Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Omdat die HERE jou gemaak het ken Hy jou deur en deur, of jy dit nou wil weet of nie. Daarom het Hy medelye met jou swakhede en verdelg jou nie oor jou sonde nie maar vergewe jou in liefde en verwyder jou oortredinge dan so ver as die ooste van die weste verwyderd is. En dán word die jeug binne jou so nuut soos 'n arend, sê Dawid in Ps 103.

SLUIPMOORD OP DR VERWOERD (7)

Beaumont Schoeman – geskryf in 1975

Lees reeks by SLUIPMOORD OP DR VERWOERD

Die Eleni in Kaapstad

In Julie1966 - die presiese datum het nooit aan die lig gekom nie - het ’n Griekse vragskip, die Eleni, Tafelbaai binnegevaar vir herstelwerk. Niemand het kennis geneem waarvandaan hy gekom het nie en niemand het belang gehad waarheen hy onderweg was nie. Die Eleni was maar nog net een van die talle skepe wat feitlik daagliks Kaapstad aandoen. Dit was eers in die dae onmiddellik na 6 Sep­tember 1966 dat hierdie onbekende Griekse vragskip ’n prominente plek begin inneem het terwyl die verhaal van die sluipmoord op dr Verwoerd besig was om broksgewys te ontvou.

Tsafendas, die sluipmoordenaar, was bewus van die aankoms van die Eleni in Tafelbaai. Hy het daarvan in ’n koerant gelees, het hy gesê. Terwyl die skip meer as veertig dae in die hawe gelê het, was hy 'n gereelde besoeker daar. Hy het bevriend geraak met die oorwegend Griekse bemanningslede. Hulle het saam die beleid van die Verwoerd-regering veroordeel omdat Kleurlingvrouens nie toegelaat is om aan boord van die skip te gaan nie. Hulle het uitgevaar teen die Ontugwet. Op die Eleni het Tsafendas navraag gedoen na n pistool en ’n mes.

Dit was by die Eleni dat die sluipmoord op dr. Verwoerd genoem is drie dae voordat die daad in die Volksraad gepleeg is.

Broksgewys het die verhaal van die Eleni en Tsafendas se verbintenis met die bemanningslede na 6 September 1966 aan die lig gekom. Tsafendas se weergawe van die verhaal was dat hy as tussenganger tussen die bemanningslede en ’n winkel in Woodstock, Mike’s Outfitters, opgetree het. Hy sou van die bemanningslede na die winkel neem en sou dan kommissie ontvang op alles wat hulle van Mike’s Outfitters koop. In die veertig dae wat die Eleni in Tafelbaai gelê het, het hy R12 op die manier verdien.

Een van die bemanningslede, Nicholas Mavros, het op 12 Oktober 1966 ’n verklaring in Venesië gedoen waarin hy sê dat Tsafendas op of omtrent 26 of 27 Augustus 1966 by sommige van die bemanningslede aan boord van die Eleni navraag gedoen het of hulle nie 'n pistool of ’n mes het wat hulle aan hom kon verkoop nie. Hulle het besluit om hom ’n poets te bak en toe ’n gaspistool teen R30 aan hom verkwansel. Hierdie transaksie moes volgens die amptelike ondersoek op of na 1 September 1966 plaasgevind het.


Op 3 September 1966 - die dag waarop die Eleni Tafelbaai verlaat het - het Tsafendas sy geld kom terugeis. Mavros en sy maat het egter geweier om die geld aan hom terug te gee. Die skeepskaptein, Michael N. Fontatis, sê in sy verklaring dat Tsafendas daardie dag ook by hom kom kla het. Hy wou hom egter nie met die saak bemoei nie.

Reginald Robert Maile was ’n dagwag op die Eleni terwyl dit in die Kaapstadse hawe gelê het. Hy het aan die kommissie gesê dat die bemanningslede baie ontevrede was oor die Regering se kleurbeleid, veral omdat hulle nie toegelaat was om Kleurlingvrouens aan boord te bring nie.

’n Ander besoeker aan die Eleni was ’n sekere mev. Kokkinidou, ’n weduwee van Kaapstad. Sy en die kaptein van die skip was albei oorspronklik van Kilimnos, Griekeland. Sy was by geleentheid vergesel van ’n sekere Nicolai Christodoulos, ’n vrygesel wat by haar ingewoon het. Haar seun, Constantinos Kokkinidou, het in Augustus 1966 op die Eleni begin werk.

Die oggend van 3 September 1966 - drie dae voor die sluipmoord op dr. Verwoerd - moes die boot verskuif word en om hierdie rede is die loopplank opgetrek.

Ene Stollenkamp, ’n nagwag aan boord van die Eleni, het op die dek gestaan omdat hy nie kon afkom nie, en die dagwag Maile was op die kaai. Naby Stollenkamp het Constantinos Kokkinidou gestaan. Op die kaai het mev. Kokkinidou en mnr. Christodoulos ’n klein entjie van Maile af gestaan en gesels.

Die verhaal van wat toe gebeur het, is deur vier van die betrokkenes in mondelingse getuienis voor die kommissie vertel. Die vyfde een, Constantinos Kokkinidou, het ’n verklaring afgelê.

Maile sê dat mev. Kokkinidou hom gevra het:”Is Verwoerd dead?” Hy het getuig dat hy toe spontaan vir Stollenkamp op die Eleni geskreeu en gevra het of dr. Verwoerd dood is.

Mev. Kokkinidou het getuig dat haar seun vir haar van die dek van die skip geskreeu en gevra het of sy die nuus gehoor het dat dr. Verwoerd dood is. Toe sy hom vra waar hy dit hoor, het hy na Stollenkamp gewys en gesê dat die man met die koerant - Maile - so gesê het. Sy sê sy het Maile toe gevra of die nuus oor dr. Verwoerd se dood waar is, en hy het toe verduidelik dat Stollenkamp hom verkeerd verstaan het.

Mnr. Christodoulos het die getuienis van mev. Kokkinidou bevestig.

Constantinos Kokkinidou sê in sy verklaring dat die nagwag (Stollenkamp) aan hom gesê het: “Weet jy wat? Dr. Verwoerd is gedood.” Toe hy hom vra wie so sê, het Stollenkamp na Maile gewys. Hy het toe aan sy moeder, mev. Kokkinidou, gesê dat dr. Verwoerd gedood is. Sy moeder was ontsteld en hy het Stollen­kamp gevra hoe dr. Verwoerd gedood is. Stollenkamp het op sy beurt vir Maile gevra en toe laasgenoemde antwoord, het Stollen­kamp aan Constantinos gesê dat hy Maile verkeerd verstaan het.

Stollenkamp bevestig dat Maile aan hom gesê het dat dr. Ver­woerd dood is. Hy het hom onder die indruk gebring dat dit in die koerant staan. Hy het toe aan Constantinos, wat langs hom gestaan het, gevra of hy die nuus gehoor het dat dr. Verwoerd dood is.

Regter Van Wyk verklaar in sy verslag: “Dit is onmoontlik om met sekerheid vas te stel wat presies gesê is. Daar is egter geen twyfel nie dat dr. Verwoerd se dood daardie oggend, drie dae voor sy dood, gemeld is. Wat die gebeure meer as toevallig maak, is dat dit gesê is by die skip waar die man wat dr. Verwoerd om die lewe ge­bring het, byna veertig dae elke dag besoek afgelê het; waar hy ’n pistool gekoop het, en ’n mes probeer koop het wat hy wou gebruik om - volgens minstens een verklaring later deur hom gedoen - dr. Verwoerd mee dood te maak.

“Die waarskynlikheid is dat dr. Verwoerd se dood nie toevallig by daardie skip ter sprake gekom het nie.”

Regter Van Wyk sê voorts dat nie een van die vyf persone wat daardie oggend aan die gesprek deelgeneem het, van medepligtigheid verdink word nie. Hy meld ook dat die polisieverslag oor mev. Kokkinidou en mnr. Christodoulos gunstig was.

Die regter se verklaring vir die vermelding van dr. Verwoerd se dood daardie oggend by die skip is dat die ontevrede bemanning van die Eleni by die veelvuldige geleenthede waarop hulle die Regering se kleurbeleid verdoem het, dr. Verwoerd se einde kon gewees het.

“Dit kan ook wees”, verklaar regter Van Wyk, “dat Tsafendas by die een of ander geleentheid te kenne gegee het dat dit sy plan is om dr. Verwoerd te vermoor, en dat die wat dit gehoor het, om voor die handliggende redes nie nou enige erkenning daaromtrent wil maak nie.”

Oor die Eleni self is daar vrae wat heeltemal onbeantwoord gelaat is. So bv. word geen melding gemaak van watter hawe die Eleni met sy Griekse bemanning gekom het toe dit in Julie 1966 in die Tafelbaaise hawe vasgemeer het nie.

Was daar dalk Griekse kommuniste aan boord van die skip - en is dit die rede waarom Tsafendas so ’n groot belangstelling vir die besondere skip getoon het?

Waarom het hy net as smous tnssen die Eleni en die klerewinkel in Woodstock opgetree, terwyl daar tog talle ander vragskepe daar­die tyd en voor daardie tyd in Tafelbaai aangekom het?

Hoe het Tsafendas van die boot te hore gekom.? Hy sê dat hy daarvan in ’n koerant gelees het? Kan sy verduideliking geglo word? Waarom het juis die aankoms van die Eleni tussen al die ander name van skepe sy aandag getrek? Wat was so vreemd, of is dit dalk bekend, aan die Eleni dat hy juis hierdie naam raakgesien het? In watter koerant het hy van die aankoms gelees? Waarom het hy juis die Eleni van al die skepe uitgekies vir sy besoeke en waarom het hy juis die bemanningslede van hierdie skip bevriend? Waarom wou hy juis van hulle ’n mes en ’n pistool koop?

Die regter se verslag sê bloot Tsafendas het van die boot se aankoms in die koerant gelees, maar meld nie die berig nie. Was daar ooit so ’n berig?

Drie jaar na die moord op dr. Verwoerd het belangrike inligting aan die lig gekom wat moontlik antwoorde op sommige van hierdie vrae bied. Dit is onomstootlike bewyse dat Tsafendas ingeskakel was by die kommunistiese M-APPARAT, die geheime sel binne die seemansunies wat verbind is met die Russiese vlootspioenasiediens. Volgens verslae van die Amerikaanse Kongres is berugte Griekse kommunistiese seelui lede van die M-APPARAT.

Hierdie inligting is geopenbaar deur Patrick Walsh, navorsingsdirekteur van die Canadian Intelligence Publications, wat Suid-Afrika in 1969 besoek het. Oor die outentieke aard van hierdie in­ligting kan daar geen twyfel bestaan nie. Die feite daaromtrent is ook nooit in Suid-Afrika of elders ontken nie.

Volgens inligtingsbronne in die VSA is daar ’n sterk band tussen die kommuniste en die seemansunies. Die Kommunistiese Rewolusie in Leningrad is begin met die hulp van matrose van Kronstadt se vlootbasis naby die stad. Die Wêreldfederasie van Vakunies het sedert 1946 ’n Seeman- en Dokwerker-Internasionaal wat onder kommunistiese beheer is en onwettige smokkelhandel, veral in verdowingsmiddels, bedryf en stakings organiseer.

Die Komintern in Rusland het na die Rooi Rewolusie ’n reuse netwerk van kommunistiese seelui georganiseer onder leiding van Ernst Wollweber. Dit is hieruit wat die geheime M-APPARAT gebore is.

Die geskiedenis van die seevaartwese toon aan dat die kommuniste hulle reeds van die begin van die twintigste eeu op die manne van die see toegespits het. Matrose in die vloot en op handelskepe is al sedert 1905 deur die kommuniste gebruik. Toe was die Kommunisme nog ’n sameswering om Rusland te verower. In daardie jaar was daar ’n kommunisties geïnspireerde muitery op die Russiese oorlogskip, die Pitemkin. Later het die Russiese rolprentvervaardiger, Eisenstein, die gebeurde verfiilm.

Krag en vuiste is in die Rewolusie van 1917 in Leningrad ingebring deur die seelui van die Kronstadt-vlootbasis in die stryd om Leningrad te onderwerp. Dit het die sukses van die Oktoberaanslag teen die Tsaar se winterpaleis en die voorlopige regering verseker.

Gou-gou het die kommunistiese agitasie na ander hawens in Rusland oorgewaai. Eerste in die vuurlinie was die Franse vloot in die Swart See wat ’n muitery van Franse matrose onder aanvoering van Andre Marty moes bekamp. Hy het later ’n vooraanstaande kommunistiese leier geword en bekend geraak as die Slagter van Spanje tydens die Spaanse Burgeroorlog.

Uit hierdie rewolusionêre bedrywighede het die Komintern ’n groot organisasie met uitgestrekte kontakpunte onder die leierskap van Ernst Wollweber opgebou. Hierdie organisasie is goed beskryf in die boek van Jan Valtin, Out of the Night. Die skrywer is ’n toegewyde kommunistiese matroos wat op dramatiese wyse vertel hoe hy ’n opdrag uitgevoer het om in San Francisco ’n Amerikaner te vermoor. Sy sluipmoordaanval was nie geslaag nie en hy het in die tronk beland.

In 1946 is die Seeman- en Dokwerker-Internasionaal onder beheer van die Wêreldfederasie van Vakunies gestig. Die kommuniste het binne hierdie raamwerk geleentheid gehad om hulle lede in feitlik alle hawens en op alle skepe te gebruik om sluipmoordenaars tussen lande te karwei en met verdowingsmiddels te smokkel. Dit was ook die organisasie waardeur hulle stakings kon organiseer om die Vrye wêreld se handelsvlote mee te verswak.

Die kommuniste gebruik nie net opgeleide agente om teenstanders van hulle eie leiers dood te maak nie, maar ook nie-kommunistiese leiers in Westerse lande. Stalin en Chroestsjof het albei van hierdie moordagente gebruik gemaak. Whittaker Chambers noem in sy bekende boek, Witness, talle gevalle van moorde en tegnieke wat gebruik is. Dit is hierdie bekeerde kommunis wat die Russiese moordagentskappe soos OGPU, NRVD, MVD en KGB aan die kaak gestel het.

Die geheime M-APPARAT van die kommunistiese seelui is in 1963 deur die VSA se Kongreskomitee oor On-Amerikaanse Bedrywighede ondersoek. Die verslag van die komitee is gepubliseer in die Albany-ondersoek, Deel I. In die verslag is getuienis gerapporteer waarin die name van meer as 50 lede van die M-APPARAT genoem word. Onder die name verskyn van die berugste Griekse kommunistiese seemanne, soos Tony Ambatelios en George Scordas.

Die M-APPARAT is geinfiltreer as geheime netwerk in sowel nie-kommunistiese as kommunistiese seemansunies dwarsoor die wêreld. Hulle kry opdragte en rapporteer aan die spioenasiediens van die Russiese vloot. Die leiers van die M-APPARAT is hoofsaaklik Griekssprekende seelui van die Midde-Ooste, die VSA en Kanada.

In Kanada is een van die leiers van die M-APPARAT ene Con­stantine Poulos (dit is sy regte naam) in 1952 vermoor en onder sy besittings is kodeboeke, ’n groot verskeidenheid wapens en ammunisie en kommunistiese lektuur gevind.

Een van sy intiemste vriende was ’n man met die naam Demitrios Tsafendas.

In die Canadian Intelligence Publications se kantoor in Ontario is ’n volledige lêer met besonderhede oor hierdie man, Demitrios Tsafendas. Dit bevat besonderhede oor sy bedrywighede in die VSA, asook koerantberigte uit Amerikaanse en Kanadese blaaie wat aantoon dat Tsafendas verbind was aan die geheime kommunis­tiese M-APPARAT.

Volgens die Van Wyk-verslag het Tsafendas in Junie 1942 Suid-Afrika aan boord van die Eugene Livanos verlaat. Sy bestemming was Kanada. In sy besit het hy ’n Griekse paspoort gehad, terwyl hy eintlik ’n Portugese burger was. As alles met die Eugene Livanos voor die wind gegaan het, sou dit teen die einde van Julie 1942 in Kanada aangekom het. In die verslag word net gemeld dat Tsafendas na sy aankoms in Kanada die grens na die VSA oorgesteek het. Dit was op 9 Desember 1942. Daar word nie gesê hoe lank Tsafendas in Kanada was voordat hy die grens oorgesteek bet nie. ’n Mens moet aanneem dat tussen sy aankoms in Kanada en sy binnekoms in die VSA ’n tydperk verloop het - waarskynlik ’n paar maande.

Waarom het Tsafendas juis Kanada uitgekies as die land waarheen om te gaan toe hy Suid-Afrika in Junie 1942 verlaat het? Was dit omdat hy bewus was van die feit dat Kanada een van die vestings van die geheime M-APPARAT was? Was dit hier waar hy vir die eerste keer kennis gemaak het met die geheime kommunistiese organisasie? Was dit hier waar sy vriendskap met Constantine Poulos, een van die leiers van die M-APPARAT, begin het? Wat het hy gedoen van die tyd dat hy in Kanada aangekom het totdat hy die grens van die VSA oorgesteek het? Was dit deur die toedoen van die kommuniste van die geheime M-APPARAT dat hy na die VSA gegaan het?

Al hierdie vrae is baie sterk moontlikhede, maar ongelukkig verskaf die ondersoek nie antwoorde hierop nie.

Afgesien van ’n relaas oor Tsafendas se periodieke verblyf in verskillende inrigtings in die VSA, hoe hy kort-kort uit die land gedeporteer is en hoe hy telkens teruggekom het, is daar niks in die verslag wat enigsins aandui wat hy gedoen het terwyl hy in die VSA was nie, met wie hy verbintenisse gehad het en by watter organisasies hy ingeskakel het nie. Afgesien van sy verblyf in sekere inrig­tings waar hy hom aangemeld het, bly Tsafendas se lewe in die VSA, wat oor ’n hele aantal jare strek, een groot raaisel.

Dit is nie bekend wanneer die Canadian Intelligence Publications, wat ten nouste met die Kanadese sekuriteitsowerhede saamwerk, die verdoemende inligting oor Tsafendas bekom het nie. Dit kan voor die sluipmoord op dr. Verwoerd wees, maar dit mag ook daarna wees. Die moontlikheid is egter groot dat hulle dit reeds voor die sluipmoord gehad het.

In elk geval is dit nie van soveel belang nie en verander dit nie veel aan die saak nie. Die belangrike feit is dat die Canadian Intelli­gence Publications op Tsafendas se spoor gekom het deur sy ver­bintenisse met die seemansunies en die geheime kommunistiese M-APPARAT op te spoor. Êrens in Kanada moes daar sekerlik ’n instansie gewees het wat oor Tsafendas se ondergrondse en ondermynende bedrywighede kon getuig. As dit vir die Canadian Intelligence moontlik was om Tsafendas se spoor te vat en by sy vriende en assosiasies uit te kom, moes daar sekerlik leidrade ge­wees het waaroor die Kanadese sekuriteitsowerhede beskik het.

In die Van Wyk-verslag word geen melding gemaak van hierdie aspek van Tsafendas se agtergrond nie. ’n Mens moet dus aanneem dat feite hieroor nie aan die kommissie voorgelê is nie.

In die verslag word wel melding gemaak van die feit dat Tsafendas tydens sy verblyf in die VSA op verskeie skepe gewerk het, dat hy verskeie kere uit die land gedeporteer is, maar altyd daarin geslaag het om aan boord van een of ander skip weer toegang tot die land te verkry. Dit is ook langs hierdie weg dat hy by geleentheid in die Seamen’s Convalescence Home in Oyster Bay beland het.

Uit die verslag blyk dit ook dat Tsafendas by geleentheid as smous op die Taugus-rivier gewerk het. Nadat hy eenkeer, op 13 Junie 1945, die VSA verlaat het, het hy op 3 Desember 1945 aan boord van die Robin Locksley as tafelbediende na die land teruggekeer. Op 10 Februarie 1946 is hy weer gedeporteer en verlaat hy die land aan boord van die Hood Victory. Op 10 Maart 1946 keer hy met dieselfde boot na die VSA terug.

Vir hom was dit seker nie moeilik nie. As lid van die M- APPARAT, met sy noue verbintenisse met die seemansunies, was dit die maklikste ding ter wêreld om aan boord van skepe die VSA binne te dring.

Tsafendas se verbintenis met die kommunistiese M-APPARAT in Kanada, die VSA en waarskynlik ook in Griekeland en Portugal was aan die Amerikaanse en Kanadese owerhede bekend. Maar Suid-Afrika was salig onbewus daarvan.

Toe Tsafendas met die bemanningslede van die Eleni in die Tafelbaaise hawe gaan kennis maak het, was hy klaarblyklik al van ’n betrekking as bode in die Volksraad verseker. Die feite dui daarop dat Tsafendas aan die begin van Julie 1966 by die Volksraad gaan aansoek doen het om werk. Op 18 Julie 1966 is hy vir ’n onderhoud daarheen ontbied en op 20 Julie het hy kennis gekry dat hy in diens geneem is. Die Eleni het teen die einde van Julie 1966 in Tafelbaai aangekom.

Geen spesifieke datum oor die aankoms van die Eleni word in die kommissie se verslag genoem nie, hoewel verklaar word dat Tsafendas daarvan in ’n ongenoemde oggendkoerant gelees het. Op daardie oomblik was Tsafendas reeds verseker van ’n betrek­king in die gebou waar dit, soos dit op daardie noodlottige dag geblyk het, nie baie moeilik was om die Eerste Minister van Suid-Afrika by te kom en hom te vermoor nie, nie eens met ’n dolk nie, laat staan nog ’n pistool. Daarom is dit ook nie so vergesog om aan te neem dat die moordplanne op daardie skip bespreek is nie, veral in die lig daarvan dat Tsafendas toe reeds in ’n posisie was om die daad te pleeg.

Dit laat die vraag ontstaan of die Eleni en Tsafendas se kennismaking met die bemanningslede van hierdie Griekse vragskip so toevallig was as wat Tsafendas wou voorgee. Gesien teen die agtergrond van Tsafendas se kommunistiese verbintenisse in Kanada en die VSA en sy lidmaatskap van die geheime kommunistiese M- APPARAT, bestaan daar ’n sterk moontlikheid dat dit nie so ‘n groot toevalligheid was nie.

Dit is in elk geval betekenisvoile feite wat lig werp op Tsafendas se agtergrond en waarskynlik ook op die motief vir sy daad en ook die vraag van moontlike medepligtigheid. Sulke inligting, as dit beskikbaar was, moes ter beskikking van die kommissie gestel word.

Dit laat natuurlik die belangrike vraag ontstaan of die Suid-Afrikaanse Polisie nie bewus was van hierdie feite nie. Het die Suid-Afrikaanse Polisie met die Kanadese en Amerikaanse sekuriteitsowerhede in die verband geskakel? Het hulle inligting ontvang, maar dit nie van soveel belang geag om dit aan die kommissie voor te lê nie?

Wat van net soveel belang is, is of die Suid-Afrikaanse Polisie, nadat hierdie inligting oor Tsafendas se verbintenisse aan die lig gekom het, ondersoek daarna ingestel het. ’n Mens kan nie anders as om aan te neem dat dit wel gedoen is nie. As dit nie die geval is nie, is dit ernstige versuim aan die kant van Suid-Afrika se sekuriteitsowerhede.

Demitrios Tsafendas sit wel in ’n Suid-Afrikaanse tronk as ’n gesertifiseerde mal mens. Maar die daad wat hy op 6 September 1966 gepleeg het, is so afgryslik dat hierdie boek nooit gesluit kan word nie. Die Suid-Afrikaanse publiek is geregtig daarop om alles te wete te kom van hierdie man, sy agtergrond, sy verbintenisse en enige ander feit wat lig kan werp op sy daad - al is dit ook jare na die sluipmoord.

As Tsafendas se verbintenis met die Eleni en die gebeure by die skip die oggend toe dit vertrek het en drie dae voor die moord op dr. Verwoerd, talle onbeantwoorde vrae gelaat het, het ’n ander voorval, min of meer dieselfde tyd en ses duisend myl van Kaapstad af, net soveel vrae laat ontstaan. Dit was die geval van Allan Lomas, ’n Britse politikus. In die verhaal van die moord op dr. Verwoerd was dit miskien net so betekenisvol as die gebeurde by die Eleni.

Mnr. Lomas was die 48-jarige kandidaat van die New Liberal Party in Brittanje in die algemene verkiesing van 1964. Op 6 Sep­tember 1966, enkele ure nadat die nuus van dr. Verwoerd se dood oor die wêreld geflits het, het in die Londense koerant, die Evening Standard, die volgende interessante berig verskyn:

“’n Jong man op die Dieppe-Newhaven-veerboot, het gevra of daar enige nuus was omtrent die sluipmoord op dr. Verwoerd - VERLEDE VRYDAG. Die man wat hy gevra het, is mnr. Allan Lomas, 48, New Liberal-kandidaat vir Islington-Oos, in die laaste algemene verkiesing. Mnr. Lomas het vandag gesê:

“Ek het gewag om koffie en ’n koerant te koop toe ’n jong man my gevra het - omdat hy nie kans gehad het om ’n koerant te koop nie - of daar enige berig oor dr. Verwoerd se sluipmoord was. Ek het die koerant deurgekyk en gesê hy kan dit leen aangesien ek daarmee klaar was. Ek het in die Sondagkoerante gekyk en navrae gedoen oor enige aanslag op dr. Verwoerd se lewe, maar het natuurlik niks gevind nie. Dit is baie snaaks.’ ”

Die Saterdagoggend voor dr. Verwoerd se dood het ’n bemanningslid van die Eleni in Tafelbaai navraag gedoen of dr. Verwoerd dood is. ’n Dag tevore het ’n jong man in Engeland navraag ge­doen oor die sluipmoord op die Eerste Minister.

Dit is voorwaar snaaks.

Regter Van Wyk se verslag meld dat as gevolg van hierdie berig mnr. Lomas deur iemand van die Suid-Afrikaanse Ambassade in Londen ondervra is. Hy het verduidelik dat hy en sy eggenote op pad terug na Engeland was en dat hy by die hawe in Dieppe ’n Daily Express gekoop het. ’n Jong man, wat hy nie baie goed kon beskryf nie, het na hom gekom en gevra of daar enige nuus in die koerant oor die moord op dr. Verwoerd was. Lomas sê hy was verbaas oor die vraag en het verduidelik dat hy die vorige veertien dae met vakansie was en geen koerante gelees het nie en ook nie na enige radionuus geluister het nie. In die teenwoordigheid van die jong man het hy die koerant deurgeblaai, maar kon nie so ’n berig vind nie. Die jong man het toe omgedraai en weggeloop.

Mnr. Lomas het gesê hy het vermoed dat die jong man ’n passasier op dieselfde boot was. Hy het verder beweer dat toe hy in Newhaven in Engeland aangekom het, hy by iemand anders navraag oor die aangeleentheid gedoen het. Van Newhaven is hy per motor na sy huis in Londen. Daar het hy ’n sekere Wes-Indiër vertel van wat die man in Dieppe aan hom gevra het.

Volgens die verslag van die Suid-Afrikaanse Ambassade aan die kommissie het mnr. Lomas se vrou by hom gestaan toe die gesprek met die jong man in Dieppe plaasgevind het. Hy wou egter nie toelaat dat sy vrou daaroor gespreek word nie. Regter Van Wyk se dat mnr. Lomas nie ’n goeie indruk gemaak het op die persoon van die Suid-Afrikaanse Ambassade wat hom daaroor gespreek het nie.

Voorts meld die verslag oor hierdie geval:

“Die kommissie het later uit ’n betroubare maar vertroulike bron verneem dat mev. Lomas niks van die voorval in Dieppe weet nie, en die Wes-Indiër ontken dat mnr. Lomas die storie aan hom vertel het.”

Die kommissie se bevinding oor die Lomas-geval is:

“Mnr. Lomas is ’n politikus. Hy is tans leier van ’n klein politieke party met die naam New Liberal Party. Die ledetal word op ’n honderd geskat. ’n Mens sou verwag het dat die jong man se vraag ten minste ’n teenvraag van sy kant sou uitlok oor die bron en aard van die jong man se inligting. Dit is juis omdat hy onder andere nie met die Liberale Party saamstem oor beleid ten opsigte van Suid-Afrika nie, dat hy weggebreek het. Dit is ondenkbaar dat hy geen onmiddellike navrae sou doen nie.”

Dit is al wat omtrent hierdie geval in die kommissie se verslag verskyn. As hierdie voorval die enigste van die aard was, kon dit miskien afgemaak word as sensasiesoekery van ’n onbekende politi­kus. Maar wat hierdie geval so vreemd maak, is dat feitlik iets identies in die Tafelbaaise hawe gebeur het. In Tafelbaai het die moord op dr. Verwoerd drie dae voor die daad gepleeg is, ter sprake gekom. In Londen het ’n 48-jarige politikus die middag van die sluipmoord aan ’n koerant gesê dat hy die Vrydag voor die moord deur ’n onbekende jong man gevra is of hy iets van die sluipmoord weet. Die twee gevalle, so ooreenstemmend in hulle strekking, moet noodwendig allerlei vrae, besprekings en bespiegelings by mense laat ontstaan.

In die verslag van regter Van Wyk word ook kortliks na ’n ander interessante geval verwys. Dit het onder die kommissie se aandag gekom dat ’n sekere Spanjaard beweer dat hy reeds op 15 Augustus 1966 bewus daarvan was dat ’n sekere vreemde moondheid die moord op dr. Verwoerd beplan het. Hy sou toe na die Suid-Afrikaanse Ambassade gegaan het om ’n waarskuwing aan die Ambassadeur te rig, maar laasgenoemde was ongelukkig nie op kantoor nie. Op die dag van dr. Verwoerd se dood sou hy weer ge­gaan het, maar was blykbaar nie bereid om met die amptenare te praat nie.

Regter Van Wyk sê in sy verslag dat die man ten tyde van die kommissie se ondersoek gewillig was om sy inligting teen betaling van tien duisend dollar te verstrek. En dan bevind die regter dat daar soveel teenstrydighede en onwaarskynlikhede in die verskillende bewerings van hierdie man was dat dit ’n vermorsing van tyd en geld sou wees om met hom te onderhandel.

In die hoofstuk van regter Van Wyk se verslag wat oor die kwessie van moontlike medepligtiges handel, word ook na enkele interessante gevalle verwys wat plaaslik onder die aandag van die kommissie gekom het. Daar was byvoorbeeld die geval van ’n getuie, wie se naam nie verstrek word nie, wat aan die kommissie vertel het dat hy in 1960 deur drie onbekende persone genader is om dr. Verwoerd te vermoor. Hy sou £20 000 daarvoor ontvang. Hy sê hy het die Polisie dadelik in kennis gestel, maar die Polisie beweer dat al wat hierdie persoon hulle meegedeel het, was dat hy genader is om ’n bekende dagblad se gebou met dinamiet op te blaas.

Dieselfde persoon het aan die kommissie gesê hy het in 1965 ’n geheimsinnige oproep, vermoedelik van een van die drie wat hom in 1960 gespreek het, ontvang waarin hy toe meegedeel is dat dr. Verwoerd in die Volksraad vermoor sou word. Hy het getuig dat hy die voorval aan ’n majoor en ’n sersant van die Polisie gerapporteer het, maar hierdie polisie-amptenare ontken dat hulle sodanige inligting ontvang het.

’n Vraag wat na aanleiding van hierdie gevalle gestel kan word, is of die sluipmoord op ’n Suid-Afrikaanse regeringshoof nie deur die Polisie as iets so vergesog beskou is nie, so vreemd aan Suid- Afrika, dat enige verwysing daarna deur hulle as lawwe praatjies en stories beskou en derhalwe ook geïgnoreer is. Was dit nie dalk ’n geval dat die sekuriteitsowerhede in Suid-Afrika, ondanks die eerste mislukte aanslag op dr. Verwoerd se lewe in April 1960, nie geestelik voorbereid was dat so iets weer in Suid-Afrika kon gebeur nie, laat staan nog weer teen dieselfde persoon?

In sekere koerantberigte na die sluipmoord is melding daarvan gemaak dat Tsafendas by tye groot hoeveelhede kontant by hom gehad het. Die regter sê in sy verslag dat die kommissie geen bevestiging vir hierdie berigte kon vind nie. ’n Noukeurige ondersoek van Tsafendas se lewenswyse, sy bewegings en sy geldsake het die kommissie oortuig dat dit nie die geval was nie.

In die verband verwys die kommissie na berigte dat Tsafendas groot somme geld ontvang het terwyl hy in Mosambiek was. ’n Senior polisie-amptenaar is na Mosambiek gestuur, maar kon geen bevestiging hiervan vind nie. Die regter sê die waarskynlikheid is dat hierdie stories hulle oorsprong gehad het in die twee wissels van R20 elk wat Tsafendas se swaer in Pretoria aan hom gestuur het vir meubels wat verkoop is, die betalings wat Tsafendas van Hume Pipe Co. ontvang het, en Tsafendas se mededeling aan die Griekse konsul dat hy R5 000 uit Suid-Afrika ontvang het. Tsafendas was so arm in Beira dat hy ’n tydlank by die brandweer ge-eet en geslaap het. Toe hy in Durban aankom, was hy platsak. Sy mededeling aan die Griekse konsul is tipies van ’n grootdoeneriglieid waarvan hy van tyd tot tyd blyke gegee het, verklaar die regter.

Voorts sê regter Van Wyk dat alle koerante gevra is om die bronne waarop hierdie berigte gebaseer is, aan die kommissie te openbaar. Die enigste bron was blykbaar die korrespondent van die African News Service van die Argus-groep in Beira. Hy wou egter sy bronne nie per telefoon meedeel nie en sou dit per brief doen, maar geen brief het ooit opgedaag nie.

’n Senior polisie-offisier is weer na Beira gestuur om hierdie korrespondent te spreek, maar ten spyte daarvan dat vooraf ’n afspraak gereël is, was hy uitstedig toe die offisier daar opdaag. Hy het wel sy bereidwilligheid te kenne gegee om voor die kommissie te getuig, maar wou geen aanduiding gee van wat die aard van sy getuienis sou wees nie, behalwe dat hy sy inligting uit plaaslike bronne verkry het.

Die regter sê dat die stories wat die korrespondent die wêreld ingestuur het, wel in Beira in omloop was, “maar al die omstandighede in ag geneem, was die kommissie oortuig dat dit van geen nut sou wees om verder met hierdie onbehulpsame persoon te sukkel nie.”

Nog ’n geval word in die kommissie se verslag genoem waaroor net soveel onbeantwoorde vrae gelaat word. Dit is die Von Malen- geval.

Ene Christo von Malen het op 5 Oktober 1966 ’n verklaring aan die Suid-Afrikaanse Polisie op Dundee, in Natal, gedoen. Hy was ’n gevangene wat op daardie tydstip vonnis in die Dundeegevangenis uitgedien het.

Gedurende September 1964 het hy, terwyl hy ’n vonnis in die tronk op Standerton uitgedien het, uit die gevangenis ontsnap en na Pretoria gegaan waar hy ’n besigheid as skrynwerker begin het. In hierdie hoedanigheid het hy in die omgewing van Libertas, ampswoning van die Eerste Minister, gewerk en die omstandighede daar goed leer ken. Hy beweer dat hy dikwels met die polisie wat daar wagdiens gedoen het, gesels het.

Gedurende hierdie tyd, so het hy in sy verklaring gemeld, het hy by verskeie geleenthede ’n swart Dodge-motor met drie mans daarin in die straat voor Libertas sien ry. Die bestuurder van die motor was ene Dennis Stefanus, wat vroëer as loodgieter by hom gewerk het.

In November 1964 het hierdie motor eendag om ongeveer 12.30 nm. by hom stilgehou. Dit was sowat honderd tree van Libertas af. Dennis Stefanus was weer die bestuurder en een van die twee passasiers was Tsafendas.

Von Malen het verklaar dat hierdie drie persone in ’n vreemde taal met mekaar gepraat het. Dit was nie Grieks of Portugees nie, aangesien hy albei hierdie tale magtig is. Hulle het hom gevra of hy dit nie kon bewerkstellig dat hulle toegang tot Libertas kry nie. Hy het aan hulle gesê dat dit onmoontlik is.

Volgens Von Malen het hierdie drie persone ’n paar dae later by sy kamer opgedaag en hom gevra om hulle te help om ’n sketsplan van Libertas, asook van die Minister van Justisie se huis, te bekom. Hulle het hom ’n beloning aangebied en aan hom ’n pak note getoon. Hy het geweier waarop hulle hom aangerand het deur hom met ’n mes te steek. Hy is deur die Polisie na die bospitaal geneem, maar hy het geweier om ’n klagte teen sy aanranders in te dien.

Von Malen verklaar verder dat hy in Februarie 1965 na Durban Verhuis het en by ’n sekere mnr. Botha tuisgegaan het. Hier het hy weer vir Stefanus en Tsafendas ontmoet en gedurende April 1965 het Tsafendas twee nagte by mnr. Botha se huis geslaap.

Die regter verwerp in sy verslag Von Malen se verhaal. “Von Malen se verklaring, verklaar die regter, “bevat verskeie onwaarskynlikhede en weersprekings wat op sigself sy bewerings ongeloofwaardig maak. Daar is buite enige twyfel vasgestel dat Tsafendas gedurende November 1964 nie in die Republiek was nie, maar wel in Mosambiek waar hy deur die Portugese Veiligheidspolisie aangehou was.”

Voorts sê regter Van Wyk dat die kommissie nogtans sy beweings laat ondersoek het, sover dit moontlik was, maar dat die ondersoek getoon het dat sy bewerings van alle waarheid ontbloot is. Gevolglik is besluit om hom nie voor die kommissie te laat verskyn nie.

Von Malen se datums klop nie met die datums oor die beweging van Tsafendas in daardie tyd nie. Die vraag ontstaan of hy na twee jaar nie ’n fout met die datums kon gemaak het nie. Sy geheue kon hom moontlik na so ’n lang tyd parte gespeel het. In die verslag word nie gemeld of vasgestel is na watter hospitaal Von Malen na bewering geneem is toe die drie onbekendes hom aangerand het nie. Indien wel, kon die hospitaal seker bevestig of so ’n geval vir behandeling op daardie datum opgeneem is.

Die regter se verslag meld ook nie of Stefanus en die mnr. Botha, by wie Stefanus gaan inwoon het en by wie Tsafendas twee nagte in April 1965 geslaap het, ooit opgespoor is nie. Von Malen se datum in verband met die besoek wat by in Pretoria van die drie onbekendes ontvang het, klop nie met Tsafendas se bewegings daardie tyd nie. Hy was in November 1964 in Portugal. Maar dit was moontlik dat Tsafendas hom in April 1965 by die mnr. Botha kon kom besoek het, aangesien hy op daardie tydstip in Durban by die Spoorweë in diens was nadat hy in Maart van daardie jaar met die Karanja van Mosambiek na Durban teruggekeer het.

Indien die mnr. Botha opgespoor kon word, kon hy waarskynlik baie lig op die voorval gewerp het.

Die kommissie se verslag oor die vraag van medepligtigheid word met die volgende paragraaf afgesluit:

“Verskeie teorië en bewerings in verband met moontlike medepligtiges is skriftelik of andersins aan die kommissie voorgelê, maar is so onsinnig dat dit geen verdere vermelding verdien nie.”

Vervolg...

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 1778 gaste aanlyn