Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dit gebeur so maklik dat ons as gevolg van ons emosies sondig; die oomblik as jou 'eie ek' seergemaak word, veg jy terug vir die beste vir jouself maar sonder om te dink hoe selfs onskuldige mense dikwels in die proses seerkry. Al wat ons in hierdie verlore toestand kan red, is die genade van God. Bid dat die Here jou wysheid, insig, geduld en 'n vergewensgesindheid sal gee sodat jy met selfbeheersing kan leef.
‘N LIEFDE VIR GOD EN SY GEBOD
Hannes Ollewagen
Ps. 119:97-104
“Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig.” (:97&98).
Ons is seker almal bekend met daardie spontane glimlag wat gedurig op die gesig van ’n verliefde te sien is. Met gereelde tussenposes dwaal die verliefde se gedagtes na die persoon wat hom/haar so bekoor. Dit is asof ’n mens dit net nie kan help nie en wie sou buitendien hierdie soete gedagtes wou verhinder! En is hierdie dwalende gedagtes nie ’n aanduiding van waar die hart van hierdie verliefde persoon is nie, ongeag waar hy of sy hom- of haarself fisies bevind? En teen hierdie agtergrond verstaan ons die Psalmdigter se liefde vir God en sy wet beter. Hierdie wet van God is vir die Psalmdigter só ’n soete gedagte en só ’n kosbare kleinood dat sy gedagtes gedurig daarheen dwaal en totaal daarmee gevul is.
Hierdie ontdekking uit God se Woord kan dalk vir ons soms in ’n ongemaklike posisie plaas – die besef dat dit wat in my gedagtes omgaan vir my ’n goeie aanduiding gee van watter dinge (en wie) regtig vir my in my lewe belangrik is. Dit is maklik om met die lippe te bely dat ek God en sy gebod liefhet. Maar hoe kan ek hierdie belydenis toets? Is dit wat in my gedates omgaan nie vir my ’n spieëlbeeld van dit wat diep in my hart lê nie? ’n Verliefde se gedagtes sal gedurig na sy geliefde dwaal. En sal ’n man wat geld liefhet se gedagtes nie gedurig rondom sy rykdom draai nie? En diegene wat so versot is op sport – hulle gedagtes is so vol daarvan dat dit menigmaal ook bykans die enigste ding is wat uit hul mond kom. As ek en u dan ons gedagtes van die afgelope week of twee moet beoordeel – hoe sal dit daar uitsien? Hoeveel daarvan was met God en sy gebooie en insettinge gevul en hoeveel daarvan het bloot rondom ons eie verganklike begeertes gedraai?
Die Psalmdigter stel sy liefde vir God daarin duidelik dat hy dit nie alleen met die mond bely nie. Hy stel ook dat die wet van God omtrent al is waaraan hy kan dink. Dit is vir hom so soet en aangenaam dat sy gedagtewêreld daarmee gevul is. Ja, hy stel ook ’n bietjie later in Psalm 119 dat hierdie gebooie van God vir hom meer begeerlik as rykdom is – iets wat vir die meeste mense net absoluut onweerstaanbaar behoorlik is. “Daarom het ek u gebooie lief, meer as goud, ja, as baie fyn goud.” (Ps. 119:127). En daarbenewens stel die Psalmdigter ook dat hierdie bepeinsing en koestering van God se gebooie nie iets is wat hy net in tye van beproewing of teëspoed nadertrek nie, maar dat dit ’n permanente deel van sy wese word – ewigdurend. Dit vul sy gedagtes op so ’n gereelde grondslag dat dit permanent deel van hom word – dit is deel van die mens wat hy is. “Ek het my hart geneig, om u insettinge te betrag, vir ewig, tot die einde toe.” (Ps. 119:112).
’n Mens kan hom nie op hierdie wyse in die gebooie, wet en insettinge van God verlustig sonder dat ons in ’n opregte verhouding met Hom staan nie. Hierdie is veel dieper as ’n geloofsbelydenis met die lippe, die nakoming van sekere kerklike ordes en instellinge en ’n slaafse nakoming van gebooie. Hierdie is ’n liefde vir die gebooie, insettinge en verordeninge van God omdat dit deel is van wie Hy is. En dit is juis hierdie liefde wat God van sy kinders vra. “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” (Matt. 22:37). Hierdie opdrag is veel dieper as ’n oppervlakkige godsdienstigheid. Dit is ’n opregte en blywende begeerte na God en sy gebooie bo enigiets anders in my lewe – ’n verlustiging in Hom. Dit is daardie wonderskone besef dat ek in Hom die absolute volheid van lewe het. God gee aan ons ook in Ps. 34:4 die opdrag dat ons ons in Hom moet verlustig. “...en verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.” Hierdie verlustiging in Hom, die eerbied vir Hom en die begeerte na Hom en sy gebooie is waarin ons liefde vir Hom dan eindelik te bespeur is. “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie.” (1 Joh. 5:3).
Ons word dalk vandag daartoe geroep om ons gedagtes te beoordeel en wakker geskud te word tot die besef dat blote godsdienstigheid ons liefde vir God kan versmoor. En so ’n dooie godsdienstigheid soos wat die Skrifgeleerdes en Fariseërs ook gehad het, is vir Hom nie aanneemlik nie. Hy eis nie ’n slaafse gehoorsaamheid van ons nie, maar ’n opregte liefde, eerbied en toewyding teenoor Hom. Hy eis van ons as sy kinders om ons in Hom te verlustig – Hy moet ons grootste en hoogste vreugde in hierdie lewe wees. Hierdie soort liefde vir Hom sal ons van struikeling bewaar en ons verder ’n lewe van vrede met Hom laat geniet.
“Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie.” (Ps. 119:165).