie die wet nie – die wet breek jóú. Die kans dat jy dit gaan oorleef, is baie skraal.
Geestelike wette werk presies dieselfde. Daar is een geestelike wet wat deur die hele skepping geldig is en elke mens raak. Jesus het hierdie wet ook aangehaal in Matteus 23:12 toe Hy vir die dissipels gesê het: “Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.” Hierdie is ʼn universele wet wat deur elke spektrum van die lewe geldig is.
Nederigheid is nié ʼn emosionele gevoel nie. Dit lê in die wil van elke mens. Jy kan nie besluit dat jy vir almal wil wys hoe nederig jy voel en is en hoe nederig jy optree nie – en dan is jy nou sogenaamd nederig nie. Dit gebeur soms dat mense skaars met ʼn hoorbare stem kan praat omdat hulle vir ander mense wil laat verstaan dat hulle so vroom en nederigheid is. Met sulke soort nederigheid loop ʼn mens die gevaar om so trots te raak op jou nederigheid, dat dit net so erg is as openlike verwaandheid en om te veel van jouself te dink, want wanneer jy dink dat jy vreeslik nederig is, dan dink jy eintlik heeltemal te veel van jouself.
Nederigheid is ook nie een van die vrugte van die Heilige Gees soos wat die 1983-Vertaling in Galasiërs 5:22 dit vertaal het nie. Die Griekse woord wat daar gebruik is, is praotes, wat in die 1953-Vertaling en ook in die NLV met sagmoedigheid vertaal is, en wat korrek is. Volgens Griekse kenners, is dit een van die Griekse woorde in die Nuwe Testament wat die moeilikste vertaal kon word, en dit is waarom die vertalers van die 1983-Vertaling dit goedgedink het om dit verkeerdelik met die woord ‘nederigheid’ te vertaal. Nederigheid het egter ʼn heel ander betekenis. Die Griekse woord praotes beteken om jou wil ondergeskik aan die wil van God te stel, om leerbaar te wees en ander mense in ag te neem. Dit is ook dieselfde woord wat dieretemmers gebruik wanneer ʼn dier ingebreek word. Sagmoedigheid het dieselfde betekenis as selfbeheersing wat net Christus alleen kan gee, maar dit is nie dieselfde as nederigheid nie, alhoewel dit baie ná daaraan is. As ons dus die Heilige Gees toelaat om ons lewens te oorheers, dan is sagmoedigheid een van die geestelike vrugte wat ons behoort te dra.
Dit is baie belangrik om te onthou dat Jakobus in sy brief geskryf het: “Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog” (Jak. 4:10). Die apostel Petrus skryf in sy brief: “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het” ( 1 Pet. 5:5b-6).
Jesus het by ʼn spesiale geleentheid opgemerk hoedat die genooide gaste die voorste plekke uitsoek om te sit. Hy het toe aan hulle ʼn gelykenis vertel en hulle gewaarsku dat hulle nie sommer op die voorste sitplekke moet gaan sit nie, want daar kan dalk belangriker gaste wees wat die voorste plekke moet inneem en dan sal dit ʼn verleentheid wees om agter toe geskuif te word. Hulle moet liewer wag dat die gasheer sê: “Vriend, kom sit hier voor” (Luk. 14:7-11)
Skrifgedeeltes om te lees:
Openbaring 4; Judas 24-25; Filippense 2:5-11; Efesiërs 3:14-21; Matteus 23:1-12; 1 Petrus 5:5-6; Lukas 14:7-11.