NUUTSTE BYDRAES

Gedagtes vir elke dag

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, HERE. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring.

WIE WAS BETROKKE BY DIE MOORD OP DR VERWOERD?

Voordat die verslag van regter Van Wyk oor die sluipmoord op dr. Verwoerd amptelik beskikbaar geword het, was dit al algemene kennis dat flaters deur verskillende Staatsdepartemente gemaak is en dat daar nalatigheid aan die kant van hierdie departemente was. Hoe ernstig die flaters en nalatigheid inderdaad was, sou eers in die Van Wyk-verslag aan die lig kom. Daarom, en ook omdat die daad van 6 September 1966 ongetwyfeld die skokkendste gebeurtenis in die geskiedenis van Suid-Afrika in hierdie eeu was, is met groot belangstelling gekyk na die koms van die regter se verslag.

In oorsese kringe is ministers en selfs eerste ministers baie fyngevoelig oor kritiek teen staatsdepartemente onder hulle beheer. Selfs die geringste sweem van kritiek oor die hantering van ’n bepaalde saak het al dikwels daartoe gelei dat die betrokke minister bedank. ‘n Voorbeeld van dié aard is dié van sir Reginald Maudling, gewese senior minister van die vorige Britse Tory-regering wat bedank het omdat sy vrou ’n posisie in ’n welsynsorganisasie beklee het wat by geleentheid fondse van sy departement ontvang het.

Verskeie SA-staatsdepartemente was by die Tsafendas-geval gemoeid - Polisie, Binnelandse Sake, Bevolkingsregistrasie, Arbeid en Immigrasie - en noodwendig moes daar groot belangstelling gewees het in die handelinge van hierdie departe­mente in soverre dit op die man Tsafendas en die sluipmoord betrekking gehad het.

Die aankondiging oor die aanstelling van die regterlike kommissie is op 14 September 1966 deur die Eerste Minister in die Volksraad gedoen. Hy het gestel dat dit die taak van die kommissie sou wees om die waarheid, die hele waarheid en niks anders as die waarheid aan die lig te bring nie, ongeag wie ook al daardeur geraak word.

Regter Van Wyk se verslag was in Desember 1966 voltooi. Die gedrukte kopieë van die verslag dra die datum Desember 1966. Volksraadslede het die verslag vir die eerste keer na die aanvang van die Parlementsitting van 1967 ter insae gekry, hoewel aangeneem kan word dat voorafeksemplare aan kabinetslede beskikbaar gestel is. Die Parlementsitting van daardie jaar het op Vrydag, 20 Januarie 1967, ’n aanvang geneem. Op 24 Januarie 1967, die daaropvolgende Dinsdag, het die debat oor die gebruiklike Mosie van Wantroue van die Leier van die Opposisie in die Volksraad begin. Dit was die eerste keer in die nuwe Parlementsitting dat lede die geleentheid gekry het om weer die Tsafendas-geval aan te roer.

Die Mosie van Wantroue van sir De Villiers Graaff was kort - net ’n enkele sin. Dit het gelui: “Dat die Raad vertroue in die Regering verloor het weens die onbevoegdheid en onbekwaamheid van die Kabinet.”

Sir De Villiers Graaff het in sy toespraak nie ’n enkele keer na die sluipmoord op dr. Verwoerd of die Van Wykverslag verwys nie. Die enigste verklaring wat daarvoor gevind kan word, is dat hy nie ’n afskrif daarvan gehad het toe hy sy toespraak voorberei het nie.

Onmiddellik na sir De Villiers Graaff het die Eerste Minister op die mosie geantwoord, hoewel hy in latere wantrouedebatte die gebruik ontwikkel het om eers die Vrydag, die laaste dag van die debat, te antwoord. Ook mnr. Vorster het nie ’n enkele keer na die sluipmoord of die regterlike kommissie verwys nie. Dit is ’n verbasende feit, aangesien met stelligheid aangeneem kan word dat mnr. Vorster toe reeds insae in die verslag gehad het. Selfs al het die Leier van die Opposisie nie ’n enkele keer daarna verwys nie, is dit ’n saak van soveel belang dat verwag kon word dat die Eerste Minister ’n verklaring daaroor sou doen.

Die eerste keer dat die sluipmoord en die verslag daaroor in die Wantrouedebat geopper is, was op Donderdag, 26 Januarie. Mnr. T.G. Hughes, die Verenigde Party lid vir Transkei, het die laaste gedeelte van sy toespraak hieraan gewy. In sy behandeling van die saak het hy verskeie Staatsdepartemente van growwe nalatigheid beskuldig, min of meer in dieselfde terme as wat die regter dit gedoen het. Hy het vier departemente vir sy aanval uitgesonder en gesê: “Ek sê dat die Ministers wat vir daardie Departemente verantwoordelik is, die skuld moet dra. Dit spyt my egter dat dit net as gevolg van die tragedie is wat ons verlede jaar in hierdie Raad aanskou het, dat ons die inligting kon kry oor wat presies in sekere departemente aangaan en hoe doeltreffend hulle bestuur word.”

Vervolgens het mnr. Hughes die ernstige beskuldiging gemaak: “Twee dae gelede het ons die verslag van die Van Wyk-kommissie na die ondersoek na die dood van die ontslape Eerste Minister ontvang, en dit is ongelooflik dat daar so baie flaters begaan is en so baie onbevoegdheid was in die hantering van een geval, die geval Tsafendas.”

En dan gaan hy voort: “Die land was verbaas om die getuienis oor die geskiedenis van Tsafendas te lees, wat in die hofsaak afgelê is, sy uitsetting uit een land na die ander, en om te verneem dat hy desondanks toegelaat is om permanent in Suid-Afrika te woon. Dit is nie asof ons niks van hom geweet het nie, want volgens hierdie verslag het hy sedert 17 Januarie 1938 geprobeer om in hierdie land te kom woon.”

Vervolgens verwys mnr. Hughes na Tsafendas se reeks mislukte aansoeke om die land binne te kom en verklaar dan: “Die redes (vir die weiering van binnekoms) is in sy lêer aangegee. Dit was onder andere dat hy hom daadwerklik met die Kommunisme bemoei het. Wat erger is, is dat hy die land onwettig binnegekom het nadat sy tweede aansoek om Suid-Afrika binne te kom, geweier is, en daarna het die Polisie hom in die hande gekry en is hy ingevolge die Wet op Vreemdelinge skuldig bevind. Die Polisie het dus ’n aantekening van hierdie man gehad; hulle het ’n aantekening gehad van sy skuldigbevinding en die Departement van Binnelandse Sake het ook hierdie aantekening in Tsafendas se lêer gehad, naamlik dat hy die land op onwettige wyse binnegekom het en skuldig bevind is.”

Dit is opvallend dat terwyl mnr. Hughes die Tsafendasgeval en die regter se verslag behandel het, hy nie ’n enkele keer in die rede geval is nie. Nadat hy kortliks Tsafendas se agtergrond en sy verblyf in die buiteland behandel het, verklaar hy dan:

“Al hierdie dinge was opgeteken en desondanks is hy toegelaat om die land in 1963 met ’n tydelike permit binne te kom, en is ’n permit vir permanente verblyf daarna aan hom toegeken. Sy hele geskiedenis was so goed bekend dat sy naam in 1959 op die swartlys geplaas is . . . Sy naam is op die voorbehoudlys geplaas en boonop het die Departement twee waarskuwings ontvang, een uit Lissabon en een uit Mosambiek, dat hy gedreig het om die land op onwettige wyse binne te kom. Dus het hulle dit ook opgeteken gehad.”

Mnr. Hughes verwys daarna na die uitreiking van die tydelike permit om die land binne te kom vanaf Lourenco Marques deur die Paspoortbeheerbeampte daar ondanks die feit dat Tsafendas se naam op die voorbehoudlys verskyn het, ’n afskrif waarvan in die amptenaar se besit was en wat hy moes raadpleeg voordat so ’n permit toegestaan kan word.

“Maar, meneer”, gaan hy dan voort, “dit was een persoon wat hierdie aansoek gehanteer het om die land met ’n tydelike permit binne te kom - dit was bloot ’n tydelike permit en nie ’n permit vir vaste verblyf nie. Maar wat het daarna gebeur? Die Immigrante-keurraad het werklik ’n permit vir permanente verblyf aan hom toegestaan. Die Raad was nie onder druk nie. Daar was geen haas om hierdie aansoek om permanente verblyf te oorweeg nie . . . Die Keurraad het egter ’n volle maand geneem om die aangeleentheid te behandel. Wat meer is, meneer, hulle het om sekere inligting gevra. Hulle het die inligting nie ontvang nie, dus het hulle die versoek om inligting verontagsaam en met die aangeleentheid voortgegaan en hierdie permit vir permanente verblyf toege­staan . . .

“Die regter het bevind dat hierdie Raad en sy amptenare onbevoeg opgetree het. Ek sê dat as hierdie Raad maar net sy eie regulasies nagekom het, hy sou agtergekom het dat Tsafendas ’n ongewenste inwoner was. Sy hele geskiedenis sou aan die lig gekom het en hy sou gedeporteer gewees het.”

Dan rig mnr. Hughes hom spesifiek tot die betrokke Ministers. “Die agb. Minister van Immigrasie”, sê hy, “is vir hierdie Immigrantekeurraad aanspreeklik . . . Dit spyt my dat die vorige Minis­ter van Binnelandse Sake, sen. De Klerk, nie hier is nie, want ek meen hy is die Minister wat die grootste blaam moet dra, want dit was sy Departement se fout. In die regering van enige land sou hy bedank het na wat gebeur het. Hy het die Departement van Binne­landse Sake gereorganiseer en ’n afsonderlike Departement van Immigrasie gestig. Hulle het nietemin die lêers van die Departe­ment van Binnelandse Sake gehou, en volgens die regter was daar blykbaar geen opdrag om na hierdie lêers te verwys of kruisverwysings daarop aan te bring nie . . .

“Maar hierdie Minister van Immigrasie was verantwoordelik vir die reorganisasie en vir die stigting van die afsonderlike afdeling. Wat het hy sedertdien gedoen om toe te sien dat sy Departement behoorlik georganiseer is, om toe te sien dat sy Departement volledige lêers het oor elkeen wat aansoek doen om hierdie land binne te kom . . .

“Indien hierdie Departement destyds sy werk behoorlik gedoen het, sou Tsafendas nie in die land gewees het nie, maar sou hy gedeporteer gewees het. ’n Mens wonder hoeveel ander persone die land op onwettige wyse binnegekom het, hoeveel ander per­sone hier is wat nie hier moet wees nie . . . Ek wonder hoeveel internasionale skurke in hierdie land los rondloop.”

Soos regter Van Wyk in sy verslag verduidelik, was die Departe­ment van Binnelandse Sake en die Departement van Immigrasie tot in die vroeë sestigerjare in een Departement – Binnelandse Sake - saamgesnoer. Sen. J. de Klerk was die verantwoordelike Minister. Hy het die portefeulje van Binnelandse Sake behartig tot aan die begin van 1966 toe mnr. P.M.K. le Roux, destyds Minister van Landbou-tegniese Dienste en Waterwese, na Binnelandse Sake oorgeskuif is. Mnr. Le Roux was sowat ses maande in die portefeulje toe dr. Verwoerd vermoor is. Nadat hy uit Binnelandse Sake weggeneem is, het sen. De Klerk die portefeuljes Onderwys, Kuns en Wetenskap en Inligting behartig.

Toe die reorganisasie in die Departement van Binnelandse Sake aan die begin van die sestigerjare plaasgevind en die Departement van Immigrasie tot stand gekom het, het sen. A.E. Trollip Minister van Immigrasie geword. Hy was nog die verantwoordelike Minister toe die sluipmoord gepleeg is.

Vervolgens het mnr. Hughes in sy toespraak verwys na wat hy genoem het “die opperste stukkie nalatigheid en onbekwaamheid.” Dit was na aanleiding van Tsafendas se aansoek by die afdeling Bevolkingsregistrasie om as Kleurling herklassifiseer te word.

“Daar kan”, sê mnr. Hughes, “miskien nog aangevoer word dat daar tot op daardie stadium ’n mate van verskoning vir die foute was omdat die naam Tsafendakis op die oorspronklike lêers verskyn het, alhoewel, soos ek vroeër aangedui het, Tsafendas self die ander naam aan die Departement van Immigrasie verstrek het toe hy om permanente verblyf aansoek gedoen het.

“Maar in die Kaapstadse kantoor van die Departement van Bin­nelandse Sake was daar ’n láer waarop sy oorspronklike naam aangeteken is, asook die feit dat hy hierdie land op onwettige wyse binnegekom het, en die lêer was inderdaad onder albei name, Tsafendas en Tsafendakis, en dit is in November 1965 gebruik.

“Nadat hy om herklassifikasie aansoek gedoen het, het die Streekverteenwoordiger van die Departement (wat deel van sy geskiedenis geken het omdat sy geskiedenis van kommunistiese neigings en die feit dat hy aan onwettige binnekoms skuldig bevind is, in daardie lêer vermeld is) in Desember 1965 aan die Registrateur in Pretoria geskryf dat Tsafendas ’n ongewenste inwoner is en aanbeveel dat hy gedeporteer word.”

Mnr. Hughes vertel vervolgens die nou reeds bekende geskiedenis van die lêer wat byna nege maande tussen verskillende klerke rondgeswerf het totdat die uitsettingsbevel vir Tsafendas se deportasie op 9 Augustus 1966 geteken is. Terwyl hy gepraat het, was die Minister van Binnelandse Sake, mnr. Le Roux, nie in die Volksraad nie. Dit is gebruiklik dat wanneer ’n lid van die Opposisie ’n saak rakende ’n bepaalde Minister in die Volksraad opper, daardie Minister teenwoordig is.

“Die Minister is ongelukkig nie hier nie”, het mnr. Hughes gesê, “en dit spyt my dat hy nie hier is nie, want ek wou gehad het hy moes vir ons sê wat met die deportasiebevel gebeur het. Ons weet dat die agb. Minister dit op 9 Augustus onderteken het. Ons weet dat ’n brief waarin die Polisie versoek is om die bevel uit te voer, op 1 September getik is, maar ons word nie meegedeel wat tussen 9 Augustus en 1 September gebeur het nie. Waar was daardie deportasiebevel? Wie het aan daardie deportasiebevel aandag gegee? As dit die Sekretaris slegs vier dae geneem het om die lêers by die Minister te kry nadat hy dit op 4 Augustus ontvang het, en die agb. Minister het dit die volgende dag geteken, omdat hy dit blykbaar as dringend beskou het, wat het toe daarvan geword?

“Teen 6 September was dit nog in hierdie kantoor en was dit nog nie aan die Polisie oorhandig nie. Die regter weet nie wat daarvan geword het nie en die Kommissaris maak geen melding daarvan nie, behalwe om te sê dat daar tussen 9 Augustus en 6 September, ’n tydperk van byna ’n maand, ’n onredelike vertraging was. Waarom is daardie deportasiebevel nie afgehandel nie? Waarom is die Polisie nie gelas om Tsafendas te deporteer nie?”

Billikheidshalwe verklaar mnr. Hughes hierna dat die Minister van Binnelandse Sake op daardie oomblik, mnr. Le Roux, verskoon kan word vir die nalatigheid van sy Departement. “Hy het eers oorgeneem kort voordat die ongelukkige voorval plaasgevind het. Die vorige Minister (sen. De Klerk) moet al die skuld dra”, aldus mnr. Hughes.

Hy sê voorts dat ook die Minister van Immigrasie (sen. Trollip) in ’n mate die blaam moet dra.

“Die vorige Minister, of die huidige Minister (van Binnelandse Sake), of die Minister van Immigrasie kan miskien sê dat hulle glad nie geweet het wat in die Departement aangaan nie. Hulle het glad nie geweet hoe ondoeltreffend dit bestuur word nie. Maar hulle kan dit nie sê nie, want die huidige Minister, mnr. P.M.K. le Roux, het die pers meegedeel dat hulle drie jaar gelede ’n kom­missie aangestel het soos die wat deur die Kommissaris voorgestel is. Die Minister het drie jaar gelede besef dat daar onbevoegdheid en ondoeltreffendheid was, dat daar iets in die Departement skort.

“Die kommissie is drie jaar gelede aangestel. Ek vra die Minister van Immigrasie of hy iets daarvan weet. Kan hy vir ons sê wat gebeur het. Dit neem tog nie drie jaar om vas te stel dat ’n Departe­ment ondoeltreffend bestuur word nie. Hierdie werkstudieondersoek is weens ondoeltreffendheid ingestel. Wat is na drie jaar gedoen? Dit is ’n erger aanklag teen die bevoegdheid van die Minister. Hy moes tog teen hierdie tyd al stappe gedoen het om te sorg dat hy ’n verslag kry en om te sorg dat die Departement gereorganiseer word. Kan hy nou vir ons sê? Ek hoop hy sal môre aan die debat deelneem en vir ons sê watter stappe hy gedoen het om die Departe­ment van Binnelandse Sake te reorganiseer, want dit is ’n uiters belangrike departement. Dit is net so verantwoordelik vir ons veiligheid as wat die Veiligheidspolisie is.”

Ten slotte behandel mnr. Hughes ook die posisie van die Suid-Afrikaanse Polisie en die Hoof van die Veiligheidspolisie. Met betrekking tot die Suid-Afrikaanse Polisie sê mnr. Hughes:

”Die Kommissaris het geen rede gevind om die Polisie te kritiseer nie. Hy skryf nie met soveel woorde nalatigheid aan die Polisie toe nie, want hy sê dat geen verslae van die Polisie aangevra is nie, behalwe een verslag van die Marine Diamond Corporation. Hy het die feit genoem dat die Polisie wel ’n lêer oor Tsafendas gehad het, alhoewel hulle dit nie geweet het nie.

“Maar, meneer, hy het nie op die lêeraspek ingegaan nie, want hy sê geen departemente het om verslae gevra nie en ’n verdere ondersoek sou noodsaaklik gewees het net indien die Polisie ’n misleidende verslag verstrek het omdat twee lêers vernietig is en een nie gevind kon word nie.”

Oor hierdie aspek trek mnr. Hughes die regter se bevinding in twyfel.

“Met alle eerbied teenoor die Kommissaris, meneer,” verklaar hy dan, ”ek meen hy het hom te maklik tevrede laat stel met die optrede van die Polisie. Indien die Polisie hulle lêers behoorlik gehou het, sou hulle ’n verslag oor Tsafendas gehad het toe die Marine Diamond Corporation om ’n verslag gevra het nadat hy by hulle om werk aansoek gedoen het. Hulle verslag was gunstig.” Dan stel mnr. Hughes die volgende vrae in verband met die Polisie se optrede:

“Watter ondersoeke het hulle ingestel voordat hulle ’n gunstige verslag aan die Marine Diamond Corporation verstrek het? Die Veiligheidspolisie het inderwaarheid ’n verslag oor Tsafendas ge­had in dieselfde gebou waarin hulle was. Kon dit vir hulle in ’n geriefliker plek gewees het? Hulle het ’n eksemplaar van die voor­behoudlys gehad met Tsafendas se naam daarop. Het hulle daaraan gedink om daardie lys na te gaan? Indien hulle dit gedoen het, meneer, sou hulle Tsafendas se naam gesien het en sou hulle daarna die aangeleentheid by die Departement van Binnelandse Sake aanhangig gemaak het en vasgestel het waarom sy naam op die voorbehoudlys verskyn. Sy hele geskiedenis sou dan aan die lig gekom het. Volgens die Kommissaris het hulle ook ’n verslag vernietig sonder dat hulle magtiging daartoe gehad het.”

Mnr. Hughes spreek ook genl. Hendrik van den Bergh, destydse hoof van die Veiligheidspolisie, skerp aan in sy toespraak.

“Op bladsy 27 van die verslag,” sê hy, “meld die Kommissaris dat genl. Van den Bergh getuig het dat die Veiligheidspolisie verantwoordelik is vir die veiligheid van die Eerste Minister, en dat hy rondborstig erken het dat die moontlikheid dat daar ’n gebrek aan veiligheid in die Volksraad bestaan, hom nooit getref het nie. Hy was bewus daarvan dat majoor Venter, wat voorheen aan die Veiligheidspolisie verbonde was, vir die beskerming van die Volks­raad verantwoordelik was en het aanvaar dat alles in die haak was.”

Dan maak hy die volgende beskuldiging: “Ek sê dat die Hoof van die Veiligheidspolisie geen reg gehad het om te aanvaar dat alles in die haak was nie. Waarom het hy majoor Venter nie genader en vasgestel of alles in die haak was nie? Watter stappe het hy ooit gedoen om by majoor Venter vas te stel of alles in die haak was?

„Op stuk van sake, hy sê dat die Veiligheidspolisie vir die veilig­heid van die Eerste Minister verantwoordelik is. Hy het ook erken dat die Polisie sedert 1964 ’n eksemplaar van die voorbehoudlys gehad het.”

Mnr. Hughes is baie skerp in sy veroordeling van die betrokkenes wat by die geval Tsafendas gemoeid is wanneer hy sê: “Hierdie verslag is ’n verskriklike aanklag teen die departemente, en dit is onmoontlik vir enigiemand om ’n verskoning te vind vir die aanklagte wat die Kommissaris in hierdie verslag maak. Geen Minister kan dit doen nie, meneer. Ek sê dit is ’n verskriklike aanklag van ondoeltreffendheid teen die Departement . . . Ons het van hierdie ondoeltreffendheid te wete gekom omdat die geval van een persoon ondersoek is. Hoe moet ons weet dat daar nie nog baie ander gevalle soos die is nie? Dit is die enigste geval wat ondersoek is. En nie net een fout is gemaak nie, meneer. Flater na flater is gemaak deur een amptenaar na die ander en deur die Klassifikasieraad. Dit was nie net een enkele amptenaar wat ’n fout gemaak het nie.” (Al die uittreksels uit mnr. Hughes se toespraak kom uit Hansard, 26 Januarie 1967, kol. 226 tot 232.)

Die lid aan Nasionale Partykant wat mnr. Hughes as spreker opgevolg het, mnr. J.A. Marais van Innesdal, het beleefdheidshalwe, soos dit die gebruik in die Volksraad is, kortliks na die vorige spreker verwys, maar nie verder breedvoerig daaroor uitgewei nie. Klaarblyklik het hy aangeneem dat die Ministers wat in sulke skerp terme deur mnr. Hughes gekritiseer is, self op daardie kritiek sou antwoord. Dit is eintlik vanselfsprekend.

In sy kort verwysing na die Van Wyk-verslag het mnr. Marais egter gesê daar is baie wat mnr. Hughes gesê het waarmee saamgestem kan word. “Dit is ’n baie merkwaardige verloop van sake wat gepaard gegaan het met Tsafendas se toelating tot Suid-Afrika en sy omswerwinge hier tot daardie noodlottige dag van 6 Septem­ber. Ek wil nie sê dat ek saamstem met sy kritiek teen al hierdie mense nie, maar dit is ontstellende getuienis wat staan in die verslag van die Kommissaris.” (Hansard, 26 Januarie 1967, kol. 232.)

Die Minister van Binnelandse Sake wat in sy afwesigheid so kwaai onder mnr. Hughes deurgeloop het, het eers die volgende dag, die laaste dag van die Wantrouedebat, aan die debat deelgeneem. Ter aanvang het mnr. Le Roux te kenne gegee dat as hy kennis ontvang het dat mnr. Hughes oor die Van Wykverslag sou praat, hy sou probeer het om teenwoordig te wees. Die kort woordewisseling tussen die Minister en mnr. Hughes hieroor staan opgeteken in Hansard van 27 Januarie 1967, kol. 280. Dit het so verloop:

“Die Minister: Meneer die Speaker, as ek kennis gedra het dat hierdie saak in verband met die verslag van die Van Wyk-kommissie bespreek sou word, sou ek seker teenwoordig gewees het. Ek was nie teenwoordig toe dit geopper is nie.

“Mnr. T.G. Hughes: U is gevra om hier te wees.

“Die Minister: Ek het nie die boodskap gekry nie.

“Mnr. T.G. Hughes: (Onhoorbaar)

“Die Minister: Nee, ek wil nie daaroor argumenteer nie. Ek sal sê dit was my skuld.

“Mnr. T.G. Hughes: Het die Sweep nie vir u gesê nie?

“Die Minister: Hoe laat het u hom gevra?

“Mnr. T.G. Hughes: Vroeg in die middag.

“Die Minister: Ek het nie daarvan geweet nie. Dit is al wat ek sê. Ek sê net dat ek nie daarvan geweet het nie. Ek plaas nie die blaam op die agb. lid vir Transkei wat die saak geopper het nie. Ek neem hom ook nie kwalik dat hy dit geopper het nie. Ek gaan nou daarmee handel en ek dink u verwag dit van my dat ek daarop sal antwoord as die verantwoordelike Minister van Binnelandse Sake.”

En toe maak mnr. Le Roux hierdie verbasende stelling: “Die feit dat hierdie tragiese gebeure in hierdie Raad afgespeel is,” verklaar hy, “het besondere aandag gekonsentreer op ’n persoon. As daardie persoon hierdie selfde daad op ’n ander mens sou gepleeg het, in die straat of in die agterbuurte, sou niemand weer aan hom gedink het nie. Blykbaar het niemand tevore in hom belang gestel nie. Niemand sou dan aan hom groot publisiteit gegee het nie.

“Dit wil nie sê dat omdat hy so ’n niksbeduidende figuur was, hierdie dinge wat saamhang met die daad wat hy gepleeg het, nie ondersoek moes word en deeglik in oënskou geneem moes word nie. Ek het die agb. lid vir Transkei se toespraak hier by my.

“Die agb. lid het die saak in hierdie debat ingebring. Die manier waarop die agb. lid die saak hier ter sprake gebring het en behandel het, is niks anders nie as om ’n poging aan te wend om vuur in hierdie onsuksesvolle wantrouedebat van hulle te sit. Die bevindings van die kommissie was eintlik vir baie mense gerusstellend en het vir hulle tevredenheid verskaf. Maar omdat daar niks opsienbarends eintlik te voorskyn gekom het nie, was dit ook teleurstellend vir ander mense. Ek wonder of die Opposisie nie graag sou wou gehad het dat iets verskrikliks opsienbarends te voorskyn moes gekom het nie.”

Die Minister se teenbeskuldiging aan die adres van die Verenigde Party omdat die geval Tsafendas en die Van Wyk-kommissie se verslag in die wantrouedebat geopper is, moet beoordeel word teen die agtergrond van die feite. Demitrios Tsafendas het die regeringshoof van die dag in die raadsaal van die Volksraad vermoor. Dit was so ’n skokkende daad dat onmiddellik deur die nuwe regeringshoof besluit is om ’n regterlike kommissie van ondersoek daarna aan te stel. Met daardie besluit is enige verdere bespreking van die sluipmoord eintlik gesluit totdat die kommissie sy werk voltooi en verslag gelewer het. Die kommissie het sy verslag in Desember 1966 voltooi. Ernstige beskuldigings van onbevoegdheid en on­doeltreffendheid en nalatigheid is deur die regter teen verskillende Staatsdepartemente gemaak. Die Wantrouedebat was die eerste geleentheid in die nuwe Parlementsitting waar die kommissie se verslag bespreek kon word.

Die Minister maak egter die beskuldiging dat die saak om taktiese redes deur die VP in die debat geopper is.

Mnr. Le Roux erken vervolgens in sy verslag dat sekere departemente en sekere amptenare foute gemaak het. Hy erken dat daar nalatigheid was en verklaar dan:

“Dan noem die Kommissaris ’n paar van die departemente, en een wat hy noem is die Departement van Binnelandse Sake. Hy noem vyf amptenare van daardie Departement. Nie een van hulle is hoogstaande amptenare nie, of hoogbesoldigde amptenare, of hoogverantwoordelike amptenare nie. Hulle is almal amptenare in ’n laer salarisgroep. Die minimum-kwalifikasie vir indiensneming vir die meeste van hierdie amptenare is slegs standerd sewe.”

Die Minister verklaar voorts dat hy nie ’n verskoning vir hierdie amptenare wil soek nie. “Niemand kan nalatigheid goedpraat of fout vind met die bevindings van die kommissie ten opsigte van wat hy in my Departement gevind het nie. Niemand kan sê dit het nie bestaan nie. Niemand kan met die bevindinge fout vind nie. Dit is ’n feitelike toedrag van sake.

“Maar nou moet ’n mens darem, om die korrekte perspektief te kry, ook na die agtergrond kyk. Daardie Departement het oor die 1 000 vaste amptenare in diens. Dit is afgesien van die tydelike amptenare. Hulle het omtrent ’n miljoen lêers in hulle besit.” Vervolgens het mnr. Le Roux sekere beskuldigings van mnr. Hughes teen die Ministers van die betrokke Departemente behandel.

“Ek wil graag ’n paar feite in verband met hierdie saak regstel, asook in verband met die verslag van die kommissie. Die agb. lid het die indruk probeer wek, eintlik het hy die beskuldiging gemaak - dat Ministers hulle nie steur aan of niks weet van wat in hulle onderskeie Departemente aangaan nie. Hy het my in die besonder as die nuwe Minister van Binnelandse Sake dit toegegee dat ek vir so ’n kort tyd in hierdie Departement is dat die grootste vergrype eintlik voor my tyd gebeur het. Gevolglik lê hy die blaam op my voorganger.

“Sover my kennis strek wat betref ministeriële beheer van, be­langstelling in en die verantwoordelikheid namens die verskillende departemente, is daar nie ’n enkele Minister wat daarvan beskuldig kan word nie. Allermins sou dit van my voorganger gesê kon word. Die Raad ken my voorganger en die land ken hom, en ek dink dit is onvanpas om hier in die Raad die etiket om sy nek te hang as sou hy nie geweet het wat in sy Departement aangaan nie, want daar het dan kwansuis die verskriklikste dinge plaasgevind.”

Hierop het die Minister gesê: “My eintlike beswaar teen die Opposisie het nie te maak met hulle kritiek nie, maar met die feit dat hulle kritiek so nutteloos en so vrugteloos is omdat dit nie op feite en kennis gebaseer is nie.”

Na aanleiding hiervan het mnr. Hughes by wyse van ’n tussenwerpsel aan die Minister gevra: “Wat van die kritiek van die regter?”

Mnr. Le Roux se antwoord hierop was dat die regter onder meer aanbeveel het dat ’n organisasie- en ’n metode-diensstudie in die Departement van Binnelandse Sake ingestel moet word. Mnr. Le Roux het daarop gewys dat ’n organisasie- en metode-diensstudiegroep al vir drie jaar besig is om die Departement van Binnelandse Sake op te knap.

Na hierdie verduideliking het mnr. Le Roux tot die geval Tsa­fendas teruggekeer deur die vraag te stel hoe hy onder die aandag van die Departement van Binnelandse Sake gekom het.

“Hy het”, verklaar die Minister, “weer spesifiek onder die aandag van die Departement gekom voordat hy hierdie daad gepleeg het. Hy kon onder die Departement se aandag gebring word by wyse van ’n polisieverslag of ’n verslag van die Veiligheidspolisie. Hy kon ook onder ons aandag kom as gevolg van die feit dat my eie Depar­tement inligting inwin oor gevalle waar ons twyfel het.

“Die twee lêers oor Tsafendas was onder die 233 000 lêers in die Departement wat nog nie gekorreleer is nie; ons het ander lêers. Ons plaaslike beheerbeampte hier is versoek om in die eerste instansie ’n herklassifikasie aan Tsafendas toe te staan.

“Die beheerbeampte het toe ondersoek laat instel en toe het hy agtergekom dat Tsafendas weens sy verbintenisse en sy houding en sy omgang met Nie-blankes nie ’n gewenste persoon is nie, en as gevolg daarvan is vasgestel dat hy permanente verblyf toegestaan is. Omdat hy permanente verblyf toegestaan is deur die Departement van Immigrasie, wat nie onder my Departement ressorteer nie en waarvoor die Departement van Binnelandse Sake nie verantwoordelik is nie, was daar geen ander alternatief nie as om te vra dat hy hier moet bly en herklassifiseer word, of dat hy gedeporteer moet word.

“Geen voorlegging is aan my gemaak ten opsigte van Tsafendas dat hy om sekuriteitsredes gedeporteer moet word nie. Die deportasiebevel is uitgereik omdat hy nie as ’n aanwins vir hierdie land beskou is nie en vanweë sy optrede. Daar was in daardie stadium geen kriminele rekord voor my nie. Ek het besluit om die deportasiebevel te teken omdat hy nie ’n aanwins vir Suid-Afrika sou wees nie en omdat hy nie ’n burger van hierdie land is nie.”

Vervolgens behandel die Minister die lang tydsverloop tussen die datum toe hy die uitsettingsbevel geteken het en die dag van die sluipmoord.

“Daardie lêers, anders as wat die verslag aandui, is afgestuur na my op 4 Augustus vanuit Pretoria. Die leers het op die 8ste hier aangekom by my Sekretaris, wat die lêers die aand na my kantoor toe deurgestuur het. Die volgende dag, die 9e, het ek die lêers onder oë gehad en afgehandel en aan hom terugbesorg; op die 10e het hy die lêers aan die Adjunk-sekretaris, wat vir daardie afdeling verantwoordelik is, deurgestuur. Hy was ook in Kaapstad en hy het dit dieselfde dag deurgestuur na hoofkantoor. Eienaardig genoeg het dit vier dae geneem vir daardie lêers om van Pretoria per possak hier aan te kom. Die lêers het eers die 17e in Pretoria aangekom.” (Klaarblyklik het die Minister bedoel dat dit vier dae geneem het vir die lêers om van Kaapstad in Pretoria aan te kom.)

Mnr. Le Roux sê die kritiek is heeltemal gebillik dat daar so ’n lang tyd verloop het, van 17 Augustus tot 6 September, sonder dat uitvoering aan die bevel gegee is. “Maar agb. lede moet onthou”, het hy as verskoning aangebied, “dat Tsafendas se geval nie as ’n uiters dringende geval beskou is wat met haas en spoed afge­handel moet word sodat hy dadelik gedeporteer kan word nie. Dit was ’n gewone geval, want ons het niks anders teen hom gehad nie.”

Hierop het een van die Volksraadslede tussengewerp:  “’n Kommunis ?”

Mnr. Le Roux se antwoord op hierdie vraag was ewe verbasend.

“Hy was ’n kommunis”, het mnr. Le Roux geantwoord, :in die dae toe die Verenigde Party aan bewind was. Die feit dat hy kommunistiese neigings gehad het, was bekend in die dae toe die Ver­enigde Party nog aan bewind was. Hy is toelating geweier, maar hy het die land onwettig binnegekom. Hy is hier veroordeel en nieteenstaande daardie feit is hy hier aangehou vir etlike maande onder ’n permit vir tydelike verblyf omdat hy aktiewe oorlogsdiens gedoen het. Daar is baie mense in die land met kommunistiese neigings. As ons kommunistiese neigings as ons norm moet neem, dan wonder ek hoeveel mense, insluitende ook lede van die Verenigde Party, gedeporteer sal moet word. Dit is baie maklik om te se dat iemand kommunistiese neigings het, maar wanneer is hy ’n kommunis en wanneer het hy nog maar net neigings in daardie rigting?”

In die Hansard-verslag by hierdie gedeelte van mnr. Le Roux se toespraak staan aangeteken dat daar tussenwerpsels was.

Wat die Minister klaarblyklik hier wou gesuggereer het, was dat Tsafendas in die dae van die Verenigde Partybewind as ’n man met kommunistiese neigings onder die aandag van die owerhede ge­kom het. Hy het inderdaad, nadat hy die land binnegekom het, hier by die Kommunistiese Party aangesluit. Op daardie tydstip was die Kommunistiese Party nog nie in Suid-Afrika verbied nie. Die Regering waarvan mnr. Le Roux lid was, het egter in 1952 die Kommunistiese Party as ’n verbode organisasie verklaar kragtens die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme.

Wat meer is, is die feit dat die Departement van Binnelandse Sake telkens, terwyl Tsafendas in die buiteland rondgeswerf het, waarskuwings ontvang het dat hy ’n man met kommunistiese nei­gings was en kommunistiese assosiasies gehad het. As gevolg van hierdie waarskuwings is sy naam in 1959 op die Departement se voorbehoudlys van ongewenste persone geplaas.

Mnr. Le Roux het verdere lig gewerp op die vraag waarom die brief met die uitsettingsbevel aan die Polisie op 6 September 1966 nog nie aan die Polisie deurgestuur is nie. Hy het verduidelik dat ’n brief aan die Polisie op 1 September onderteken is. Die Polisie het verskillende adresse van die man gehad en op 2 September is vasgestel dat die adres wat in die brief aan die Polisie vermeld is, die verkeerde was. Die brief is toe oorgetik. Dit was op die 2e. Die 3e was ’n Saterdag, die 4e ’n Sondag en die 5e ’n openbare vakansiedag, en die 6e was die Dinsdag toe die moord plaasgevind het, lui mnr. Le Roux se verduideliking.

Die leser moet maar self besluit wat om van so ’n verduideliking te dink. In elk geval kon die Minister nie die vertraging tussen 17 Augustus toe die stukke in Pretoria aangekom het, en 1 September, toe die eerste brief getik is, verklaar nie.

Die volgende gedeelte van die Minister se toespraak is waarskynlik een van die wrangste stukkies ironie.

“Onmiddellik nadat die moord plaasgevind het”, sê hy, “het die Sekretaris van die Departement na my gekom en gesê dat ons darem meer inligting omtrent die man moet hê, moontlik, as daardie inligting wat voor my was toe ek die deportasiebevel onderteken het. Ek het dadelik opdrag gegee dat ’n ondersoek moet ingestel word en dat alle lêers moet deurgegaan word om te kyk wat die Departement het oor iemand wat net ruik na Tsafendas. Hulle het dit ge­doen.

“Die tweede ding, wat onmiddellik gevolg het, is dat ons ’n persverklaring in dié verband gedoen het nadat ek eers geweet het dat die Staatsdienskommissie die ondersoek gaan laat instel. Ek het op 20 September ’n persverklaring gemaak, nog voor hierdie kommissie aangestel was, dat ek die Staatsdienskommissie gevra het om ’n baie behoorlike ondersoek te laat instel na enige aangeleentlieid in die Departement wat enige betrekking kan hê op nalatigheid in die Departement, ens.”

Net voordat die Minister se tyd hierna verstryk het, het die Leier van die Opposisie aan hom gevra: “Het u of u Departement kennis gedra, toe daardie bevel geteken is, dat Tsafendas hier in diens van die Volksraad was?”

Die Minister het geantwoord: “Nee, hy was net ’n gewone mens. Ons het nie kennis daarvan gedra nie.” (Al die uittreksels uit mnr. Le Roux se toespraak is uit Hansard, 27 Januarie 1967, kol. 280- 287.)

Die enigste ander spreker aan Verenigde Partykant wat die debat oor die geval Tsafendas en die Van Wykverslag verder gevoer het, was mnr. J.O. Newton-Thompson van Pinelands. In sy toespraak het hy min of meer die beskuldigings van mnr. Hughes herhaal en gesê dat sekere Ministers uit hulle poste behoort te bedank.

“Meneer, die Speaker,” het mnr. Thompson begin, “die agb. Minister het gesê dat ons hierdie aangeleentheid van die Van Wykverslag geopper het ten einde hierdie debat lewe in te blaas. Ek sou sê dat selfs as daar geen ander getuienis van onbevoegdheid aan die kant van die Regering was as die wat in daardie verslag geopenbaar word nie, dit nogtans hierdie debat en ons voorstel ten volle sal regverdig.”

Mnr. Thompson het ook weer verwys na die feit dat die Minister nie in die Raad was toe mnr. Hughes die Van Wykverslag geopper het nie. “Ons weet nou dat dit nie aan sy (die Minister) se onbe­voegdheid te wyte is dat hy nie in die Raad was toe hierdie aan­geleentheid deur die agb. lid vir Transkei geopper is nie, maar wel aan die onbevoegdheid van iemand wat ons beskou het as uiters bevoeg, naamlik die agb. Hoofsweep (mnr. Koos Potgieter van Brits), want laasgenoemde is in werklikheid ’n hele paar uur voordat die agb. lid vir Transkei gepraat het, meegedeel dat hierdie aange­leentheid geopper gaan word. Trouens, ons het al begin wonder wie in hierdie Departement aan die roer van sake staan, want in vanoggend se koerant het ons ’n verklaring van die Sekretaris van daardie Departement gekry dat daar moontlik ’n ondersoek na die bevinding van nalatigheid sal wees. Ons het egter nie verwag om daardie inligting van die Sekretaris van die Departement te kry nie;  ons het verwag om dit te kry van die verantwoordelike persoon, die agb. Minister.”

Net soos mnr. Hughes kritiseer mnr. Thompson ook die optrede van die Hoof van die Veiligheidspolisie, genl. Van den Bergh. “Die hoogste persoon in die Veiligheidspolisie het aanvaar dat hy en sy Departement ’n verantwoordelikheid het wat die veiligheid van die Eerste Minister betref. Wie sou beter geweet het van die moontlike gevare vir die lewe van die Eerste Minister as juis hierdie Departement? Ek sê dat hulle dus sekerlik ’n dure plig teenoor die ontslape agb. Eerste Minister gehad het om amptenare in hierdie Raad te waarsku teen enige spesiale gevaar.”

Ook ten opsigte van die Departement van Arbeid het mnr. Thompson ernstige kritiek. Hy sê dit is nie duidelik dat die Departe­ment van Arbeid Tsafendas na die Volksraad gestuur het om ’n betrekking te bekom nie, maar dit is heeltemal duidelik dat so kort as ’n maand voordat hy in die Volksraad begin werk het, die Depar­tement hom wel na poste gestuur het.

“Dit is heeltemal duidelik uit die getuienis wat in hierdie verslag uiteengesit word en in die lig van die antwoorde wat ons gekry het,” gaan mnr. Thompson dan voort, “dat daar verskeie Ministers is wat vir die mees ernstige nalatigheid en die mees ernstige versuim verantwoordelik was. Daar was ontsettende flaters wat verskriklike gevolge gehad het, en ek gee te kenne dat dit onder die omstandighede niks minder as reg is dat diegene wat daarvoor verantwoorde­lik is, die ernstigheid van hierdie flaters en die gevolge daarvan moet insien en hulle bedanking moet indien. As daar enige gebelgdheid hieroor is, kan ek maar net sê dat enigiets minder as dit ’n aanduiding sal wees dat standaarde aan die daal is.

“Dit ly geen twyfel dat in ’n toestand soos die, waar ons die hoogste standaarde van ons Ministers verwag en eis, dit niks minder as reg is, of dit nou hulle was wat verantwoordelik was of diegene in hulle Departemente wat hulle in die steek gelaat het, dat hulle moet getuig van daardie standaarde deur hulle bedanking in te dien nie. In hierdie verband dink ’n mens aan die vorige en huidige Minister van Binnelandse Sake (sen. De Klerk en mnr. Le Roux), aan die Minister van Immigrasie (sen. Trollip) en, dit spyt my om te sê, die destydse Minister van Polisie (mnr. Vorster).

“Meneer die Speaker, niks minder as dit sal die ernstigheid van die onthullings in hierdie verslag aantoon en sal voldoende aandui dat die Regering die onthullings op die geskokte wyse bejeën waarop die land dit bejeën nie. As die Kabinet en lede oorkant heeltemal selfvoldaan voel, is dit des te meer skokkende getuienis van hierdie daling van standaarde. In Japan sou mense wat hulle land in die steek gelaat het in die ou dae hara-kiri gepleeg het. In die Westerse wêreld dien Ministers hulle bedankings in, en ons wag om dit te sien gebeur.” (Mnr. Thompson se toespraak is opgeteken in Hansard, 27 Januarie 1967, kol. 287-294.)

Ewe verbasend as die Minister van Binnelandse Sake was sekere stellings van die Minister van Gemeenskapsbou, mnr. W.A. Maree. Mnr. Maree het na mnr. Thompson gepraat en slegs in enkele sinne na die vorige spreker se beskuldigings teen bepaalde Ministers verwys.

“Wat het hierdie agb. lid nou probeer doen in sy toespraak?” het mnr. Maree gevra. “Hy het in sy toespraak dwarsdeur die indruk probeer skep dat die Minister van Binnelandse Sake en die Regering nie die nalatigheid in verskeie departemente, waarna in die kommissieverslag verwys word, ernstig opneem nie. Dit probeer hy voorgee, selfs nadat die Minister van Binnelandse Sake uitdruklik hier gesê het dat elke departement deeglik verdere ondersoek sal instel en dat, waar nodig, dissiplinêre stappe gedoen sal word.”

Wat die saak betref, het mnr. Maree afgesluit: “Daarom, meneer die Speaker, moet ’n mens in ’n ontwikkelende land, soos ons s’n, daarmee verlief neem dat daar van tyd tot tyd in die departemente gevalle van nalatigheid sal voorkom aan die kant van junior ampte­nare. Dit gebeur van dag tot dag, en ’n mens probeer dit bekamp sover as wat ’n mens moontlik kan.” (Hansard, 27 Januarie 1967, kol. 295).

In sy repliek op die Wantrouedebat het die Leier van die Opposisie veral na die optrede van die Veiligheidspolisie verwys. Hieroor het sir De Villiers Graaff gesê: “Ons kom verder by die optrede van die Veiligheidspolisie wat verantwoordelikheid moet aanvaar vir die veiligheid van die Eerste Minister. Ek moet sê dat ek glad nie gelukkig voel oor die stappe wat hulle gedoen het en die halfhartige manier waarop hierdie saak gehanteer is nie.”

Hierop het die Eerste Minister by wyse van ’n tussenwerpsel gesê: “U weet dat hulle destyds geen seggenskap in die Volksraad self gehad het nie.”

Hierna het die woordewisseling tussen mnr. Vorster en die Leier van die Opposisie soos volg verloop:

“Sir De Villiers Graaff: Dit het niks daarmee te doen nie, meneer die Speaker. Die agb. Eerste Minister weet dat die amptenaar wat aan die hoof gestaan het, in 1963 gevra het vir ’n lys van die personeel in die Volksraad. Hy het hulle nagegaan. Hy het gemeen dat dit nodig was om dit te doen. Hy het nooit gevra vir verdere name wat later op die lys gekom het nie.

“Die Eerste Minister: Dit is glad ’n ander saak.

“Sir De Villiers Graaff: Nee, dit is nie ’n ander saak nie. Daar moet ons, volgens my mening, die swakheid soek en ek vestig uitdruklik die aandag van die Eerste Minister daarop. Ek meen dat ek met reg kan sê dat in die lig van die toestand die verduidelikings wat ek sover gekry het, heeltemal onaanneemlik is . . .

“Ek wil andermaal sê dat dit ’n ou tradisie is dat die Minister verantwoordelikheid aanvaar. Ons maak in hierdie Raad geen aanvalle op Staatsamptenare nie; hulle kan hulleself hier nie verdedig nie. Ons maak aanvalle op die verantwoordelike Ministers. Ek wil dit aan die Eerste Minister sê: In die lig van hierdie bewyse, wil ek aan hom vra of hy oortuig is van die doeltreffendheid en die bevoegdheid van die betrokke Ministers wat hierdie saak betref?”

Die Leier van die Opposisie se vraag het in die lug bly hang. Die Eerste Minister het nie by wyse van ’n tussenwerpsel daarop gereageer nie. En dit was ook die laaste keer dat die Van Wyk- kommissie se verslag en die Tsafendas-geval in die Volksraad bespreek is.

Daar is verskeie aspekte van hierdie saak wat besonder vreemd, indien nie skokkend nie, voorgekom het. Die belangrikste daarvan is die optrede van die betrokke Ministers in die wantrouedebat.

Die Eerste Minister het op 14 September 1966 persoonlik aangekondig dat ’n regterlike kommissie na die dood van dr. Verwoerd aangestel is. Die kommissaris het sy verslag in Desember voltooi. Die Parlementsitting het op 20 Januarie 1967 begin en die Volksraadslede het eers kopieë van die verslag op Dinsdag, 24 Januarie, ontvang. ’n Mens moet egter aanneem dat minstens die Eerste Minister, die Minister van Binnelandse Sake, die Minister van Justisie, die Minister van Immigrasie, die Minister van Arbeid en die Adjunk-minister van Polisie vooraf eksemplare van die verslag ontvang het, aangesien dit hulle departemente is wat van nalatig­heid, onbevoegdheid en ondoeltreffendheid deur die regter beskuldig is.

In sy eerste aankondiging as Eerste Minister in die Volksraad het mnr. Vorster bekend gemaak dat hy voorlopig self die portefeulje van Polisie sal behartig. As Adjunk-minister van Polisie is mnr. Lourens Muller van Ceres aangestel. Die nuwe Minister van Justisie was mnr. P.C. Pelser.

Benewens die Minister van Binnelandse Sake, mnr. Le Roux, het nie een van hierdie persone na die Tsafendas-geval en die Van Wykverslag in die Wantrouedebat verwys nie. ’n Mens sou verwag het dat waar dit so ’n uiters belangrike dokument oor so ’n skokkende voorval was, die Eerste Minister ’n volledige verklaring daaroor aan die Volksraad sou doen toe hy net na die Leier van die Opposisie aan die wantrouedebat deelgeneem het. Dit is egter nie gedoen nie. ’n Mens sou ook aangeneem het dat die Eerste Minister tot aan die einde van die debat sou wag ten einde in die geleentheid te gewees het om persoonlik op die bespreking oor die verslag te antwoord. Sy onmiddellike toetrede tot die debat na die Leier van die Opposisie het dit vir hom onmoontlik gemaak om later in die debat, toe aanvalle op lede van sy kabinet gedoen is en toe sy eie Departement, Polisie, skerp gekritiseer is, daarop te antwoord.

Verder sou ’n mens ook aanneem dat toe die Eerste Minister die Van Wyk-verslag ontvang het, hy moes verwag het dat die saak in die Wantrouedebat ter sprake sou kom. Hy moes verder verwag het dat, in die lig van die regter se bevindings van ernstige nalatigheid, onbevoegdheid en ondoeltreffendheid teen ander Ministers se Departemente, die Opposisie nie die geleentheid sou laat verbygaan om hierdie Ministers skerp aan te spreek nie. Daarom is dit vanselfsprekend dat hy hulle opdrag sou gegee het om hulleself voor te berei om aan die debat deel te neem en op die kritiek te antwoord.

Dit was net die Minister van Binnelandse Sake wat oor die Tsafendas-geval gepraat het. Die geval Tsafendas en die Van Wykverslag was in die eerste instansie ’n aangeleentheid vir die Minister van Polisie en die Minister van Justisie. Albei, en ook die Adjunk-minister van Polisie, was in die Volksraad, maar nie een van hulle het ’n woord oor die Van Wyk-verslag gesê nie. Ook die Minister van Immigrasie en die Minister van Arbeid het geswyg.

Dat ’n skokkende daad soos die sluipmoord op ’n regeringshoof in die Volksraad en ’n uiters belangrike ondersoek soos dié van regter Van Wyk op hierdie wyse deur die betrokke Ministers gehanteer is, is byna onbegryplik. Onvermydelik laat dit die indruk dat daar ’n gevoel bestaan het dat die publiek in Suid-Afrika so gou moontlik van die skokkende gebeurtenis op Dinsdagmiddag, 6 September 1966, in die Volksraad moes vergeet het.

Opsoek na inligting?

  •  

    BYBEL 1933/53-druk nou gratis

    Gelofteland is dankbaar om aan al ons lesers die 1933/53-uitgawe van die Bybel gratis te voorsien. Al wat u hoef te doen is om 'n e-pos na

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    te stuur met die versoek om die Bybel te ontvang, en ons sal dit aan u stuur.

    __________________

    VRYHEIDSBEDIENING

    Ds. Andre van den Berg werk sedert November 1990 weekliks met volksgenote in die gevangenis in Pretoria-Sentraal. Hy bied ʼn reeks laserskywe teen R200 (posgeld uitgesluit) per stel van 10 aan. Die opbrengs van hierdie verkope gaan vir Gevangenisbediening.

    Dit handel oor aktuele onderwerpe soos:

    1. Die lewe hiernamaals.
    2. Word verantwoordelik oud.
    3. Die pad na die ewigheid.
    4. Bied beproewing die hoof.
    5. Raad vir tieners.
    6. Gelowige kinderopvoeding.
    7. Oorwin depressie.
    8. Kikker jou huwelik op .
    9. Alle mense is nie gelyk nie.
    10. Homoseksualisme - ʼn gruwel vir God.

    Bestel by:

    E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Sel: 074 967 5187

    Bankbesonderhede:

    ABSA

    VRYHEIDSBEDIENING

    9062088855

    _______________

    VAKATURE: HOOFBESTUURDER - RADIO ROSESTAD

    Stuur u aansoek saam met ’n CV waarin u ‘n persoonlike bekendstelling, werkservaring en tersaaklike kwalifikasies insluit, voor 15 September 2018 aan ds. CM Erasmus by die e-pos adres: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Vir meer inligting:

    VAKATURE: HOOFBESTUURDER - RADIO ROSESTAD

    ___________

    Skryf in vir die gratis e-blad OORSIG EN REPLIEK

    'n Blad wat dmv verduidelikende agtergrond by die kern van ons volk se
    stryd uitkom.

    Kontak die redakteur by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Lees ons gereelde uittreksels daaruit hier op Gelofteland by OORSIG EN REPLIEK

    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________ 
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.

    Hierdie boek uit die pen van ds AE van den Berg, het in gedrukte vorm verskyn.  Dit bring helder perspektief oor rasseverskille en natuurlike skeiding wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte wat landsburgers van geestelike denke sal laat verander en van onregte en gewaande vryheid sal bevry.

    Sinvolle besluite in die lig van God se Woord, en onophoudelik gebed dat bevryding spoedig verwesenlik word, is noodsaaklik. Politiek is erns en harde werk wat wet en orde handhaaf en durf nie in eerlose hande gelaat te word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel.

    U kan hierdie boek bestel by ds A E van den Berg

    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com

    Prys: R50-00

  •                                                                        ______________

    BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    'n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD

    _______________

    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

                                                                           ________________

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    of skakel hom by 074 967 5187

    ________________

    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel

    _________________

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

  •  

    DIE CHARISMATIESE GEVAAR
    Mense word so maklik deur dwaalleringe mislei. In hierdie boek word talle kwelvrae beantwoord.

VERGADERING-

PROSEDURES

(GRATIS)

Daar is min mense wat nog die waarde van 'n ordelike byeenkoms bedink en kan uitvoer. Sonder hierdie kennis en orde en gedissiplineerde toepassing daarvan sal 'n byeenkoms in wanorde verval en die doel van die vergadering nie bereik word nie. Die boekie kom handig te pas in alle omstandighede waar 'n vergadering van persone plaasvind, ongeag die sakelys of doel van die byeenkoms.

Klik hier om die boekie wat u op hoogte kan bring van korrekte vergaderingprosedures, gratis af te laai. Indien u van Windows 10 gebruik maak sal die inhoud outomaties onder die lêer "Downloads" geberg word en kan dit daar gehaal en gebêre word waar ookal dit maklik gevind kan word.

1919: VRYHEIDSDEPUTASIE KEER TERUG

1800: GRAAFF- REINETSE REBELLE GEVONNIS

1917: OOM JAPIE HELPMEKAAR

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

                                                                         __________________

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES

(Lees by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

                                                                         __________________ 

APARTHEID:

Is die boom wat die beste vrugte lewer.

Diskriminasie is onderskeiding tot beswil van alle volke.

Rassisme beteken rassekennis en kennis is wysheid.

Bewerk groei van 'n volk uit eie wortels, uit eie instellings, uit eie krag.

Strewe na 'n vreedsame verhouding met wedersydse respek vir mekaar se kultuurgoedere, tradisies, ideale.

                                              ___________________                                                  

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 1793 gaste aanlyn