Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
GOD PRAAT DEUR SIEKTE MET JOU
LUISTER NA SY STEM!
Siekte is 'n manier waarop God met sy kinders praat, sê Job in hoofstuk 33:19: "Hy spreek die mens aan met ernstige siekte."
Dit is nie 'n teken van God se onmag as iemand nie gesond word nie, maar die middel tot God se almagswerke, sodat ons vir Hom getuies kan wees; sodat ons weer kan besef, al word ek elke dag afgetakel, daar is niks wat my van God se liefde vir my kan skei nie.
Daar op jou siekbed kyk jy met nuwe oë na jou eie lewe, veral na die dinge wat jy nog so graag wil bereik; na die mense wat jy liefhet en geen waarborg het dat hulle môre nog by jou sal wees of jy by hulle nie. Dan besef jy elke minuut wat jy nog krag en tyd oorhet, moet maksimaal benut word omdat elke oomblik genadetyd is.
Jy besef ook weer dat jou lewe hier op aarde net 'n klein deeltjie van God se plan is, dat jou eintlike lewe nog voorlê, dié lewe wat vir jou by God wag. En dan word jy dankbaar om te lewe al sien jy uit om na Hom te vertrek.
Hierdie verhoog waar jy tydens siekte verkeer is meermale die podium van waar ons geloof aan die wêreld sigbaar word. Hierdie dinge werk soos die swart fluweel-agtergrond waarteen juweliers so graag hulle goud en diamante juweliersware uitstal – ons geloof behoort só te blink teen die donker agtergrond van siekte. God praat met jou deur jou siekte – luister na sy Stem!
ONS AFGODE
Johan Hack
Het u al opgemerk hoe die liberalistiese media propaganda gebruik om die nasionalistiese gevoel wat deel uitmaak van ons Afrikanervolk en ons geskiedenishelde, te kriminaliseer en dan die nuwe humanistiese beweging te verafgod en dan selfs ‘n beeld of gesig daaraan te gee ?
Dit kan duidelik gesien word in die Open View advertensie. In die advertensie kyk talle mense na die uitsending op hulle eie televisies na ‘n toespraak deur dr Hendrik Verwoerd, die beste Eerste Minister wat SA ooit kon hê, en ook die mees gehate Minister as gevolg van sy opregtheid en vasberadenheid om van SA ‘n Eerste Wêreldland te maak, wat hy dan ook in ‘n kort tyd reggekry het. En dan begin die kykers mense hulle TV’s te ontkoppel en na die Mandela-brug te dra en op mekaar te stapel waarop die eerste swart springbok rugbykaptein regop staan met sy arms in die lug en die skare wat hom toejuig soos ‘n god.
Ex 20.3 Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.
Terwyl mense die tv’s dra en opstapel flits verskillende boodskappe met die woord “Free” op die skerms. Alle slagspreuke verwys subtiel na die sogenaamde, “geregverdigde” freedom struggle.
Hierdie advertensie is maar een van dié wat indruis teen ons Christen-Afrikanernasionalistiese gevoel.
Heb:13.7 Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.
Net so kan verwys word na sommige Afrikaanse sepies. Hierin word gelowige Afrikaners duidelik geteiken. Integrasie word hier sonder skaamte op ons afgedruk. Wat nog erger is, is die afbreek van morele waardes en standaarde deur die breinspoeltegniek om kykers sag te maak dat dieselfde geslag huwelike, geslagsveranderings en ‘cross dressing’, wat sogenaamd normaal in vandag se samelewing is en enige negatiewe kommentaar daaroor amper ‘n kriminele oortreding blyk te wees. Binnekort sal ons tronkstraf kry indien ons enigiets negatiefs daaroor kwytraak!
Dit gaan my verstand te bowe dat so baie van ons Afrikaners kla oor die onreg wat ons geloof,taal en kultuur moet verdra onder die druk van die Nuwe Wêreldorde aan die hand van die huidige regering, maar steeds gaan staan ons by die sport-arenas en Afrikaanse sangfeeste met die nuwe landsvlag wat in ons hande wapper. Of, terwyl ons die geïntegreerde kwota “nuwe era rugby span” toejuig nadat ons selfs met ons vuiste teen ons bors die huidige stem gesing het. Wat ‘n voorbeeld stel sommige sportmanne nie net vir ons as hulle hierdie stem sing met geslote oë asof dit hulle gebed is nie, met trane wat teen hulle wange afloop!
Jak 1:6-8 Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie- so n dubbelhartige man,onbestendig in al sy weë.
Tereg is daar al gesê dat die gevaarlikste vyand die een is wat dieselfde as ons lyk en nie op voorkoms as ‘n verraaier geïdentifiseer kan word nie.
Ná die oorwinning in die wêreldbeker rugby-toernooi het ons onophoudelik gehoor hoe die springbokkaptein so opgehemel word in die media asof hy goddelike status bereik het. Dit klink amper asof hy alleen gespeel het in hierdie toerspan.
Die DA hoofsweep Natasha Mazzone het selfs genoem hoe die land van ‘n laagtepunt gered is deur die Springbokspan. Die ANC hoofsweep Pemmy Majodina het egter sover gegaan as om te sê dat deur hierdie oorwinning, segregasie finaal begrawe is in die land.
Dit lyk na ‘n baie vlak graf.
So sal die liberalistiese media aanhou om ons te bombardeer met hulle denkwyses en visuele beelde om die onkundiges te mislei en die meerderheid in hulle gedagtes van valse vryheid, te voed totdat daar van ons volk niks meer oor is, behalwe as ons betyds wakker word en ons afgode laat staan!