Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Selfbejammering is gif vir jou gees en maak jou selfsugtig. Niks maak ‘n mens so eensaam as wanneer eie belange jou enigste belange word nie. En dis wat selfbejammering doen! Laat mense nooit van jou sê: “Wat ‘n selfsugte mens!” nie.
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (2)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, stukke oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Die geheimsinnige gidse
G.R. von Wielligh was krygskommissaris oor die Britse krygsgevangenes in die eerste deel van die oorlog, en 'n tyd lank was hy dag na dag met hulle in aanraking. 'n Paar van hulle het hom vrywillig met sy werk gehelp, onder andere korporaal Edwards van die Northumberland Fusiliers, wat 'n rol in die verhaal speel. Op 6Junie is die Britse krygsgevangenes ontset. Daarna het die Britte Von Wielligh in Pretoria gevange gehou.
Die vervelige niksdoen, maar nog meer die gevoel dat hy die kommando's moes gaan help veg, het hom laat besluit om uit Pretoria te ontsnap. Dit was 'n gevaarlike onderneming, want die Engelse krygsraad het juis in hierdie tyd twee mans laat doodskiet omdat hulle probeer ontsnap het.
Op 'n Sondagaand, moontlik 2 Maart 1901, het hy dit gewaag om weg te loop in die rigting van genl. J.H. de la Rey.
Hy het dit reggekry om veilig deur die doringdraad en wagte om Pretoria te glip. Teen dagbreek die oggend het hy weggekruip in 'n populierbos van veldkornet Lewies Jordaan. Meteens begin die kanonne bulder en ontstaan daar 'n hewige geveg tussen die Engelse en genl. De la Rey, wat die Britse kamp op Rietfontein-Wes naby die Hartbeespoortdam aangeval het. Die Engelse troepe was nou tussen Von Wielligh en De la Rey se kommando. Daar was geen hoop om by De la Rey uit te kom nie. Die enigste uitweg was om maar na Pretoria terug te keer langs 'n baie onveilige pad wat voortdurend bewaak is. Von Wielligh vertel verder:Gedurende die dag het ek my op verskeie plekke versteek, onder meer in doringbome naby Jordaan se plaas, maar steeds is dit asof iemand my aanspoor: “Gaan weg hier.” Ek luister na hierdie voorgevoel en gaan omtrent honderd tree verder in die hoë gras lê. Kort daarna kom daar ’n Engelse offisier aan, stap die kol bome binne en vertoef ’n hele ruk daar.
Intussen het dit begin reën, iets waaroor ek baie bly was omdat dit die bewaking minder skerp sou maak. Die vervelige wag het die ure baie traag laat verbygaan; vir my was dit of die son aan die hemel vasgespyker was. Ek moes na Pretoria en ek moes voor dagbreek daar kom. Om daar op die deurweekte grond en met papnat klere te wag tot sononder toe was vir my uitgeputte geduld te veel. Laat nou kom wat wil, ek gaan loop! Ek het vermoed dat die Engelse wagte meer aktief sou wees in die rigting van die Boerekommando; en ek was waarskynlik reg, want ek het niemand in die helder daglig teëgekom nie.
Naby Badenhorst se plaas word dit skemer. Die son gaan in daardie tyd van die jaar om sesuur onder. Die lug was swaar bewolk, en toe ek op die plaaswerf kom, was dit donker. Ek wou aan die noordekant van die koppie op die werf verbygaan. Maar meteens sien ek dat iemand ’n vuurhoutjie trek. In die flou lig sien ek dat hy langs sy perd staan. Onmiddellik daarna trek ’n ander man ’n vuurhoutjie. Hy sit op sy hurke en dit stel my beter in staat om te merk dat daar twee mans en twee perde is. Lam geskrik kruip ek onder die oorhangende gras weg en hou my so stil as ek kan. Die twee mans moes iets van my bespeur het, want een kom met sy perd tot op omtrent tien tree van my af en hou stil. Na ’n ruk draai hy om en gaan terug na sy maat.
Later hoor ek hoe hulle wegry in die rigting van Pretoria.
Ek kyk op my horlosie. Dit is kwart voor sewe. Ek vat toe koers om die suidekant van die koppie, aangesien die twee Kitchener-scouts om die noordekant verdwyn het.
En nou volg die vreemde verskynsel. Uit die populierbos van Badenhorst kom daar twee meisies, een omtrent twaalf jaar oud en die ander omtrent vyf en twintig jaar, reguit na my toe aangestap. Op ’n afstand van drie tree voor my verdwyn hulle. Dit het my nie verskrik nie, omdat ek die verskynsel toegeskryf het aan die vrees wat die twee wagte my op die lyf geja het. Baie versigtig stap ek verder. Weer sien ek die twee meisies uit die populierbos na my toe aankom, maar hierdie keer verdwyn hulle nie. Hulle stap voor my uit en ek beskou hulle goed: die kleintjie het ’n baie vriendelike gesiggie, maar die ouere kyk altyd dwars, sodat ek haar gesig nie kan sien nie. Aan die twee verskynsels sê ek toe: “Kyk, ek sal julle volg, maar julle lei my nie in die hande van die vyand nie.”
Hulle bly omtrent drie tree voor my, en vol vertroue volg ek hulle.
Hulle stap met my noordwaarts, by die koppie verby. “A, nee, a,” sê ek, “Pretoria lê mos oos, en julle lei my noord.” Soos te verwagte was, het ek geen antwoord hierop gekry nie. Hulle hou hul ingeslane koers en ek stap agterna. By ’n dammetjie water gaan ek sit om te drink en om te rus. Hulle gaan ook sit. Om my te oortuig dat ek nie droom nie, sit ek met my rug na hulle en kyk anderpad, maar wanneer ek omkyk, sien ek hulle nog op hul plek sit. Ek hervat my wandeling, weer stap hulle voor, steeds noordwaarts tot aan die voet van die rant waarin Daspoort hoër op lê. Daar draai hulle oos in die rigting van Pretoria. Wat vir my so vreemd was, was dat hulle my deur slote gelei het waar dit maklik was om deur te gaan. Want daardie omgewing het ek glad nie geken nie.
Ons stap voort tot op die bult waarvandaan ek die ligte van Pretoria kan sien. Deur onbekendheid met die streek waar ek toe was, staan ek ’n oomblikkie stil om vas te stel hoe ver die afstand is wat my van die stad skei. Intussen stap die twee verskynsels weg van my af en gee met tekens te kenne dat hulle nie verder met my wou saamgaan nie. Hulle staan toe omtrent twintig tree van my af, maar nie bymekaar nie. Loop ek na die een, dan gaan sy weg, stap ek na die ander, doen sy dieselfde. Ek raak toe raadop, want ek het baie vas op hulle vertrou. Daarop gaan staan ek om te rus en om te besluit wat om te doen. Hulle kom toe albei weer terug, loop voor my uit en lei my na ’n kol hoë tamboekiegras, waar hulle bly staan. Ek gaan in die gras lê, en hulle kom by my voete staan. Op my horlosie sien ek dat dit kwart oor een in die nag is. Die twee verskynsels was dus ses en ’n halfuur lank by my.
Onder ’n harde stortbui reën val ek aan die slaap, en toe ek wakker skrik, is ek alleen. Ek spring dadelik op en vat koers na die boomplantasie van mnr. Sutherland naby Pretoria. Daarin gaan ek skuil om weer ’n vervelige dag deur te bring. Tot my geluk het dit die hele dag deur hard gereën, sodat geen troepe my in die plantasie kom soek het nie. Af en toe moes ek my uittrek om die water uit my klere te droog. Die lang dag het eindelik omgegaan, en toe dit donker was, het ek met my lewe in my hand deur die omheining rondom Pretoria gekruip en die stad binnegaan.
Ek het destyds ’n kamer van ’n gesin gehuur. Hulle het al geslaap toe ek aanklop. Hulle was verbaas om my terug te sien, en dadelik sê die vrou aan my: “Mnr. Von Wielligh, waarom het jy ons so die angs op die lyf gejaag? Weet jy dat Cordeau en Venter vir dieselfde ding doodgeskiet is? Jou brief wat jy in jou kamer agtergelaat het om te sê dat jy na die Boere toe is, het ek aan die polisie gaan oorhandig, anders sou die Engelse ons na ’n konsentrasiekamp gestuur het.”
“Ek sal sorg dat dit nie gebeur nie,” stel ek haar gerus. Ek het verder niks aan hulle vertel nie en toe gaan slaap met die nare gedagte dat die brief, waarin ek duidelik verklaar het dat ek op weg na die Boere was, in die hande van die vyand geval het.
Die volgende dag stap ek na die naaste polisiekantoor. Met ’n opgewekte stem groet ek die hoof, luitenant Lampriere, en met ’n glimlag roep ek uit: “Hier is ek. Ek hoor julle soek my.”
“Nie net die polisie nie, maar ook die speurders en jou vriende. Waar was jy?”
Ek wou nie lieg nie en het dus sy vrae met teenvrae beantwoord. Toe hy byvoorbeeld vra: “Was jy buitekant die omheining van Pretoria?” het ek teruggevra: “Hoe kan ek? Dit word dan so streng deur die troepe bewaak!”
’n Ruk lank hou hy so aan; hy neem ’n stuk papier en skrywe ’n briefie aan die hoof van die plaaslike speurders, advokaat Greenlees, en gee opdrag om dit aan hom te besorg.
Met ’n glimlag neem ek die brief en stap na die speurdersburo. Soos ek kon verwag het, het Greenlees my onder skerp kruisverhoor geneem. Aangesien daar geen bewyse teen my was nie, slaan hy die aantekeningboek na om vas te stel hoe my gedrag by die militêre aangeteken staan. Hierin kon hy niks teen my vind nie en sê tot my vreugde dat ek maar kon gaan. By die deur roep hy my terug en vra: “Wat omtrent die brief wat jy geskryf het dat jy weggaan om die Boere te help?” Hy soek tussen sy papiere na die brief en kry dit nie. Hy roep een van die klerke om te verneem waar die brief is. Nadat hulle oral gesoek het, verklaar die klerk: “So ’n dokument is nêrens te vind nie.” Greenlees verseker hom dat dit laat die vorige middag nog op sy lessenaar gelê het. Hulle kon dit egter nêrens kry nie. Daarop sê hy weer aan my: “Jy kan maar loop, maar oppas om in die vervolg nie weer sulke inkriminerende briewe te skryf nie.”
Die vraag by my is: Wie het daardie brief weggeneem? Geeneen in die kantoor was ’n bekende of ’n vriend van my nie; hulle was eerder my vyande.
Nou sal ons verneem waarom die twee verskynsels nie verder met my wou saamgaan nie. Nog op daardie selfde dag kom korporaal Edwards met my handsak aan, waarin daar landmeterdokumente was wat die Engelse owerheid wou hê. Die handsak was, soos te verwagte, leeg. Hy het afgemat gelyk, en ek vra hom: “Edwards, hoe lyk jy dan so moeg?” Aangesien hy my baie lank dag na dag in die kommissariaat gehelp het, het ons heeltemal vertroulik met mekaar omgegaan, en hy het geantwoord: “Twee nagte lank het ek amper nie geslaap nie. Ek moes agt uur lank in die donker die pad na Krokodilrivier bewaak, omdat die Boere-spioene Pretoria gedurig in die nag besoek.”
“Waar het julle dan wag gehou?” vra ek.
“Ons het van een rant tot die ander die oop vallei bewaak, sodat niemand kon deurkom nie. En ons was bo-op die bult van waar ’n mens Pretoria kon sien lê.” Hy beduie my toe die plek waar hulle die ingang bewaak het.
Dit was juis naby die plek waar die twee verskynsels geweier het om verder saam met my te gaan! Was hulle nie by my nie, dan het ek my daardie nag teen die Northumberland Fusiliers vasgeloop, en sou ek bepaald gevang gewees het.
Die Huisgenoot, 1 en 8 Oktober 1926.