NUUTSTE BYDRAES

Gedagtes vir elke dag

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Ware skoonheid sal jy eers kan raaksien wanneer dit reeds in jou hart is...

DR VERWOERD BEGRAWE 10 SEPTEMBER 1966

DIE BEGRAFNIS

Op Saterdag, 10 September, het ’n groot stilte oor Suid-Afrika toegesak. Alleen die radio-uitsending van die plegtigheid in Pretoria het dit verbreek.

Soos op ’n dorp die hele dorpsbeeld deur die begrafnis van ’n vooraanstaande inwoner oorheers word, so het die hele Suid-Afrika daardie Saterdagmiddag tot stilstand gekom terwyl in Pretoria om en by ’n kwart miljoen mense in eie persoon die laaste eer aan die ontslape Eerste Minister bewys het.

Ook letterlik tot stilstand op party plekke. In Kaapstad en op die omliggende Bolandse dorpe, in Port Elizabeth en Uitenhage het alle busse, waar hulle ook al was, om 2.15 stilgehou en twee minute lank stilgestaan terwyl die bemannings uitgeklim en langs die busse gestaan het.

Dit was die tyd toe die stoflike oorskot van dr. Verwoerd by die Uniegebou aangekom het.

Kaapstad was daardie middag ’n verlate stad. Nie net die middestad waar bioskope, kafees, en dergelike meer gesluit was nie, maar ook die buitewyke. Ook die sportvelde en die strande waarheen die sonnige lenteweer op ’n ander dag ’n menigte mense sou gelok het.

Die mense was binnenshuis, waar hulle na die radio geluister het.

In Port Elizabeth het die stadsgewoel die oggend al begin bedaar. Winkels en kantore is om 11.30 reeds gesluit, en selfs voor die tyd was daar nie die gebruiklike naweek-gedrang in die winkels nie.

Oos-Londen het ook ’n verlate stad geword, en in Durban het alle sakebedrywighede, vermaaklikhede en sport in die loop van die oggend geleidelik afgeneem, totdat die stad na die middaguur ook in stilte gehul was.

Soos in die kusstede, so het die stilte ook in die binneland neergedaal, op klein dorpies, in groot stede.

Net in Pretoria was daar die gedempte gewoel van tienduisende wat uit die stad en die nabye omgewing, maar ook uit verre oorde, opgekom het om deur hul aanwesigheid eer te bewys aan die man wat daar ter ruste gelê sou word.

Een van die treffendste van die dienste het die Vrydag op ’n kaai in die Kaapstadse hawe plaasgevind. Meer as vierhonderd mense van baie nasies, rasse en gelowe het daar byeengekom. Hulle het op kabels gesit, teen vasmeerblokke geleun en later met ontblote hoof gestaan, met Tafelberg en die see en die skepe op die agtergrond. Mans het sakdoeke uitgehaal en trane afgevee terwyl ’n Bantoe, ’n Kleurling, ’n Maleier en twee blankes hulde gebring het.

Maar Saterdag het Pretoria die middelpunt van die volk se roubetoon geword, soos dit iets meer as drie maande tevore, ten tyde van die Republiekfees, die middelpunt van sy vreugdebetoon was. Baie het nog daaraan herinner: ronde skywe met die letter R en die syfer 5 daarop aan pale langs die strate, ligboë oor die strate heen en die vier groot boë by die vier ingange tot die Kerkplein, waarvan elkeen ’n provinsie voorgestel het.

Maar die Saterdag was hulle in lanfer gehul. Alle sake-ondernemings in die middestad het foto’s van dr. Verwoerd in hul vensters vertoon - party groot met deftige blomrangskikkings daarnaas, andere klein en beskeie.

Saterdagoggend vroeg het mense al begin stelling inneem by die Uniegebou aan die een uiteinde, die begraafplaas aan die ander en, tussen die twee, aan weerskante van die lang roete waarlangs die begrafnisstoet van die een na die ander sou beweeg.

Onder hulle was mense wat van ver gekom het. Daar was studente van die Universiteit van Stellenbosch wat per bus gekom het; daar was ’n groep Kleurlinge uit Bonteheuwel wat Vrydagmiddag eers uit Kaapstad kon wegkom en deur die nag moes ry om betyds te wees.

Hulle het hulle in Pretoria by ’n menigte ander nie-blankes gevoeg: Bantoes, Indiërs en Kleurlinge. Hele blokke langs Kerkstraat is vir hulle gereserveer.

En daar was ook die vierhonderd Parlementslede, diplomate en hoogwaardigheidsbekleërs wat Saterdagoggend met vyf spesiale vliegtuie uit Kaapstad vertrek het - waarskynlik die eerste keer dat feitlik al die Parlementslede van ’n land op ’n slag per vliegtuig van een plek na ’n ander vervoer is.

Teen twee-uur was daar tienduisend mense in die amfiteater van die Uniegebou. By die ingang tot die amfiteater was ’n oordekte verhoog wat as preekstoel sou dien. Aan weerskante was sitplekke, eweneens oordek, vir die familie en hooggeplaastes.

Voor die preekstoel, aan die gebou se kant, het ’n lae verhoog gestaan waarop die kis geplaas is. Daaragter het ander uitgenodigdes gesit, onder wie Bantoe-, Kleurling- en Indiërleiers, en nog verder agtertoe het lede van die publiek gesit en gestaan.

Op die balkon wat al om die amfiteater loop, was plek ingeruim vir tientalle verslaggewers en fotograwe, van wie baie buitelandse koerante en ander ondernemings verteenwoordig het.

Die suile langs die balkon was in swart en purper gehul, met swart behangsels teen die mure tussenin.

Oor die luidsprekers in die amfiteater en elders langs die roete wat die stoet sou volg, het gewyde musiek gekom, wat om 1.15 nm. deur die uitsending van die S.A.U.K. se nasionale nuusbulletin (in Afrikaans), gevolg deur die streeknuus vir Transvaal, onderbreek is.

Daarna het die stilte aangegroei.

Teen twee-uur het die musiek oor die luidsprekers al hoe sagter geword. Kort na twee-uur het mev. Verwoerd en haar kinders hul verskyning in die amfiteater gemaak. Die aanwesiges het opgestaan en bly staan. Net daarna het die wegsterwende geluid van motorfiets-sirenes onaards in die toenemende stilte opgeklink. Hulle het die koms van die Presidentspaar aangekondig, wat kort na mev. Verwoerd die amfiteater betree het.

Die elegiese musiek oor die luidsprekers het heeltemal verstom, en oor die amfiteater het ’n voelbare stilte neergedaal, wat deur die radio oor die hele land uitgedra is. Onder in die stad het ’n motorfiets vinnig weggetrek, en die brullende geluid uit die verte het die stilte in die amfiteater nog merkbaarder laat word.

Dit was of almal met ingehoue asem gestaan en wag het. En voor tienduisende radiostelle oor die hele land heen het honderdduisende gesit en wag - of gestaan.

En toe kom dit skielik: ’n harde militêre bevel, voete wat soos een groot voet op die grond neerstamp soos die erewag by die treetjies wat steil na die amfiteater lei, die geweer presenteer. Dit was die Nasionale Saluut. Die lykwa het aangekom.

Die orkes van die Lugmag het die Volkslied gespeel - die eerste van drie kere dat dit die middag deur verskillende orkeste gespeel is. Die tweede keer was dit op die Kerkplein deur die Vlootorkes, die derde keer by die begraafplaas deur die orkes van die Leer. Die Polisie-orkes het by die diens in die amfiteater en in die begraafplaas opgetree.

In die amfiteater, oor die hele stad heen, oor die hele land heen het mense op aandag gestaan terwyl Die Stem gespeel word. Niemand het daaraan gedink om saam te sing, soos mense meermale doen wanneer die Volkslied gespeel word nie, maar meer as een moes die woorde saamgedink het, want toe die orkes by die einde kom, by die woorde “Ons sal lewe, ons sal sterwe” - toe het meer as een se gemoed sigbaar volgeskiet.

Daardie woorde, wat so dikwels so onnadenkend gesing word, het skielik ’n skerpe, onmiddellik sprekende betekenis gekry: “Ons sal sterwe.”

Maar daar was nie so baie trane as wat verwag kon word nie. Nie toe nie en ook nie later in die lang namiddag nie. Nie daar nie en ook nie elders nie.

Daarin het mev. Verwoerd en haar kinders die voorbeeld gestel. Ofskoon die smart soms duidelik op haar gesig te lees was, was sy deurgaans die toonbeeld van dapperheid en ingetoënheid. Mede deur haar toedoen en die van die ander naasbestaandes het die uitvaart van dr. Verwoerd ’n sobere, waardige geleentheid geword - indrukwekkend enersyds vanweë die vernaamheid van ’n goed ge-organiseerde en knap uitgevoerde staatsgeleentheid, maar andersyds ook vanweë die afwesigheid van oordrywing, wat teen die einde deur die innige en onopgesmukte woorde van ds. C. W. H. Boshoff by die graf beklemtoon is.

Nadat die Volkslied gespeel was, het agt militêre draers - vier veggeneraals, twee brigadiers, twee kommandeurs - met die kis in die amfiteater verskyn. Versigtig het hulle dit neergeplaas op die lae katafalk, wat in swart en purper gehul was.

Daarop het almal gaan sit en het die orkes begin met die voorspel “Jesus, Vreugd’ van Ons Verlange” van Bach.

Dit het ’n verlossing geword toe ds. J. H. Louw van die N.G. gemeente Pretoria-Oos, wat die diens gelei het, eindelik Psalm 46, verse 1 en 6 opgee. Dit het ’n geleentheid gegee om uiting te gee aan die gevoel wat in die mense opgewel het, om self krag te put uit die woorde:

“God is ’n toevlug in die nood,
’n Rots wat altyd vas bly staan ...”

Die trane wat hier en daar opgewel het, het minder geword.

Toe het die Skriflesing (in Engels) gevolg, van II Samuel 10 : 1-12, deur biskop S. C. Bradley van die Church of England in South Africa.

Dit was ’n warm dag in Pretoria. Die temperatuur het tot 76 grade gestyg en daar was maar net af en toe ’n beduidenis van ’n lawende windjie. In die ingesluite amfiteater het die hitte hom nog sterker laat voel as elders.

Ná die Skriflesing het ds. P. S. Z. Coetzee, oud-Moderator van die Sinode van die Vrystaatse N.G. Kerk, ’n gebed gedoen.

Weer is daar gesing: Gesang 31, verse 1 tot 5.

Toe het ds. J. S. Gericke, Moderator van die Sinode van die Kaaplandse N.G. Kerk, aan die woord gekom.

Die hitte het drukkender geword. Hier en daar het iemand in die amfiteater flou geword. Een man het ’n hartaanval gekry. Ook langs die optogroete, waar luidsprekers die wagtendes in die diens in die amfiteater laat deel het, het mense flou geword, veral op die Kerkplein, waar spesiale voorsiening vir bejaardes gemaak was.

Maar die meeste mense het die indruk gegee dat hulle die hitte skaars voel.

Ds. Gericke het gepraat na aanleiding van II Samuel 10, vers 12: “Wees sterk en laat ons ons sterk hou vir ons volk en vir die stede van onse God. Mag die Here dan doen wat goed is in sy oë!”

Hy het gesê:

“Die gebeurtenisse wat vir ons in die voorgelese hoofstuk geskets word, behoort tot die gryse verlede, en tog sou hierdie verhaal ewe goed kan dien as beskrywing van ons eie volk se ervaring in die afgelope paar dekades.

“Dit handel oor ’n klein volk wat graag die goeie betrekkinge met ander volke wou handhaaf en bevorder, maar wat deur ’n bose propagandaveldtog in die posisie geplaas is dat hy hom teen venynige aanvalle van buite moes verdedig.

“Met die opregte bedoelings stuur Dawid sy gesante na die Ammonitiese koning om die betuiging van sy vriendskap oor te dra. Maar hierdie daad van diplomatieke hoflikheid word met die grofste beledigings beantwoord.

“Daarby word ’n gruwelike leuenpropaganda teen Dawid en sy volk geloods, en die storie word versprei en geglo dat hierdie Dawid en sy volk met die betuiging van sy vriendskap en sy dade van welwillendheid eintlik oorlogsplanne in die skild voer, d.w.s. dat hy en sy mense ’n bedreiging vir die wêreldvrede geword het.

“Met hierdie propaganda as agtergrond en voorwendsel verenig die vyandige nasies hulle in ’n onheilige bondgenootskap en word 33,000 huurlinge op die been gebring om Israel se soewereiniteit te probeer vernietig.

“Maar dan roep God ’n man om in die bres te gaan staan vir sy volk. Joab, die Israelitiese veggeneraal, kom staan voor sy landgenote met ’n boodskap wat hulle volkome weerbaar gemaak het vir die stryd wat aan hulle opgedwing is.

“Hy sê aan sy mense: ‘Wees sterk en laat ons ons sterk hou vir ons volk en vir die stede van onse God. Mag die Here dan doen wat goed is in sy oë!’

“En dit was toe die volk hierdie boodskap van hul leier in hul harte opgevang het, hul hande en harte sterk gemaak het en hul God vertrou het, dat die aanslae van buite hulle nie kon breek nie.

“Die boodskap van ’n man wat hy self met woord en daad uitgeleef het, het ’n nasie uit sy donkerste uur tot oorwinning gelei.

“Later het hierdie volk sy leier verloor, maar die boodskap het gebly en die toets van al die eeue tot vandag toe oorlewe. Want laat ons onthou: die geskiedenis het van die vroegste tye af een reël gehoorsaam en bevestig, nl. dat geen aanval van buite of verraad van binne, geen aggressie of sluipmoord, die boodskap van ’n Godsman se getuienis en optrede kan vernietig nie. Selfs die dood kan daar niks aan afdoen nie; dit word die blywende besit van geslag na geslag.

“Dit is om hierdie rede, broers en susters, geagte volksgenote, dat ons in hierdie uur van ons diepe smart nog altyd vir mekaar kan toeroep: Ons verlies is nie absoluut en finaal nie. Ons kan dit met goeie reg ’n onherstelbare verlies noem; ons kan dit beskrywe as smartlik in die volste sin van die woord; gedagtig aan die wyse waarop die tragedie plaasgevind het, kan ons die verlies selfs as wreed en onnodig beskou.

“Maar as ons al ons smart en verbystering en verslaenheid voor God uitgesnik het, dan kan en moet ons nog altyd met dankbaarheid voor die Allerhoogste staan vir die boodskap van ’n man, die boodskap wat ons nie verlede Dinsdag nie en ook nooit in die toekoms sal kan verloor nie. Dit is hierdie boodskap van die lewe en arbeid van dr. Hendrik Verwoerd wat sy volk se blywende besit geword het en wat ons wins so ontsaglik groot maak.

“Sy lewe is vir ons in die eerste plaas ’n boodskap van groot geestelike en morele krag.

“Daar is seker geen openbare toespraak van ons ontslape Eerste Minister wat nie op die een of ander wyse ’n beklemtoning was van die eerste woorde van ons teksvers nie: ,Wees sterk en laat ons ons sterk hou vir ons volk.’

“So het hy gepraat, maar so het hy ook as staatsman geleef en opgetree.

“Hy het sterkte en beslistheid in oortuiging en optrede verkondig, maar dit ook beoefen en deur eie voorbeeld bevestig.

“Dit was altyd die hele man wat gepraat het omdat woord en daad, beginsel en praktyk, vir hom nooit geskei was nie. Daarom is integriteit die een woord waarmee vriend en vyand, bondgenoot en teenstander hom beskrywe het.

“In sy gewone gesprekke met sy vriende, in sy optrede in die Volksraad, in sy openbare toesprake voor sy volk en in sy stryd in die internasionale arena was daar altyd een allesoorheersende in- druk wat gebly het, nl. die groot krag van persoonlikheid en karaker wat van hom uitgegaan het.

“Presies soos dit in die voorgelese Skrifgedeelte vir ons beskrywe word, is ook sy beste bedoelings dikwels verkeerd verstaan, is ook sy welwillendheid en aanbiedinge van vriendskap in die wind geslaan. Ook hy het die slagoffer van ’n leuenpropaganda geword en ook hy is beskuldig van ’n bedreiging van die vrede. Ook teen hom het die nasies saamgespan in ’n onheilige bondgenootskap. Ja, soos Dawid van ouds het ook hy geweet wat dit beteken om wakker te le omdat sy land bedreig word.

“En dit is in sulke omstandighede dat selfs sterk manne soms kan swig en in die versoeking kan kom om eie aansien en veiligheid te koop teen die duur prys van toegewings ten opsigte van eie oortuigings en beginsels.

“Hierdie pad is dikwels by hom aanbeveel, soms deur sy eie mense in hierdie land, soms deur vreemdelinge uit ’n ander land. As die seder maar net wou buig voor die winde van verandering, dan sou die klimaat soveel gunstiger word, is gesê.

“Maar keer op keer het hierdie man deur woord en voorbeeld die boodskap verkondig: ‘Wees sterk en laat ons ons sterk hou vir ons volk.’

“Ek glo dat ons mense in hierdie land die afgelope agt jaar hier­die boodskap leer verstaan en waardeer het. Dr. Verwoerd se groot nalatenskap is ’n vasberade volk.

“As ons vyande ons hard wou slaan, kon hulle vir ons geen gevoeliger slag toegedien het as om hom van ons weg te ruk nie. Maar as hulle meen dat hulle daarmee ons rug sou breek, dan ken hulle nie die gees van die volk wat ’n Hendrik Verwoerd opgelewer het en waarvan hy die geliefde leier geword het nie.

“Ons het die man verloor, maar Goddank, ons het die boodskap van sy lewe behou. En as ons die tekens van die tye reg ver­staan, dan sal ons hierdie boodskap baie nodig hê in die jare wat voorlê.

“Ons sal sterk moet wees en ons sterk moet hou vir ons volk.

“Maar nou, broers en susters, ons teks eindig nie met hierdie woorde nie. Daar volg ’n baie noodsaaklike toevoeging. Joab sê aan sy mense: ‘Wees sterk en laat ons ons sterk hou vir ons volk. Mag die Here dan doen wat goed is in sy oë.’ Hier was ’n volksheld wat bereid was om onvoorwaardelik voor die beskikking van God te buig. Hy vra nie oorwinning nie. Hy bid nie om die verplettering van sy vyande nie. Hy eis vir homself geen loon op vir die sterkte waarmee hy optree nie.

“Nee, hy sê met soveel woorde: As ons ons plig doen, as ons sterk bly in belang van ons volk, dan kan ons die uitslag veilig in die hande van God laat. ‘Mag die Here dan doen wat goed is in sy oë’ - so sê hy.

„Hier is daar geen sprake van ’n eiegeregtige toeeiening van die Here as bondgenoot nie, maar alleen van ’n ootmoedige buiging voor Sy wil.

„Miskien moet ons die geheim van die groot geestelike krag wat so eie was aan wyle dr. Verwoerd alleen maar gaan soek in sy vaste vertroue dat ons volk se lotgevalle in die hand van God is.

„Mense het hom dikwels as ’n groot optimis beskrywe. Daar is egter ’n dieper liggende rede waarom hy nooit deur ’n donker bril na sy land en die toekoms gekyk het nie: hy was ’n gelowige wat God met die toekoms vertrou het, en ook met sy eie lewe.

“Daarom het hy geen vrees geken nie, selfs nie nadat daar ses jaar gelede ’n aanslag op sy lewe gemaak was nie.

“Soos wat hy die Here vertrou het met die toekoms van sy land, so het hy Hom ook vertrou met sy eie lewe.

“En as iemand sou beweer dat die gebeure van vier dae gelede daar in sy bank in die Volksraad hierdie geloofsvertroue van hom geloënstraf het, dan sou dit verstandig wees om liewer weer eens hierdie teks te lees: ‘Mag die Here dan doen wat goed is in sy oë!’

“Laat ons maar eerlik erken: Dit is nie altyd maklik om die goeie raak te sien in die beskikkinge van God in ’n volk se lewe nie. Miskien was dit ons nooit moeiliker as juis nou nie. God alleen weet hoe ons met ons eie oë en verstand teen ’n tergende ‘waarom’ vaskyk.

“Maar selfs dan, of liewer, veral dan, moet ons Hom nog altyd vertrou.

“Wat is dit wat die Here aan ons as volk wou sê met hierdie ontsettende gebeurtenis? Niemand kan op hierdie vraag met sekerheid antwoord nie.

“Maar moontlik is die bedoeling met die wegneem van die onmisbaarste man in ons land ’n roepstem van die Hemel om ons te beweeg om God as die enigste onmisbare in ons lewe en vir die toe­koms van ons volk te aanvaar.

“Dit het met ons so goed gegaan en daar het soveel in ons land en daarbuite gebeur in die jongste tyd wat ons hoop en vertroue laat opvlam het, dat baie van ons miskien vergeet het dat, as die Here nie die huis gebou het nie, dan arbei ons vergeefs.

“Dit is wanneer ons niemand anders meer het om op staat te maak as God alleen nie, dit is dan eers dat ons ontdek dat God genoegsaam is.

“As die Here hierdie les vir ons wou leer, dan kon Hy dit nouliks op ’n voelbaarder wyse by ons inskerp as om die sterk menslike arm waarop ons gesteun het onder ons uit te skuif.

“As die heengaan van ons onvergeetlike dr. Verwoerd ons kon beweeg om as volk God so onvoorwaardelik te vertrou, dan het Suid-Afrika se Eerste Minister nie vergeefs gesterwe nie, net soos hy nie vergeefs gelewe het nie. ‘Wees sterk en laat ons ons sterk hou vir ons volk. Mag die Here dan doen wat goed is in sy oë!’

“As ons hierdie boodskap opgevang het van ’n man wat by ons verbygegaan het, dan sal ons ook beter verstaan wat Jesus Christus eenmaal aan ons wou tuisbring: ‘Laat julle harte nie ontsteld word nie. Glo in God, glo ook in My.’ ”

Op Engels het ds. Gericke herinner aan ander gevalle in die geskiedenis waar “’n heeltemal onbekende en obskure mens toegelaat (is) om ’n aanslag te doen op ’n groot lotsbestemming, waardeur hy in die lewe van duisende manne en vroue ingryp,” soos op 10 Julie 1584, toe Willem van Oranje, op 14 Julie 1865, toe Abraham Lin­coln en op 22 November 1963, toe John Kennedy deur die koeël van ’n sluipmoordenaar om die lewe gebring is.

“Ons het ’n leier verloor, en in hierdie donkerste van ure kan ons skaars bereken hoe groot ons verlies is.

“’n Leier is iemand wat seker genoeg van homself is om alleen te kan staan, maar ook nederig genoeg om naby sy mense te wil wees.

“Hy is groot genoeg om die kalklig te verduur, maar beskeie genoeg om hierdie lig op sy saak te wil hê en nie op homself nie.

“Hy is behoudend genoeg om aan die verlede te hou, maar ook realisties genoeg om die uitdaginge van ’n nuwe tyd te aanvaar.

“Hy is sterk genoeg om feite onder oë te neem, maar hy het ge­noeg geloof vir ’n visioen van die grootste feit van almal - die feit van God.

“Hy word erken deur sy mense as ’n groot man, en honderd jaar later - vyfhonderd jaar later - sal daar nog van hom gesê word: Daar was ’n man!

“As dit ’n ware omskrywing van groot leierskap is, dan het Suid- Afrika die grootste van leiers in dr. Hendrik Verwoerd gehad. Sy mense sal die wêreld en toekoms tegemoetgaan met dieselfde vasbeslotenheid en welwillendheid wat die leidende beginsels van sy lewe en werk was.”

In Afrikaans het ds. Gericke ten slotte verwys na mev. Verwoerd – “’n eensame vrou wat nooit weer sal kan vergeet nie”.

“Gelukkig sal sy en haar kinders nie hoef te worstel met die probleem van bitterheid en haat in die hart nie. Hulle het hierdie pad reeds twee keer bewandel: die afgelope week, en ses jaar gelede. Maar hierdie twee woorde, bitterheid en haat, het nog nooit ’n plek gehad in die huis van die Verwoerd-gesin nie, nie nou nie en ook nie destyds nie ...

“Die hele land met al sy bevolkingsgroepe treur saam met hulle. Suid-Afrika het in hierdie dae een groot wenende familie geword...

“Ons kan so min doen om mev. Verwoerd en haar kinders se leed te versag. En tog kan en sal ons die allerbeste doen waartoe ons in staat is.

“Ons, die mense van hierdie land, blank en nie-blank, sal vir hulle bid.

“Maar ons sal ook bid en werk vir die land en volk wat hy, ons onvergeetlike dr. Verwoerd, so hartstogtelik liefgehad het.”

Na ds. Gericke se rede het die aanwesiges nogmaals gesing, Gesang 58, verse 7 en 8, waarop ’n koor Psalm 130 en Psalm 23 (op Engels) gesig het. Nadat die seën uitgespreek was, het die orkes Händel se “Largo” as naspel gelewer.

Toe het die militêre draers die kis kom haal en op ’n wagtende kanonwa aan die voet van die amfiteater se treetjies geplaas. Die stoet was in die volgende volgorde opgestel:

’n Berede afdeling van die Suid-Afrikaanse Polisie, bestaande uit twee offisiere en 36 manskappe.

’n Gemotoriseerde Weermagsafdeling, bestaande uit drie pantsermotors en agt artillerietrekkers.

’n Afdeling van 400 troepe van die Weermag, met die Lugmag- orkes.

’n Motor met die vier diensdoende predikante.

Die kanonwa.

’n Lang ry motors met die naasbestaandes en hoogwaardigheidsbekleërs in protokolorde.

Toe die stoet in beweging gekom het, is 19 saluutskote met tussenposes van ’n minuut op die grasperk voor die Uniegebou afgevuur.

Die eerste 200 tree het die stoet met stadige pas beweeg, daarna met gewone pas. Die marsjerende troepe het weggebreek net voordat die stoet Kerkstraat bereik het, maar ’n entjie van Kerkplein af het 1,000 manne van die Weermag en 100 van die Polisiemag hulle weer by die stoet aangesluit. Hulle het net voor die predikantsmotor inbeweeg. In Kerkstraat het die motors in die stoet agter die kanon­wa drie-drie langs mekaar gery.

Aan weerskante van die kronkelende pad teen Meintjieskop af en die lang Kerkstraat tot by die begraafplaas het mense in twee lang rye gestaan, meestal twee of drie diep, maar hier en daar tot tien diep. Op Kerkplein en by die begraafplaas was groot menigtes.

Telkemale wanneer die stoet verbygekom het, het die stilte verdiep. Dit het ’n golf van stilte geword wat drie myl ver voortgerol het.

Trane is afgevee, maar nie baie nie. Vir wie kort agter die kanonwa met die kis daarop gevolg het, was dit duidelik dat klompies mense kort vantevore gehuil het. Maar op die meeste gesigte was geen trane meer te sien nie.

Daar was enkele uitsonderings, soos twee jong vroue in wit gekleed met swart hoede op wat die sakdoek styf teen die mond gedruk het; ’n mooi, blonde jong dogter in Voortrekkeruniform wat roerloos gestaan het terwyl die trane uit haar oë gerol het; ’n jong vrou in die uniform van ’n Voortrekkeroffisier wat geen poging aangewend het om die trane van haar wange af te vee nie.

Maar oral langs die roete was die oorwegende indruk die van nog steeds voortdurende verslaenheid oor wat die Dinsdag in die Volksraad gebeur het, van diepe ontsag en eerbied vir die man wie se stoflike oorskot stadig verbybeweeg het.

Die hele roete is belyn deur troepe, Voortrekkers, studente in kleurbaadjies, Boy Scouts en Girl Guides en ook lede van ander organisasies.

Op Kerkplein het die stoet, met die kanonwa reg teenoor die Ou Raadsaal, tot stilstand gekom vir nog ’n huldebetoon aan die ontslape Eerste Minister - dieselfde Kerkplein waar iets meer as drie maande vantevore ’n jubelende skare hom toegesing het: “Lank sal hy lewe!” ’n Erewag het die geweer gepresenteer en die Vlootorkes het die Volkslied gespeel.

Intussen het die hoogwaardigheidsbekleers uit hul motors geklim en hulle in protokol-orde agter die kanonwa opgestel. Daarvandaan het hulle agter die kanonwa aan gestap tot by die begraafplaas.

Daar het die kanonwa teenoor nog ’n erewag tot stilstand gekom. Die militêre draers het die kis op ’n stootwaentjie geplaas, die ere­wag het die geweer gepresenteer en die Leërorkes het vir die derde maal die middag die Volkslied gespeel.

Daarna het die burgerlike draers - dr. Verwoerd se broer, sy seuns en skoonseuns - oorgeneem, terwyl weer 19 saluutskote, maar die keer vinniger op mekaar, afgevuur is.

Toe het die staatsbegrafnis ’n familie-plegtigheid geword, gelei deur ds. Boshoff.

In die begraafplaas is die terrein om die Helde-akker, waar dr. Verwoerd se graf langs die van sy voorganger, mnr. J. G. Strydom, gewag het, vir die naasbestaandes, vriende en hoogwaardigheidsbekleërs afgekamp met ’n tou. Daarbuite het ’n menigte mense mekaar verdring, selfs op grafte gestaan en grafstene beskadig.

Die Polisie-orkes het weer ’n voorspel gelewer, “Rus in God” van Mendelssöhn. Daarop het gevolg ’n voorgebed, die gesamentlike sang van Gesang 52, verse 10 en 11, Skriflesing (Romeine 8 : 31-39), gebed, uitspreek van die begrafnisformulier en ’n dankbetuiging namens die familie.

“En nou,” het ds. Boshoff gesê, “namens ons geliefde moeder en namens ons familie is dit my voorreg om vanmiddag vir u baie dankie te sê, en u sal die onmoontlikheid van my taak verstaan.

“Ek wil in die eerste plek my dank en die dank van ons familie, van Mamma, uitspreek teenoor ons regering, hulle wat met ontsaglike teerheid en begrip elke begeerte en wens van ons in konsiderasie geneem het; hulle wat baie dinge gedoen het om dit so mooi te maak.

“Alle staatsdepartemente wat tot die reelings bygedra het, te veel om te noem, maar tog wil ons by name noem die Departement van Buitelandse Sake, die Weermag, die Polisie, die Departement van Inligting, Vervoer, Openbare Werke, Poswese. Dit wat elkeen ge­doen het, wil ons vanmiddag in dankbaarheid in gedagte hou.

“Ons wil die munisipaliteit van Pretoria ook noem. Alle organisasies wat op een of ander wyse bygedra het om hierdie verrigtinge vir ons mooi te maak en diep in ons harte te graveer, wil ons bedank. En ook alle organisasies wat aan die straatbelyning deelgeneem het. Ons dink aan alle onderwysinrigtinge.

“Ons wil vanmiddag dankie sê aan die volk uit alle dele van die land wat die plegtighede bygewoon het, die wat so ver gekom het om daaraan deel te hê, baie andere wat nie kon kom nie, wat met ons daarin gedeel het deur die S.A.U.K. Ons dink aan al die hoogwaardigheidsbekleërs en ander vriende wat spesiaal uit die buiteland gekom het om hier te wees. Aan u almal se ons innig en opreg dankie.

“In ons binnegroepie is daar ds. Gericke wat ons by name wil noem. Wat hy in hierdie paar dae vir ons beteken het, sal ons nie probeer beskrywe nie. Ons wil dankie sê ook aan die ander leraars wat aan die verrigtinge deelgeneem het. Ons wil dankie se aan daar- die groepie geneeshere wat hom in die laaste oomblikke bygestaan het.

“En dan wil ons dankie sê aan die personeel in ons eie kring.

Teenoor hulle het ons agt jaar van dankbaarheid. Ons het groot waardering vir die wyse waarop hulle vir Pappa en Mamma gesorg het. Ons sê aan hulle baie dankie.

“Ons sê aan u almal baie dankie. Ons waardeer dit en ons glo dat hierdie verlies wat ons volk gely het, ook ons sal trek tot groter getrouheid in elkeen van ons se roeping. Baie hartlik dankie.”

Terwyl ds. Boshoff by die graf gepraat het, het die stadslewe elders in Pretoria al weer sy normale loop begin neem. Vroeër reeds het van die mense wat langs die roete en op Kerkplein gestaan en gesit het, begin verdwyn nadat die stoet verby was.

Die strate wat na Kerkplein lei, is weer vir verkeer oopgestel, en teen die tyd dat die stoet by die begraafplaas aangekom het, het die verkeer feitlik normaal om die plein beweeg. Mense het heen en weer daaroor gestap en die gewone stadsrumoer het weer begin opklink.

Maar in die middel van die plein en ook op die sypaadjies, aan die rand van die al hoe drukker wordende verkeer, het groepies mense - in die middel van die plein was daar ’n paar honderd - in volslae oorgawe geluister na wat verderaan gebeur. Dit was asof ’n onsigbare gordyn neergedaal het tussen hulle en diegene om hulle wat reeds weer deel van die alledaagse stadsbeeld geword het - net soos in die begraafplaas ’n tou om die Helde-akker die familie, vriende en andere geskei het van die paar duisende wat mekaar op ’n afstand verdring het.

Nadat ds. Boshoff sy dankwoord voltooi het, het die orkes ’n na- spel gelewer: “Slaap Rustig, Dapper Helde” van J. S. de Villiers.

En toe het die trompetblasers van die orkes die laaste taptoe en die wekroep geblaas.

Die begrafnis was verby.


Opsoek na inligting?

  •  

    BYBEL 1933/53-druk nou gratis

    Gelofteland is dankbaar om aan al ons lesers die 1933/53-uitgawe van die Bybel gratis te voorsien. Al wat u hoef te doen is om 'n e-pos na

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    te stuur met die versoek om die Bybel te ontvang, en ons sal dit aan u stuur.

    __________________

     

    VRYHEIDSBEDIENING

    Ds. Andre van den Berg werk sedert November 1990 weekliks met volksgenote in die gevangenis in Pretoria-Sentraal. Hy bied ʼn reeks laserskywe teen R200 (posgeld uitgesluit) per stel van 10 aan. Die opbrengs van hierdie verkope gaan vir Gevangenisbediening.

    Dit handel oor aktuele onderwerpe soos:

    1. Die lewe hiernamaals.
    2. Word verantwoordelik oud.
    3. Die pad na die ewigheid.
    4. Bied beproewing die hoof.
    5. Raad vir tieners.
    6. Gelowige kinderopvoeding.
    7. Oorwin depressie.
    8. Kikker jou huwelik op .
    9. Alle mense is nie gelyk nie.
    10. Homoseksualisme - ʼn gruwel vir God.

    Bestel by:

    E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Sel: 074 967 5187

    Bankbesonderhede:

    ABSA

    VRYHEIDSBEDIENING

    9062088855

    _______________

     

     

    VAKATURE: HOOFBESTUURDER - RADIO ROSESTAD

    Stuur u aansoek saam met ’n CV waarin u ‘n persoonlike bekendstelling, werkservaring en tersaaklike kwalifikasies insluit, voor 15 September 2018 aan ds. CM Erasmus by die e-pos adres: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Vir meer inligting:

    VAKATURE: HOOFBESTUURDER - RADIO ROSESTAD

    ___________

     

    Skryf in vir die gratis e-blad OORSIG EN REPLIEK

    'n Blad wat dmv verduidelikende agtergrond by die kern van ons volk se
    stryd uitkom.

    Kontak die redakteur by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Lees ons gereelde uittreksels daaruit hier op Gelofteland by OORSIG EN REPLIEK

    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________ 
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.

    Hierdie boek uit die pen van ds AE van den Berg, het in gedrukte vorm verskyn.  Dit bring helder perspektief oor rasseverskille en natuurlike skeiding wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte wat landsburgers van geestelike denke sal laat verander en van onregte en gewaande vryheid sal bevry.

    Sinvolle besluite in die lig van God se Woord, en onophoudelik gebed dat bevryding spoedig verwesenlik word, is noodsaaklik. Politiek is erns en harde werk wat wet en orde handhaaf en durf nie in eerlose hande gelaat te word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel.

    U kan hierdie boek bestel by ds A E van den Berg

    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com

    Prys: R50-00

     
  •                                                                        ______________

     

    BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    'n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD

    _______________

    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

                                                                           ________________

     

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    of skakel hom by 074 967 5187

    ________________

    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    _________________

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  •  

    DIE CHARISMATIESE GEVAAR
    Mense word so maklik deur dwaalleringe mislei. In hierdie boek word talle kwelvrae beantwoord.

VERGADERING-

PROSEDURES

(GRATIS)

Daar is min mense wat nog die waarde van 'n ordelike byeenkoms bedink en kan uitvoer. Sonder hierdie kennis en orde en gedissiplineerde toepassing daarvan sal 'n byeenkoms in wanorde verval en die doel van die vergadering nie bereik word nie. Die boekie kom handig te pas in alle omstandighede waar 'n vergadering van persone plaasvind, ongeag die sakelys of doel van die byeenkoms.

Klik hier om die boekie wat u op hoogte kan bring van korrekte vergaderingprosedures, gratis af te laai. Indien u van Windows 10 gebruik maak sal die inhoud outomaties onder die lêer "Downloads" geberg word en kan dit daar gehaal en gebêre word waar ookal dit maklik gevind kan word.

 

 
 

1919: VRYHEIDSDEPUTASIE KEER TERUG

1800: GRAAFF- REINETSE REBELLE GEVONNIS

1917: OOM JAPIE HELPMEKAAR

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

                                                                         __________________

 

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES

(Lees by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

                                                                         __________________ 

 

APARTHEID:

Is die boom wat die beste vrugte lewer.

Diskriminasie is onderskeiding tot beswil van alle volke.

Rassisme beteken rassekennis en kennis is wysheid.

Bewerk groei van 'n volk uit eie wortels, uit eie instellings, uit eie krag.

Strewe na 'n vreedsame verhouding met wedersydse respek vir mekaar se kultuurgoedere, tradisies, ideale.

                                              ___________________                                                  

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 823 gaste aanlyn