Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

'n Goeie sin vir humor maak alle dinge beter. Behou jou humorsin veral in moeilike tye – dit het niks te make met die erns van die situasie nie, lag verskaf net die vonk wat mense meer gewillig maak om probleme op te los. Het u opgemerk hoe min die mense om u deesdae lag?  Lag is 'n teken van geestesgesondheid en kom seker die heel naaste aan die genade van God – ons moet dit net aangryp.

SLUIPMOORD OP DR VERWOERD (6)

Beaumont Schoeman – geskryf in 1975

Lees reeks by SLUIPMOORD OP DR VERWOERD

Eerste dreigement

Hoewel sluipmoord as ’n politieke wapen in sekere wêrelddele feitlik ’n alledaagse verskynsel geword het, was dit tot met die aanslae op die lewe van dr. Verwoerd in die sestigerjare iets heeltemal vreemds aan Suid-Afrika. Dit was iets waarvan periodiek in die koerante gelees is, maar op die meeste mense in Suid-Afrika het dit geen indruk gemaak nie. Dit is iets wat tot die Piesang-republieke, die Verre Ooste en die Arabiese lande behoort. Dit kan nie hier by ons gebeur nie, het die mense geglo.

Daarom was die eerste mislukte aanslag op dr. Verwoerd se lewe op 9 April 1960 so ’n skokkende gebeurtenis. Vir ’n kortstondige tydjie is die mense van Suid-Afrika uit hulle illusie geruk dat sluipmoord op ’n regeringshoof nie in Suid-Afrika kan gebeur nie. Maar selfs toe, nadat dr. Verwoerd wonderbaarlik van die rewolwerskote van David Beresford Pratt in die Milnerparkarena in 1960 herstel het, was daar bitter min mense in Suid-Afrika wat vir een oomblik sou aanvaar dat binne ses en ’n halfjaar na hierdie mislukte aanslag weer ’n sluipmoordaanval op dr. Verwoerd gewaag sou word. Enigiemand wat sou beweer dat so iets moontlik was, sou waarskynlik as kranksinnig bestempel word. Dat dit in die hoogste wetgewende raad van die land in die teenwoordigheid van honderd en sestig volksverteenwoordigers kon gebeur, was iets wat vir die meeste mense aan die absurde gegrens het.

Dit is dan ook begryplik dat, toe die volk van Suid-Afrika van sy skok op 6 September 1966 herstel het, daar baie vrae ontstaan het - vrae wat tergend onbeantwoord is. Dit is vrae waarop al die antwoorde vandag nog nie verstrek is nie.

Watter magte het agter die daad van 6 September 1966 gesit? Hoe het hierdie mens in Suid-Afrika gekom terwyl hy gebrandmerk was op ’n lys van verbodenes? Hoe het hy al die tyd, van 8 Maart 1965 tot 6 September 1966, daarin geslaag om oral in Suid-Afrika rond te beweeg sonder om die minste agterdog te wek? Hoe het hy dit reggekry om tot in die hart van Suid-Afrika se konstitusionele orde in te dring om daar die man dood te steek wat in die wêreld glansryk as die simbool van die Blanke in Afrika gestaan het?

Waarom het hierdie man so ’n allesoorheersende begeerte gehad om telkens na Suid-Afrika terug te keer?

Drie dae voor die sluipmoord was dr. Verwoerd se dood ter sprake by ’n Griekse skip wat in die Tafelbaaihawe gelê het en waarop Tsafendas dikwels besoek afgelê het en ’n pistool of mes wou gekoop het.

Dieselfde dag het ’n man in Londen by ’n politikus navraag gedoen na die dood van dr. Verwoerd.

Gebeur hierdie dinge maar toevallig?

Die regter wat ondersoek na die moord ingestel het, verklaar: “Die waarskynlikheid is dat dr. Verwoerd se dood nie toevallig by daardie skip ter sprake gekom het nie.”

Maar op 4 November 1963 het hierdie man ook Suid-Afrika by Komatipoort per motor binnegekom met ’n tydelike permit wat aan hom uitgereik is ondanks die feit dat sy naam op ’n voorbehoudlys was waarvan die Paspoortbeheerbeampte ’n afskrif in sy besit gehad het. Eers op 21 Augustus 1964 word hy beveel om die land te verlaat om net die volgende jaar terug te keer - sonder dat sy naam op die voorbehoudlys in besit van die Paspoortbeheer­beampte in Durban raakgesien is.

Kort tevore, op 10 Julie 1964, het hy teenoor ’n werkgewer wat hom in die pad gesteek het, woorde geuiter wat onmiskenbaar ’n dreigement was dat hy dr. Verwoerd sou dood.

Al in 1937, toe Tsafendas die eerste keer in Suid-Afrika was, is daar in sy lêer getuienis dat hy met kommunistiese bedrywighede besig was. Van 1939 tot 1941 was hy lid van die Kommunistiese Party in Suid-Afrika. En waar hy daarna ook al in die wêreld was, was hy op die een of ander manier met die kommuniste geassosieer.

Nog in Augustus 1959, terwyl Tsafendas in Brittanje was, is ’n nota in sy lêer geplaas: “The applicant had or still has Communis­tic leanings . . .” En kort daarna word sy naam op die swartlys van die Departement van Binnelandse Sake geplaas.

Vir bykans twintig jaar was hierdie man aan die owerhede in Suid- Afrika bekend. Hoe gebeur dit dat so ’n man met so ’n rekord te midde van al die getuienis teen hom, dit reg kry om hom permanent in Suid-Afrika te vestig om sy moordplanne deur te voer?

Wat is die betekenis daarvan dat ’n blad soos die Amerikaanse Time, wat jare lank niks oor Suid-Afrika geskryf het nie en sy verteenwoordigers in Suid-Afrika teruggeroep het, skielik veertien dae voor die moord op dr. Verwoerd ’n volle ses bladsye in die venynigste terme aan Suid-Afrika wy en ’n afkeurenswaardige beeld van dr. Verwoerd op sy buiteblad plaas?

Een van die opskrifte in die artikel is “Murder in the heart”. Daaronder word dan die woorde gedruk wat ’n Bantoe van Johan­nesburg glo sou gesê het. Deel van sy kommentaar wat gedruk word, is:

“But there is murder in my heart.”

Demitrios Tsafendas was sowat ses weke in Suid-Afrika toe hy op 14 Desember 1963 aansoek doen om ’n verlenging van sy tydelike verblyfpermit. Hierdie aansoek was by die Departement van Binnelandse Sake en dit is deur hierdie Departement geweier. Op die lêer van die Departement verskyn ’n nota dat hy na Lourenco Marques moet terugkeer en daarvandaan aansoek moet doen om in die Republiek te kom werk.

Sewe dae hierna word Tsafendas se aansoek om ’n verlenging van sy verblyfpermit egter toegestaan en die Departement vestig die aandag daarop dat sy ouers genaturaliseerde Suid-Afrikaanse burgers is. Verlof word toegestaan dat hy tydelik in diens mag tree in afwagting van ’n besluit oor sy aansoek om permanente verblyf. Die permit word verleng tot 29 Februarie 1964 en in ’n Lêer 35226/63 geplaas.

Na aanleiding hiervan verklaar die regter wat dr. Verwoerd se dood ondersoek het: “Die beamptes belas met hierdie aansoek, was klaarblyklik onbewus van die bestaan van Lêers B7771 en G8226, asook van die feit dat sy naam op die Departement se voorbehoudlys verskyn.”

In sy aansoek om permanente vestiging meld Tsafendas onder meer dat hy gedurende die vorige vyf jaar ’n matroos was, dat hy nog nooit tevore aansoek gedoen het om hom in Suid-Afrika te vestig nie, dat hy nog nooit uit enige land gedeporteer is nie en dat hy nie aan enige geesteskwaal ly nie.

Hier is die skriftelike getuienis van hoe Tsafendas gelieg het en die owerhede in Suid-Afrika om die bos gelei het. Tog word sy ontkennings van sekere belangrike feite na die moord op dr. Ver­woerd geredelik aanvaar.

By sy aansoek om permanente vestiging word ook ’n mediese sertifikaat aangeheg waarin onder meer gemeld word dat hy nie in enige opsig geestelik versteurd is nie. Twee en ’n half jaar later is die bevinding dat hy kranksinnig is.

Toe Tsafendas sy aansoek om permanente vestiging by die ower­hede ingehandig het, was die Departement van Immigrasie daarvan bewus dat Demitrios Tsafendas ook bekend was as Tsafendakis of Tsafandakis. Hoewel hierdie Departement in verbinding was met ’n amptenaar van die Departement van Binnelandse Sake, is Leers G8226 en B7771 nie opgespoor nie.

Op 20 Januarie 1964 word die aansoek van hierdie ongewenste persoon om hom permanent in Suid-Afrika te vestig, toegestaan. Op 6 Maart 1964 word ’n Vreemdelinge-registrasiekaart aan hom uitgereik, klaarblyklik nog steeds onbewus van die bestaan van sy leers met hulle verdoemende getuienis.

Na sy aankoms vanaf Lourenco Marques in Pretoria het Tsafendas by ’n paar plekke begin werk, maar hy is oral in die pad gesteek vanwee sy luiheid en ongemanierdheid.

Op 7 Februarie 1964 tree hy as passer by die firma F.A. Poole (Pty.) Ltd. in diens. ’n Voorman werksaam by die firma het getuig dat Tsafendas eendag gedreig het om hom met ’n mes te steek. ’n Portugees wat ook by dieselfde firma werksaam was, het vertel dat Tsafendas ’n vyandige houding teenoor hom aangeneem het omdat hy geweier het om dr. Salazar, die Portugese eerste minister, met hom te bespreek.

Nadat hy vyf maande by die onderneming in diens was, ontslaan die bestuurder, mnr. Vercuiel, Tsafendas omdat sy werk slordig was en omdat hy gedurig met die ander werkers getwis het.

Mnr. Vercuiel het getuig dat Tsafendas baie ontsteld was hieroor en aan hom gesê het: “You are just like your bloody Government. I will get you. I will also get your Prime Minister.”

Mnr. Vercuiel sê dat hy destyds hierdie dreigement aan niemand oorgedra het nie, maar toe hy hoor dat Tsafendas dr. Verwoerd vermoor het, het hy hom dadelik die voorval herinner. In ’n skriftelike verklaring wat in September 1966 na die moord op dr. Ver­woerd deur hom gedoen is, stel hy die dreigement soos volg: “You are just like your bloody Government. I will kill your Prime Minister yet.”

Die regter se bevinding hieroor was: “Mnr. Vercuiel het ’n gunstige indruk gemaak, maar die moontlikheid dat sy geheue hom parte speel na so ’n lang tydsverloop, kan nie uitgesluit word nie.”

Die dag waarop Tsafendas uit sy werk ontslaan is, het hy skriftelik by die Departement van Binnelandse Sake aansoek gedoen om ’n terugkeervisum om hom in staat te stel om Mosambiek en Rhodesië te besoek. Mej. G. Markham, ’n klerk van hierdie Departement, het die voorbehoudlys nagegaan en aangedui dat Tsafendas se naam nie daarop verskyn het nie. Inderdaad was sy naam reeds sedert 1959 op daardie lys.

Na ’n kort verblyf in Rhodesië is hy beveel om die land te verlaat en keer hy na Mosambiek terug. Na sowat ses weke gaan hy Rhode­sië weer binne. In Umtali het hy onder meer in gesprekke verklaar dat die silwerstopsels in sy tande in Rusland ingesit is. Aan die kommissie het hy verklaar dat hy dit in Turkye gekry het.

Omdat hy geen visum gehad het nie, is hy as ’n onwettige immi­grant in Rhodesië verklaar en op 10 Oktober 1964 word hy na Mosambiek gedeporteer. Vyf weke later, op 16 November, word hy deur die Veiligheidspolisie van Mosambiek in hegtenis geneem omdat hy ondermynende verklarings gedoen het. Geen besonderhede hieroor word verstrek nie, behalwe die feit dat hy ’n sterk gevoel teen Portugal geopenbaar het.

Op 26 Januarie 1965 is hy weer losgelaat, maar geen besonderhede word verstrek waar hy hom sedert daardie datum tot 5 Maart 1965- toe hy Beira aan boord van die Karanja verlaat en vir die laaste keer na Suid-Afrika vertrek het - bevind hel nie. Daar word wel getuig dat hy tydens sy verblyf in Beira om hulp by die Griekse konsul gaan aanklop het. Hy het aan die konsul gesê dat hy Russies kan praat. Daar was toevallig ’n Russiese skip in die hawe en die konsul het gevra dat vasgestel moes word of hy Russies met die Russiese matrose kan praat. Hy kon dit blykbaar doen, lui die regter se verslag.

Voor die kommissie het hy egter andermaal gelieg en gesê dat hy nie Russies kan praat nie.

Gedurende sy laaste verblyf in Beira het Tsafendas dikwels geld by hom gehad. By ’n geleentheid is hy gesien met ’n pakkie honderd escudonote. Die waarskynlike verduideliking, sê die regter, is dat hy op 17 Februarie 1965 ongeveer 1 644 escudo’s wat nog deur ’n konstruksiefirma, Hume Pipe, aan hom verskuldig was, gaan opeis het. Gedurende hierdie tyd het hy ook twee maal wissels van R20 van sy swaer in Pretoria ontvang vir ’n paar stukke meubels wat hy agtergelaat en wat sy swaer vir hom verkoop het.

Tydens een van sy besoeke aan die Griekse konsul in Beira het Tsafendas vertel dat hy R5 000 van sy familie in Pretoria ontvang het.

Toe die Karanja op 8 Maart 1965 die Durbanse hawe binnegevaar het, het amptenare van die Departement van Binnelandse Sake aan boord gegaan. In hulle besit was ’n volledige afskrif van die Departement se voorbehoudlys. Daarop het die naam Tsafendakis: Demitrio a Tsafendas: Demetrio, verskyn. Op die passasierslys was die naam Tsefendar: Demitrio.

Dit is opdrag van die Departement van Binnelandse Sake en Paspoortbeheer dat wanneer ’n vreemde skip Suid-Afrikaanse hawens aandoen, die passasierslys met die voorbehoudlys gekontroleer moet word.

Volgens die amptenaar wat op 8 Maart 1965 aan boord van die Karanja hierdie opdrag moes uitvoer, kon hy Tsafendas se naam nie op die voorbehoudlys vind nie. Hy het na die naam Tsafendar gesoek. Die vraag ontstaan hoe ’n amptenaar op soek na so ’n vreemde naam die naam Tsafendas kon miskyk wat klaarblyklik op die plek in die voorbehoudlys verskyn het waar hy na Tsafendar gesoek het.

Tsafendas is toegelaat om in Durban aan wal te stap. Hier het hy ’n rukkie as tolk in die landdroshof opgetree en blykbaar redelik gevaar. Op 7 Mei 1965 open hy ’n bankrekening by Barclays Bank op Stanger met ’n deposito van R6. Tot 24 Augustus van daardie jaar toe hy Natal verlaat en sy rekening na Port Elizabeth oorplaas, is drie inbetalings gedoen: R35, R73 en R40.

Klaarblyklik het Tsafendas nie op Stanger gewerk nie, maar wel op Mandini in Zoeloeland. Hy was daar by die firma, Frazer en Chalmers, van 19 April tot 19 Mei 1965 as passer in diens.

Tsafendas is uit hierdie werk ontslaan na ’n geveg met ’n Griek, ene Nicholas Vergos. Tsafendas het in die geveg snywonde aan sy arm opgedoen en hy het ’n klag van aanranding teen Vergos aanhangig gemaak. Vergos is egter deur die landdros ontslaan omdat hy bevind het dat Tsafendas die aanvaller was.

Na hierdie geveg het Vergos aan mnr. J.J. Botha, die veiligheidsbeampte van SA Pulp and Paper Industries, gesê dat Tsafendas “’n gevaarlike kommunis” is. Volgens die regter se verslag het mnr. Botha gesê dat hy hierdie inligting destyds aan die Polisie op Nyoni oorgedra het, maar nie een van die polisiemanne wat destyds daar diens gedoen het, kon hulle daaraan herinner nie.

Sers. Fourie van Nyoni het egter bevestig dat Vergos aan hom gesê het dat Tsafendas ’n “Communist bastard” is. Hy het dit egter as ’n belediging en nie as ’n beskuldiging beskou nie en gevolglik geen verslag daaromtrent gedoen nie.

Die regter se bevinding oor hierdie voorval lui: “Vergos het bevestig dat hy hierdie bewering gemaak het, maar kan nie juis enige gegronde rede vir sy aantyging aanvoer nie, Hy sê hy het dit hoofsaaklik gebaseer op die feit dat Tsafendas so baie tale magtig is.”

Na afloop van die hofsaak tussen Vergos en Tsafendas het ’n Rooms Katolieke priester ’n gesprek met Tsafendas aangeknoop. Hierdie priester het getuig dat, omdat Tsafendas so baie tale goed kan praat en so vyandig teenoor die Rooms Katolieke Kerk en die Suid-Afrikaanse Regering is, hy afgelei het dat hy ’n kommunis is. Hy het aan Tsafendas gesê dat hy (Tsafendas) baie goeie leermeesters in Rusland moes gehad het. Tsafendas het bevestigend teenoor hom geantwoord.

Die priester het voorts getuig dat hy daarna aan die veiligheidsbeampte van die firma waar Tsafendas gewerk het, gesê het dat Tsafendas ’n kommunis is. Mnr. Botha het dit bevestig en ook gesê dat hy aan ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisie oorgedra het. Die Polisie kan hulle egter nie so iets herinner nie.

Na sy verblyf in Mandini het hy na Durban teruggekeer waar hy in ’n hostel vir mans tot 24 Augustus 1965 gebly het toe hy daarvandaan na Kaapstad vertrek het.

Die regter verklaar in sy verslag dat Tsafendas, tydens sy verblyf by hierdie hostel, hom dikwels sterk teen die Suid-Afrikaanse Regering en ten gunste van die Kommunisme uitgelaat het.

Hier het hy ook verneem na die adres van ’n Durbanse prokureur en bekende kommunis, Roley Arenstein. Mev. Theron, die eggenote van ’n ander Durbanse prokureur wat ’n kantoor op dieselfde verdieping as Arenstein beset het, het getuig dat sy by meer as een geleentheid gesien het dat Tsafendas na Arenstein se kantoor gaan.

Dit is nog een van die talle onbeantwoorde vrae wat oor Tsafendas en sy lewe in Suid-Afrika ontstaan het. Hoe het hy, so kort na sy aankoms in Durban, van die kommunis Arenstein te wete gekom en wat was die doel van sy besoeke aan Arenstein? Die verslag van die kommissie van ondersoek na die sluipmoord werp nie enige lig hierop nie. In sy verslag verklaar die regter:

“Tsafendas kon hom die naam Arenstein nie herinner nie, maar het ’n foto van Arenstein uitgeken as die van iemand wat lyk na die prokureur wat hy in verband met ‘n vaktaalburo wat hy wou koop, gaan spreek het. Hy het ook beduie in welke gebou die kan­toor is van die prokureur wat hy gespreek het, en dit is net waar Arenstein se kantoor is. Daar is egter ook ander prokureurs in dieselfde gebou.

“Mnr. Arenstein en sy tikster ontken dat Tsafendas hom ooit besoek het.”

Terwyl hy in hierdie tyd in Durban gewoon het, het Tsafendas ’n huweliksaansoek van ’n sekere Helen Daniëls, ’n Kleurlingvrou van Kaapstad, ontvang. Sy was ’n sendeling in dieselfde kerk as die waaraan Tsafendas behoort het. Tsafendas het besluit om na Kaapstad te vertrek nadat hy die huweliksaansoek ontvang het. Van Durban het hy geryloop tot in Port Elizabeth en daarvandaan is hy per trein na Kaapstad waar hy dadelik sy intrek by die Daniëlsgesin geneem het.

Klaarblyklik vanweë sy voorkoms en onbeskoftheid het die Kleurlingvrou alle belangstelling in Tsafendas verloor. Nogtans het hy op 30 Augustus 1965 by die Streekverteenwoordiger van die Departement van Binnelandse Sake aansoek gedoen om as ’n Kleurling herklassifiseer te word.

Vier maande hierna, op 2 Desember 1965, het die Streekverteen­woordiger aan die Bevolkingsregistrateur in Pretoria geskryf en aanbeveel dat die Minister van Binnelandse Sake Tsafendas se deportasie oorweeg.

Eers op 8 Augustus 1966 - agt maande hierna - is ’n memoran­dum aan die Minister voorgelê en die volgende dag het hy die uitsettingsbevel geteken.

Toe dr. Verwoerd op 6 September 1966 vermoor is, was die uitsettingsbevel nog nie aan die Suid-Afrikaanse Polisie vir uitvoering deurgestuur nie.

In Kaapstad het Tsafendas ’n tydjie by die Daniëlsgesin gewoon, maar toe die dogter niks met hom te doen wou hê nie, het hy verhuis. Daarna het hy ook met ander Nieblanke vrouens deurmekaar geraak, maar nie een van hulle het enige belangstelling in hom getoon nie.

Nadat hy by verskeie Blankes in Kaapstad ingewoon het, het hy later sy intrek by ’n sekere Patrick O’Ryan, ’n Kleurling, ge­neem. Hy het daar gewoon tot omstreeks die einde van Desember 1965. Volgens O’Ryan was Tsafendas sterk gekant teen die beleidsrigtings van dr. Verwoerd se Regering en Portugal.

Aan een van die werknemers in diens van die Marine Diamond Corporation, waar Tsafendas ook begin werk het, het hy by geleentheid gesê dat dr. Verwoerd se Regering nie lank staande gaan bly nie. By ’n ander geleentheid het hy aan die man, ene Martincich, gesê dat hy ’n groot som geld verwag en dat hy nie weet waarom hy sy tyd op die boot, waarop hulle werksaam was, mors nie.

Tsafendas het nie lank by die Marine Diamond Corporation uitgehou nie. In April 1966 lê hy sy betrekking hier neer en betrek ’n kamer by ’n sekere mev. E.M. Groves van Miltonweg 57, Observa­tory. Hy is hier aangesê om te trap omdat die ander loseerders oor sy morsigheid gekla het.

’n Sekere mnr. Bornmann wat die kamer met Tsafendas gedeel het, het voor die kommissie getuig dat Tsafendas nie enige tekens van abnormaliteit getoon het nie. Hy was saggeaard maar morsig. Sy gesprekke was oor die politiek en vroumense. Hy was sterk teen die beleid van dr. Verwoerd se Regering en het net Engelse koerante gelees.

Tussen Mei 1966 en September 1966 het Tsafendas twee besoeke by die kantoor van die Britse konsul afgelê. Die eerste keer het hy die konsul gespreek oor ’n besigheid wat hy in Zambië wou begin en die tweede keer was dit in verband met indiensneming as ’n Britse matroos.

Dit is belangrik om daarop te let dat Tsafendas op 3 Junie 1966 deur dr. S. Michelson, ’n spesialisinternis in die neurologiese afdeling van die Groote Schuur-hospitaal, ondersoek is. Tsafendas het hom meegedeel dat hy nie ’n betrekking kan bekom nie en dit aan sy hoofpyne gewyt. Die geneesheer het bevind dat daar geen ernstige organiese gebrek in die senustelsel waarneembaar was nie en die hoofpyne as “of migrainous nature” gediagnoseer.

Dit was teen die einde van Junie of die begin van Julie dat Tsafen­das by die Volksraad aansoek om werk gedoen het. Op 30 Maart 1966 was die algemene verkiesing en soos dit die gebruik in Suid- Afrika geword het, was daar daardie jaar twee parlementsittings - die een ’n kort sitting wat aan die begin van Februarie ten einde geloop het en die tweede ’n langer sitting wat aan die begin van Augustus begin het.

Aan die begin van elke parlementsitting neem die Volksraad baie bodes op ’n tydelike grondslag in diens. Tsafendas het hiervan te hore gekom en op 18 Julie 1966 word hy deur die Hoofbode van die Volksraad ontbied vir ’n onderhoud. Op 20 Julie 1966 word hy skriftelik in kennis gestel dat hy hom op 1 Augustus 1966 om 7.45 vm. vir diens by die Volksraad moet kom aanmeld.

Tsafendas het sy weg gevind na die plek waar die man sou wees wat hy wou vermoor.

Daardie tyd het Tsafendas sy maaltye by ’n sekere mev. Scott van Chamberlainstraat 42, Woodstock, geniet. Hier het hy die bynaam Die Vark gekry vanweë sy swak tafelmaniere.

Mev. Scott het getuig dat Tsafendas vir haar heeltemal normaal voorgekom het. Eendag het hy in haar teenwoordigheid gesê: “I cannot go to South West Africa. I have a job to do here before I go back.”

Aan een van die loseerders by mev. Scott het hy gesê dat hy ’n betrekking in Suidwes-Afrika gekry het, maar dat hy eers ’n betrekking vir twee maande by die parlementsgebou gaan aanvaar.

Tsafendas se laaste verblyfplek in Kaapstad voordat hy op Dinsdagmiddag, 6 September 1966, dr. Verwoerd in sy bank met ’n dolk vermoor het, was by mev. Popkiss in Rustenburglaan, Rondebosch. Die Sondagaand, 4 September 1966, toe dr. Verwoerd op Stokkiesdraai, ’n duisend myl daarvandaan gekuier het, het hy ’n diens by die huis van ’n sekere mnr. Hall van Pinelands bygewoon. Sy voorkoms was toe heeltemal normaal, het mnr. Hall getuig.

Op die Maandagoggend, 5 September 1966, het hy op en af by mev. Popkins se huis gestap. Hy het bekommerd gelyk en aan haar gesê dat hy iets in gedagte het. Sy het hom nie gevra wat dit is nie.

Dinsdagoggend, 6 September 1966, het hy die Volksraad se gebou binnegestap. Enkele ure daarna het hy sy daad gepleeg.


Vervolg...

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 2808 gaste aanlyn