Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons smag almal na innerlike rus en vrede. Die vrug van die Gees bevat nege gawes waarvan sagmoedigheid een is. Ons sondige natuur laat ons gewoonlik ons eie belange en voordeel soek wat ons heel dikwels bitsig en wraakgierig maak teenoor ons geliefdes en naastes. Die Here sê dat die sagmoediges die nuwe aarde ontvang, en Hy stel ons wel in staat om die natuurlike drang na selfgelding te oorwin. Bid vir daardie werking van die Heilige Gees in jou hart sodat jy die gawe om sagmoedig te wees, kan ontvang want dit bring vir jou rus en vrede.
JOHN VORSTER SE 1e MOORD
Koffiefontein (1939-1945)
Koffiefontein se naam kom uit die 1880 s, toe reisigers by ’n helder fontein aan die Rietrivier afgesaal, hul waterbottels volgemaak en met ’n beker warm koffie in die hand om ’n vuurtjie gerus het.
In 1870 het ’n sukkelende Hollander ’n enkele diamant by die fontein opgetel. ’n Slinkse kroegman het die kosbare ongeslypte steen vir ’n bottel whisky en ’n vars perd geruil. Die voggies het geloop en later die aand het die vreemdeling se tong losgeraak. Hy het verklap waar hy die diamant gekry het. Kort voor lank het gretige skattejagters op die fontein toegesak en gou was die eens helder water troebel van die modder. Teen 1882 is die groot delwerskamp wat so ontstaan het, tot dorp verklaar, maar die diamante het gou so skaars geraak dat die vier betrokke myngroepe hul bedrywighede gestaak het. Die delwers het padgegee, Koffiefontein het na sy ou status teruggekeer en die fontein se water het weer helder geword.
Na baie wik en weeg het die regering amper ‘n halfeeu later, tydens die Tweede Wêreldoorlog, besluit om die honderde OB-lede in aanhouding en “oorlogsmisdadigers” na Koffiefontein te stuur. Hulle kon in die lang rye hutte woon wat eens die swart mynwerkers gehuisves het. Hoë heinings en uitkyktorings is om die verlate myndorp opgerig.
Teen 1942 is sowat 800 Suid-Afrikaners, 2 000 Italianers, ’n paar Franse en ’n handvol Rooms-Katolieke priesters in die kamp aangehou. Elke hut het 16 mans gehuisves aan wie elk twee hemde, twee broeke en ’n paar stewels uitgereik is. Koppe is twee keer per dag getel. Streng reëls is toegepas en ofskoon die kamptoestand draaglik was, het Smuts se lojale soldate min genade vir die Nazi-gesinde gevangenes gehad.
Op ’n reëndag vroeg in 1942 het ‘n trein van Johannesburg op die Koffiefonteinstasie stilgehou met meer as 300 gevangenes - OB-lede uit die ou Transvaal en meestal oudpolisiemanne. ’n Sterk kontingent gewapende soldate het hulle ingewag en hulle die 400 meter na ’n afdak laat marsjeer. Die kampkommandant het die kamp se streng reëls en straf vir oortredings verduidelik. Daarna is die gevangenes in groepe van 16 verdeel.
Twee goeie vriende is na hut F3 gestuur. Die lang man met die naam Lofty en Boetie Bonthuys was saam polisiemanne in Johannesburg. Twee weke vroeër het hul kaptein tydens parade vertel daar is planne om ’n peloton polisiemanne oorsee te stuur. Daar was dadelik ontevredenheid onder die polisiemanne. Die offisier het enigeen wat nie gewillig was om die wapen teen Duitsland op te neem nie, uitgedaag om vorentoe te kom. Bonthuys was die eerste om die uitdaging te aanvaar. Hy het eenvoudig geglo hy kan meer vir sy mense Tuis beteken as om in iemand anders se oorlog te gaan veg.
Lofty het nie beweeg nie. Hy was ’n lid van die OB en wou nie hê dit moes uitlek nie, maar ’n week later was hy en Boetie onder die honderde wat aangekeer is omdat hulle daarvan verdink is dat hulle OB-lede of -simpatiseerders was. Hulle is in vragmotors na die Johannesburgse stasie geneem. Daar is nie aan hulle gesê waarheen hulle op pad was nie, maar van die sonsondergang aan hul regterkant het hulle afgelei dat hulle suidwaarts reis. Boetie was 20 jaar oud en sy ouers het by Pofadder geboer. Hy was goedgeaard en het sterk beginsels gehad. Hy wou net sy mense dien en het geen politieke aspirasies gehad nie. Lofty het nooit oor sy persoonlike lewe gepraat nie.
Lofty en Boetie het met ander OB-lede vriende gemaak. Nic Diederichs was ’n heeltydse organiseerder van die Reddingsdaadbond en ‘n senior lid van die Broederbond met ’n brandende ambisie om by die land se finansies betrokke te raak. Dormehl (Vossie) Vosloo het kort na sy arrestasie twee jong Voortrekkers op die Bloemfonteinse stasie ontmoet en hulle het so ’n diep indruk op hom gemaak dat hy net daar besluit het om sy lewe aan die Voortrekkerbeweging te wy. Lofty het gesê hy streef daarna om ’n polisiegeneraal te word wat oor die land se sekuriteit waak.
Een aand het ‘n hewige storm gewoed. Die weerlig het die heuwels en die doringdraad rondom die kamp met sy lang rye hutte verlig. In die houtskuilings het die gevangenes onder dun komberse op hul verslete matrasse gelê en slaap. Vlae reën het teen die vensters geswiep. In hut d8 het ‘n bonkige gevangene die weerlig deur die vensters gelê en dophou. Die donderweer het alle ander klank uitgedoof.
Pas na middernag sit die OB-generaal regop. Hy het net ’n week tevore in die kamp aangekom en omdat hy min van die ander inwoners geken het, het hy hom meestal eenkant gehou. Hy het na die beweginglose slapendes in die beddens om hom gekyk en ’n stuk seil onder sy matras uitgetrek. Hy het om die bed geglip en seil in die hand na die deur beweeg waar hy die knip liggies afgedruk het.
Hy het deur die donker getuur om seker te maak sy pad is oop. Daar is aanvaar dat mense wat in die nag die veiligheid van die hutte verlaat, net een doel het: om te ontsnap. Die doodstraf was hul voorland. Met die swart seil oor sy kop en skouers het die gevangene in die siedende storm uitgeglip. ’n Ruk lank het hy met sy rug teen die houtdeur in die reën gestaan. Sy oë was op die naaste uitkyktorings gerig, van waar die groot soekligte sterk strale heen en weer oor die kamp geflits het. In die halfdonker onder die uitkykpos het die gevangene die stil figure van twee wagte gesien. Hulle het onder ’n houtplatform, wat ten minste n bietjie beskerming teen die reën gebied het, gestaan. Dit was maklik om die ritme van die soekligte te bepaal en toe die naaste straal die derde keer by hom verby is, het hy vinnig deur die donker na die volgende hut gehardloop.
‘n Weerligstraal het twee soldate op patrollie langs die westelike heining verlig. Die reën het nog neergestort en die grond was modderig. John het agter die strale van die soekligte aangehardloop en goed gevorder. Sy mikpunt was ‘n gebou sowat veertig meter van hut d8 af. Hy het deur ‘n nou gang beweeg en voor die ingang tot stilstand gekom. In die lig van ’n weerligstraal kon hy die kennisgewing op die houtdeur lees: Voorradestoor. Aan die einde van die gang was dit stikdonker. John het versigtig ’n dun staalplaatjie uit sy sak gehaal en dit tussen die slot en die kosyn ingewoel. Dit was ’n amper onbegonne taak in die koue, nat donkerte. Na vyf of ses spannende minute het die slot oopgespring. John het die deur na binne oopgestoot en die plaatjie in sy sak teruggesit. Hy het die stoor ingeglip en die deur versigtig op ‘n skrefie toegetrek.
Dit was so donker hy kon nie sy hand voor sy oë sien nie, maar dit was bedags sy werkplek, en hy kon sy weg vind. Voetjie vir voetjie het hy tussen die rakke beweeg en in ’n hoek by ‘n boks wat hy vroeër die dag daar gesit het, gebuk. Dit was vol blikkieskos, kaas, beskuitjies en ander lekkernye.
Net toe hy regop kom met die swaar vrag in sy arms, was dit skielik soos dag in die stoor. ‘n Sterk flitslig is agter hom aangeskakel. Hy het verstyf en die klank van ’n geweer wat oorggehaal word, het koue rillings langs sy ruggraat afgestuur.
“Draai om,” het die eienaar van die wapen gesê.
Verblind deur die flitslig draai die gevangene stadig om.
“John, bliksem! Ek het geweet dit kan net jy wees,” het die soldaat uitgeroep.
“Die manne ly honger.”
“Wel,” het die Engelsman gegrinnik, “binnekort sal daar een mond minder
wees om te voed.”
John het stilgebly. Hy het geweet daar was net een straf vir diefstal - die vuurpeloton.
Net ’n wonderwerk kon hom red. Selfs as hy op die een of ander manier die soldaat oorweldig, sou dit geen doel dien nie. Hy is herken en kon nêrens heen vlug nie. Die volgende sonsopkoms sou sy laaste wees.“Komaan, roer jou!”
John het gemik om die swaar boks op die vloer neer te sit, maar die soldaat het gekeer: “Vat dit saam, dis jou doodsvonnis!”
Met die soldaat en sy flitslig agter hom het John na die deur beweeg. Toe hy na die gietende reën en die donker nag daarbuite kyk, kon die OB-generaal nie glo dat sy lewe so goedkoop en so sinloos tot ’n einde sou kom nie.
Met die soldaat se geweerloop in sy rug is die gevangene stadig by die trappe af, die donkerte in. Die reën het die flitslig verdof. Skielik was daar ’n dowwe plofgeluid agter hom en was dit weer pikdonker. Die flitslig is uitgedoof en daar was die dowwe klank van iemand of iets wat op die grond val.
Toe nog ’n plofgeluid, en nog een. Toe John omdraai, sien hy in die lig van ’n weerligstraal dat die soldaat gesig na onder op die grond lê, met ’n gevangene wat oor hom buk. In sy hand was ’n klip so groot soos twee bakstene waarmee hy met alle mag die soldaat teen die agterkop geslaan het. Weer en weer en weer. Toe die houe eindelik ophou, het die aanvaller die klip net so in die soldaat se vergruisde skedel laat lê. Steeds gebukkend het hy sy hande in die in modder water gewas en regop gekom. Selfs in die donker kon John sien die man was ten minste ses voet vier duim lank.
“I.aat ons wegkom,” het die lang man kalm gese.
“Maar jy het hom doodgemaak!”
“Moenie tyd mors nie. Komaan!”
Kort op die hakke van die lang man is John vinnig daar uit, weer koes-koes met die pad van die soekligte se strale.
" Wie is jy?” het John gevra.
Stilte.
" Ek het my lewe aan jou te danke: gee my jou naam.”
" Lofty,” was die kort antwoord. “Ruil jou stewels vir ‘n droë paar om wanneer jy by die hut kom,” het die lang man gesê voor hy in die donker verdwyn het.
Vir ‘n oomblik het John oor die afskeidswoorde gewonder voor hy uiteindelik veilig tussen die soekligte deur terug is na hut D8. Hy het die stuk seil onder die trap weggesteek en net voor hy die hut binne is, Lofty se woorde onthou. Hy het sy modderige skoene uitgeskop en stil tussen sy slapende hutmaats na sy bed gesluip. Die gevangenes aan die uithoek van die vertrek was Italianers en hul stewels het onder hul beddens gestaan. Versigtig het John sy linker- en regterstewel met die van twee slapende Italianers omgeruil. Die twee gesteelde stewels het hy netjies langs sy bed gesit en sy nat hare met ’n kombers drooggevryf.
John het met ‘n bonsende hart wakker gelê. Hy was gelukkig, baie gelukkig. Hy het aan die gevangene gedink wat hom van ’n gewisse dood gered het. Dit het hom verstom hoe vinnig die lang man te midde van gevaar gedink het. Uiteindelik het hy ingesluimer, maar drie vinnig opeenvolgende geweerskote wat oor die kamp weergalm, het hom laat wakker skrik. Die sirene het geloei en al die soekligte het woes heen en weer geswaai. Hy het besef die soldaat se lyk is gevind.
Soldate het die hut se deur oopgestamp en ingestorm.
“Op jul voete, almal!” het die korporaal geskree.
Die gevangenes het verdwaas uit hul beddens gespring en op aandag by die voetenente gaan staan.
“Kyk hul stewels deur!” het ’n luitenant beveel. “Ons sal hulle kry!”
Totaal verward oor wat aan die gang was, staar die gevangenes voor hulle uit terwyl woedende soldate almal se stewels deurkyk. Toe hulle by sy stewels kom, het John reguit voor hom gekyk. Hulle was immers kurkdroog.
“Ek het een gekry!” het ‘n soldaat opgewonde uitgeroep en ‘n modderige stewel in die lug gehou. Die Italianer onder wie se bed dit was, het meer verward as bang toegekyk.
“Maar die ander een is kurkdroog en skoon!” het die korporaal verbaas uitgeroep.
Toe roep ’n ander soldaat, vyf beddens verder. “Hier is die ander een!”
“Wat de f@% gaan hier aan?” het die luitenant geskree.
Doodse stilte.
“Praat!” het hy gegil. “Glo my, ek sal julle kry, al is dit die laaste ding wat ek doen!”
Die soldate het amper so beangs soos die gevangenes gelyk terwyl hulle op die volgende uitbarsting wag.
“Bring hulle, almal van hulle. Ons sal agter hierdie ding kom.”
Die mans gryp hul klere en begin aantrek. John se tweede hemp en broek was gelukkig skoon en droog. Die gesteelde regterstewel het maklik aan sy voet gegly, maar toe hy sy voet in die linkerstewel wil stoot, haak dit vas. Hy het ’n nommer tien skoen gedra en die stewel in sy hand het na ’n nommer agt gelyk. Die sweet het op sy voorkop uitgebars. As hy nie hierdie stewel aankry nie, is hy so goed soos dood. Om hom was al die gevangenes klaar aangetrek. Hy het met sy volle gewig op sy voet geleun, maar dit wou nie beweeg nie. Een van die soldate het begin nader stap. John het sy tone binnetoe gekrul en weer probeer. Net toe hy dink dis onmoontlik, het sy voet in die klein stewel ingebeur. Die skielike pyn het hom laat ineenkrimp, maar wie kon nou oor ’n bietjie ongemak van ‘n gesteelde stewel kla as dit die verskil tussen lewe en dood beteken het? Hy het saam met sy medegevangenes na die paradegrond gestap.
Die storm was uitgewoed en ’n sagte motreëntjie het op hulle neergesif. In die middel van die paradegrond het vier soldate by ’n kaalvoet gevangene gestaan wat met sy gesig in die modder gelê het. Hy was duidelik wreed aangerand.
“Dis hoe ‘n moordenaar lyk!” het een van die vier soldate geskree.
“Tel hom op sodat hy sy medepligtige kan uitwys,” het die luitenant beveel.
John se maag het gedraai. Vier modderige stewels is gevind en net een eienaar. Almal het geweet die tweede skuldige moet uit hut D8 kom.
Die gevangene word regop geruk en die luitenant stap nader.
“Wie is jou medepligtige?”
“Ek is onskuldig, ek sweer!”
“Waar het jy hulle gekry?” vra die luitenant ’n soldaat met ’n paar modderige stewels in sy hand. Die gevangene was korter as die soldate.
“Onder hierdie man se bed, in F3.”
“Maar hulle is nie myne nie!” sê die gevangene.
’n Hou in die maag laat hom krul van pyn en hy sak inmekaar op die modderige grand. Hy word weer orent gepluk en na die sestien inwoners van hut D8 gesleep waar hulle in ‘n ry staan. Hy loop verby tien en stop by die elfde ... John se hart gaan amper staan.
“John, sê vir hulle!” soebat die priester.
“Sê wat?” wil die offisier weet en kyk stip na John.
John staar terug, nie gebore in staat om ’n woord uit te kry nie.
“Dat ek onskuldig is,” pleit die priester.
“Ken jy hierdie man?” vra die luitenant.
“Ja,” kry John dit uit, “almal ken hom ... hy is mal. Hoe kan ek oor sy onskuld getuig as ek nie eens weet watter misdaad hy gepleeg het nie? Net die skuldiges weet wat hulle gedoen het.”
“God is my getuie,” se die priester.
“En hier is my getuie,” sê die offisier en hou die stewels omhoog wat onder die priester se bed gekry is. “Neem hom weg; ons sal hom moreoggend skiet.”
Terug in sy hut trek John die gesteelde stewels uit. Hulle het hom ongetwyfeld van ‘n gewisse dood gered. Hy klim in die bed, maar kan nie slaap nie. Oor ’n paar uur gaan ‘n onskuldige man vir sy sondes sterf.
Kort na sonsopkoms sny die hoë, dun klank van die sirene deur die lug. Die gevangenes moet paradegrond toe vir die teregstelling. Die onskuldige priester wil nie geblinddoek word nie en John word yskoud toe die man se intense blik op hom vasgenael bly.
Kort voor die vuurbevel roep die priester uit: “God weet wie skuldig is!” Die koeëls uit tien gewere tref sy hart, maar drie, vier sekondes bly hy nog staan. Verstom kyk die soldate en gevangenes na ’n dooie man wat op sy voete bly. Dan knak sy kniee en hy sak stadig, amper grasieus, op die grond neer. Dit begin weer reën. Die gevangenes begin na hul hutte terugstap. Net een staan soos ’n standbeeld. John bly staar na die gevalle priester.
Geen gevangene het ooit weer van die teregstelling gepraat, of van die dooie priester wat geweier het om te val nie.
‘n Paar dae later het ’n bonkige gevangene hut F3 binnegestap. In een hoek het ’n man gesit wat ten minste ’n kop langer as sy medegevangenes was. Hy het die besoeker tegemoet geloop. Sonder om te groet is hulle na buite, waar hulle doelloos langs die grensdraad geloop het. John het gou die lang man opgesom as intelligent met ’n sterk persoonlikheid.
Hulle het ’n ruk gesels en brokkies oor hul lewensgeskiedenis uitgeruil. John het vertel dat hy as die jongste van vyftien seuns in Jamestown gebore is en ‘n generaal in die ob geword het. Sy vurige teenstand teen die regering het hom in aanhouding in Port Elizabeth laat beland en toe sy eise om ’n regverdige verhoor op dowe ore val, het hy ’n hongerstaking begin. Twee maande later is hy na Koffiefontein oorgeplaas. Al wat John uit Lofty kon trek, was dat hy ’n polisieman in Johannesburg was.
“So, waar wil jy oor ’n paar jaar wees?” wou hy van Lofty weet.
“Ek wil in die voetspore van ons leier, Hans van Rensburg, volg. Dis my droom om ’n generaal te word.”
“Eendag, wanneer ek eerste minister is, sal ek jou ’n generaal maak,” het John gekorswel. “Ek het kom dankie sê dat jy my lewe gered het.”
“Jy het darem self vinnig gedink toe jy vertel die priester is kranksinnig.”
“Maar hy was ’n man van God.”
“Ons is almal van dieselfde God. In elk geval, hy kon nooit ophou praat nie. Sy voortdurende gemompel in ons hut het die manne gek gehad!”
Toe tref die bose waarheid John. Die stewels is met opset onder die priester se bed gesit!
Asof hy sy gedagtes lees, sê die lang man: “Daar sal altyd ongevalle in die lewe wees.”
Ná die episode is streng nuwe reëls in die kamp ingestel. Die gevangenes is in ‘n alfabetiese volgorde in die hutte geplaas en alles is daarvolgens gereël. Dit hel meegebring dat Vossie, Lofty en John, wie se vanne almal met V begin het, in dieselfde hut beland het. Lofty het die kodenaam vvv vir hulle bedink, maar dit was lewenslank hul geheim. Boetie Bonthuys en Nic Diederichs was in ander hutte.
Die gevangenes het klaskamers ingerig waar vakke soos Frans, Duits, regie en sosiologie aangebied is. In die daaropvolgende maande het die vyf OB-lede Lofty, John, Nic, Boetie en Vossie hegte vriende geword en Lofty het hulle die Koffiefonteinbroederskap gedoop. Hulle het koppe bymekaargesit en nuwe strategieë bedink wat na Hans van Rensburg uitgesmokkel is. Sy oupagrootjie was die legendariese Siener van Rensburg en die gevangenes het dikwels van Siener gepraat - ’n diep godsdienstige boer en profeet. Hy kon die Bybel lees, maar nie skryf nie, sodat sy dogter die taak gehad het om sy meer as honderd drome en visioene op te teken.
Baie van sy profesieë het waar geword, maar waar Siener van Rensburg op drome en visioene staatgemaak het, het Lofty geglo dat mense aan die geskiedenis gebind word deur nommers en datums in hul alledaagse lewe. Hy het sy analitiese verstand gebruik om die geheime van die wêreld te verduidelik. Lofty het geglo niks is toeval nie en geskiedenis skep die toekoms.
Die Koffiefonteinbroederskap het ’n geheime verbond gesluit dat hulle mekaar in die jare wat kom, sou ondersteun, ongeag die gevolge.
In Januarie 1944 is John na die kantoor van die kampkommandant geneem. Uit Pretoria is opdrag gegee dat hy vrygelaat word. Dit sou op streng voorwaardes wees: onder meer sou John die volgende maande by familie of ‘n vriend moes woon. Hy moes hom een keer per maand by die naaste polisiestasie aanmeld en hy mag glad nie in dié tyd werk soek nie. Hy is nie toegelaat om ’n radio te besit of na een te luister nie en op geen tydstip durf hy in die geselskap van meer as vier mense wees nie. Die kommandant het verduidelik dat enige oortreding van die reëls sou beteken dat hy weer gearresteer en na Koffiefontein gebring sou word.
John het versigtig geluister en toe reguit na die kommandant gekyk.
“Ek aanvaar my vrylating omdat ek nooit aan enige misdaad skuldig bevind is nie,” het hy gesê. “Om daardie rede sal ek nie my handtekening langs enige reëls of voorwaardes plaas nie.”
“Dan kan jy daarvan vergeet om vrygelaat te word,” het die kommandant vererg gesê.
’n Paar dae later het ook Boetie gehoor hy kan verwag om binnekort vrygelaat te word en hy het die voorwaardes aanvaar. Die nuwe verwikkeling het die Koffiefonteinbroederskap ’n vergadering laat hou. Boetie het gesê die idee dat hy na Koffiefontein sal moet terugkeer, het hom nie aangestaan nie en hy wou sy pa op die plaas gaan help. Hy kon aan niks beters dink as ’n ongekompliseerde lewe en ‘n gesin nie.
John het gesê wanneer hy vrygelaat word, sal hy sy bedrywighede in die ob voortsit. Ná die oorlog wou hy die politieke leer klim, tot heel bo.
Sonder dat hy enigiets onderteken het, is John tog wel in Februarie 1944 vrygelaat. Lofty het saam met hom na die hek wat na vryheid sou lei, gestap.
“Ek sal nooit vergeet wat jy eenkeer oor ‘n pot skaak gesê het nie, dat skaak soos die lewe is. Dit het alles met strategie, tydsberekening en oorwinning te doen,” het John gesê.
“Ek wens jou die beste toe, John. Ek glo ons paaie gaan gouer kruis as wat ons dink.”
“Op daardie dag, Hendrik van den Bergh, sal ek jou vergoed,” het John Vorster beloof.
’n Maand later is Boetie Bonthuys ook vrygelaat en die oorblywende drie lede van die Koffiefonteinbroederskap het hom na die hek vergesel. Hy is terug na sy pa se plaas, waar hy die gesin se beskeie inkomste met die herstel van skoene aangevul het.
Die broederskap het ooreengekom dat hulle na die oorlog elke jaar op die eerste Saterdag in April sou byeenkom, die eerste keer in Johannesburg.
Op ‘n winderige dag het een van die kliniekdokters, Vickers Viljoen, ’n voorwerp uit Lofty se oog gehaal. Die kommerlose, lewenslustige jong dokter het geen politieke ambisies gehad nie en die oorlogservaring was vir hom net 'n verbygaande avontuur.
Lank na die ontsteekte oog genees het, het die oudpolisieman nog gereeld ‘n draai gemaak by Dok, soos hy die jong man genoem het. Toe Nic Diederichs daaroor uitvra, het Lofty droogweg geantwoord kennis is mag: “Hoe anders dink jy het ek geweet van die onlangse sluipmoordaanval op Hitler?”
’n Mens moes inderdaad Van den Bergh se listigheid nooit onderskat nie. Almal het geweet hy was altyd die eerste gevangene wat van plaaslike en buitelandse gebeure geweet het. Hulle het hulle verstom oor sy buitengewone vermoë om inligting uit gevangenes, soldate en ander niksvermoedende bronne te trek.
Mettertyd het gevangeneskap ‘n lewenswyse geword. In Maart 1945 het die gevangenes en hul bewaarders rusteloos begin raak toe gerugte die ronde doen dat Hitler die gesamentlike mag van die Geallieerdes onderskat het.
Op 8 Mei het ’n mediese assistent haastig by Lofty se hut aangekom: “Die dok sê jou medisyne het gekom,” het hy met ‘n vreemde glimlag gesê.
Die lang man het hom rustig aangetrek en na die kliniek gestap. Later het hy teruggedrentel en sy skaakstukke uitgepak. Vossie en Nic was die volgende om te hoor die oorlog is verby. Later die dag het ’n sirene die gevangenes 1na die paradegrond ontbied. Dit was die eerste keer dat die gevangenes die kampkommandant joviaal gesien het. Daar is wild gejuig toe die langverwagte muus bekendgemaak is.
Van den Bergh moes vier lang dae wag voor hy sy kans gekry het. Dok het sy waarskynlike vriend kom groet.
"So, Lofty, wat is jou planne?”
Ek hetbaie.”
Komaan,” het die dokter aangedring, “vertel my net een keer iets.”
“E k is van plan om verlore tyd in te haal. Wat is jou planne?”
Ek was nog altyd in die sielkunde geïnteresseerd,” het die dokter gesê. “In hoe ons koppe werk, die besluite wat ons neem en ons uiteindelike dade ... dit alles fassineer my.”
“Jy het ‘n goeie kop, Dok. Jy kan beter vaar as in hierdie kliniek.”
“Wel, ek het nie my tyd heeltemal gemors nie. Deur die jare het ek baie van gedragspatrone geleer. My waarnemings en notas sal ’n interessante verhandeling uitmaak.”
“Jy is slim en uitgeslape!”
“Ek moet oor iets bieg: onder al die gevangenes was daar een wat my gefassineer het. Moenie dink ek het nie jou stille motiewe raakgesien nie.”
“Ek kan dieselfde sê,” het Lofty tong in die kies geantwoord.
“Jy bedoel jy het geweet... dat ek weet?”
“Natuurlik, maar uiteindelik het ons albei voordeel uit die spel getrek, of hoe?”
“Absoluut!” het die dokter saamgestem.
“Gaaf. Dan kan jy in ruil miskien eendag vir my ’n guns doen.”
“Dit sal my plesier wees,” het Vickers Viljoen gesê.
Koffiefontein was die begin van die politieke loopbane van John Vorster en die lang generaal Hendrik vd Bergh wat daar trou aan mekaar gesweer en later elke sameswering gedeel het. By Koffiefontein is gesien dat beide tot moord in staat was, ’n faktor wat hulle in hul onderskeie leierskapposisies binne die politiek goed gepas het. Latere moorde soos op dr HF Verwoerd, Robert Smit en sy vrou en talle ander politieke moorde, se beplanning het by hierdie twee samesweerders begin.
.