NUUTSTE BYDRAES

Gedagtes vir elke dag

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Het u al opgemerk hoeveel wysheid kom outomaties van mense wat 'n vaste geloof in God koester? En hoe dieper daar in die werking van die menslike verstand gedelf word, hoe meer tekens vind ons van die wysheid van Hom wat dit geskep het. Dan word dit 'n lewenswyse om verstandig te wees en uiteindelik is gesonde verstand om dinge te sien soos hulle werklik is en dinge te doen soos hulle gedoen behoort te word.

DIE MOORD OP DR. VERWOERD (2)

J.J.J. SCHOLTZ

Lees reeks by Die moord op dr HF Verwoerd

“Hoe Gelukkig Lyk Doktor Vandag! ”

Die Dinsdagoggend, 6 September, het dr. en mev. Verwoerd omstreeks sewe-uur per vliegtuig van die militêre lughawe Waterkloof, in Pretoria, na Kaapstad vertrek.

Agter hulle het hulle ’n lang naweek vry van kommer en sorge gehad. (Die Maandag was ’n openbare vakansiedag, Setlaarsdag.) Die grootste deel van die naweek het hulle op hul plaas, Stokkiesdraai, aan die Vaalrivier, deurgebring. Hulle is die Vrydagmiddag na dr. Verwoerd se ontmoeting met hoofman Jonathan daarheen.

“Dit was ’n naweek soos min,” het mnr. J. B. Wolfaardt, bestuurder van Stokkiesdraai, later gesê. “Doktor het dit werklik lank laas so baie op die plaas geniet as in dié naweek. Hy was besonder opgewek. Soos altyd was hy vol planne vir wat nog alles gedoen kan word, en hy het die plaas platgestap.”

Na hul aankoms het hy dadelik sy plaasklere gaan aantrek: ’n kakie-langbroek (in die somer was dit altyd ’n kortbroek) en ’n trui, omdat dit die dag effens koud was. Daarna het hy na sy Duitse merino-drieling, waarop hy besonder trots was, gaan kyk en toe verder op die plaas rondgeloop.

Byna duisend myl daarvandaan, in Kaapstad, het die 48-jarige Demetrio Tsafendas die aand van die Parlementsgebou teruggekeer na sy kamer in Aldor Apartments, ’n netjiese gebou in Rustenburgsteeg, Rondebosch - nie ver van die Eerste Minister se ampswoning nie. Hy het twee dae tevore daar ingetrek, nadat hy in die voorafgaande maande by ’n paar ander losiesplekke gevra was om weg te gaan omdat hy hom so aanstootlik gedra het.

Die forsgeboude Tsafendas, ses voet lank, oor die tweehonderd pond, met ’n blas gelaatskleur en kroeserige hare, het op 1 Augustus in die Parlementsgebou begin werk as tydelike bode. Hy was een van ’n 90-tal tydelike bodes wat, soos aan die begin van elke Parlementsitting, vir die duur daarvan in diens geneem was. Party manne word oor en oor so op tydelike grondslag in diens geneem; vir Tsafendas was dit die eerste keer.

Hy is aangewys as een van die bodes wat die persmanne in hul kantore op die eerste verdieping van die Parlementsgebou moes bedien. Soggens vroeg, voordat die koerantmanne opdaag, moet die bodes hul kantore en die persgalery uitvee en aan die kant maak. Later in die dag moet hulle koffie en tee en ook kos vir die manne aandra en ander werkies verrig.

Terwyl dr. Verwoerd op Stokkiesdraai ontspan het, het Tsafendas gebroei oor wat hy van die byeenkoms tussen die Eerste Minister en hoofman Jonathan verneem het. In sy verwarde denke het die ontmoeting ’n sinistere betekenis aangeneem.

Op Stokkiesdraai het dr. Verwoerd die Saterdagoggend na die rivier gestap en saam met mnr. Wolfaardt met die motorboot Boekanier na die landerye aan die Vrystaatse kant gegaan. Daar het mnr. Wolfaardt hom gewys hoe die hamermeul werk en het dr. Verwoerd hom uitgevra oor die siwwe wat hy gebruik.

In die loop van die oggend het ’n beampte van die vistelery by Marble Hall opgedaag met die eerste visse vir die visdam wat vroeër in die jaar aan die Vrystaatse kant van die rivier gesleep was. Die plan was om daar ’n hele vistelery te onderneem. Dr. Verwoerd het self gehelp om die eerste visse in die dam te plaas, en almal op die plaas het die “seremonie” bygewoon.

Net na die middagete het mnr. Arnie Levy, eienaar van ’n hotel op Vereeniging, daar aangekom met ’n nuwe motorboot waarin dr. Verwoerd belang gestel het. Nadat dr. Verwoerd ’n entjie met die boot gery het, het hy besluit om dit te koop en dit is sommer dadelik in die bootskuur getrek. Mnr. Levy en sy dogter wat hom vergesel het, is genooi om saam tee te drink en hulle is eers teen sesuur daar weg.

In die skemeraand het almal op die plaas ’n draai op die rivier gaan maak met die nuwe boot.

Die aand het dr. Verwoerd en sy persoonlike lyfwag, lt.-kol. Ben Buitendag, snoeker gespeel teen mnr. Wolfaardt en dr. Verwoerd se seun Christiaan, wat die oggend uit Pretoria oorgery het om hom by sy ouers te voeg en tot die Maandagoggend gebly het. Danksy ’n pragskoot van dr. Verwoerd het hy en kol. Buitendag die laaste pot met 63-57 gewen.

In Kaapstad het Tsafendas die Saterdag na die hawe gegaan om by die Eleni te gaan kla.

Die Eleni, ’n Griekse skip wat onder die Liberiese vlag gevaar het, het op 24 Julie op sleeptou in Tafelbaai aangekom nadat hy sy roer op die Atlantiese Oseaan verloor het. Hy het tot begin Septem­ber in die Kaapstadse hawe gelê om herstelwerk te ondergaan.

Tsafendas het met die matrose, wat hoofsaaklik Grieke was, kennis gemaak en ’n paar rand aan kommissie verdien deur hulle na ’n Griekse klerasiewinkel in Woodstock te bring.

Omstreeks 26 of 27 Augustus het hy aan lede van die Eleni se bemanning gesê dat hy ’n pistool of mes wil koop. Hy het aan hulle vertel dat hy ’n goeie betrekking by ’n hotel kan kry en so ’n wapen vir sy beskerming nodig het.

Ná die moord op dr. Verwoerd het hy egter aan die Van Wyk- kommissie gesê dat hy toe al daaraan gedink het om die Eerste Minister om die lewe te bring. Die gedagte het by hom opgekom ’n ruk nadat hy in die Parlementsgebou begin werk het, het hy gesê. Hy het dit eers oorweeg om dr. Verwoerd te skiet en het gereken dat hy van iemand op die Eleni ’n vuurwapen kan koop.

Die matrose, wat geoordeel het dat hy nie al sy varkies in die hok het nie, het besluit om hom beet te neem. Twee van hulle het ’n gaspistool, wat boonop defek was, aan hom verkoop vir 30 dollar. Die transaksie moes op of na 1 September plaasgevind het, want op dié dag het Tsafendas 80 dollars by ’n Kaapstadse bank gekoop.

Tsafendas het gou genoeg agtergekom dat die matrose hom gekul het, en het die Saterdag na die Eleni gegaan om ’n ander vuurwapen of, so nie, sy geld terug te eis. Die matrose het hulle nie aan hom gesteur nie en hy het na die kaptein gegaan, maar die man het ook geweier om hom met die saak te bemoei.

Onverrigtersake het Tsafendas uit die hawe teruggekeer, en dieselfde dag het die Eleni uit Tafelbaai vertrek.

Sondagoggend het op Stokkiesdraai ’n sterk wind gewaai en almal het die grootste deel van die dag binnenshuis gebly. In een stadium het dr. en mev. Verwoerd egter ingehaak deur die tuin gestap. “Dit is soos ons hulle geken het,” het mnr. Wolfaardt opgemerk. “Waar die een was, was die ander ook.”

Soos elke Sondag wanneer hulle op die plaas was, het hulle daardie oggend ook na die uitsaaidiens oor die radio geluister. Teen die middag het hul oudste dogter, Anna, met haar man, ds. Boshoff, en hul kinders uit Johannesburg aangekom. Hulle het die res van die dag daar gebly.

In Kaapstad het Tsafendas die Sondagaand ’n kerkdiens aan ’n pri­vate huis in Pinelands bygewoon. Mnr. James Johnston, leraar van die godsdienstige genootskap waartoe Tsafendas behoort het, het hom daar gesien. Hy het nie met hom gepraat nie, maar Tsafendas het heeltemal normaal gelyk, hoewel hy stil was en nie aan die besprekinge deelgeneem het nie.

Maandagoggend vroeg, so teen nege-uur, is dr. en mev. Verwoerd per motor van Stokkiesdraai weg Pretoria toe, nadat dr. Verwoerd nog vir oulaas ’n paar opdragte aan mnr. Wolfaardt gegee het, onder meer om ’n eendekamp by die dam te bou. Die gedagte het by hom ontstaan dat hulle met eende ook moet boer.

Sy laaste woorde aan die Wolfaardts was: “Ek sien julle teen die einde van die maand weer. Ons sal dan weer vir ’n naweek Stokkies­draai toe kom.”

In Pretoria het die vier kinders wat toe daar was - dr. Wilhelm Verwoerd, dr. Daan Verwoerd, mnr. (tans dr.) Christiaan Verwoerd en mnr. Wynand Verwoerd - die middag in Libertas, ampswoning van die Eerste Minister, by hulle geeet. Die twee getroudes - Wil­helm en Daan - se eggenotes en kinders was ook daarby.

In die namiddag het dr. en mev. Verwoerd, vergesel van hul seun Christiaan, na die huise van die twee getroude seuns in Pretoria- Noord en Waterkloof onderskeidelik uitgery, aangesien dr. Ver­woerd, in sy eie woorde, so lank laas by hulle aan huis was. Dit het lede van sy personeel opgeval dat hy die middag na albei kinders se huise gegaan het. Gewoonlik het hy en mev. Verwoerd hulle om die beurt besoek, en meestal het die kinders hul ouers in Libertas opgesoek.

Die aand het Christiaan en Wynand by hul ouers in Libertas ge­ëet. Christiaan is ná ete weg, terwyl Wynand agtergebly het om sekere sake met sy vader te bespreek.

In die naweek het dr. Verwoerd dus nog met al sy kinders verkeer, behalwe Hendrik, teologiese student op Stellenbosch, en Elsabet (mev. Du Bois), wat saam met haar man in Duitsland was.

in Kaapstad het Tsafendas daardie Maandagoggend op en af gestap voor Aldor Apartments. Teen skemer het mej. R. Popkiss, wat tydelik daar toesig gehou het, buitentoe gegaan om haar Siamese kat te soek en hom gesien.

“Ek is bekommerd,” het sy aan hom gesê. “Ek weet nie waar my kat is nie.”

Hy het nie aangebied om te help nie en net gesê: “Ek het ook kwellinge. Daar is iets wat my besig hou.” Hy het nie gesê wat dit is nie.

Daardie aand omstreeks 11-uur het een van die studente wat in Aldor Apartments ingewoon het, hom op die houtheining voor die gebou sien sit.

Die Dinsdagoggend vroeg is dr. en mev. Verwoerd per motor na die lughawe Waterkloof. Aan mnr. Willie Olivier, dr. Verwoerd se private sekretaris, en mej. Annatjie Boshoff, sekretaresse van mev. Verwoerd, het hulle baie te vertel gehad van die aangename naweek. Volgens mej. Boshoff het hulle “oorgeloop van vreugde”. Dr. Verwoerd het onder meer beduie hoe mooi die lusern op Stok­kiesdraai is, hoe gesond die skape lyk.

Nadat die vliegtuig opgestyg het, het mev. Verwoerd, soos sy altyd gedoen het, die oggendkoerante aan dr. Verwoerd gegee. Eers het hy gesê: “Nee dankie. Vanoggend het ek nie tyd vir die koerante nie; ek wil aan my toespraak werk” - die toespraak wat hy daardie middag in die Volksraad sou hou. Maar toe het hy hom bedink. “Of ja, gee maar,” het hy gesê. Hy het die koerante vlugtig deurgekyk, hulle toe opsygesit, sy tas oopgemaak en begin werk.

In een stadium het hy ’n rukkie in die gangetjie tussen die sitplekke gestaan en deur die venster na buite en benede gekyk.

Mej. Boshoff het opgekyk en hom so sien staan, en die gedagte het by haar opgekom: “Hoe gelukkig lyk Doktor nie vandag nie!”

Sy kan nie verklaar wat haar so laat dink het nie. Hy het nie geglimlag nie, maar daar was so ’n stil, vredige uitdrukking op sy gesig.

Tsafendas het ook die oggend vroeg opgestaan. Sy werkdag by die Parlement het om kwart voor agt begin, maar daardie oggend het hy om kwart voor sewe al daar opgedaag, omtrent dieselfde tyd dat dr. en mev. Verwoerd op die lughawe Waterkloof aangekom het.

Soos hy later self vertel het, is hy spesiaal vroeg werk toe, sodat hy met sy werk voor kon raak en later kon uitglip om messe te gaan koop waarmee hy dr. Verwoerd om die lewe kon bring.

Soos die ander bodes het hy die oggend by sy aankoms ’n kakie-oorjas oor sy gewone klere aangetrek voordat hy met die skoonmaakwerk begin het.

Skuins voor nege-uur het hy die oorjas uitgetrek en, in sy grys pak klere gekleed, ongemerk padgegee. Hy het na die winkel van Wm. Rawbone en Kie op die hoek van Lang- en Kasteelstraat, gestap. Dit was nog toe en hy het daarbuite rondgedrentel. Net nadat die winkel om nege-uur oopgemaak is, het hy binnegestap en ’n skede-mes wat in ’n toonkas gelê het, gekoop. Dit het ’n lem van ses duim gehad.

Enkele minute later het hy by City Guns (Edms.) Bpk., in Houtstraat aangekom en verneem na die prys van soortgelyke messe wat hy in die toonvenster gesien het. Twee messe is aan hom getoon. Hy het een uit die skede getrek en gevra waarom dit so stram is. Aan hom is verduidelik dat dit ’n veer het wat verhoed dat dit uitglip.

Hy het die mes, wat ook ’n lem van ses duim gehad het, in die skede teruggeplaas en dit by sy broek ingesteek, sodat net die bo-stuk van die leerskede uitgesteek het. Toe het hy die mes uitgetrek en gevra wat dit kos. Hy het dit ook gekoop.

Hy het later verduidelik dat hy die twee messe gekoop het om seker te maak dat hy sy plan sal kan uitvoer. “Dit het by my opgekom dat iets verkeerd kan loop en dat die een wapen van my afgevat kan word.”

Terwyl hy in die tweede winkel op kleingeld gewag het, het ’n advertensie waarop ’n sekere soort pistool afgebeeld was sy aandag getrek. Hy het gevra of hy ’n lisensie moet hê om so ’n pistool te koop. Die verkoopsman het bevestigend geantwoord en Tsafendas het die saak daar gelaat.

Hy het toe al goed genoeg geweet dat hy in Suid-Afrika geen vuurwapen sonder ’n lisensie kan koop nie. Dit het hy agtergekom toe hy vroeër in Durban ’n vuurwapen wou koop. Dit is trouens waarom hy ’n pistool by die Eleni se matrose in die hande probeer kry het. Hulle kon dit sonder lisensie aan hom verskaf.

Wat sou hom op die oggend van 6 September beweeg het om te vra of hy ’n lisensie vir daardie pistool nodig het? Sou hy dalk gehoop het dat die man hier voor hom bereid sou wees om die wet te oortree?

Daarvan het niks gekom nie - maar onbewus het die twee manne wat die messe aan hom verkoop het reeds ’n oortreding begaan, soos later in die verslag van die Van Wyk-kommissie aangetoon is. Volgens Wet 54 van 1949 is ’n mes met ’n lem van meer as 3 duim ’n “gevaarlike wapen”, en iemand wat dit verkoop, is aan ’n misdryf skuldig tensy hy kan bewys dat hy grondige rede gehad het om te glo dat die persoon wat dit koop dit vir ’n regmatige doel nodig het. Die twee verkopers het albei gesê dat hulle nie van die bepaling bewus was nie.

Met die twee messe in papier toegedraai, het Tsafendas na die Parlementsgebou teruggekeer - terwyl dr. Verwoerd se vliegtuig die lughawe Ysterplaat genader het.

In die Parlementsgebou het Tsafendas die messe uit die skedes gehaal en in ’n kabinet in die bodes se kleedkamer toegesluit. Daarna het hy sy bode-uniform aangetrek: vlootblou met ’n groen koord omboor. Destyds het alle Volksraadsbodes so ’n uniform gedra, sowel dié wat in die Raadsaal diens gedoen het as dié wat, soos Tsa­fendas, in ander dele van die gebou gewerk het. Vandag dra die bodes wat in die Raadsaal self werk ’n onderskeidende uniform: ’n kort groen baadjie met goudkleurige omboorsel.

Die skede van die een mes het hy aan die lyfband onder sy baadjie geheg, die ander skede aan ’n dun tou wat hy onder sy klere om sy lyf vasgemaak het. Maar die messe het in die kabinet gebly.

Met sy uniform aan het hy sy bodewerk voortgesit. Van die persmanne het begin opdaag en hom gevra om vir hulle tee te bring.

Een van die manne was mnr. Gerald Shaw van die Cape Times. “Ek het hom betaal toe hy die tee gebring het,” het mnr. Shaw later vertel, “en hy het vir my kleingeld uitgekeer. Tien minute later het hy weer aangekom met ’n hele handvol note as kleingeld. Ek het hom daarop gewys dat hy reeds my kleingeld gegee het, en hy is daar weg. Dit het gelyk of hy ’n bietjie verward is.”

Tsafendas het meer as eens ’n bietjie verward gelyk toe hy daar was. Dit het party persmanne getref dat hy nie soos die ander bodes is aan wie hulle gewoond was nie. Sy Afrikaans was swak, sy Engels het hom soms ook in die steek gelaat, hoewel hy dit oor die algemeen vlot gepraat het. Hy het dikwels lomp en onbeholpe gelyk, asof hy die skinkborde waarop hy kos en drank aangedra het nie behoorlik kon hanteer nie.

Daardie oggend het Tsafendas, wanneer hy nie besig was om van die persmanne te bedien nie, die Bybel gesit en lees, wat hy vantevore ook dikwels gedoen het. Hy het die oggend lank oor ’n sekere teks gesit en peins en gevra of daar nie iemand is wat dit vir hom kan verduidelik nie. Agterna is geprobeer om vas te stel watter teks dit was, maar dit het nie geluk nie.

Om 10.10 het dr. Verwoerd se vliegtuig op Ysterplaat geland, waar sy ampsmotor, TP 1000, op hom gewag het. Met mev. Verwoerd by hom in die motor het hy dadelik na die Parlementsgebou gery, waar hy om 10.30 moes wees vir die weeklikse koukusvergadering van die Nasionale Party. Van die Parlementsgebou is die motor met mev. Verwoerd na Groote Schuur, nadat dr. Verwoerd aan haar gesê het dat hy die middag graag vroeër as gewoonlik wil eet, sodat hy ’n bietjie kan rus voordat hy na die Volksraad gaan. Dit was sy vaste gebruik om voor so ’n groot geleentheid te ontspan as hy enigsins kon.

Die koukusvergadering was ’n heuglike geleentheid. Leier sowel as volgelinge het gevoel dat hulle in die begin van ’n nuwe tydperk met nuwe geleenthede staan, waarin dinge wat in die verlede ondenkbaar gelyk het, moontlik sou word; en die optrede van dr. Ver­woerd het by sy mense die indruk versterk dat die middag ’n keerpunt kan bring.

Dr. Verwoerd het van die geleentheid wat die koukusvergadering gebied het, gebruik gemaak om vir oulaas ’n paar woorde oor die debat wat die middag in die Volksraad sou begin, te wissel met dr. Paul van der Merwe, Suidwes-sweep van die Nasionale Party, aan wie dit opgedra was om die debat te reël. Hulle het die vorige week al daaroor begin gesels. Dr. Verwoerd het dr. Van der Merwe die oggend gevra om by die swepe van die Verenigde Party vas te stel in watter stadium sir De Villiers Graaff, leier van die Verenigde Party, tot die debat sou toetree. Dr. Van der Merwe het mnr. Jack Higgerty, hoofsweep van die Verenigde Party, gaan spreek en uit sy woorde afgelei dat sir De Villiers nie dadelik sou praat nie.

Kort voor 12-uur het dr. Verwoerd die koukuskamer, op die vierde verdieping van die Parlementsgebou, verlaat. Hy het saam met min. Jan de Klerk in die hysbak beland en opgewek met hom begin gesels. Al geselsende het hulle uit die hysbak na dr. Verwoerd se kantoor in die Parlementsgebou gestap.

Daar het hulle nog ’n ruk lank gestaan en gesels. Dr. Verwoerd het baie te sê gehad. Omstreeks 12.15 het min. De Klerk op sy horlosie gekyk. “My aarde,” het hy aan die Eerste Minister gesê, “dis al kwart oor twaalf. Jy sal seker nog jou snare ’n bietjie wil gaan stem vir vanmiddag se debat.” En hy is toe daar weg.

Dr. Verwoerd het nog ’n rukkie in sy kantoor vertoef. Vir eers het daar ’n paar briewe gelê wat hy moes onderteken. Die oggend het hy sy private sekretaris dit op die hart gedruk dat hy die briewe vir ondertekening gereed moes hê. Dit het mnr. Olivier opgeval dat hy so buitengewoon gesteld daarop was dat die briewe so gou afgehandel moes word.

Nadat min. De Klerk daar weg is, het hy ook nog twee of drie briewe gedikteer, almal kortes, wat op die daad getik en deur hom onderteken is.

Omstreeks half-een is dr. Verwoerd van die Parlementsgebou weg na Groote Schuur, waar die middagete op hom gewag het.

Daar was vrugte op tafel waarvan dr. en mev. Verwoerd besonder baie gehou het, maar omdat hy klaarblyklik haastig was, het sy aan die hand gedoen dat hulle die vrugte maar tot die aand moet los. “Dan kan jy ’n bietjie langer rus,” het sy aan hom gesê.

Sy het, soos haar gebruik was, saam met hom gaan rus. ’n Lid van Groote Schuur se personeel sou teen vyf voor twee na die slaapkamer opbel om te waarsku dat dit tyd is om op te staan.

Anders as gewoonlik kon dr. Verwoerd die middag nie dadelik aan die slaap raak nie. ’n Paar maal het hy mev. Verwoerd gevra hoe laat dit is, maar eindelik het hy ingesluimer en vas geslaap - so vas dat hy die telefoon nie hoor lui het nie.

In die Parlementsgebou het Tsafendas net voor twaalfuur ’n ander bode genader met die versoek dat hulle etensure moet ruil. Volgens die bestaande reëling het Tsafendas die uur tussen twaalfuur en eenuur vry gekry en hy wou die middag tussen 1 nm. en 2 nm. vry hê. Hy het verduidelik dat hy iets het om te doen.

Die ander bode was egter nie gewillig om te ruil nie, en Tsafendas het gesê dat hy dan maar tussen twaalfuur en eenuur ’n bietjie in die Kompanjiestuin, teenoor die Parlementsgebou, sou gaan rondstap.

Omstreeks eenuur het hy teruggekeer. Hy het onrustig rondgestap en toe ’n ander bode hom vra wat makeer, het hy gesê iemand kan hom dalk opbel.

Kort voor twee-uur het iemand ’n half-geete bord kos na die bode-kamer gebring. Dit moes teruggebring word na die kafeteria, waar die persmanne se kos gehaal word as hulle sommer tydens die werk in hul kantore wil eet. Tsafendas het een van die ander bodes gevra om dit terug te bring. “Ek het iets anders om te doen,” het hy gesê, en met dié is hy haastig daar weg.

Dit moes omtrent toe gewees het dat mev. Verwoerd in Groote Schuur haar man wakker gemaak het nadat die telefoon by die bed gelui het. Binne ’n paar minute was hy gereed om te vertrek.

Net na twee-uur is hy en mev. Verwoerd van Groote Schuur weg na hy nog eers, soos elke dag, ’n paar suikerklontjies aan sy bulhond, Punch, gegee het. Die suikerklontjies het altyd in die voorportaal gereed gelê, en net dr. Verwoerd mag daarvan aan Punch gegee het, sodat “hy kan weet wie sy baas is”.

Hul motor is deur ’n adjudant-onderoffisier van die polisiemag bestuur. Agter TP 1000 het ’n ander motor gevolg, deur ’n sersant bestuur, met kol. Buitendag daarin.

Omstreeks 2.12 het TP 1000 in Parlementstraat by die Eerste Minister se ingang stilgehou. Dit is ’n klein poortjie in ’n hoë muur, ’n ent aan die berg se kant van die hoofingang na die Volksraad se deel van die Parlementsgebou. Daarbinne het die Volksraad se klokkies, wat om 2.10 aangeskakel was, reeds gelui.

Toe het Tsafendas al in die Wandelgang gestaan en wag. Nadat hy uit die bodekamer weg is, het hy die messe uit die kas waarin hy hulle toegesluit het, gaan haal en in die skedes onder sy klere gesteek. Daarop het hy na die kantoor van die hoofbode gegaan, wat net regs van die Volksraadsaal geleë is, met ’n deur wat op die Wandelgang uitgaan. As persbode is hy soms na die kantoor gestuur om daar vir die persmanne koerante te gaan haal.

Toe hy die middag daar aankom, was daar ’n ander tydelike bode, wat aangeneem het dat hy maar weer net koerante kom haal het. Hy het aan hom gesê dat die koerante nog nie gekom het nie.

Tsafendas het die kantoor verlaat en by die posbus in die Wandel­gang, net buite die deur van die kantoor, gaan staan. Die ander bode het dit nie opgemerk nie, want nadat Tsafendas weg is, het ’n Volksraadslid hom iets kom vra en daarna het die telefoon gelui. Hy het net klaar oor die telefoon gepraat toe hy ’n geraas hoor, en daarna het iemand die kantoor binnegestorm en gesê hy moet ’n ambulans laat kom...

Die Volksraadslid wat die middag in die kantoor van die hoofbode was, is mnr. Jack Wainwright van Oos-Londen-Noord. Hy het daarheen gestap net nadat die klokkies om 2.10 begin lui het. “Toe ek verby die posbus stap,” het hy later vertel, “sien ek ’n bode daar staan. Dit het later geblyk dat dit Tsafendas was. Hy het sy hande agter die rug gehad en gestaar in die rigting waarvandaan dr. Ver­woerd later sou kom. Dit het by my opgekom dat ek die bode nog nie vantevore gesien het nie. Toe ek na ’n minuut of wat uit die kantoor kom, het hy nog daar gestaan.”

Van waar Tsafendas gestaan het tot by die hoof ingang na die Volksraadsaal is dit omtrent 40 voet.

Toe TP 1000 in Parlementstraat stilhou, het twee speurders daar gestaan en wag. Vergesel van hulle en kol. Buitendag het dr. Ver­woerd by die poortjie ingestap en oor ’n ingeslote vierkant tot by ’n deur vlak by die kantoor van die Eerste Minister. Mev. Verwoerd het, soos haar gebruik was, tydsaam gevolg en reguit na die trap gestap wat na die besoekersgalerye en -loges op die eerste verdieping lei.

Op die treetjies na die deur het dr. Verwoerd ’n oomblik stilgestaan en onder die takke van die bome in die vierkant deur gekyk na Tafelberg, waaroor die wolke op die dag gerol het. “Nou waai die Suidoos soos ons wil hê dat hy moet waai,” het hy aan kol. Buitendag gesê. “Dit beteken reën vir die binneland.” Miskien het sy gedagte op daardie oomblik ook nog na Stokkiesdraai, daar ver in die binneland, teruggeflits.

Dr. Verwoerd het ’n haastige draai by sy kantoor gemaak, waar hy sy hoed aan ’n kapstok opgehang en sy bril uit die brilhuisie gehaal het, wat hy daar laat agterbly het. Dit was ’n nuwe bril wat hy kort tevore gekry het, en die raam het in die huisie vasgehaak - baie soos die mes wat Tsafendas die oggend gekoop het, in die skede vasgehaak het.

Dr. Verwoerd het altyd ’n bril in ’n huisie in die bosak van sy baadjie gedra. As hy iets wou lees, het hy dit sommer uit die huisie getrek sonder om nog eers die huisie uit sy sak te haal. Maar uit die huisie sou hy dit nie so maklik kan trek nie, daarom het hy die bril los in sy sak gesit en die huisie in sy kantoor laat lê.

Waarvoor hy die bril die middag ook al nodig sou gekry het, dit sou nie gewees het om aantekeninge te raadpleeg nie, want hy het geen aantekeninge by hom gehad nie. Hy het feitlik altyd sonder aantekeninge gepraat en slegs by wyse van hoë uitsondering iets in die hand geneem.

As dosent op Stellenbosch het hy hom reeds daardeur onderskei. ’n Jaar ná sy aanstelling as professor is hy gevra om by die jaarlikse openingsplegtigheid van die universiteit die rede te voer, hoewel hy as man van nog geen dertig nie een van die jongstes was. Sulke redes het die vorm aangeneem van geleerde referate, wat gewoonlik woord vir woord voorgelees is, maar die jong prof. Ver­woerd het ’n uur of meer uit die vuis gepraat.

In die Parlement het dit ook so gegaan, selfs wanneer hy lang beleidstoesprake gehou het. In die kort sitting in die begin van 1966 het hy nog ’n lang verklaring oor die netelige Rhodesiese vraagstuk gedoen. Ter wille van die diplomate wat spesiaal daarvoor na die Parlement gekom het, het hy Engels gepraat, met slegs enkele aantekeninge in die hand. Na aanleiding daarvan het die bekende Afrikaanse joernalis Schalk Pienaar nog geskryf: “Hoe tweetalig ’n mens ook al mag wees, jy stel hoë eise aan jouself wanneer jy in sulke omstandighede oor so ’n onderwerp ’n beleidsverklaring in jou tweede taal doen met niks meer as enkele aantekeninge in jou hand nie . . . Dr. Verwoerd was briljant. In sulke omstandighede is hy dit eintlik altyd. Maar ek het altyd ’n sekere huiwering wan­neer ek ons Eerste Minister so half uit die vuis uit sulke verklarings hoor doen.”

Daardie Dinsdagmiddag sou dr. Verwoerd sy bril slegs gebruik het as hy iets moes voorgelees het - soos miskien die verklaring wat hy en hoofman Jonathan die vorige Vrydag opgestel het.

Mnr. Koos Potgieter, hoofsweep van die Nasionale Party, het by die kantoor op dr. Verwoerd gestaan en wag. Kort tevore het mnr. Jack Higgerty, hoofsweep van die Verenigde Party, hom gevra of dr. Verwoerd die middag dadelik sou praat as sy begrotingspos aan die orde gestel word, en hy het die vraag oorgedra.

“Nee,” het dr. Verwoerd geantwoord, “laat Graaff eerste praat, en as hy nog meer wil praat nadat sy tyd om is, staan jy op en gee hom ’n tweede kans.”

Mnr. Potgieter het sommer ook die geleentheid gebruik om dr. Verwoerd met sy verjaardag oor twee dae geluk te wens, aangesien hy die aand na Transvaal sou vertrek en dus nie die Donderdag in Kaapstad sou wees om dr. Verwoerd geluk te wens nie.

Met die oog daarop dat mnr. Potgieter nie die hele debat, wat twee of drie dae sou duur, sou kon bywoon nie, het dr. Verwoerd aan hom die versekering gegee dat hy sy “belangrikste verklaring” die middag reeds sou doen. Daarmee, aldus mnr. Potgieter, het hy bedoel sy verklaring oor die ontmoeting met hoofman Jonathan en sake wat daaruit voortspruit. Aan mnr. Potgieter het hy ook te kenne gegee dat hy na aanleiding van die Wêreldhof se uitspraak oor die Suidwes-vraagstuk en oor die politieke posisie van die Kleurlinge sou praat.

Toe hul kort gesprek beëindig was, het hy aan mnr. Potgieter gesê: “Pottie, stap saam met my.”

Gevolg deur dr. Verwoerd se private sekretaris en kol. Buitendag het hulle in die rigting van die Wandelgang gestap. In die loop het mnr. Potgieter aan hom gesê: “Doktor, daar is geweldige belangstelling. Die galerye is stampvol.”

Die Wandelgang is ’n ruime voorportaal, 25 voet breed, wat oor die volle breedte van die Volksraadsaal strek, met ’n verlenging na die eet- en koffiekamer. Voor die hoofingang na die Volksraadsaal staan ’n hoë ornamentele houtskerm, tien voet breed, sodat iemand wat in die Wandelgang staan, nie in die Raadsaal kan inkyk nie. Wie die Raadsaal binnegaan, moet van regs of links agter die skerm instap om by die deur te kom.

Soos ’n mens met die gesig na die skerm staan, het Tsafendas regs daarvan by die posbus gestaan. Dr. Verwoerd-hulle het van die linkerkant gekom.

In die Wandelgang het mnr. Peet Pelser, destyds Adjunk-speaker, hom by hulle gevoeg. Mnr. Willie Olivier het weggedraai om na die amptenarebank, skuins agter die Speaker se stoel, te gaan. Kol. Buitendag het tot by die skerm voor die hoofingang saamgestap en daarvandaan by die trap op na sy plek in die agterste ry van die galery teenoor die Speaker se Stoel.

Soos by alle groot Parlementêre geleenthede was daar dié dag ook ’n gedrang in die Wandelgang - van lede op pad na die Raad­saal en gaste wat uit die eetkamer gekom het om na die galery te gaan. Ongemerk het Tsafendas tussen die mense deur van die posbus na die hoofingang van die Raadsaal gestap. Mnr. Bill Holland (Kleurlingverteenwoordiger), wat omtrent drie tree van die ingang met mnr. Myburgh Streicher, die lid vir Newton Park, gestaan en gesels het, met sy gesig in die teenoorgestelde rigting, het Tsafendas by hulle verby sien beweeg.

Kol. Buitendag het op die horlosie gekyk toe hy van dr. Verwoerd weg is. Dit was presies 2.14 nm.


Opsoek na inligting?

  • BYBEL 1933/53-druk nou gratis

    Gelofteland is dankbaar om aan al ons lesers die 1933/53-uitgawe van die Bybel gratis te voorsien. Al wat u hoef te doen is om 'n e-pos na

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    te stuur met die versoek om die Bybel te ontvang, en ons sal dit aan u stuur.

    __________________

     

    ONS IS OPSOEK NA ‘N UITGEWER

    VIR DIE BOEK “VOLKSREGERING” (teen normale tarief)

    Die inhoud is ‘n beskrywing van die enigste regverdige politieke bedeling vir enige  volk, hetsy klein in getalle of groot.

    Apartheid behels regverdige behandeling. Uiteraard is apartheid ingeweef in elke volk se onafhanklikheid. Dit bevat geen rassemeerder-waardigheid soos kwaad- williges voorgee nie. Ook nie onderdrukking van enigeen nie. Dit is juis erkenning van elke volk se regte en die skepping van ruimte om daardie regte te beoefen en ongehinderd uit te leef. Daar is geen rassehaat aan apartheid te koppel nie. Diegene wat rassisme aanhaal, bedoel rassehaat en probeer oproer bewerkstellig en moet ophou om vrede te probeer voorhou. Wie is verantwoordelik vir die geweld en opstand wat tans landwyd voorkom?  Geen ondersteuner van apartheid nie.

    Bostaande is 'n kort opsomming waarin die omvang en volle betekenis van apartheid beskryf is. Indien daar 'n uitgewer is wat in die uitgee van die boek belangstel, kan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. genader word.

    _____________________

     

     Laserskywe in stelle van 10 te koop

    VRYHEIDSBEDIENING

    Ds. Andre van den Berg werk sedert November 1990 weekliks met volksgenote in die gevangenis in Pretoria-Sentraal. Hy bied ʼn reeks laserskywe teen R200 (posgeld uitgesluit) per stel van 10 aan. Die opbrengs van hierdie verkope gaan vir Gevangenisbediening.

    Dit handel oor aktuele onderwerpe soos:

    1. Die lewe hiernamaals.
    2. Word verantwoordelik oud.
    3. Die pad na die ewigheid.
    4. Bied beproewing die hoof.
    5. Raad vir tieners.
    6. Gelowige kinderopvoeding.
    7. Oorwin depressie.
    8. Kikker jou huwelik op .
    9. Alle mense is nie gelyk nie.
    10. Homoseksualisme - ʼn gruwel vir God.

    Bestel by:

    E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Sel: 074 967 5187

    Bankbesonderhede:

    ABSA

    VRYHEIDSBEDIENING

    9062088855

    _______________

     

     

    VAKATURE: HOOFBESTUURDER - RADIO ROSESTAD

    Stuur u aansoek saam met ’n CV waarin u ‘n persoonlike bekendstelling, werkservaring en tersaaklike kwalifikasies insluit, voor 15 September 2018 aan ds. CM Erasmus by die e-pos adres: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Vir meer inligting:

    VAKATURE: HOOFBESTUURDER - RADIO ROSESTAD

    ___________

     

    Skryf in vir die gratis e-blad OORSIG EN REPLIEK

    'n Blad wat dmv verduidelikende agtergrond by die kern van ons volk se
    stryd uitkom.

    Kontak die redakteur by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Lees ons gereelde uittreksels daaruit hier op Gelofteland by OORSIG EN REPLIEK

    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________ 
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.

    Hierdie boek uit die pen van ds AE van den Berg, het in gedrukte vorm verskyn.  Dit bring helder perspektief oor rasseverskille en natuurlike skeiding wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte wat landsburgers van geestelike denke sal laat verander en van onregte en gewaande vryheid sal bevry.

    Sinvolle besluite in die lig van God se Woord, en onophoudelik gebed dat bevryding spoedig verwesenlik word, is noodsaaklik. Politiek is erns en harde werk wat wet en orde handhaaf en durf nie in eerlose hande gelaat te word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel.

    U kan hierdie boek bestel by ds A E van den Berg

    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com

    Prys: R50-00

     
  •                                                                        ______________

     

    BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    'n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD

    _______________

    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

                                                                           ________________

     

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    of skakel hom by 074 967 5187

    ________________

    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    _________________

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  •  

    DIE CHARISMATIESE GEVAAR
    Mense word so maklik deur dwaalleringe mislei. In hierdie boek word talle kwelvrae beantwoord.

VERGADERING-

PROSEDURES

(GRATIS)

Daar is min mense wat nog die waarde van 'n ordelike byeenkoms bedink en kan uitvoer. Sonder hierdie kennis en orde en gedissiplineerde toepassing daarvan sal 'n byeenkoms in wanorde verval en die doel van die vergadering nie bereik word nie. Die boekie kom handig te pas in alle omstandighede waar 'n vergadering van persone plaasvind, ongeag die sakelys of doel van die byeenkoms.

Klik hier om die boekie wat u op hoogte kan bring van korrekte vergaderingprosedures, gratis af te laai. Indien u van Windows 10 gebruik maak sal die inhoud outomaties onder die lêer "Downloads" geberg word en kan dit daar gehaal en gebêre word waar ookal dit maklik gevind kan word.

 
 

1919: VRYHEIDSDEPUTASIE KEER TERUG

1800: GRAAFF- REINETSE REBELLE GEVONNIS

1917: OOM JAPIE HELPMEKAAR

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

                                                                         __________________

 

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES

(Lees by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

                                                                         __________________ 

 

APARTHEID:

 

Rassisme is die teenoorgestelde van rassehaat en is 'n aanprysing omdat rassisme dui op kennis van rasse en die uitstekende voordele van onderskeiding uitbeeld. Dit sluit in die voordele van apartheid se onderskeiding.

 

                                              ___________________                                                  

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 1203 gaste aanlyn