VERWOERDMAAND

HERINNERINGE AAN DR HF VERWOERD (1)

Lees reeks by Herinneringe aan dr HF Verwoerd

'N BIOGRAFIESE SKETS

Dr. H.O. Terblanche

"Die vraag wat dikwels gevra word is waar Suid-Afrika vandag sou staan indien Verwoerd nie vermoor is nie. Sou ons die buitelandse druk kon weerstaan? Sou ons vandag ekonomies 'n wêreldreus wees met nasionale vooruitgang en stabiliteit, 'n lae misdaadsyfer en vrede in ons land?"

HENDRIK FRENSCH VERWOERD is op 8 September 1901 in die huis by Jacob van Lennepkade 16, Amsterdam gebore. Hy was die tweede kind van Wilhelm Johannes Verwoerd (1874- 1961) en Anje Strik (1873-1940). Verwoerd se voorgeslag aan vaderskant was van Bodegraven in die provinsie Suid-Holland afkomstig en sy moeder was van Friese herkoms. Hulle was lidmate van die Gereformeerde Kerk in Nederland.

Hulle simpatie en meelewing met die Boere se heroïese stryd in die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) was waarskynlik die sterkste beweegrede vir die gesin se verhuising na Suid-Afrika in November 1903. Hendrik was toe 'n seuntjie van twee jaar en twee maande. Verwoerd se ouers het hulle volkome met die Afrikanervolk vereenselwig.

Hulle het hulle in Wynberg gevestig en Verwoerd het in 1913 die Wynberg High School for Boys bygewoon. Die gesin het einde 1913 na Bulawayo in die destydse Rhodesië verhuis waar sy vader die betrekking van "hulpleraar" van die uitgestrekte NG-gemeente aldaar beklee het. Verwoerd het leerling geword aan die Milton High School waar hy in een van die skranderste leerlinge ontluik het.

Tot in hierdie stadium was Engels die onderrigtaal in sy skool- opleiding.

Die gesin het in 1917 na die Vrystaatse dorp Brandfort verhuis, waar sy vader kolporteur van die NG Kerk van die Vrystaat geword en later 'n boekwinkel bedryf het. Hendrik Verwoerd het in die matriekeksamen die eerste plek in die Vrystaat behaal.

As student aan die Universiteit van Stellenbosch (sedert 1919) het hy Sielkunde en Logika bestudeer. Hy het die grade B.A. en M.A. (cum laude) verwerf. Hy het sy D.Philgraad in 1924 behaal met 'n proefskrif getitel "Die afstomping van gemoedsaandoeninge". Hy was in 1923 voorsitter van die studenteraad en het hom ook onderskei as 'n gedugte debatteerder.

As redakteur van Die Transvaler sou hy hom ook uitspreek teen die ontheiliging van die Sondag en teen euwels soos loterye en hondewedrenne.

In sy hoofartikels het hy telkens sy geloof in rasseskeiding verkondig. Hy het hom uitgespreek teen die gevare van maatskaplike gelykstelling. Gemengde huwelike was vir hom onaanvaarbaar.

Hy was ten gunste van aparte woonbuurte en van selfbestuur vir swart mense. Die vestiging van industrieë aan die grense van die swart tuislande was ook vir hom 'n saak van erns.

Verwoerd is in Julie 1948 tot lid van die Senaat benoem, nadat hy in die algemene verkiesing van Mei 1948 met 'n klein meerderheid in Alberton verslaan is. Hy het gevolglik sy betrekking as hoofredakteur van die koerant Die Transvaler op 31 Desember 1948 neergelê.

Hy het in die Senaat aansien verwerf as debatteerder en is spoedig gekies tot sweep van die nasionale senatore. Verwoerd het sy parlementêre loopbaan op 3 September 1948 ingelui met 'n indrukwekkende redevoering oor die beleid van rasseskeiding. Dr. D.F. Malan het Verwoerd op 19 Oktober 1950 as Minister van Naturellesake aangestel. Hy sou byna agt jaar lank hierdie portefeulje behartig. Hy het geglo aan direkte kontak met swart mense en daarom sou hy alle dele van Suid-Afrika besoek om swart verteenwoordigers te woord te staan. Hy het hul woongebiede in die platteland en in die stad besoek en in hul tuislande met hul stamhoofde en raadsmanne onderhandel. Die feit dat swart mense hom die naam "Rapula" (vader of gewer van reën) gegee het, getuig van hulle agting en waardering.

Oor die lengte en breedte van Suid-Afrika het hy die boodskap van aparte ontwikkeling verkondig. Die regeringsbeleid het dus die heerskappy van die blanke in sy gebied, maar ook die heerskappy van die swartes in hul gebiede as oogmerk gehad. "Aparte ontwikkeling ... 'n kans vir elkeen, maar binne sy eie kring," was sy standpunt.

Die Wet op Bantoe-owerhede (Nr. 68 van 1951) het, naas die afskaffing van die Naturelle-verteenwoordigende Raad, ook voorsiening gemaak vir 'n groter mate van selfbestuur in die swart tuislande. Verwoerd se voorneme was om die stamstelsel sover moontlik in ere te herstel. Die bestuur sou op drie vlakke plaasvind:

Eerstens was daar die stamowerheid wat uit die hoofman en sy raadslede bestaan het; tweedens was daar die streeksowerheid wat uit 'n aantal stamowerhede bestaan het; en derdens die gebiedsowerheid wat 'n aantal streeksowerhede omvat het. Die swart hoofmanne sou in al drie bestuursvorme 'n belangrike rol speel.

Die Transkei was in Mei 1957 die eerste tuisland om 'n gebiedsowerheid te ontvang.

In 1956 is 'n verkorte weergawe van die verslag van die Tomlinson-kommissie rakende die sosio-ekonomiese ontwikkeling van die swart gebiede gepubliseer. Die volledige verslag het 3755 bladsye beslaan. Verwoerd het op verskeie punte daarvan verskil. Dit was veral die aanbeveling dat blanke kapitaal nywerheidsontwikkeling binne die tuislande moes stimuleer wat nie vir hom aanvaarbaar was nie; sy vrese was dat dit integrasie oftewel ekonomiese vennootskap kon bevorder, wat uiteindelik tot 'n proses van politieke integrasie kon lei.

In plaas daarvan het Verwoerd 'n geleideliker ontwikkeling onder beheer van swartes self voorgestaan. Omdat die swart man nie sielkundig aangepas is by die nywerheidslewe nie, moet hy klein begin, het hy gemeen. Verwoerd het wel die aanbeveling in verband met grensnywerhede aanvaar. Die idee was dat swartes in hul tuislande moes woon en daagliks na die nywerhede net buite die grense van die tuislande reis om daar te gaan werk.

Swart onderwys was aanvanklik onder die beheer van hoofsaaklik Engelse kerk- en sendingskole. Verwoerd wou daaraan 'n einde bring omdat die onderwys die swart man van sy taal en kultuur losgeruk het en van hom 'n gefrustreerde swart Brit gemaak het. Die Wet op Bantoe-onderwys (Nr. 47 van 1953) het gevolglik die beheer oor swart onderwys van die provinsiale rade na die Departement van Naturellesake oorgeplaas. Die wet het op 1 Januarie 1954 in werking getree.

Wat die onderwys self betref, is die beginsel van moedertaal-onderrig, altans op laerskoolvlak, toegepas. Die swart kind moes dus nie volksvreemde onderwys ontvang nie. Die oogmerk was steeds dat swartes hul eie mense moes dien. Die ouers het ook groter seggenskap oor die onderwys van hul kinders gekry. Die wet het tot wydverspreide protesaksies aanleiding gegee. Die Anglikaanse en die Rooms-Katolieke Kerk het hulle sterk daarteen verset. Die ANC het ook heftig geprotesteer.

Die woongebiede van stedelike swartes het ook Verwoerd se dringende aandag geëis. In die westelike voorstede van Johannesburg - Sophiatown, Martindale en Newclare - het sowat 60 000 swartes in oorbevolkte, onhigiëniese en demoraliserende omstandighede gewoon. Die Wet op die Hervestiging van Naturelle (Nr. 19 van 1954) het die verwydering van hierdie "swart kolle" beoog. Die inwoners sou na Meadowlands (die latere Soweto), ongeveer 12 myl suid van Johannesburg, verskuif word. Hulle sou egter nie eiendomsreg daar kry nie.

Die regering het groot teenstand gekry in die uitvoering van die wet. Die Johannesburgse stadsraad wat deur die Verenigde Party beheer is, het geweier om saam te werk. Eerw. Trevor Huddleston van die Anglikaanse Kerk en die Western Areas Protest Committee het heftige teenstand gebied. Die ANC het insgelyks protesvergaderings gehou.

Tog het alles rustig verloop op 9 Februarie 1955, die dag van die groot verskuiwing, en dit ten spyte van swaar reën. Die swart inwoners sou op etniese basis gehuisves word.

Verwoerd sou in 1952 ook wetgewing indien om groter beheer oor die toestroming van die swartes na die stede uit te oefen. Arbeidsburo's is ingestel om meer effektiewe beheer te verseker. Die doel van die wetgewing was veral om ontslae te raak van "die ledige en ongewenste" swartes in die stedelike gebiede. Hierdie wet wou dus die "ordeliewende" swart man beskerm.

In dieselfde jaar is die omstrede passtelsel ook ingrypend verander. Aan elke swart man bo die ouderdom van 16 jaar sou 'n bewysboek uitgereik word waarin hy sy identiteitskaart en ander dokumente wat hy in sy besit moes hê, byvoorbeeld 'n dienskontrak, kon bewaar. Vir die eerste keer moes swart vroue ook 'n bewysboek dra. Hierdie maatreël sou tot wydverspreide protesaksies in die swart gemeenskap aanleiding gee.

Die Naturelle (Stadsgebiede) Wysigingswet (Nr. 16 van 1955) was gerig teen die "lokasies in die lug" - dit wil sê die samedromming van groot getalle swartes as bediendes in woonstelgeboue in die stede. Verwoerd wou 'n einde aan hierdie toedrag van sake maak. Hierdie wet het naamlik bepaal dat nie meer as vyf swartes voortaan in 'n stedelike woonstelgebou mag woon nie.

'n Bitter stryd is in 1957 ontketen oor die wet rakende die administrasie van die swartes in die stede (Nr. 36 van 1957). Die felste aanvalle denkbaar is op Verwoerd as Minister van Naturellesake gedoen, veral na aanleiding van die sogenaamde kerkklousule. Sonder om godsdiensvryheid as sodanig aan te tas, wou Verwoerd die betrokke klousule wysig om die grootskaalse instroming van swartes na blanke woongebiede, ten einde kerkdienste by te woon, aan bande te lê. Hy wou dus verhoed dat swartes die openbare orde versteur. Die sogenaamde kerkklousule het heftige reaksie van die Anglikaanse Kerk, die parlementêre opposisie en die Engelse koerante uitgelok.

Die snelle toename van die swart bevolking in die Wes-Kaap het veral onder die kleurlinge begin kommer wek. Volgens Verwoerd het swartes nie reg op permanente verblyf in die Wes-Kaap gehad nie.

Hy sou dus poog om swart mense geleidelik uit die Wes-Kaap te verwyder en voorkeur aan kleurlingarbeid te gee.

Teen 1958 was Verwoerd ongetwyfeld reeds een van die mees omstrede politieke figure in Suid-Afrika. Met die algemene verkiesing van April 1958, wat die Nasionale Party met nog 'n groter meerderheid gewen het, het Verwoerd lid van die Volksraad geword en wel vir die kiesafdeling Heidelberg. Strijdom se gesondheid het daarna vinnig agteruitgegaan en hy is op 24 Augustus 1958 oorlede.

Die koukus van die Nasionale Party het op 2 September 1958 in Kaapstad byeengekom om die nuwe hoofleier aan te wys. Na 'n tweede stemming is Verwoerd tot nuwe hoofleier van die Nasionale Party verklaar, wat ipso facto beteken het dat hy ook die sesde Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika sou word. In 'n kort toespraak het Verwoerd onder meer verklaar: "Ek glo dat die wil van God deur hierdie stemming geopenbaar is ... Ek sal elke dag my krag soek in die Woord en nie in myself nie." Verwoerd was die eerste premier van die Unie wat nie in Suid-Afrika gebore is nie.

'n Dag na sy aanvaarding van die amp van Eerste Minister het Verwoerd in 'n radiorede verklaar dat hy hom vir die verkryging van 'n republiek sou beywer. Op 20 Januarie 1960 het Verwoerd die volgende dramatiese aankondiging in die Volksraad gedoen: "Die volgende probleem wat nou binne die terrein van die praktiese politiek kom, is die verkryging van die republiek in Suid- Afrika." Die vraag sou aan die volk gestel word by wyse van 'n volkstemming, 'n referendum.

Op 27 Januarie 1960 het die Britse premier, mnr. Harold Mac¬millan, in Suid-Afrika aangekom nadat hy verskeie Afrikastate besoek het. Op 3 Februarie het hy 'n opspraakwekkende toespraak voor al die lede van die parlement gehou. Sy tema was "the wind of change is blowing through this continent". Vir Engelssprekende Suid-Afrikaners was sy toespraak 'n ontnugtering. Want in soveel woorde het Macmillan gesê dat die blanke in Afrika in die oë van Brittanje "expendable" was.

Verwoerd se antwoord was uit die vuis omdat hy nie vooraf insae in Macmillan se toespraak gehad het nie. Verwoerd se toespraak was onder die omstandighede skitterend. Hy het sterk in die bresse getree vir die regte van die blanke in Afrika. Hy het "the need to do justice to all... but also to be just to the white man of Africa" beklemtoon. Suid-Afrika is 'n deel van die Westerse wêreld, "a true white state in Africa ... We are white, but we are in Africa". Engelssprekendes het met waardering daarop gereageer. Dit sou verdere stukrag verleen aan die republikeinse beweging.

Op 31 Mei het Verwoerd 'n groot gehoor in Bloemfontein toegespreek ter herdenking van die 50-jarige bestaan van die Unie. Weereens het hy 'n beroep op die Engelssprekendes gedoen om deel te word van die republikeinse beweging. Op 3 Augustus het hy aangekondig dat die volkstemming op 5 Oktober 1960 gehou sou word. Die uitslag was 52% ten gunste van 'n republiek. Verwoerd en die Afrikaner se ideaal was verwesenlik. Op 15 Oktober het 'n groot republikeinse dankfees op Monumentkoppie by Pretoria plaasgevind. Voor 'n skare van 70 000 mense het Verwoerd verklaar: "Dit is die dag van gebedsvervulling."

Verwoerd het op 23 Januarie 1961 in die Volksraad opgestaan om die eerste lesing van die republikeinse konstitusie voor te stel. Hy sou die wetgewing in verband met die ontwerpgrondwet self hanteer. Tydens die tweede lesingsdebat het Verwoerd sy voorneme herbevestig dat hy op die komende Statebondskonferensie aansoek sou doen om voortgesette lidmaatskap vir Suid-Afrika. Die nuwe grondwet (Wet nr. 32 van 1961) het bepaal dat die hoof van 'n republiek die staatspresident is.

Verwoerd, sy eggenote en mnr. Eric Louw, Minister van Buitelandse Sake, het op 3 Maart na Londen vertrek. Die Afro-Asiatiese verteenwoordigers en die Kanadese premier, mnr. John Diefenbaker, was uit die staanspoor vyandiggesind teenoor Suid-Afrika. Van 13 tot 15 Maart 1961 was Verwoerd aan swaar druk onderwerp. Ten spyte van bitsige aanvalle het hy sy geloof in die beleid van afsonderlike ontwikkeling bly bevestig en geweier om dit te laat vaar. Van die Afro-Asiatiese lande het ook gedreig om die Statebond te verlaat indien Suid-Afrika langer lid sou bly.

Onder hierdie onverkwiklike omstandighede het Verwoerd op 15 Maart sy aansoek om voortgesette lidmaatskap van die Britse Statebond teruggetrek. Suid-Afrika sou dus na Republiekwording op 31 Mei uit die Statebond tree. Hy het die hoop uitgespreek dat die vriendskaplike betrekkinge met Brittanje sou voortduur. Die waardige en vriendelike optrede van Verwoerd tydens die krisis het allerweë groot agting afgedwing.

Meer as 50 000 mense het Verwoerd op 20 Maart 1961 'n uitbundige ontvangs op die Jan Smuts-lughawe gegee. Die gebeure in Londen het hy bestempel as "'n oorwinning vir Suid-Afrika".

Dit was 'n geval van die mens wik, maar God beskik. By Verwoerd was daar geen twyfel nie "dat die Hoër Hand ons gelei het".

Die Republiek van Suid-Afrika se eerste staatspresident, C.R. Swart, is op 31 Mei 1961 in die Groote Kerk in Bosmanstraat, Pretoria, ingehuldig. 'n Deel van die verrigtinge het op die historiese Kerkplein plaasgevind. Dit was die begin van 'n nuwe era, met Verwoerd as die skakel tussen die oue en die nuwe.

Die strewe na blanke eenheid sou hoë prioriteit by Verwoerd geniet. Samewerking tussen Afrikaans- en Engelssprekendes was noodsaaklik.

Die algemene verkiesing van Oktober 1961 het andermaal op 'n groot oorwinning vir die Nasionale Party uitgeloop. In 'n verklaring het Verwoerd daarop gewys dat daar ook steun vir hom van Engelssprekendes gekom het. Hy het gevolglik twee Engels-sprekendes, mnre. A.E. Trollip en EW. Waring, tot lede van die kabinet benoem. In die algemene verkiesing van Maart 1966 het die Nasionale Party sy grootste oorwinning nog behaal. Die verkiesing was vir Verwoerd 'n politieke triomf. Afrikaans- en Engelssprekendes was besig om saam te groei tot een nasie met twee tale.

Verwoerd wou, in sy woorde, die "blanke beskawing" deur 'n beleid van afsonderlike ontwikkeling beveilig. In sy eerste radiorede as Eerste Minister het hy beklemtoon dat minderheidsgroepe alleen veilig kan voel indien daar soveel skeiding moontlik kom. Hy het Naturellesake in twee portefeuljes verdeel, naamlik Bantoe-administrasie en -ontwikkeling en Bantoe-onderwys. Volgens hom het die beleid van afsonderlike ontwikkeling nie verdrukking beoog nie, maar wel kanse vir almal.

Hy het geglo dat dit gevaarlik sou wees om die nasionale aspirasies van die swartes te onderdruk. Daarby het hy wel deeglik rekening gehou met die politieke strominge in Afrika. Die Wet op die Bevordering van Bantoe-selfbestuur (Nr. 46 van 1959) het swartes op etniese grondslag in agt volksgroepe ingedeel. Die wet het ook die verteenwoordiging wat swartes in die Volksraad gehad het, afgeskaf. Daarenteen sou daar geen perke wees op die strewe van swartes om hul gebiede tot onafhanklike state te ontwikkel nie.

'n Bantoe-beleggingskorporasie is ook in 1959 in die lewe geroep om swartes in staat te stel om tot die ekonomiese ontwikkeling van hulle gebiede by te dra. Die aanvanklike bedrag wat beskikbaar gestel sou word, was £500 000. Kapitaal sou beskikbaar gestel word vir bestaande swart ondernemings, sowel as vir die stigting van nuwe ondernemings.

Die Transkeise Gebiedsowerheid het in 1961 'n komitee benoem om ondersoek in te stel na die moontlikheid van selfregering. Die komitee, onder voorsitterskap van hoofman Kaiser Matanzima, het daarna 'n grondwet vir die Transkei opgestel. Dit sou nie vir 'n veelrassige Transkei voorsiening maak nie. Die Transkeise Grondwet (Nr. 48 van 1963) het aan die Transkei gedeeltelike selfbestuur gegee deur aan die gebied 'n eie wetgewende vergadering, kabinet, burgerskap, vlag en volkslied te gee. Die eerste verkiesing in die gedeeltelik selfregerende Transkei is einde 1963 gehou en Matanzima is daarna verkies tot hoofminister.

Afsonderlike ontwikkeling impliseer aparte samelewings en daarom ook aparte universiteite. Verwoerd en die Nasionale Party was sterk gekant teen die beleid van Engelse universiteite - soos dié van Kaapstad en van die Witwatersrand - wat swart en wit studente aanvaar het. Vandaar die Wet op Uitbreiding van Universiteitsopleiding (Nr. 45 van 1959) wat aan kleurlinge en Indiërs eie universiteitskolleges gegee het, wat later tot volwaardige universiteite sou ontwikkel. Studente van elke bevolkingsgroep moes dus hul tersiêre opleiding geniet onder omstandighede wat hul eie volksaard en tradisies erken.

Afrikatale het ook tot hul reg gekom wat die radio betref. Die FM-senders van die SAUK het in die jare 1961-1965 in sewe Afrikatale begin uitsaai. Daarby is sewe erkende Afrikatale van die republiek ontwikkel tot volwaardige skoolonderrigtale.

Sport en politiek sou wel deeglik figureer tydens Verwoerd se premierskap. Die regeringsbeleid was gekant teen enige vorm van veelrassige sport op Suid-Afrikaanse bodem. Dit was voorts ook nie toelaatbaar om 'n veelrassige Suid-Afrikaanse span na die buiteland te stuur nie. Dit het onder meer tot gevolg gehad dat Suid-Afrika nie aan die Olimpiese Spele van 1964 in Tokio deelgeneem het nie. Verwoerd was ook nie bereid om 'n All Blackrugbyspan met Maori's in Suid-Afrika toe te laat nie. Die All Blacks het gevolglik nie in 1967 in Suid-Afrika kom toer nie.

Wat die kleurlinge betref, het Verwoerd dit benadruk dat hulle hul identiteit moes beskerm en bewaar. Blankes en kleurlinge moes dus langs mekaar ontwikkel ("parallelle strome") met behoud van hul eiesoortigheid. Verwoerd het hom in 1960 en vroeg in 1961 sterk uitgespreek teen die gedagte dat kleurlinge deur kleurlinge in die wit parlement verteenwoordig moet word. Die Departement van Kleurlingsake het in 1961 'n volwaardige staatsdepartement geword met 'n eie minister. Die ekonomiese en staatkundige vooruitgang van die bruin mense is op verskeie maniere bevorder. In 1962 is 'n Kleurling-ontwikkelingskorporasie by wyse van wetgewing in die lewe geroep. Die doel daarmee was om kleurlinge wat die een of ander ekonomiese onderneming wil begin, aan die nodige kapitaal te help. In 1963 is die onderwys van kleurlingkinders onder die beheer van die Departement van Kleurlingsake gebring. 'n Onderwysraad vir Kleurlinge is ook in die lewe geroep. Wet nr. 49 van 1964 het voorsiening gemaak vir die daarstelling van 'n Verteenwoordigende Kleurlingraad van 46 lede, met 'n uitvoerende raad van vyf lede. Die eerste verkiesing van die raad is eers in September 1969 gehou.

As premier het Verwoerd spoedig tot die besef gekom dat daar nie die geringste moontlikheid was om die Indiërvraagstuk deur middel van repatriasie op te los nie. Teen 1961 het hy hom dus bereid verklaar om die Indiërs as 'n permanente bevolkingsbestanddeel van Suid-Afrika te aanvaar. 'n Departement van Indiersake is gevolglik geskep. Ten opsigte van die Indiërs sou Verwoerd ook 'n beleid van selfbestuur volg in sake wat hulle raak. 'n Stap in daardie rigting was die skepping van die Adviserende Indiërraad, wat sy eerste byeenkoms in Maart 1964 gehad het.

'n Probleem waarvoor Verwoerd te staan gekom het, was die feit dat die meerderheid swart mense, veral in die stede, sy beleid van afsonderlike ontwikkeling toenemend onaanvaarbaar gevind het. Rasseverhoudinge in Suid-Afrika sou veral in die tydperk na 1960 toenemend deur geweld gekenmerk word. Reeds op 24 Januarie 1960 is nege blanke polisiemanne in Cato Manor, die swart woonbuurt by Durban,  op gewelddadige wyse vermoor toe hulle liggame in stukke gekap is. Die African National Congress en die Pan-Africanist Congress het ook besluit om met versetveldtogte teen die paswette te begin. In Sharpeville naby Vereeniging is die protesveldtog voortgesit en het op bloedvergieting uitgeloop toe 69 swartes deur die polisie doodgeskiet is nadat hulle lewens op dieselfde wyse bedreig is as by Cato Manor – hulle het geen ander keuse gehad as om hulself teen die aanstormende swart massas te verdedig nie. Die Sharpeville-skietery op 21 Maart 1960 sou verreikende gevolge vir Suid-Afrika inhou, binnelands sowel as buitelands omdat dit deur die media opgeblaas is terwyl die Cato Manor-slagting morsdood geswyg is.

Ook in Langa, naby Kaapstad, het die polisie op dieselfde dag twee swart betogers doodgeskiet. Die begrafnis van die Langaslagoffers is deur ongeveer 50 000 mense bygewoon en op 30 Maart het 30 000 swartes na die middestad van Kaapstad gemarsjeer. Vir Suid-Afrika was dit troebel tye. 'n Noodtoestand is afgekondig van Maart tot Augustus 1960 en die ANC en PAC is verbied. Die buiteland wat net die valse media-inligting tot hulle beskikking gehad het, het die gebeure in Suid-Afrika met afkeer bejeën. Vir Suid- Afrika het 'n nuwe era van toenemende veroordeling en isolasie voorgelê.

Op 26 Maart 1960 het Verwoerd 'n reusagtige republikeinse saamtrek op Meyerton toegespreek. Hierdie massabyeenkoms is deur ongeveer 80 000 mense bygewoon. Verwoerd het almal tot kalmte gemaan en die versekering gegee dat wet en orde gehandhaaf sou word. Hy het 'n beroep op blankes gedoen om nie 'n verkeerde indruk van swart mense te kry nie: "Die swart massas van Suid-Afrika is ordeliewend." Volgens hom was "klein groepe persone wat hulle eie voordeel soek" die oorsaak van die onluste – tereg omdat hierdie groepe onder internasionale opsweping die onluste aangewakker het .

Suid-Afrika het krisisdae belewe. Die revolusionêre magte het 'n heftige kampanje van "Verwoerd must go" gevoer. Op 9 April 1960 het Verwoerd die Randse Paasskou geopen. Na sy toespraak het 'n wit boer, David Pratt, op kort afstand twee skote in sy gesig afgevuur. Die sluipmoordaanslag op Verwoerd het die land diep geskok. Verwoerd het wonderbaarlik aan die dood ontkom en verbasend vinnig herstel. In sy eerste toespraak ná die sluipmoordaanval het Verwoerd getuig: "Ek glo dat 'n Hoër Hand beskermend oor my uitgestrek was met 'n doel.’n doel wat ook Suid-Afrika geld."

Nadat die ANC en PAC verbied is, het hulle ondergronds begin funksioneer. Elkeen het dan ook 'n militêre vleuel in die lewe geroep. Die ANC se militêre vleuel was Umkhonto we Sizwe en die PAC s'n was Poqo. Umkhonto we Sizwe het sterk steun van die Kommunistiese Party geniet en Poqo wou deur terreur en doodslag 'n skrikbewind voer om teen 1963 die bewind in Suid- Afrika oor te neem. Op 11 Julie 1963 het die polisie toegeslaan op die hoofkwartier van Umkhonto we Sizwe in Rivonia en lede van die National High Command is in hegtenis geneem. (Sien elders op Gelofteland die hele gebeure omtrent die Rivonia-verhoor).In die opsienbarende hofsaak wat in Oktober 1963 gevolg het, is agt persone, waaronder bekende ANC-leiers soos Nelson Mandela en Walter Sisulu, tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

In sy verklaring van 16 Junie 1964 in die parlement oor die Rivonia-verhoor, het Verwoerd op grond van regter-president Quartus de Wet se uitspraak na die beskuldigdes verwys as "Kommunistiese misdadigers ... of die Kommuniste het gewerk, willens en wetens, in die nouste samewerking met mense wat Kommuniste is en deur Kommunisme beïnvloed word". Hy het dit duidelik gestel dat die wêreld moet weet dat ons nie "hier te doen het met 'n blote politieke verset, of met 'n poging van helde om die vryheid van sekere mense na te strewe nie ... (maar) ... met 'n Kommunistiese set wat gerig is nie net teen Suid-Afrika nie, maar teen die Westerse wêreld". Hy het verder verklaar dat indien hulle in hul doel geslaag het, "dan sou hier 'n Kommunisties- georieënteerde bewind tot stand gekom het, of hy nou blank of swart of gemeng was".

Die ekonomiese en militêre weerbaarheid van Suid-Afrika was 'n saak wat Verwoerd na aan die hart gelê het. Behoorlike ekonomiese beplanning was vir Verwoerd 'n saak van erns. Vandaar dan die instelling van die Ekonomiese Adviesraad (1960) en die Departement van Beplanning (1964). Tydens die bewind van Verwoerd is ook belangrike stappe gedoen om uitvoerhandel aan te moedig, soos die stuur van drie handelsendings na die buiteland in 1961. In Februarie 1961 het Suid-Afrika ook 'n desimale muntstelsel aanvaar. Die reusagtige Oranjerivier-skema is in Maart 1962 aangekondig. Twee groot damme sou in die Oranjerivier gebou word. Die grootste van die twee, die Hendrik Verwoerddam, is in 1972 voltooi. Verwoerd het ook in 1966 Suid-Afrika se eerste reuse-olieboor by Murraysburg in die Karoo in werking gestel. Die ekonomiese groei van die jare 1962 tot 1966 is bestempel as van die grootste wat in moderne tye aangeteken is. Die laaste bewindsjare van Verwoerd was gekenmerk deur buitengewone voorspoed.

Verwoerd was origens bewus van die belangrikheid dat daar 'n eie wapenindustrie geskep word waardeur die republiek in aansienlike mate van die buiteland onafhanklik sou word. In 1964 is die eerste ligte outomatiese geweer R1 (FN-geweer) deur die Krygstuigwerkplaas te Lyttelton vervaardig. In Desember 1964 is die Krygstuigontwikkelings- en Vervaardigingskorporasie (KRYGKOR) gestig om wapens plaaslik te vervaardig. Een van KRYGKOR se filiaalmaatskappye het in 1965 selfs begin om 'n eie opleidings- vliegtuig, die Impala-straler, in Suid-Afrika te vervaardig. Die land se slaankrag ter see is met nuwe fregatte versterk. Duikbote sou ook aangeskaf word. Onder Verwoerd het Suid-Afrika ook die atoomeeu betree met die ingebruikneming van die kernreaktor Safari I by Pelindaba in 1965 en is daar ses atoombomme en ander uitnemende kerntoerusting gebou wat Suid-Afrika militêr gesproke uiters weerbaar gelaat het.

Tydens Verwoerd se bewindsjare was daar sprake van 'n groter vyandiggesindheid in die buiteland jeens die republiek. Verwoerd het egter konsekwent geweier om aan druk toe te gee. Hy het geglo dat Suid-Afrika in die pad van die Kommuniste staan om die hele Afrika te beheer. In die era van die Koue Oorlog was die Ooste en die Weste in 'n stryd gewikkel om die guns van die onverbonde Afro-Asiatiese lande te wen. Volgens Verwoerd het die Westerse lande Suid-Afrika as die sondebok beskou om hul skuldige gewete vanweë hul koloniale erfenis te salf. Daarom het die Weste 'n paaibeleid - 'n beleid van "appeasement" - teenoor die Afro-Asiatiese lande gevolg; en het hulle die blankes in Suid-Afrika as ontbeerlik of "expendable" beskou ten einde die steun en goedgesindheid van die Afro-Asiatiese lande te behou, aldus Verwoerd. Vandaar dan ook die heftige kritiek op die apartheidsbeleid.

Ná die gebeure by Sharpeville het al meer lande in die Verenigde Nasies hulle teen Suid-Afrika begin keer. Die Afro-Asiatiese blok het as 'n drukgroep sterk op die voorgrond getree en verskeie resolusies is teen Suid-Afrika aanvaar:

•          In 1960 het die Veiligheidsraad 'n resolusie aanvaar dat die toestand in Suid-Afrika "has led to international friction and if continued might endanger peace and security".

•          In 1962 het Suid-Afrika die eerste staat geword waarteen die Algemene Vergadering die toepassing van diplomatieke en ekonomiese sanksies goedgekeur het.

•          In 1963 het die Veiligheidsraad 'n wapenboikot teen Suid- Afrika ingestel.

Vroeg in 1961 het die destydse sekretaris-generaal van die VN, mnr. Dag Hammarskjold, 'n besoek aan Suid-Afrika gebring. Openhartige samesprekings is tussen hom en Verwoerd in Pretoria gevoer. Die twee staatsmanne het 'n goeie verstandhouding opgebou en Hammarskjold se dood in verdagte omstandighede in 'n vliegtuigongeluk 'n paar maande later is betreur. Sy opvolger, U Thant, was Suid-Afrika vyandiggesind.

In Mei 1962 het twee verteenwoordigers van die VN, mnr. Victorio Carpio van die Filippyne en dr. Martinez de Alva van Mexiko, in Pretoria samesprekings met Verwoerd gevoer. Hulle het ook daarna Suidwes-Afrika besoek. 'n Gesamentlike verklaring is ná hierdie besoek uitgereik waarin gemeld is dat SWA geen gevaar vir die wêreldvrede inhou nie. Ná hulle vertrek het Carpio 'n teenoorgestelde verklaring die wêreld ingestuur, waarin onder meer sanksies teen Suid-Afrika bepleit is. Carpio het verder die belaglike en deursigtige bewering gemaak dat daar tydens sy besoek gif in sy koffie was.

Verwoerd het in September 1962 die Odendaal-kommissie aangestel om ondersoek in te stel na die verdere bevordering van die stoflike en morele welsyn van die inwoners van SWA. Die kommissie se omvattende verslag het onder meer 'n tuislandbeleid vir sewe van die swart volksgroepe aanbeveel. Die swart volksgroepe in SWA moes dus ook op 'n etniese basis geskei word en elke groep sou op die weg na selfbeskikking gelei word.

Intussen was die saak waarin Ethiopië en Liberië Suid-Afrika se mandaat oor SWA voor die Internasionale Geregshof in Den Haag betwis het, van 1960 af aan die gang. Suid-Afrika se saak is verdedig deur 'n span regsgeleerdes onder leiding van adv. D.E de Villiers. Uitspraak is gelewer op 18 Julie 1966. Die president van die Geregshof, Sir Percy Spender van Australië, het die beslissende stem uitgebring ten gunste van Suid-Afrika. Sir Percy het naamlik bevind dat Ethiopië en Liberië geen locus standi in die saak gehad het nie. Verwoerd het die uitspraak as "'n groot oorwinning" vir Suid-Afrika bestempel en as 'n antwoord op baie gebede. Suid-Afrika sou ook voortgaan om die swart volkere van SWA te lei tot selfverwesenliking. Verwoerd het sy geloof herbevestig in die toepassing van die beginsel van "vreedsame naasbestaan van nasies".

Toe Brittanje sy voorneme te kenne gegee het om aan die drie eertydse protektorate Betsjoeanaland, Basoetoland en Swaziland hulle onafhanklikheid te gee, het Verwoerd dadelik verklaar dat Suid-Afrika die gebiede as onafhanklike state sal aanvaar. Suid- Afrika se beleid sou een wees van vriendskap, goeie buurskap en samewerking. Volgens Verwoerd kon daar moontlik in die toekoms 'n Suider-Afrikaanse statebond ontstaan, waarby die tuislande en die eertydse protektorate ingesluit kon word.

Nadat mnr. Ian Smith Rhodesië op 11 November 1965 eensydig onafhanklik van Brittanje verklaar het, het Verwoerd verklaar dat Suid-Afrika sy gewone vriendskaplike betrekkinge met albei state sou onderhou. Die republiek sou sy beleid van nie-inmenging voortsit; Suid-Afrika sou dus nie deelneem aan enige boikot- beweging nie. Normale ekonomiese betrekkinge met Rhodesië sou gehandhaaf word. Ten spyte van die toepassing van ekonomiese sanksies deur die Britse regering teen Rhodesië, het die republiek geweier om deel te neem aan 'n olieboikot teen Rhodesië. Verwoerd se optrede tydens die Brits-Rhodesiese geskil is wyd aangeprys.

Verwoerd het Suid-Afrika gesien as die voorpos van die Westerse beskawing in Afrika. Tog het Suid-Afrika meer en meer geïsoleerd geraak en het die vyandskap van die swart Afrikastate toegeneem. Met die stigting van die Organisasie van Afrika- Eenheid (OAE) in 1963 is 'n verdere internasionale verhoog vir die veldtog teen apartheid daargestel. Die republiek moes hom onttrek aan verskeie organisasies soos onder meer die Kommissie vir Tegniese Samewerking in Afrika suid van die Sahara (CCTA), die Wetenskaplike Raad vir Afrika suid van die Sahara (CSA), die VN se Ekonomiese Kommissie vir Afrika (ECA), die Internasionale Arbeidsorganisasie en die Voedsel- en Landbou-organisasie.

Vanweë swart Afrikastate se vyandige houding teenoor Suid-Afrika, was Verwoerd nie bereid om enige diplomatieke betrekkinge met hulle aan te knoop nie. In plek daarvan het hy voorgestel dat 'n rondreisende ambassadeur aangestel word om die meer goedgesinde Afrikastate te besoek.

Op 31 Mei 1966 het Verwoerd voor 'n reuseskare van meer as 60 000 mense by die Voortrekkermonument by Pretoria weereens sy hand van vriendskap en welwillendheid uitgesteek na die res van Afrika: "We offer goodwill, but we expect to receive goodwill in return. We will not interfere, but we will not be interfered with." Suid-Afrika was bereid om sy kennis en voorspoed met die res van Afrika te deel. Suid-Afrika begeer vrede en samewerking met sy buurstate: "We are prepared to aid those who wish to work for themselves ... and who can set their hands to the plough rather than spread them out to beg."

Die optrede van die Britse Arbeidersregering van mnr. Harold Wilson sedert Oktober 1964 het verdere vervreemding tussen Suid-Afrika en Brittanje gebring. Brittanje het reeds in 1963 'n geselekteerde wapenverbod teen Suid-Afrika ingestel. Wilson was nie bereid om sestien Buccaneer-vliegtuie aan Suid-Afrika te lewer nie. Die vliegtuie was nodig vir die uitvoering van die Simonstad-ooreenkoms van 1955. Verwoerd sou hieroor 'n ferm standpunt inneem en op die ou einde het Wilson besluit om tog die vliegtuie af te lewer.

Gespanne verhoudings het eweneens geheers tussen Amerika en Suid-Afrika. Pres. John F. Kennedy het in 1963 self die deurslag gegee ten gunste van 'n wapenverbod teen Suid-Afrika. Sy vernaamste raadgewer oor Afrika, mnr. Soapy Williams, het hom ook die gramskap van Verwoerd op die hals gehaal vanweë sy beleid van "Africa for the Africans". Verwoerd het hom ook uitgespreek teen die veelrassige onthale wat deur die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika gegee word. Die Amerikaanse vliegdekskip, die USS Independence, sou Kaapstad in 1965 besoek. Verwoerd het dit uitgespel dat geen Amerikaanse militêre vliegtuig met 'n rasgemengde bemanning van Suid-Afrikaanse lughawens gebruik mag maak nie. Soos te verwagte het Amerika die besoek afgelas.

In 1966 was Verwoerd op die kruin van sy gewildheid in Suid- Afrika. By geleentheid van die vyfde herdenking van die Republiek van Suid-Afrika is die Hendrik Verwoerd-toekenning deur die Hendrik Verwoerd-Trust aan hom oorhandig ter erkenning van sy bydrae tot republiekwording. Die bedrag van RIO 000 het hy beskikbaar gestel vir 'n nagraadse studiebeurs in die geneeskunde. Die Hendrik Verwoerd-Trust is gestig ná die mislukte aanslag op sy lewe in 1960.

Op 2 September 1966 het Verwoerd in Pretoria samesprekings gevoer met hoofman Leabua Jonathan, premier van Basoetoland (Lesotho). Dit was die eerste keer dat 'n Suid-Afrikaanse premier en die premier van 'n onafhanklike swart Afrikastaat in Suid-Afrika beraadslaag het. Die historiese ontmoeting het in 'n gees van welwillendheid plaasgevind. Die benadering was een van "vreedsame naasbestaan en samewerking, wat alle state behoort te besiel..."

Op Dinsdagmiddag 6 September 1966, is Verwoerd tydens die Volksraadsitting vermoor. 'n Tydelike bode in die Parlementsgebou, Demitrio Tsafendas, wat as internasionaal-gehuurde moordenaar opgetree het, het met vier dolksteke 'n einde aan Verwoerd se lewe gemaak – die buiteland het hulle sin gekry!  Op 8 September sou Verwoerd 65 jaar oud geword het. Daar was diepe, landwye droefheid. 'n Gees van verslaenheid het landwyd geheers.

Op Saterdag, 10 September, het die hele Suid-Afrika tot stilstand gekom. In Pretoria het ongeveer 'n kwart miljoen mense die laaste eer aan die ontslape Eerste Minister bewys. Dr. Verwoerd is in die Heldeakker ter ruste gelê.

Dit is moeilik om in die huidige tydsgewrig 'n gebalanseerde, genuanseerde oordeel oor Verwoerd te vel. Verwoerd se naam sal onlosmaaklik gekoppel bly aan die apartheidsbeleid. En apartheid is weer vir die meeste en oningeligte mense sinoniem met rassisme, rassemeerderwaardigheid, rassediskriminasie en onderdrukking. Die tweede helfte van die twintigste eeu is juis oorheers deur 'n wêreldwye veldtog teen rassisme. Juis as gevolg daarvan is 'n objektiewe publieke waardebepaling van Verwoerd so moeilik.

Verwoerd was, soos ander historiese figure, 'n kind van sy tyd. Mense en gebeure moet in die konteks van hulle tyd verstaan word. Die verlede mag daarom nie beoordeel word deur die toepassing van vandag se maatstawwe nie. Die verlede kan nie vanuit die hede beoordeel word nie. Dit is veral die geval wanneer omstrede politieke figure soos Verwoerd onder die historiese vergrootglas geplaas word.

Wie oor die verlede 'n oordeel wil vel, moet dit doen gedagtig aan die volgende woorde van die Nederlandse historikus, Ad Biewenga: "Om tot een beter begrip van Zuid-Afrika's verleden te komen, moeten we dus de mensen van toen in hun eigen wêreld proberen te begrijpen. Hun bedoelingen - en niet onze projecties - dienen we volkomen serieus te nemen."

Verwoerd se karakter het baie fasette gehad. Vanweë die aard van sy beleidsrigtings sal hy altyd 'n omstrede figuur bly. Sy leuse was: "Skep u eie toekoms." Hy het daaraan uitvoering gegee met die lig tot sy beskikking. Hy was 'n geliefde leier, maar in baie kringe was hy ook 'n gehate man.

Die vraag wat dikwels gevra word is waar Suid-Afrika vandag sou staan indien Verwoerd nie vermoor is nie. Sou ons die buitelandse druk kon weerstaan? Sou ons vandag ekonomies 'n wêreldreus wees met nasionale vooruitgang en stabiliteit, 'n lae misdaadsyfer en vrede in ons land?

Daar is net oor een ding eenstemmigheid: die laaste woord is kennelik nog nie gespreek oor Hendrik Frensch Verwoerd nie...

Opsoek na inligting?

  • VAKATURE: HOOFBESTUURDER - RADIO ROSESTAD

    Stuur u aansoek saam met ’n CV waarin u ‘n persoonlike bekendstelling, werkservaring en tersaaklike kwalifikasies insluit, voor 15 September 2018 aan ds. CM Erasmus by die e-pos adres: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Vir meer inligting:

    VAKATURE: HOOFBESTUURDER - RADIO ROSESTAD


    __________

    BYBEL 1933/53-druk nou gratis

    Gelofteland is dankbaar om aan al ons lesers die 1933/53-uitgawe van die Bybel gratis te voorsien. Al wat u hoef te doen is om 'n e-pos na

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    te stuur met die versoek om die Bybel te ontvang, en ons sal dit aan u stuur.

    ___________

    Skryf in vir die gratis e-blad OORSIG EN REPLIEK

    'n Blad wat dmv verduidelikende agtergrond by die kern van ons volk se
    stryd uitkom.

    Kontak die redakteur by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Lees ons gereelde uittreksels daaruit hier op Gelofteland by OORSIG EN REPLIEK

    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________ 
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.

    Hierdie boek uit die pen van ds AE van den Berg, het in gedrukte vorm verskyn.  Dit bring helder perspektief oor rasseverskille en natuurlike skeiding wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte wat landsburgers van geestelike denke sal laat verander en van onregte en gewaande vryheid sal bevry.

    Sinvolle besluite in die lig van God se Woord, en onophoudelik gebed dat bevryding spoedig verwesenlik word, is noodsaaklik. Politiek is erns en harde werk wat wet en orde handhaaf en durf nie in eerlose hande gelaat te word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel.

    U kan hierdie boek bestel by ds A E van den Berg

    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com

    Prys: R50-00

     
  •                                                                        ______________

     

    BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    'n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD

    _______________

    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

                                                                           ________________

     

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    of skakel hom by 074 967 5187

    ________________

    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    _________________

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  •  

    DIE CHARISMATIESE GEVAAR
    Mense word so maklik deur dwaalleringe mislei. In hierdie boek word talle kwelvrae beantwoord.

VERGADERING-

PROSEDURES

DIT IS GRATIS

In ons moderne tyd en veral in die Nuwe Suid-Afrika waar orde nie meer 'n saak van belang is nie, is daar maar min mense wat nog die waarde van 'n ordelike byeenkoms bedink en kan uitvoer. As leiers binne die Afrikanervolk sal ons vinnig moet leer hoe om dissipline en orde te handhaaf waar 'n paar mense byeenkom - sonder hierdie kennis en gedissiplineerde toepassing daarvan sal 'n byeenkoms sinloos wees - vandaar die chaotiese wanorde binne die regime.

Kliek hier om die boekie wat u op hoogte kan bring van korrekte vergaderingprosedures gratis af te laai.  Indien u van Windows 10 gebruik maak sal die inhoud outomaties onder die lêer "Downloads" geberg word en kan dit daar gehaal en gebêre word waar ookal dit maklik gevind kan word.

Dit is deur Johan Dorfling geskryf en kom handig te pas in alle omstandighede waar 'n vergadering van persone plaasvind ongeag die agenda of doel van die byeenkoms.

'n Opegte dankie aan Johan wat baie moeite hiermee gedoen het. Mag dit tot groot heil en samewerking in ons volk meewerk!

 
 

1919: VRYHEIDSDEPUTASIE KEER TERUG

1800: GRAAFF- REINETSE REBELLE GEVONNIS

1917: OOM JAPIE HELPMEKAAR

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

                                                                         __________________

 

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES

(Lees by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

                                                                         __________________ 

 

APARTHEID:

Dr Verwoerd het gesê skeiding beoog volle kanse vir almal op woongebied, landgebied en lewensterrein binne elkeen se eie rassegemeenskap tot elkeen se voorspoed, tevredenheid en beskerming. Hy stel sy beste werkkrag, geesteskrag, elke oomblik van sy lewe, tot beskikking.

                                              ___________________                                                  

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 1574 gaste aanlyn