Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om na die mooi kant van die lewe te kyk sal nooit oogspanning veroorsaak nie.
BIDDAE, VEROOTMOEDIGING EN GELOFTEDAG (1)
Dr PE van der Dussen
Lees reeks by Biddae, Verootmoediging, Geloftedag
" ...kleitrappery van die derde opeenvolgende polisiekommissaris en die bekendmaking van die groot aantal polisiemanne, sommige selfs met hoë range. Wat 'n misdaadgeskiedenis het. Die toppunt tot dusver was die Godslastering van Mantashe toe hy die ANC-SAKP-COSATU met die Drie-enige God gelykgestel het."
Biddae en dae van verootmoediging is maar dikwels ter sprake wanneer daar algemene nood opduik. Soos Totius gesê het: As rampe ons tref, gaan ons nie na die wysgere om ons te help nie. Ja, dan besef ons skielik dat die menslike denke en plannetjies en strategieë maar nie juis iets kan uitrig nie.
Die Woord leer ons dan ook dat daar net een weg is en dit is om ons voor God te verootmoedig en Hom om genade te smeek. En daardie genade kom welseker en sal welseker kom tot op die laaste dag.
Die Woord leer ons dat God 'n behae in 'n ootmoedige hart het, selfs die hart van 'n moordenaar aan 'n kruis. Maar die Woord leer ons ook dat die HERE se genade saam met sy oordele in die eerste plek op die verheerliking van sy Naam gerig is. Daarom mag besondere bidgeleenthede nooit mensgerig wees nie maar aan die vereistes van die Woord getoets moet word.
Dit mag ook nooit misbruik word om menslike mistasting te verdoesel nie. Wanneer die rampe ons tref, moet ons as gelowiges steeds die tugtigende Hand van die HERE daarin sien. Ons moet daarteen waak om nie ons ganse verdorwenheid en ellende te verdoesel agter bepaalde dade en standpunte en optredes wat tot dié sonde van die oomblik verhef word nie. Psalm 51 stel dit duidelik dat dit moet gaan om 'n hart van klip met 'n hart van vlees te vervang. Daarom mag die verootmoediging nie voorwaardelik wees nie. Dit mag ook nie in 'n soort opwekkingsgeleentheid ontaard nie. Daar is selfs rede om te sê dat 'n dag van gebed en verootmoediging eintlik die dankbare afsluiting van 'n tydperk van voortdurende verootmoediging behoort te wees.
Hierdie saak het die afgelope tyd eensklaps sterk na vore gekom. Eerstens het die Klassis Potchefstroom as aangewese deputate van "die GKSA“ se sinodale vergadering van 2012 op 20 Junie 2013 Gereformeerde Gemeeentes/Kerke in die land opgeroep om Sondag 15 September 2013 as besondere dag van gebed en verootmoediging in te rig met die wesenlike punt voorbidding vir wat hulle noem die owerheid van die land. Tussen 20 Junie en 15 September het daar egter verskeie ingrypende gebeurtenisse plaasgevind wat regstreeks met die oproep te make het: Die verafgoding van Mandela tydens sy hospitaalverblyf; die Guptaskandaal; die Nkandlaskandaal – om maar enkele opspraakwekkende gebeurtenisse te noem wat juis voor die deur van die hoogste range van die regime gelê moet word. Dit is gevolg deur die kleitrappery van die derde opeenvolgende polisiekommissaris en die bekendmaking van die groot aantal polisiemanne, sommige selfs met hoë range. Wat 'n misdaadgeskiedenis het. Die toppunt tot dusver was die Godslastering van Mantashe toe hy die ANC-SAKP-COSATU met die Drie-enige God gelykgestel het. Net hierdie enkele voorbeelde toon al hoe uiters versigtig daar met biddae en versoeningsdae omgegaan moet word. Trouens, in Jesaja 1 spreek die Heilige Gees in duidelike taal oor die saak.
Twee preke van Totius word as uitgangspunt vir besinning oor biddae en verootmoedigingsdae geneem. Die eerste is 'N BIDDAGPREDIKASIE oor Jesaja 63:17 (Versamelde Werke Deel II, rooi uitgawe, bladsy 28-33; moontlik tydens droogte vóór 1920). Jesaja 1 en Maleagi is geskikte Skrifdele wat die wesenlike van hierdie preek beklemtoon om weg te kom en weg te blý van ‘n emosionele en selfbejammerende geneigdheid waarteen hy waarsku. Sy preek in Die Kerkblad van 15 Maart 1932 met 1 Konings 17:1 as teks (Versamelde Werke Deel II, rooi uitgawe, bladsy 94-99) werp verdere lig op die wese en gevare van besondere gebedsdae. Daarin kom na vore dat droogte en peste en plae nie die enigste rede vir gebed tot God mag wees nie. Inteendeel word Elia se aankondiging dat daar drie jaar en ses maande lank geen reën of dou op die aarde sal val nie tensy op sy woord, voorgehou dat daar soms – altyd? – eerder rede is om óm stoflike rampe te bid teneinde redding van geestelike rampe teen te werk en selfs te voorkom, soos die Heilige Gees oor Ninevé in die boek Jona getuig. Albei preke word sterk aanbeveel vir deurtastende oordenking voordat nuwe oproepe om biddae gedoen word.
Mantashe se uitspraak het wye beroering gebring. Verskeie reaksies het van Godslastering tot vergryping aan die Heiligheid van God tot beleding van Christene gestrek. Dan moet ons God dank dat Hy deur die Heilige Gees mense tot handhawing van die eer van God opgeroep het. Tog vind mens selfs in sulke optredes rede tot ernstige bedenking. 'n Voorbeeld is die artikel van ene Jacob Pretorius in Beeld van 12 November 2013 onder die opskrif God kla nie net oor Mantashe. Die skrywer sê prontuit: Gwede Mantashe toon geen ontsag vir ’n heilige God nie! Hy is voorbarig en misbruik sy Naam om stemme te werf. Om die ANC-alliansie sonder voorbehoud met die Drie-eenheid te vergelyk, is lasterlik. Om ’n politieke party wat swak diens lewer en korrupsie pleeg en hom dan met God se koninkryk te vereenselwig, sleep sy Naam deur die modder! (Terloops en stellig onbedoeld plaas Pretorius hiermee 'n groot vraagteken agter die sinnigheid van die gemelde oproep tot verootmoediging.) Met hierdie uitspraak kan ons geen probleem hê nie. Die krag daarvan word egter gedemp deur die tweede gedeelte van die artikel wat so begin: Ek glo God kla nie net oor Mantashe se uitsprake nie. Die ironie is dat die sekretaris-generaal van die ANC homself met sy uitsprake in dieselfde dampkring as die politieke en geestelike vaders van apartheid bevind. Laasgenoemdes het net soos hy God se Naam ydellik gebruik deur Hom aan ’n beleid van onreg en onderdrukking te probeer verbind. Dit bly ’n hartseer aanklag dat baie predikante wat profetiese protes moes aanteken apartheid eerder bevorder het.
Pretorius maak hom hier skuldig aan 'n uitspraak wat kennelik moet dien om politieke korrektheid te openbaar. Daarby maak hy hom skuldig aan 'n uitspraak oor 'n saak waarvan hy duidelik geen eerstehandse kennis het nie terwyl hy bloot die propagandistiese verdraaiing van apartheid as uitgangspunt neem. Natuurlik was daar wantoepassings in die beleid. Die destydse Afrikanerregering was nie sondeloos nie. Ewe natuurlik was daar misbruikende beroepe op die Bybel terwyl dit oor 'n maatskaplike saak gegaan het. Maar om dit 'n beleid van onderdrukking en onreg te noem is niks anders as napratery van die sogenaamde struggle-leiers vanuit hulle destydse veilige hawe Londen nie en sedert hulle verheffing tot regime plaaslik deur die media wat te verskrik is om die waarheid te praat.
Soos in die tweede artikel wat hier op volg aangetoon word, moet ons, hoef ons ons nie oor hierdie leuenagtige voorstelling te verootmoedig nie. Apartheid is op grond van sogenaamde menseregte tot sonde-teen-die-mensheid verklaar wat nie 'n Bybelse begrip is nie. Daarmee kom die Eeerste, Tweede en Derde Gebod in die gedrang.
Ons Afrikanervolk het 'n eie besondere dag van gebed en verootmoediging as ons dit net wil raaksien. Vroeër het 16 Desember – Geloftedag - saam met Hervormingsdag en Bartolomeusnag en ander kerkgeskiedenisdae deel van ons kerklike kalender uitgemaak en is gemeentelede van die preekstoel af opgeroep om hulle verpligting ten opsigte van die Gelofte aan die HERE na te kom, soos Psalm 116 ons aanspoor. Ongelukkig het dit uit die mode geraak – op sigself rede rede waarom ons volgens Jesaja 63:17 ons behoort te verootmoedig 63:17..... Daaroor meer in die tweede artikel.