Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die liefde is nie opgeblase nie...
ALBERT HERTZOG
ONS EIE HELDE
Lees reeks by Ons eie helde
Dr JP Botha
" Toe hulle hul planne om dr Verwoerd om die lewe te bring gefinaliseer het, het hulle met 'n swartsmeer-veldtog teen my persoon begin, want hulle wou verhoed dat ek na sy dood as leier van die Nasionale Party verkies sou word en hom sou opvolg. Intussen het hulle die man wat hulle gekroon het, vir sy rol voorberei: John Vorster. "
Ek is in daardie veelbewoë tyd, pas voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog, op 4 Julie 1899 in Bloemfontein gebore. Toe die vyandelikhede begin en my vader dadelik as regsadviseur vir die Vrystaatse burgermagte aangestel is en na die front vertrek het, kon my moeder nog enige maande lank in ons huis ongemolesteer aanbly, maar nadat lord Roberts Bloemfontein op 13 Maart 1900 ingeneem het, het die Engelse onmiddellik onwelkome aandag bestee aan veral die huisgesinne van Boere-offisiere in die veld en was ek en moeder Mynie gladnie meer veilig nie. Hulle het toe ook op ons toegesak en ons op 'n spaaider gelaai om ons na die stasie te vervoer. Sy het daarin geslaag om 'n bliktrommel, waarin vader vir haar £5 000 geplaas het om in ons behoeftes te voorsien so lank as wat hy op kommando sou wees, by haar op die voertuig te kry.
Ons het so begin ry toe een van die spaaider se wiele uitval en die bliktrommel afval en wegrol.
Die tommie wat ons vergesel het, gaan haal hom toe en wou weet waarom hy so swaar is en wou hom oopmaak, maar moeder wou dit nie toelaat nie. Sy het gesê daar is kos in vir ons gebruik.Toe ons op die stasie aankom en op 'n oop beestrok gelaai is om na 'n kamp in Port Elizabeth geneem te word, loop Dirk Hertzog, 'n neef van vader, ons daar raak. Hy was van die Pêrel en was baie verbaas om ons onder hierdie haglike omstandighede aan te tref. Moeder het die trommel aan hom oorhandig en versoek dat hy dit vir oupa Neethling op Stellenbosch moes gaan gee om te bewaar.
Ons is toe per trein na die kamp in Port Elizabeth. Ek was nog nie een jaar oud nie en word toe daar baie ernstig siek aan masels. Toe hoor oupa Neethling hulle dit en stuur toe vir tant Nannie, een van moeder se ongetroude susters, om na ons toe te kom. Sy was verplig om met 'n skip om te vaar, omdat die Kakies geweier het om haar per trein te laat reis.
Die kampkommandant het geweier om haar na moeder toe deur te laat, maar nadat sy drie dae lank op sy stoep gesit het, het hy dit tog gedoen. My moeder het op Bloemfontein, toe sy die geldtrommel aan Dirk Hertzog oorhandig het, £1 000 agtergehou, wat egter deur die kampkommandant by ons aankoms gekonfiskeer is. Tant Nannie het hierdie geld gevra, wat hy eers geweier het om te gee, maar na baie dreigenente van haar kant af, het hy uiteindelik £500 aan haar oorhandig. Die ander £500 is nooit weer gesien nie.
Tant Nannie is toe met my weg na Stellenbosch na oupa Neethling-hulle toe, waar ek vir die hele duur van die oorlog deur hulle versorg is. My moeder het gelukkig in die kamp ook aan die lewe gebly en na die vredesluiting in 1902 het sy en my vader Stellenbosch toe gekom om my te kom haal. Ek was toe drie jaar oud en het hulle gladnie geken nie en het toe skaam en bang agter tant Nannie se rok vir die vreemde omie en tannie weggekruip!
Generaal Hertzog, my vader, het toe daarna die plaas Waterval, by die Wilgerrivier, gekoop en daar gaan bou en gebly. Moeder Mynie het gedink dis maar 'n ou slegte plaas, want my vader het ook nie veel van boerdery geweet nie.
Ek het die omstandighede van my eerste drie lewensjare 'n bietjie in besonderhede beskryf om die abnormale oorlogstoestande wat geheers het, aan te toon. Die oorlog was nietemin verby. Ek het later met dankbaarheid daaraan gedink dat alhoewel ek en my moeder konsentrasiekampslagoffers was, ons gelukkig behoue gebly het en nie ons lewens daarmee ingeskiet het soos die ander 27 000 vroue en kinders nie.
My later skoolopleiding was aan die Greykollege in Bloemfontein en ook aan 'n Engelse skool in Pretoria waar ek die Matrikulasie-eksamen afgelê het en daana te Stellenbosch die BA-graad behaal het. Ek is daarna oorsee, na Oxford om in die regte te studeer, waar ek 'n doktorsgraad behaal het, maar ek wou my kennis nog verder verbreed en is toe na Amsterdam en het aan die Leidense Universiteit 'n tweede doktorsgraad behaal.
Gedurende die ses jaar wat ek in Oxford was, het ek vir Katie Whitley ontmoet, wat daar vir haar musieklisensiaat verder studeer het. Sy was 'n dogter van die sekretaris van mynwese in Johannesburg. Ons het, toe ons weer in Suid-Afrika terug was, getrou en ons in Pretoria gevestig, waar ek begin het om as advokaat te praktiseer. By tye het ek ook klasgegee aan die Universiteit van Pretoria.
Gedurende hierdie eerste jare van ons verblyf terug in Suid-Afrika, het my hart uitgegaan na my geteisterde Afrikanervolk wat nog steeds gely het aan die nagevolge van die verwoestende Engelse uitwissingsoorlog en daarna al weer in 1914 tot 1918 in die Eerste Wêreldoorlog sy offers moes bring ten behoewe van sy voormalige Engelse vyand, onder aanvoering van die gewese Afrikaners, Louis Botha en Jan Smuts. Die wêrelddepressie wat gevolg het en die groot droogte van die vroeë dertigerjare het my ou volkie verder op sy knieë gebring. Die onsimpatieke regering van 1910 tot 1924 het ook veel daartoe bygedra om ons mense verder in die ellende te laat versink. Ons sogenaamde "voormalige" vyand se oorlog teen die Afrikanerdom het nie in 1902 geëindig nie, maar is op politieke en ekonomiese terrein onverpoosd voortgesit met die doel om hulle te verengels en tot die bedelstaf te verlaag. Daar was 'n toestroming vanaf die platteland na die stede in 'n poging om 'n nuwe heenkome te vind en 'n gebreklyende armblankedom het ontwikkel.
Dit het my seergemaak om te sien hoe die Afrikaner-nasate van 'n stoere Boeregeslag, wat vir verwesenliking van hul vryheidsideale van niks teruggedeins het nie, besig was om hul nasionale eersgeboortereg op ongeskonde besit van ons vaderland, vir minder as 'n potjie lensiesop te verruil. Ek het besluit om, benewens die beoefening van my beroep, my beste kragte te wy aan die herstel en opheffing van ons Afrikanervolk, om 'n bydrae te probeer maak ter bevordering van sy ekonomiese rehabilitasie, om vir hom in die bres te gaan staan teen vyandelike aanvalle en verontregting en om by hom die onoorwinlike krag van Afrikanernasionalisme weer aan te wakker.
Heel eerste het ek die stryd teen die onsimpatieke en verengelste Stadsraad van Pretoria aangeknoop en daarin geslaag om in 1943 op die Stadsraad verkies te word, om sodoende iets vir ons mense daar te probeer doen, maar die eintlike braakland van my werk het aan die Rand gelê.
Hier, vanaf Randfontein in die weste tot by Springs in die ooste was daar in 1937 reeds meer as 189 000 verarmde volksgenote in die onvriendelike stede ingeslinger, om 'n heenkome te probeer vind op die spoorweë, op die paaie en later ook in die fabrieke. Hulle moes met pik en graaf rioolslote langs die strate grawe. Sommige het probeer om met donkiewaens vuurmaakhout aan te karwei om 'n paar pennies daarmee te verdien en moes maar tevrede wees om in die fabrieke en elders vernederende en laagbesoldigde werk te verrig, indien dit bekombaar was.
Ons Afrikaners het hier in die verengelste stad verdwaal geraak en vreemdelinge in hul eie land geword. Hul nasietrots het gekwyn en hulle was besig om hul siel te verloor, want hulle moes elke dag aanhoor dat dit 'n skande is om Afrikaner te wees. Duisende van hulle het as ondergrondse werkers in die myne beland, waar hulle vasgevang is in die greep van 'n onheilige verbond tussen mynkapitaliste, Sap-regering, die Labour Party en korrupte vakbondleiers. Hulle het saamgewerk om die Afrikanermynwerker swak en gebroke te hou. Die vakbonde en die mynbase het probeer om die Afrikaner in die stad los te ruk van sy volk, sodat hy as 'n siellose, identiteitlose arbeider in die welsand van materialisme sou versink.
Die Kommuniste in die verskillende vakbonde het alle rasse bymekaar gegooi in 'n bonte mengelmoes soos die Trade and Labour Council en die United Peoples' Front. Een van die voorbokke hier was die kommunistiese Jood, Charles Harris, sekretaris van die Mine Workers Union. Aan die hoof van al hierdie vakbonde was daar persone wat die Afrikaner en sy strewe openlik vyandig gesind was. Hulle het net belang gestel in die ledegeld wat die Afrikanerwerker kon betaal, om daarmee hul eie sakke te vul en om volkome beheer oor die vakbonde uit te oefen, sodat hulle die Afrikaner in ewigdurende knegskap kon hou, sodat hy nooit weer uit sy ellende kon opstaan en 'n magsfaktor word nie.
Met hierdie onheilige praktyke was die skelm Charles Harris en sy trawante in die Mineworkers Union (MWU) voortdurend besig. Hulle het geswem in die vettigheid wat die mynwerkers se ledegeld aan hulle besorg het en nou saamgewerk met die mynbase om die werkers se lone so laag as moontlik te hou en niks goeds vir die werkers self te doen nie.
Die haglike omstandighede waaronder 'n groot deel van my Afrikanervolk verkeer het, het my genoop om toe te tree tot 'n stryd om hul redding en rehabilitasie wat in omvang en felheid toegeneem het na mate ek en my helpers al hoe meer en meer van die vyand se onheilige, skelmagtige en oneerlike metodes, aksies en maatreëls wat teen ons Afrikanerwerkers gevolg is, blootgelê het en hulle van nog meer onheilige metodes gebruik gemaak het om ons stil te maak. In hierdie stryd het manne van groot eer en
kaliber my trou bygestaan, soos dr Piet Meyer, Frikkie de Wet, Faas de Wet en Paul Couzyn. Sonder hul onvermoeide ywer, elkeen op sy eie gebied, hul volgehoue opoffering en onselfsugtige diens, sou ons nooit die mas opgekom het nie.
Ons werk, veral ten behoewe van die Afrikanermynwerkers, het in 1936 begin en die volgende tien jaar onverpoosd voortgeduur. Indien ek hierdie stryd in belang van 'n deel van my verknegte ou Afrikanervolkie hier in besonderhede moet verhaal, sal dit my vertelling te lank maak, soos byvoorbeeld hoe ons die nodige fondse om aan te gaan bekom het, hoe ons vir die werkers 'n Afrikanerbond van Mynwerkers gestig het en watter teenkanting en dwarsboming ons nie net van ons vyande ervaar het nie, maar ook van die kant van die regerende Verenigde Party moes trotseer.
Ek het baie vergaderings aan die Rand toegespreek om ons aksies en planne aan die werkers bekend te stel en toe die vyand - gekonsentreer in die MWU - met skrik waarneem hoe ons Afrikanerbond groei, het hulle gesorg dat die mynbase lidmaatskap van die MWU verpligtend maak vir sy werkers. Toe het ons besluit dat ons Afrikanerwerkers hierdie Mine Workers Union met ons getalsoorwig moet oorneem en 'n bestuur daarvoor uit eie geledere kies. Dit het 'n lang stryd afgegee, want Harris en Kie het by verkiesings selfs die stembusse van vals bodems laat voorsien en die stemme verduister sodat hulle aan bewind kon bly. In 'n stadium het hy en sy sestien bestuurslede my van laster aangekla en elkeen £1 000 van my geëis, op grond van wat ek alles oor hulle skelmstukke op vergaderings aan die werkers bekend gemaak het. Ek sou baie moeilik die £17 000 kon bybring indien die hof dit sou toeken, maar ek het gesorg dat die dag met die verhoor 'n sekere Engelse mynwerker, Charlie Langeveld in die hof teenwoordig is met 'n klein bruin tassie waarop hy altyd tydens vergaderings wat ons gehou het, geslaan het as hy teen Harris en sy vriende uitvaar en luidkeels verkondig: "And I have all the evidence in here!"
Harris en Kie het Langeveld opgemerk en toe maar liewers die saak met my geskik. Net ek en Charlie het geweet dat daar in sy tassie hoegenaamd geen bewyse teen Harris-hulle was nie!
Toe die mynbase die betaling van ledegeld aan die MWU verpligtend maak, het baie werkers geweier om dit te betaal en is gevolglik uit hulle poste ontslaan. Een van hulle, Moller Hugo, 'n jong man wat uit Worcester se wêreld afkomstig was, het van myn na myn gegaan, maar is oral afgedank. Hy het so verbitterd geraak dat hy een middag in Junie 1939 vir Harris by sy kantoor gaan inwag het en hom doodgeskiet het. Hugo is gevonnis tot lewenslange gevangenisstraf.
Ander leiersfigure onder die mynwerkers het begin wanhoop aan die moontlikheid om ooit die wurggreeep wat die MWU in samewerking met die mynbase op die werkers toegepas het, te breek en het planne beraam om iets drasties te doen om die Smutsregering te skud, sodat hy na hul griewe sou luister, want die staking onder die werkers wat toe aan die gang was, kon die regering nie daartoe beweeg nie. Twee stakerleiers, Simon Schoeman en Witkop Theron wou hê dat KA Hoffman 'n kragtoring moes opblaas, maar Hoffman het geweier en polisie toe gegaan. In die saak wat gevolg het is genoem dat Theron hulle planne met my in Pretoria kom bespreek het en dat ek hulle streng afgeraai het om so iets onverantwoordeliks te doen. Nietemin is ek toe gedagvaar om getuienis te gaan aflê, wat ek geweier het. Die magistraat het my toe 'n week gegun om myself te bedink. By hervatting het ek aan hom gesê dat ek as eerbare mens niks kan openbaar wat in vertroue deur enigiemand aan my geopenbaar is nie. Toe het hy beveel dat ek agt dae tronk toe moes gaan en as ek daarna nog sou weier om te praat, sou ek weer tronk toe gestuur word. So sou dit aanhou tot ek bereid sou wees om teen my vriende te getuig. Ek het my mense laat weet om vir my 'n koffertjie met klere en genoeg boeke te pak en solank vooruit tronk toe aan te stuur, maar my prokureur, Paul Couzyn het deur middel van advokaat Oswald Pirow soveel vrese vir Colin Steyn, die VP se Minister van Justisie ingeboesem dat hy gou opdrag gegee het dat die saak geskrap moes word!
Stadig maar seker het ons in die stryd teen die korrupte Mine Workers Union sukses begin behaal deur uiteindelik daarin te slaag om die bestuur daarvan met Afrikanerleiers van die mynwerkers te vervang en druk uit te oefen op die Kamer van Mynwese om die werksomstandighede van die werkers in 'n groot mate te verbeter. Deur ons volgehoue stryd het ons daarin geslaag om te verhoed dat die vakbonde en mynbase die Afrikaner in die stad losruk van sy volk, wat hom as 'n siellose, identiteitlose arbeider in die welsand van materialisme sou laat versink het, en daarmee het ons ook daarin geslaag om die magtige stroom geld waaroor die vyandige vakbondleiers beskik het, na die Afrikaner te kanaliseer, sodat dit aangewend kon word vir die opbou van die werker in plaas van vir sy uiteindelike ondergang.
Al ons harde werk, met groot opoffering aan die Rand gedoen, sou alles tevergeefs gewees het in ons pogings om die wurggreep op die Afrikanerwerkers te breek, indien ons nie daarin geslaag het om weer by hulle die mag van hul eie nasie, die mag van nasionalisme te laat ontwaak en in te dra nie. Die vrug van hierdie boodskap van hoop en besieling was hul finale oorwinning en verowering van die Mynwerkersunie in 1948.
Die duisende werkers aan die Rand is deur ons bemoeienis op politieke gebied ook weer vir die Nasionale Party gewen. Voor die algemene verkiesing van April 1948 het die NP aan die Rand maar net twee setels gehad, waar daar nou ses meer verower is, deur die toedoen van die Afrikanerwerkers wat weer nasionaal gestem het, sodat die Nasionale Party met 'n meerderheid van sewe setels die regering kon oorneem uit die hande van die onbekwame en onsimpatieke Smutsparty, wat nooit sou plaasgevind het indien die Afrikanerwerker aan die Rand nie weer vir sy volk ontwaak het nie.
So het ek en my moedige klompie stryders in 1948 aan die einde van die pad gekom. Dit was 'n lang en opdraande stryd oor twaalf jaar heen, 'n stryd waarin baie opgeoffer is, sonder om beloning te verwag. Dit was die stryd van die Afrikaner om weer homself te wees; 'n bestaanstryd teen magte so oorweldigend soos selde teen 'n nasie gemonster word. Dit was 'n stryd om behoud van die siel van die Afrikaner. Al my opofferings oor so 'n lang tydperk heen was nie verniet nie, maar is uiteindelik met sukses bekroon. Later is daar met waardering hieroor geskryf:
"Dr Hertzog was die man wat twaalf jaar lank die stryd op hom
geneem het. Hy het 'n florerende regspraktyk opgeoffer en vir
£40 per maand by die Nasionale Raad van Trustees gaan werk
ter wille van die mynwerker se saak. Hy het geen offer te groot
geag nie en nooit enige beloning daarvoor gevra nie. Hy het die
fondse gevind waarsonder die stryd nooit met welslae deurge-
voer sou kon word nie en hy het selfs sy eie fondse in die stryd
gegooi. Hy het die stigting van die Pieter Neethling-trust moont-
lik gemaak, nie vir eie gewin nie, maar vir die stryd van die
Afrikanerwerker en die geslagte wat daarna sou kom. Dit was
hy wat besef het dat die finansiële magte teen die Afrikaner só
groot was dat die stryd alleen gevoer sou kon word deur die
monstering van die Afrikaner se kapitaal agter die mynwerker,
hoe gering dit ook al in daardie jare was. Vandag staan dit daar
as blywende bewys van sy ywer en opofferings en as 'n bate vir
die Afrikanergeslagte wat na hom sal kom."
Na 1948 het ek my volle aandag gewy aan die belange van my kiesers in die kiesafdeling Ermelo, waar ek in die verkiesing van daardie jaar 'n tradisionele sterk Sap-setel vir die Nasionale Party verower het. Ek en my vrou Katie het tussen ons mense gaan woon om hul belange die beste te kon dien. Ons was bevriend met Marthie Viljoen en haar man wat naby Chrissiesmeer op 'n plaas gewoon het. Haar man is in 1968 oorlede en my liewe vrou Katie het my ook in daardie jaar ontval. Ek en Marthie het 'n klompie jare later, in 1977, ons in die huwelik met mekaar begeef.
Die tien jaar vanaf 1948 tot 1958 was vrugbare diensjare aan ons volk onder die bekwame en besielende leiding van dr Malan en advokaat Strydom. Met die dood van meneer Strydom in 1958 en die oorname van dr Verwoerd as ons land se sesde premier, het hy my 'n kabinetspos aangebied wat ek aanvaar het. Ek het toe Minister geword van Gesondheid en later ook van Pos en Telegrafie.
Die volgende agt jaar van my lewe is gekenmerk deur die bevrediging en voldoening wat met suksesvolle afhandeling van belangrike projekte gepaard gaan. Ek het daarin geslaag om die gevreesde Kinderverlamming (Poliomylitis) wat ons land in 1948 so lam gelê het, in een jaar die nek in te slaan. As Minister van Pos- en Telegraafwese, het ek die poswese as 'n selfstandige organisasie buite die staatsdiens gestel en die radio-uitsendings verbeter deur die instelling van 'n doeltreffende FM-diens met die oprigting van die Hertzogtoring. Ek het ook radio-uitsendings vir die swartes ingestel. Ek het alle agitasies en versoeke vir die instelling van 'n televisiediens vir Suid-Afrika geweier en van die hand gewys, omdat ek oortuig daarvan was dat as hierdie nuus- en vermaaklikheidsmedium as propagandamiddel in die hande van die verkeerde persone sou beland, dit 'n demoraliserende invloed op veral ons jeug sou uitoefen.
Ons land het in hierdie jare onder die briljante leiding van dr Hendrik Verwoerd met rasse skrede vooruitgegaan. Dit het Suid-Afrika se vyande só teen die bors gestuit toe hulle ervaar dat hulle met geen negatiewe maatreëls in staat is om die gety van voorspoed waarop almal gery het, te neutraliseer nie, dat hulle besluit het om dr Verwoerd uit die weg te ruim. Hierdie laakbares uit die buiteland en in Suid-Afrika se geledere is aangevul deur die Cape Liberal Nats. Toe hulle hul planne om dr Verwoerd om die lewe te bring gefinaliseer het, het hulle met 'n swartsmeer-veldtog teen my persoon begin, want hulle wou verhoed dat ek na sy dood as leier van die Nasionale Party verkies sou word en hom sou opvolg. Hulle het besef dat ek die nodige kennis, toegewydheid, beginselvastheid, moed en integriteit besit het om as leier en Eerste Minister dr Verwoerd se suksesvolle beleid voort te sit en dit moes verhoed word. Daarom moes my naam só sleg gemaak word dat die Partykoukus my nie as leier sou aanwys nie. Die aartsliberalis, Piet Cillié van Die Burger, het hierin 'n deurslaggewende rol gespeel.
Intussen het hulle die man wat hulle gekroon het, vir sy rol voorberei. John Vorster het 'n mantel van streng konserwatisme aangetrek en het ook die dag met sy verkiesing as leier nadat dr Verwoerd vermoor is, plegtig verklaar dat sy pad vorentoe die pad van Verwoerd sou wees. Die volk het hom geglo en toe hy kort daarna en verder aanhoudend die nasionale pad verlaat en Suid-Afrika in die kookpot van 'n liberalistiese mengelmoes inslinger, wou die volk nie glo dat sy "nasionale" regering nie meer op die pad van Suid-Afrika was nie en het hom bly ondersteun. Maar ek het weer in die bres gaan staan vir my misleide Afrikanervolkie en langs parlementêre weë geprotesteer teen Vorster se nuwe koers. Een van die eerste dinge wat hy gedoen het, was om Suid-Afrika se tradisionele sportbeleid te versaak en 'n nuwe een te formuleer, waarvolgens ons buitelandse spanne met gekleurde spelers sou toelaat om in ons land te kom meeding. Ek het gesê dit is 'n wig; as jy hom eers één keer in die deur het, kan jy dit nie weer sluit nie.
Ek en ander egte Afrikanernasionaliste soos Jaap Marais, Louis Stoffberg en Willie Marais, wat ons nie kon vereenselwig met Vorster se afwykings van beproefde nasionale beginsels nie, is as vyande van die Nasionale Party voorgestel en liberaliste soos Piet Cillié van Die Burger het skielik die bewakers geword van Afrikanernasionalisme. Dit is alles agter die skerms gedirigeer deur John Vorster, wat so 'n patalogiese vrees vir my gekoester het dat hy nie kans gesien het om die Nasionale Party te lei so lank as wat ek daarin was nie. Ek moes dus uit. Vorster het my ministeriële portefeuljes my ontneem en nadat ek as gewone volksraadslid in April 1969 in die Parlement 'n toespraak gelewer het oor die Afrikaner se suiwer standpunt oor Afrikanernasionalisme en dit vergelyk het met die Engelse se nodelose aanhang van die liberalisme, het die beswaddering teen my na hierdie "Calvinistiese toespraak" nog sterker momentum gekry, totdat ek en my vriende in Oktober 1969 uit die NP geskors is.
Dit was nog nie die einde van die grootste veldtog van karakter-sluipmoord wat ooit in Suid-Afrika plaasgevind het nie. Hulle het goed geweet watter mag en invloed ek by die Afrikanervolk verwerf het na jare van opofferende diens en dit het die intensiteit en omvang van hulle smeerveldtog bepaal. Hulle het die sedelike peil van die openbare lewe tot 'n beskamende laagtepunt afgedruk met hulle leuens en laster om my in diskrediet te bring. Maar ondanks al hulle beswadderings en wanvoorstellings het my eer ongeskonde gebly.
Toe ek, na my uitdrywing uit die NP, in Oktober 1969 die Herstigte Nasionale Party tot stand gebring het om die beproefde beginsels van die Nasionale Party te handhaaf, het die Nasionale Partyleiers die smeerveldtog voortgesit en ons deur hul ondersteuners en politieke polisie laat aanval met boewery en skurkstreke wat die Afrikanerlewe ontsier en onteer het, soos geen vyand van buite dit kon doen nie. Ek en ander HNP-sprekers is op vergaderings met tamaties en eiers gegooi, mikrofone is buite werking gestel, sprekers is aangerand en sinlose lawaai is gemaak, want Ben Schoeman het gesê die HNP moet vernietig en uitgewis word.
Dit alles was die prys wat die Afrikanervolk en Suid-Afrika moes betaal om te verhoed dat ek Eerste Minister van Suid-Afrika word, in opvolging van dr Verwoerd, want dan sou Suid-Afrika vanaf die sterk ekonomiese, politieke, militêre en diplomatieke basis wat deur die Verwoerd-bewind gelê is, gegroei het tot 'n magsentrum van 'n Afrikaneroorheerste Suider-Afrika. Die vyande van Suid-Afrika het daarin geslaag om dit te verhoed.
Die on-nasionale regerings van Vorster en sy opvolgers het 'n magtige bondgenoot in die geldmag gehad, wat deur hul koerante, radio en televisie met subtiele beïnvloeding en breinspoeling die Afrikanervolk wysgemaak het dat hierdie regerings hul nog steeds op die geykte pad van Suid-Afrika bevind en dat ek en my volgelinge die verfoeilike "verkramptes" is wat die wiel van vooruitgang wil terugdraai tot in die tyd van Paul Kruger. Maar ten spyte daarvan het die HNP gegroei tot 'n magsfaktor in Suid-Afrika wat deur sy vyande gevrees is.
Ek het my hoofleierskap van ons party in 1977 neergelê en geweet dat meneer Jaap Marais die wa verder deur die drif sal trek gedurende die jare wat voor ons gelê het.
Hierna het ek in die rustigheid van my studeerkamer 'n poging aangewend om my volk nog eenmaal baie duidelik aan te spreek met die skryf van my boek: "Waarheen Suid-Afrika? Oproep tot die Stryd". Dit was baie duidelik dat die Afrikanervolk nie geweet het watter duistere magte almal agter die internasionale geldmag ingespan is om ons van ons nasionale koers af te dwing nie en dat John Vorster en sy trawante se dade, die swart agitasies en die terroristiese aanslae alles uit een duistere herkoms gebore is om ons natuurlike weerstand weg te vreet en ons verantwoordelike blanke regering te ondergrawe, sodat dit deur 'n swart bewind vervang kan word wat uit Amerika manipuleerbaar moet wees. Dit moet die geldmagnate in staat stel om beheer en besit uit te oefen oor Suid-Afrika se ontsaglike bodemrykdomme, wat vir hulle onontbeerlik is, aangesien Amerika s'n uitgeput is.
Hierdie nalatenskap van my aan my volk is wel gelees, maar so ver as moontlik in die doofpot gestop met behulp van die SAUK, die koerante en kultuurorganisasies. Hulle was doodsbenoud dat iets gesê of geskryf sou word wat die gang na die smadelike oorgawe van 1994 sou vertraag.
Dit was lbert Hertzog se laaste poging om sy volk se oë oop te maak en hom te waarsku teen die vernederende verknegting wat vir hom op pad was. Hy het een aand in 1982 van sy kantoor af tuis gekom en skielik baie sleg gevoel. Sy vrou Marthie het gesê hylyk vir haar soos 'n ou siek hoendertjie toe sy hom versorg. Kort daarna het hy bewusteloos geword en daardie nag in die hospitaal gesterf.
Suid-Afrika se vyande sou daarna met een struikelblok minder te kampe hê op hulle onheilige pad om ons land te verower en vir die wolwe te gooi. Maar Albert Hertzog het gesterf in die wete dat sy stryd en opoffering en diens aan sy geliefde Afrikanervolk nie tevergeefs moes wees nie. Toe sy persoon, lewe en werk honderd jaar na sy geboorte gehuldig en in herinnering geroep is, het daar oor sy werk weer 'n nuwe oproep uitgegaan:
"In hierdie dae is dit nodig dat ons weer sal luister na dielewenswysheid van dr Albert Hertzog, 'n Afrikanernasionalis
uit een stuk wat sy volk sy lewe lank met oorgawe gedien het.
Dit is nodig dat ons sy OPROEP TOT DIE STRYD weer
ter hand sal neem om onsself te oriënteer sodat ons verder
kan dink, verder kan beplan terwyl ons voortbou op die
onveranderlike waardes en waarhede wat hy gestel het. Vir
die Afrikanernasionalis tel dr Hertzog as een van die grotes
wie se woorde en denke op dieselfde vlak lê as dié van dr
Verwoerd en sy voorgangers. 'n Mens hoor in die woorde
van dr Hertzog die weerklanke van die woorde van die
groot Afrikanerleiers deur die geskiedenis. Laat ons in ons
herdenking van dr Hertzog as 'n groot Afrikanerleier sy
nagedagtenis eer. Laat ons in ons gebede God dank vir
die gawes wat Hy aan ons in dié man gegee het. Laat ons
bid dat ons die geloof en die krag mag ontvang om die
voorbeeld van dr Albert Hertzog op die pad van Suid-Afrika
na te volg."