Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy weet nie hoe lank jy gaan leef nie. En dit maak ook nie saak nie. Wat wel saak maak, is hoe jy lewe. God roep jou om elke dag voluit te leef ongeag jou omstandighede.
OM JESUS TE SIEN
Ds A.E. van den Berg
"Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan" (Hand.7:55,56)
Hand. 6:3 vertel van sewe mans wat vol van die Gees en uitsonderlike wysheid was. Hulle was die eerste diakens in die kerk en Stefanus een van hulle. Van hom slryf Lukas “Stefanus, aan wie God baie genade en krag gegee het, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen " (Hand.6:8,10). Mense was nie opgewasse teen die wysheid wat Stefanus van die Heilige Gees ontvang en van Jesus getuig het nie.
Die teksvers sê ook dat hy vol van die Heilige Gees was en getuieniskrag gehad het. In Hand.1:8 sê Jesus: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Stefanus het dit ervaar.
Lede van die sinagoge wat nie ʼn argument teen Stefanus kon wen nie, het hom by die Joodse Raad aangekla nl. dat hy lasterlikhede teen God gespreek het. So is hy toe in hegtenis geneem en voor die Raad gedaag. Op die vraag of die aanklagte teen hom waar was, het hy met 'n getuienis gereageer (Hand.7:1-50) en afgesluit en die Raad van koppigheid beskuldig. Hy was nie die aangeklaagde nie maar eerder die aanklaer!
Dit het die Raad woedend gemaak en gevolglik tot sy steniging gelei. Daarmee het Stefanus die eerste Christen-martelaar geword. Sy enigste oortreding was dat hy in Jesus as Verlosser geglo en van redding deur Hom getuig het.
Die Joodse Raad het geglo dat hulle volens die Bybel reg opgetree het. Hulle was daarvoor verantwoordelik dat mense die Joodse wet gehoorsaam en eerbiedig teenoor God optree. Stefanus was volgens hulle skuldig. Hy het met sy getuienis sy lewe as martelaar onverskrokke uitgeleef; kom wat wou!
Die Griekse woord vir getuie en die van martelaar is een en dieselfde woord. Die Bybel leer dat Christen-wees nooit maklik is nie en selfs tot die dood kan lei. Jesus het nie doekies omgedraai nie en gesê dat dat gelowiges hul kruis moet opneem en Hom volg. As jy Een wil volg wat deur die wêreld gekruisig is, moet jy self verwag om deur die wêreld gekruisig te word. Eers die kruis, daarna die kroon.
In 2 Tim.3:12 skryf Paulus aan Timoteus: “Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word. “Gelowiges ervaar dit deur die eeue wêreldwyd. Geopende Deure Internasionaal wat jare gelede met ’n jaarlikse Wêreldwaarnemingslys begin het, se nuutste data dui daarop dat een uit elke sewe Christene wêreldwyd met verskeie vorms van vervolging te doene kry. Dit gaan net voor die wederkoms al hoe moeiliker word om die Evangelie uit te leef en te getuig.
Stefanus het tot eer van die Here geleef en gesterf. Hy het verder as hierdie lewe gesien. Dit is asof hy die woedende Jode nie op Hom gesien afstorm het nie. Sy fokus was op ‘n ander plek. "Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou ....". Paulus sien in 1 Kor.9:25 ook uit na die onverwelklike oorwinnaarskroon wat op hom wag.
Ja, geloof kyk verder as die hier en nou. Let op die kontras met die Joode Raad se wraak-reaksie en Stefanus se sterwensgetuienis. "Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het stip na die hemel gekyk en die heerlikheid van God gesien, en Jesus wat aan die regterhand van God staan. Hy het dit ook gesê: “Kyk, ek sien die hemele geopen en die Seun van die Mens aan die regterhand van God staan.”
Hy was nie bang vir die dood nie. Jesuss het gesterf en opgevaar hemel toe en daarom is sy kinders nie bang vir die dood nie. Vir hulle staan die Vaderhuis oop. Daarom kan gelowiges met dieselfde uitroep as Stefanus sterf, want die dood is niks minder of meer as dit nie: “Here Jesus, ontvang my gees!”
Met sy laaste woorde pleit Stefanus net soos Jesus vir vergifnis vir sy moordenaars. Wat 'n skrille kontras tussen Stefanus en sy moordenaars wat met haat gevul is en hom met klippe doodgooi. “Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie!” En met dié woorde het Stefanus gesterf.
Hy sterf nie met haat op sy lippe nie, maar met die bede van vergifnis. Hy besef dat die mense nie verstaan wie Jesus is en waarom Hy mens geword het nie. Sy laaste woorde is soos die gebed van Jesus aan die kruis. Die kerkvader Tertullianus skryf: “Die bloed van die martelare is die saad van die kerk…”
Die verhaal gaan egter verder. Hand. 8 vertel van ʼn jong fanatiese vervolger van die Christene wat Stefanus se steniging goedgekeur het – ene Saulus. "En daar het in dié tyd 'n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke van Judéa en Samaría, behalwe die apostels" (:1).
Saulus het Stefanus se steniging aanskou; die einste man wie se lewe kort daarna radikaal deur God verander het en een van die grootste volgelinge van Jesus geword het. Sy impak op die destydse kerk was reusagtig. Paulus laat 'n geestelike nalatenskap na waarin ons vandag nog deel. Hy skryf bv. 13 briewe van die Nuwe Testament.
Stefanus se martelaarskap het Paulus bygebly. Wanneer hy van sy bekering praat, vertel hy in Hand.22:20 daarvan. Soos Augustinus dit stel: “Dat die kerk Paulus gekry het, is ook te danke aan Stefanus se gebed en die getuienis wanneer hy sterf."
Kom ons leef tot eer van die Here met die wete dat ons nie altyd gewild sal wees nie. Ons gaan, net soos Jesus en baie gelowiges voor ons, ook swaarkry. As kinders van die Here sal ons vervolg of ten minste verdag gemaak, seergemaak en bespot word. Moenie dat dit jou geestelike spoed breek nie. Dis juis aan ons geestelike wonde dat die wêreld ons as volgelinge van Jesus erken.
Die heerlikheid van God word in ons lewens sigbaar, nie net op die manier waarop ons voorspoed hanteer nie, maar ook in die manier waarop ons swaarkry hanteer, ons voorregte prysgee en van ons voorspoed gestroop word.
Ons praat baie van Jesus. Maar het jy al gewonder hoe Jesus lyk? Ek het goeie nuus vir jou – jy gaan Hom, net soos Stefanus, eendag sien! "Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan". Is dit nie 'n wonderlike vooruitsig nie!