Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dobbel is ‘n nare ding. Meer mense verloor as wat hulle wen. Moenie met die kosbaarste ding in die lewe dobbel nie – jou siel!
DR VERWOERD SE KINDERJARE (2)
Peet de Wet
Die NG-gemeente van Bulawayo het tot by Lusaka gestrek. Maandae het Pa gewoonlik sy fiets op die trein gelaai, op die verste punt afgeklim en dan myle deur die bos gery om die boere op die plase te besoek. Sondae preek hy in die kerkie agter ons huis. Len was die koster. Hendrik en ek het hom gewoonlik Saterdae gehelp om die kerk skoon te maak. Daar kry ons toe eendag 'n nes vol klein muisies. Ek hardloop huis toe om 'n skoendoos te haal. Die muise word netjies ingepak en met bruinpapier toegedraai en in juffrou Vermeulen se kamer gesit. Juffrou Vermeulen was 'n sendingdame wat by ons ingewoon en vir my musiekles gegee het. Ons het nie van haar gehou nie; sy was te streng.
Ons het om die tafel gesit terwyl Ma naaldwerk doen. Dan speel hy ingedagte met haar skertjie of haar vingerhoed, en as sy dit mis, kan jy maar weet Hendrik het dit in sy sak gesteek. Een aand, onthou ek, was Ma in een van haar neerslagtige buie. Sy was 'n diabeet - dit is seker waarom sy die buie gekry het. Hendrik staan toe op en gaan staan voor Ma en Pa se twee portrette teen die muur. Dit is nog in Holland gemaak toe hulle jonk was. En hy begin uitwei oor die mooi jong dame op die portret. Hy vra 'n bod. Nou speel hy afslaer, en veil die twee portrette op. Hy gaan so te kere dat Ma naderhand lag dat haar oë traan. Ons het almal die aand gelê soos ons lag vir Hendrik se manewales.
Ons het 'n baie agtermekaar Nyasa-huishulp gehad, ou Molteno. Hy kon beter Engels praat as Ma. Sy sê toe eendag vir hom: "Molteno, you must not jump on the stove." Dit was 'n koolstoof en sy wou hom waarsku om nie aan die stoof te stamp nie want sy het 'n koek in die oond gehad. Hy het goed verstaan wat sy bedoel. Hendrik, twaalf of dertien jaar oud, hoor dit en skree hier uit sy kamer: "You must not jump on the stove, you will burn your feet, Molteno!" En hy sê: "Shut up, kleinbaas, I know."
Hendrik het vegtersgees gehad. As hulle vir hom sê, gaan vind self uit, dan doen hy dit. Hy het baie goed gevorder tot standerd 8 en kry toe die Beitbeurs vir matriek. In die helfte van 1917 word Pa egter aangestel as kolporteur van die Vrystaatse NG Kerk met Brandfort as standplaas. Hendrik moes vir die skoolhoof, ene mnr. De Beer, gaan sê dat hy nie sal kan bly nie en dis toe dat hy vir 'n rebel uitgeskel en letterlik by die kantoor uitgeskop is.
In Brandfort se skool het Hendrik verdere probleme opgetel. Die eerste was sy geboortesertifikaat. Toe die hoof sien dat hy in 1901 gebore is en sy tweede naam dieselfde is as die van die berugte generaal French uit die Anglo-Boereoorlog, en dat hy boonop van die Britse kolonie Rhodesië af kom, is hy en sy familie dadelik gebrandmerk as jingo's. Dit het heelwat verduideliking van Pa se kant gekos om die misverstand uit die weg te ruim.
Tweedens het die leerplanne van die Vrystaatse skole baie verskil van Milton High School s'n. Ingevolge generaal Hertzog se onderwyswet was die onderrigtaal Hollands. Ironies genoeg het Hendrik besluit dit sal vir hom beter wees om hom in sy laaste twee skooljare vir die matriekeksamen in vakke soos Natuurwetenskap en Matesis in Engels voor te berei, as om na Hollands oor te skakel. Hy het dus nie voltyds by die skool ingeskryf nie en net klasse in 'n paar vakke soos Hollands en Engels bygewoon. 'n Inspekteur het vir Pa kom se Hendrik sal nooit deurkom as hy so privaat studeer nie. Hendrik het volgehou dat hy klaar sy studierooster uitgewerk het, en gelukkig was daar 'n jong onderwyser, mnr. Joubert, wat hom na-ure gehelp het. Hy het goed gevorder. Hendrik was eerste in die Vrystaat en vyfde in die Unie. Later het Brandfort Hoërskool en die onderwysers ook daarop geroem, al was hy nie eers voltyds by hulle nie.
Pa was baie trots op sy tweede oudste seun se akademiese prestasies. 'n Paar jaar later, nadat Hendrik sy doktorsgraad op 23 jaar op Stellenbosch behaal het, was hy weer op Brandfort. Die oggend by die kerk roep die skoolhoof, "vader" Kock, die bestuurder van Nasionale Bank, mnr. Everard, nader en sê hy wil hom voorstel aan "doktor Verwoerd". Dié sê toe hy dink nie veel van 'n doktorsgraad nie, hy dink meer van die skool van die lewe. Pa was so afgehaal dat hy die volgende dag sy rekening gesluit en laat oorplaas het na Nederlandse Bank in Bloemfontein.