Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Tyd; dis ‘n belangrike woord. Jy moet dit hê om te kan regmaak. Wie dit nie het nie, kan nie regmaak nie. Meer mense sterf sonder Christus as met Hom; mense wat nie met Hom reggemaak het nietoe hulle die tyd gehad het.
ERFNIS VIR ALLE VOLKE
Johan Dorfling
Dr Verwoerd het die bewaring van erfnis as uiters belangrik beskryf. In 'n toespraak op 8 April 1959 het hy gesê dit is die plig van die volk self om te sorg dat dit wat hy geërf het, behoue bly. Die Staat kan nie na die publiek gaan en hom probeer opvoed tot bydraes om sy erfenisse te bewaar nie. Alleen 'n liggaam gebore uit die publiek self kan hierdie taak verrig. Plaaslike owerhede het net so 'n direkte belang en behoort net so 'n direkte steun te gee as 'n volk se lede en besighede self. Daar bestaan ook onder die nie-blanke bestanddele van ons land die piëteit teenoor iets wat aan hulle behoort. Weer eens was dit onpartydige en wyse woorde van dr Verwoerd dat aan ander gegun moet word wat hulle toekom.
Dit is verblydend dat meer volke, na aanleiding van dr Verwoerd se wysheid en rigtinggewing, bewus raak van hulle erfnis en dit wil bewaar, al is dit 59 jaar nadat hy dit gesê het, en al is dit 52 jaar na sy dood. Die Intsika Yethu Plaaslike Munisipaliteit in die Oos-Kaap gaan nou glo genader word om hulp te verleen om rotstekeninge in grotte langs die Groot Kei-rivier te bewaar. Die rotstekeninge is na bewering ongeveer 20 000 jaar oud en word as 'n groot erfnis beskou.
Wat die werklike ouderdom betref, kan 20 000 jaar op sekere gronde betwis word, maar dit is nie hier ter sake nie. Die belangrikste is dat dit 'n erfnis is wat bewaar moet word, al is dit ook net 20 jaar oud. 'n Erfnis is 'n erfnis en moet met die nodige eerbied hanteer word. Hierdie rotstekeninge word beskou as deel van die geskiedenis van die San en dit word aan persone met name in die San se geskiedenis genoem, verbind. Die grotte is nie vir algemene toeristebesoek oopgestel nie, maar is wel toeganklik vir belangstellendes wat dit wil besoek.
Na bewering is die tekeninge deur jong kinders in die omgewing wat veewagters is, beskadig. Daar word nie daarop gesinspeel dat 'n ander volksgroep rassehaat probeer toepas nie, en dit is goed om by die werklike saak te bly, naamlik beskadiging van die erfnis. Die beskadiging word toegeskryf aan onvoldoende opvoeding van die kinders om die waarde daarvan te besef. Vroeër jare was die tekeninge deur klein en groot as 'n heilige erfnis beskou. Dit moet steeds so wees.
Die Zoeloe het sy Emakuzeni – 'n stuk gebied wat die geboorte van sy nasie voorstel, nie 'n gebou nie, maar 'n landstreek wat vir hom 'n heiligdom geword het, 'n landstreek wat die staat reeds deur middel van die Naturelletrust vir hom verseker het. Daar moet die besef ook bestaan dat nie die staat nie, maar die volk self moet bewaar wat syne is en wat uit die verlede kom.
Net soos erkenning van ander volke se erfnis, vra Afrikaners ook respek vir hulle erfnis. Erfnis het geen tydbeperking nie. 'n Mens erf immers vandag van jou ouers as hulle te sterwe kom en nie eers na 1 000 jaar nie. Die kasteel wat Jan van Riebeeck laat bou het, die Vryburgers se opbou van die landbou, onbesette grondgebied wat in besit geneem is, grondgebiede wat wettig gekoop is, die Voortrekkermonument, verkryging van 'n republiek onafhanklik van Brittanje, en dit wat Afrikaners vermag het sonder enige benadeling van ander volke, is die Afrikanervolk se erfnis. Daarom moet dit gerespekteer word.
Dit is redelik om te aanvaar dat sommige erfgoedere waarby ander volke belang het, soos die republiek waarvoor dr Malan, adv Strijdom en dr Verwoerd so hard gewerk het, met ander landgenote gedeel moet word. Hierdie Afrikaners het die voorbeeld gestel. Al die ander volke in die land is moreel verplig om die Republiek van Suid-Afrika met mekaar te deel, dus moet die Afrikanervolk ook sy deel kry.
Standbeelde van elke volk se leiers en helde en presteerders is ook deel van sy erfnis en moet deur almal, wit en swart, eerbiedig word waar dit werklike onvervalste geskiedenis weerspieël. Uiteraard in die hartlande van die betrokke volke, daar waar hulle erfnisgrond is. Dit sal byvoorbeeld onvanpas wees om 'n standbeeld van 'n Amerikaanse president of 'n Nigeriese man in Suid-Afrika op te rig. 'n Standbeeld van Tjsaka in Kaapstad is misplaas. Elkeen het immers sy eie plek waar hy tuis hoort. Wat hieruit voortvloei is dat beelde van Afrikanervolkshelde bewaar moet word. Om dit te vernietig of weg te steek, weerspieël rassehaat.
Erfnis is nie net stoflik of materialisties nie. Alle geestesgoedere is deel van ons erfgoedere. Dankie aan dr Verwoerd se helderheid.