Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die liefde is vriendelik...
HERINNERINGE AAN DR HF VERWOERD (4)
Lees reeks by Herinneringe aan dr HF Verwoerd
Louis Botha
Mnr. L. Botha is in Pearston gebore, was in Somerset-Oos op skool en het vir 'n kort tydperk aan Rhodes Universiteit studeer. Hy was 'n assistent- landdros in Pretoria toe hy in 1959 aangestel is in die Departement van die Eerste Minister, dr. Verwoerd. Ná dr. Verwoerd se tyd is hy bevorder tot sekretaris. Hy het in 1978 aftree-ouderdom bereik.
Louis vertel self:
DR. VERWOERD se reputasie as "slawedrywer" in die Departement Naturellesake het hom vooruit geloop toe hy Eerste Minister geword het. Daarom was ek verbaas om so 'n vriendelike baas aan te tref toe ek kort daarna in sy departement diens aanvaar het. My waardering vir sy menslikheid het in die loop van die jare net gegroei. Ek kan 'n hele paar staaltjies vertel om dit te illustreer.
Tydens mnr. Harold Macmillan se besoek aan Suid-Afrika in Februarie 1960 is ek saam met 'n groep amptenare na die Groote Schuur-woning genooi vir 'n waatlemoenfees, en ek dink daar is ook vleis gebraai. Dit was 'n warm aand en die etery was daar bo in die klofie tussen die blou kersblomme. Terug by die woning ontdek ek dat ek my baadjie daar vergeet het. Ek vra toe verskoning, en sê aan dr. Verwoerd: "Ek gaan net gou my baadjie haal." Tot my verbasing sê hy hy sal saamstap. Ons loop toe lekker en gesels en aangesien die onderwerp in almal se gedagtes was, vra ek hom wat hy dink mnr. Macmillan die volgende dag in die parlement gaan sê. Sy antwoord was: "Nee, ek weet nie. Maar ek weet wat ek vir hom gaan sê." Daaruit lei ek af dat Macmillan hom nie heeltemal so onverhoeds gevang het met daardie "winde van verandering"-toespraak soos die meeste mense dink nie. Hy het die moeilikheid sien kom en hom geestelik daarop voorberei. Dit neem natuurlik nie die feit weg dat hy uit die vuis gepraat het en sy antwoord moes formuleer terwyl Macmillan aan die woord was nie. Wat my egter daardie aand by Groote Schuur die meeste getref het, was dat hy my, 'n betreklik junior amptenaar, eintlik op gelyke voet behandel het.
Die einde van die jaar moes Doktor sy Nuwejaarsboodskap voorberei en hy vra ons by die kantoor toe om 'n lysie van die belangrikste gebeurtenisse op te stel. Daar was baie: die dood van 438 steenkool-mynwerkers in Suid-Afrika se grootste mynramp by Coalbrook, die barbaarse moorde deur swartes op nege blanke polisiemanne by Cato Manor (Durban), Macmillan se opspraakwekkende toespraak, die Sharpeville- en Langa-onluste, die aanslag op die lewe van die Eerste Minister, die Uniefees en die referendum oor republiekwording, alles in daardie een jaar. Dr. Verwoerd kyk die lys so deur, toe sê hy: "En wat van my antwoord aan Macmillan?" Hy voeg dit toe in. Hy was wel 'n nederige persoon, maar het nie aan valse beskeidenheid gely nie.
Ek moet byvoeg, ek het hom net een keer hoor spog, maar nie oor eie prestasie nie. Dit het my juis opgeval omdat 'n mens nie 'n spoggery met dr. Verwoerd sou assosieer nie. Ons was by 'n dinee in die premierswoning Libertas en sy jongste seun, Wynand, was die aand ook by, waarskynlik as 'n spesiale beloning vir sy uitslae in die matriekeksamen. Dr. Verwoerd leun toe oor na my kant en sê: "As jy die mannetjie so kyk, sal jy nie sê hy het pas sewe onderskeidings gekry nie, né?" Dit was 'n geval van ouerlike trots soos ons maar almal met ons kinders se prestasies spog.
Die Departement van die Eerste Minister is maar 'n klein departement wat hoofsaaklik administratiewe werk moes afhandel. Mnr. Koos Visser was die sekretaris en ek was tweede in bevel. Dr. Verwoerd het my gewoonlik laat roep as Visser nie daar was nie, en selfs by tye terwyl Visser wel daar was. Om een of ander rede het hy vertroue in my gehad. As hy aan jou 'n opdrag gegee het, mondeling of skriftelik, dan was dit so duidelik uitgestippel dat jy daarmee kon voortgaan, sonder verdere vrae. Ons het nooit gesukkel om 'n beslissing uit hom te kry nie. Hy het my eendag goeie advies gegee, wat ook iets sê van sy lewensfilosofie. Dit het daarop neergekom dat as jy 'n besluit moet neem en jy het die nodige inligting tot jou beskikking, neem dan die besluit; reg of verkeerd, maar sorg dat jy daardie besluit behoorlik kan motiveer.
In my oë het dr. Verwoerd nie foute gemaak nie. Hy het nie lukraak besluite geneem nie. Die wette wat hy op die wetboek geplaas het, was destyds noodsaaklik omdat hy ontwikkeling op 'n ordelike wyse wou aanpak en dit het tot almal se voordeel gestrek. Anders was daar chaos. Diskriminerende maatreëls sou wel later herroep kon word namate die beleid van afsonderlike ontwikkeling gevorder het. Hy het swart en wit mense se belange gedien.
Daar word vandag soms terugskouend beweer dat sy groot fout was om blanke entrepreneurs nie in die tuislande toe te laat nie. Hy het dit egter ter wille van die swart mense gedoen. Dr. Verwoerd het die entrepreneurs deurgekyk en geoordeel dat dit nie op daardie tydstip gerade was om hulle op die swart mense los te laat om hulle moontlik uit te buit nie.
In 1963 het die regering die verslag OM van die Odendaal-kommissie aanvaar, wat beteken het dat die beleid van afsonderlike ontwikkeling in SWA doelgerig toegepas sou word. Dr. Verwoerd stel toe 'n skakelkomitee aan om te verseker dat die beleid uitgevoer word. Hy wou hê dat ek sy departement in die komitee verteenwoordig. Mnr. Visser het teengestribbel want dit sou beteken dat ek feitlik elke maand na Windhoek moes gaan vir vergaderings. Dr. Verwoerd sê toe vir hom: "As jy nie vir Botha kan afstaan nie, moet jy self gaan." So het ek toe vir 'n hele paar jaar in die komitee gedien.
Baie van die korrespondensie wat aan die Eerste Minister gerig was, het direk by hom en sy privaatsekretaris uitgekom en nie in die lêers van sy departement beland nie. Ander korrespondensie, veral die langs amptelike kanale, het egter wel by ons uitgekom. Ek onthou 'n geval van 'n brief van 'n beweging in Suid-Amerika wat daarop gemik was om by ons te flikflooi. Dr. Verwoerd het 'n nota deurgestuur om te sê antwoord hulle so en so, en dit was 'n bietjie kortaf. Toe sê ek vir die sekretaris: "Mnr. Visser, ek wonder darem of dr. Verwoerd hierdie brief reg gelees het. Het hy nie dalk iets oor die hoof gesien nie? 'n Mens kan hom nie kwalik neem nie, hy het so 'n besige program."
Visser se: "Ek stem met jou saam, maar ek gaan nie terug na dr. Verwoerd nie."
Dit was tipies van die amptenare. Ek hou vol: "Ons is mos hier om hom te help. As hy dalk 'n fout gemaak het, moet ons hom mos darem daarop wys. Ons kan hom tog darem bevraagteken, of hoe?"
Mnr. Visser sê: "As jy 'n voorlegging wil maak, doen dit, net nie in my naam nie." In my jeugdige voortvarendheid maak ek toe 'n voorlegging, vra net mooi of hy dit en dat in gedagte gehou het, voor ons sy opdrag uitvoer. Doktor het toe gaan sit en 'n foliovel vol geskryf - een kant vol, anderkant half - om vir my te verduidelik hoekom hy op so 'n antwoord besluit het. Ek moes toe erken, nee wragtig, die man het bietjie verder gedink as ek.
Ek wil ook van 'n ander brief aan dr. Verwoerd vertel waarvan min mense weet. Op Saterdag 9 April 1960 by die Randse Paasskou, voor 'n skare van 30 000 mense is dr. Verwoerd twee keer in die kop geskiet deur David Beresford Pratt, 'n welgestelde boer. Dat hy die aanslag oorleef het sonder ernstige gevolge, is niks minder as 'n wonderwerk nie. Twee dae nadat hy die hospitaal verlaat het, het hy my uit Kaapstad ontbied. Daar in sy studeerkamer in Libertas het dit my opgeval hoe kalm en bedaard en sonder enige verwyt hy oor die gebeure kon praat. Pratt is in 'n sielsieke-inrigting opgeneem nadat hy op 26 September as geestelik versteurd verklaar is. Fred Barnard, Doktor se privaatsekretaris, het eendag kort daarna met 'n brief in sy hand na my toe gekom. "Kyk hier," sê hy. "Kyk bietjie wat skryf Pratt." In die brief sê hy hy is jammer oor die ongerief wat Doktor moes verduur, maar dat hy hom nou maar moet verskoon en asseblief moet toelaat om Engeland toe te gaan. Hy voel hy het dr. Verwoerd eintlik 'n guns bewys want hy het mos nou groot aansien verwerf en baie simpatie en ondersteuning van oor die hele wêreld gekry en dit is alles aan hom, Pratt, te danke. "Moet ek dit aan dr. Verwoerd voorlê?" vra Barnard.
Ek sê: "Gits, nee, Doktor is kapabel en laat loop hom!" Kort daarna het Pratt in die gestig selfmoord gepleeg.
Soos ek gesê het, dr. Verwoerd was 'n vriendelike en innemende mens, maar as iemand oor die tou getrap het, het ek daardie man jammer gekry. Daar was die geval van die destydse sekretaris van die Senaat. Die aand voor die parlementsopening gee die Staatspresident gewoonlik 'n dinee waarheen 'n paar ministers, 'n paar diplomate en hoofde van missies, asook die sekretarisse van die Volksraad en Senaat uitgenooi word. Die sekretaris van die Senaat bel die sekretaris van die Staatspresident, Dries Pretorius, en sê hy sal ongelukkig nie kan kom nie want die volgende dag is die opening van die parlement en hy is baie besig en sy gesondheid is ook nie na wense nie. Pretorius sê dit toe vir die Staatspresident, dié voel gesteurd daaroor en stuur 'n nota deur na dr. Verwoerd. Dr. Verwoerd reageer onmiddellik en skryf aan die president van die Senaat, mnr. Tom Naudè, en sê dat daardie man sy pligte moet nakom. Dit is een van sy pligte om die funksie by te woon. En hy het nie eers formeel om verskoning gevra nie maar eenvoudig net die sekretaris van die Staatspresident gebel, en dit is nie goed genoeg nie. As sy gesondheid so is dat hy nie meer sy pligte kan nakom nie, moet hy plek maak vir iemand anders. Mnr. Naudè het spreekwoordelik op sy knieë kom pleit vir die betrokke sekretaris. Dit is een geval wat ek kan noem waar dr. Verwoerd nie onversetlik was nie en sy besluit heroorweeg het. Selfs die ministers was skrikkerig vir hom. Omdat hy die koerante elke dag so deeglik deurgegaan het, het hy presies geweet wat ministers orals in die land kwytgeraak het, en as iets nie honderd persent strook met beleid nie, het hy hulle voor stok gekry. In dr. Verwoerd se tyd was daar nie bontpratery nie.
Dr. Verwoerd was baie presies en het ook klein dingetjies as belangrikbeskou. Wanneer hoë besoekers soos mnr. Macmillan of burggraaf Montgomery ontvang is, het die protokolafdeling van die Departement Buitelandse Sake gewoonlik 'n tafelplan voorgelê. Maar hy het sy eie idees gehad van waar die mense moes sit. Hy het selde een van daardie tafelplanne of spyskaarte onveranderd laat deurgaan.
Ook verklarings wat uitgereik moes word, het hy altyd persoonlik nagegaan. Elke jaar met die opening van die parlement, moes ons die Staatspresident se toespraak voorberei. Daarvoor het ons bydraes van al die staatsdepartemente bymekaar gekry, opgesom en aan die kabinet voorgelê. Die Eerste Minister wys dan twee of drie ministers wat wel ter tale is aan om die stuk sorgvuldig deur te gaan en dan kom dit terug na ons toe om gedruk te word. Voor daardie konsep na die drukkers gaan, het dr. Verwoerd feitlik altyd nog veranderings aangebring soos hy goed gedink het. En gewoonlik moes 'n mens erken dat daardie veranderings 'n verbetering was. Wat sy eie toesprake betref, het hy natuurlik nooit van toespraakskrywers gebruik gemaak nie.
Net voor die vervroegde algemene verkiesing van Oktober 1961 het dr. Verwoerd aangekondig dat mnr. John Vorster bevorder word tot Minister van Justisie, van Polisie en van Gevangenisse. Laasgenoemde departement se benaming was voorheen Gevangeniswese. Die nodige stukke is vir die Staatspresident opgestel om by die inswering van die minister te lees. Ek sien nou nog die toneeltjie hier voor my. Ons sit daar in die vertrek waar die ministers ingesweer word, saam met die klerk van die Uitvoerende Raad, en dr. Verwoerd sit so en luister. Die Staatspresident, mnr. Swart, lees "Minister van Justisie, van Polisie en van Gevangeniswese."
Dr. Verwoerd val hom skerp in die rede en se: "Nie Gevangeniswese nie, Gevangenisse." Mnr. Swart was sigbaar uit die veld geslaan en effens bewerig, maar hy het voortgegaan om die teks verder reg te lees. Dit wys net, dr. Verwoerd was altyd pynlik korrek.
Daardie korrektheid het natuurlik ook ter sprake gekom die keer toe ons die Koningin van Engeland formeel in kennis moes stel dat Suid-Afrika 'n republiek word. Die protokolafdeling het die brief opgestel en dit beëindig met: "I remain your Majesty's most humble and obedient servant." Dr. Verwoerd het die opmerking gemaak of die "humble"-besigheid nou regtig nodig is. Aan hom is verduidelik dat dit 'n geykte uitdrukking is, en hy het toe gesê dat dit dan maar moet deurgaan. Die brief was klaar op handgemaakte papier getik en dit was al laat, hy moes net teken. Toe val iets my skielik op, en ek sê: "Doktor, ek hou nie van hierdie 'I remain' nie, ons word dan nou 'n republiek en dinge bly mos nie dieselfde nie." Hy gee my toe sommer dadelik gelyk. Daar was gelukkig nog 'n tikster byderhand en ek laat haar die brief oortik. Dit word toe: "I have the honour to be ..."
Dr. en mev. Verwoerd is deur die mense op 'n verhewe vlak geplaas. Hulle het nie hulself verhef nie. Vir my het hulle die beste van ons volk, die adel van ons Afrikaners verpersoonlik.