Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In die tyd van die Bybel is krygsgevangenes dikwels van hul klere gestroop en gedwing om die triomftog te volg. Dit is wat sonde doen – dit laat ons agter Satan inval en ons van ons waardigheid stroop.
DIE BESTAAN VAN AFRIKAANS (8)
Lees reeks by Die bestaan van Afrikaans
POLITIEKE DWANGMAATREËLS
Dr JC Steyn
Fisieke geweld is een middel waarmee 'n magtige land teen 'n swakker volk kan optree. Gewoonlik gebruik hy meer "vreedsame" metodes.
Vanuit 'n taaloogpunt was een van die vreedsaamste imperialismes dié van die Romeine. Hulle het die lojaliteit van die oorwonne volkere probeer wen deur hulle goed te behandel, korrupsie en uitbuiting teen te gaan, paaie, besproeiingskanale en ander bouwerke op te rig en die gebied ekonomies te ontwikkel. Die verowerdes kon ook hul taal en godsdiens behou as hulle wou. Die Romeine was die ander tale van die ryk nie vyandiggesind nie al het hulle dit nie bevorder nie. In Egipte was alle amptelike kennisgewings net in Grieks en Latyn en selde of nooit in Egipties. In Judea is die keiserlike besluit in Grieks en Latyn op koperplate gegrif. Af en toe het die owerheid van hierdie beleid afgewyk. Een geval behandel die evangeliste Lukas en Johannes in die Nuwe Testament: toe Jesus Christus gekruisig is, was die opskrif bo-aan die kruis in drie tale: Grieks, Latyn en Hebreeus.
'n Paar gevalle van taaldwang is wel bekend. In Egipte is amptenare afgedank wat nie Latyn geken het nie. 'n Paar vermaarde Grieke kon nie burgerregte verwerf nie omdat hul Latyn te swak was.
Die druk wat van die Romeine uitgegaan het was meer subtiel. Hulle het 'n nuwe samelewing met nuwe instellinge gebring. Die oorwonne volkere, soos die Galliërs van Frankryk, het in aanraking gekom met 'n beskawing wat hulle én die Romeine as beter en as hoër beskou het. Om bepaalde betrekkings te kon kry en as "beskaaf" te kon deurgaan moes 'n mens Latyn ken. Galliese aristokrate wat hul voorregte wou behou, het hul kinders dus Latyn geleer en selfs Rome toe gestuur om dit goed te kan praat en skryf.
So verdraagsaam soos die Romeine was baie min heersers daarna. Byna oral het regerings een taal bevoordeel en die ander benadeel. Soms was daar praktiese redes vir bevoorregting, maar soms was dit 'n gevolg van taalimperialisme.
Albei tipes bevoorregting kan 'n mens illustreer aan Frans, die opvolger van die Galliese Volkslatyn wat die Galliërs leer praat het.
Terwyl die bevolking die Franse dialekte gebruik het, het Latyn ook ná die Romeinse tyd die taal van die kerk, die landsbestuur en die regspleging gebly. Die dialek wat uiteindelik moes wen (sonder dat daar natuurlik 'n bewuste wedloop was) moes eers Latyn en daarna die ander dialekte en tale kon uitskakel.
Hierdie dialek was 'francien', later 'francaise', dws Frans, die taal van die Ĭle-de-France, die taal van die hart van Frankryk.
Eers het francien en die ander dialekte die stryd teen Latyn gewen. Die verskille tussen die amptelike taal en die volkstaal, dws die verskillende dialekte, het so groot geword dat die Konsilie van Tours in 813 die priesters beveel het om voortaan in die volkstaal te preek sodat die volk kon verstaan.
Francien het die wen-dialek geword omdat dit die taal van die koning en sy hof in Parys was. Vir koninklike ordonnansies en ander regeringstukke is die Paryse dialek gebruik. Alle handveste vir nuwe stede is daarin opgestel, met die gevolg dat dit die prestige van 'n amptelike taal gekry het. Die mag van die konings het die sukses van francien verseker.
Dat die een dialek bevoorreg is was onvermydelik – dis onprakties om 'n hele paar dialekte tot standaardtaal te verhef en hulle almal dan vir die staat se sake te gebruik. Tot en met die Franse Revolusie het die Franse konings darem ook 'n mate van verdraagsaamheid teenoor die plaaslike tradisies en gewoontes, asook tale en dialekte, aan die dag gelê.
Die Revolusie het egter 'n bewind aan die mag gebring wat, soos P Geyl skryf, "met schrikwekkende grondigheid" teen ander tale en dialekte opgetree het. "Een republiek, een taal!" het die beleid geword. Die Franse taalwet van 1794 het bepaal dat Frans die enigste taal vir amptelike sake sou wees – in alle dele van die ryk, ook waar die mense dit nog nie so goed geken het nie. Ná 'n oorgangstydperk het die sentrale regering die beleid streng toegepas. Die suidelike dialekte en ander tale van Frankryk is stelselmatig verdruk.
Natuurlik kon die Franse owerheid onmoontlik al hierdie tale amptelike maak. Dan sou die staatsamptenare ook Oksitaans, Elsassies, Nederlands, Bretons, Baskies en Katalaans moes leer. Maar die regering kon hierdie tale amptelike status gegee het in die streke waarin die mense hulle gepraat het. Vir taalverdrukking in die tuisgebiede is daar geen regverdiging nie.
Die Franse was nie die enigste taalimperialiste nie. Die Engelse het Wallies, Iers en Skots-Gaelies onderdruk, en die Spanjaarde weer Baskies en Katalaans.
Volgende keer kyk ons na wyses waarmee 'n onsimpatieke regering 'n mindersheidstaal kan benadeel.