Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geld kan medisyne koop maar nie gesondheid nie; dit kan 'n huis koop maar nie 'n tuiste nie; dit kan geselskap koop maar nie vriendskap nie; dit kan vermaak koop maar nie geluk nie; dit kan kos koop maar nie 'n aptyt nie; dit kan 'n bed koop maar nie 'n goeie nagrus nie; dit kan 'n kruis koop maar nie 'n Verlosser nie; dit kan 'n goeie lewe koop maar nie die ewige lewe nie.
BROKKIES UIT DIE BOEK: DARIUS PRINS – STAATSVYAND 10)
“Het jy ontbyt gehad?”
“Nee, Oom. Ek is te vroeg vanoggend by die gastehuis weg.”
“Nou kom saam met my huis toe, dan gee ek jou ‘n stewige een. Ons plaasmense eet vroeg, maar wat nou middagete is, kan vir jou ontbyt wees.”
“Dankie. Dit sal goed wees.”
“Waarom het julle hom ‘Skoene’ genoem?”
“Dis maar ‘n naam wat ek hom mee leer ken het. Ek het later, nadat ek weg was uit die lokasie, dit gehoor by een van die offisiere wat hom geken het. Hy het saam met Skoene basies gedoen. Blykbaar was daar ‘n fout met sy voete en hy wou nooit sy stewels uittrek waar ander mense by was nie.”
“Ja, oor sy voete. Eintlik kon hy vrywaring gekry het van diensplig. Dis ‘n oorerflike familiekwaal van my oorlede vrou af. Hulle noem dit ‘Friedrich se Ataksie’, maar tas aanvanklik die voete eerste aan. Sommige mense het altyd sommer gepraat van die Roux-voetjies.”
Die ou eetkamertafel is eenvoudig gedek, maar baie netjies. Dis ‘n lang, ovaal tafel met plek vir tien mense. Alhoewel die hele tafel gedek is, met borde, messe, vurke en drinkglase, is dit net die twee van hulle twee vanoggend.
Anna, wat seker die oom se ouderdom kon wees, of selfs ouer, het krummelpap, skaaptjops en varsgebakte boerbrood met egte botter gemaak. ‘n Tipiese Boere-ontbyt vir diegene wat skaap kan bekostig. Na ontbyt maak hy aanstaltes om te ry, maar die ou man hou hom terug.
“Ek weet sommer jy is nie ‘n ryk man nie. Ek kan dit aanvoel. Hoe het jy die geld gekry om hierheen te ry? Dis ver en petrol is baie duur. Dan nog tolhekke en jy het gepraat van ‘n gastehuis?”
“Ja, Oom. Ek het ‘n klompie jare gelede bedank as dominee, nadat my vrou oorlede is. Ek het baie pensioen verloor, maar onder normale omstandighede is ek gemaklik. Ek het ‘n Mauser en ‘n jagmes verkoop. En nog ‘n paar kleiner goedjies wat ek nie meer nodig het nie. Maar ek het meer as genoeg geld om terug te ry.”
“Waarheen?”
“Soutpansberge toe. Ek het ‘n lappie grond teen die berg gekoop en ek het ‘n eenvoudige, maar groot genoeg vir een mens, huis daar. En daar is vrede – iets wat nie almal het nie en wat vir my kosbaar is.”
Die ou man sit ‘n paar lang oomblikke, asof hy iets oorweeg. Na ‘n ruk staan hy op.
“Kom, daar is iets wat ek jou wil wys.”
Hy stap vooraan deur die lang gang, met die plankvloere wat kraak onder elke treë. Die ouman maak die deur die verste aan die punt van die gang oop. Dis asof hulle in ‘n era, byna veertig jaar gelede, instap.
Skoene se kamer, nog net soos hy dit gelos het die laaste keer wat hy met pas was. Tog is alles skoon en ruik nie na stof nie. Die vloer en die kaste is nuut geolie en gewaks. Die ouer man loop na die losstaande hangkas toe en haal ‘n lang sak daaruit.
“Ek het dit vir hom laat bou vir sy agtiende verjaarsdag. Dit was my R1, wat die kommando destyds vir my gegee het en nooit terug gevra het nie. Ek het dit laat ombou deur Basil van der Hoon. Kyk.”
Darius vat die geweer. Dis inderdaad iets wat op ‘n R1 of selfs ouer FN FAL gebou is, maar dis ook anders. Dis swaarder en voel baie stewig.
“Dit het my ‘n stoetbul en twee koeie gekos destyds,” sê hy trots. “Basil het die loop vervang met dié van ‘n swaarloop R1, en die hele aksie is ‘geaccurize’. Die teleskoop is ‘n Schmidt&Bender ses tot ses en dertig by ses en vyftig. Die rompdeksel is nie die gewone stuk gedrukte metaal nie, maar is gemill uit ‘n soliede stuk gereedskapstaal, en die teleskoop mountings maak dit swaarder, maar is deel daarvan. Die ding is baie akkuraat.”
“Ek is beïndruk!”
“Dis joune, as jy dit wil hê.”
Hy staan ‘n paar sekondes stil, met die praggeweer in sy hande. Natuurlik wil hy dit hê.
“As jy wil, kan ons hom hier teen die koppie gaan skiet. Net ‘n paar skote.”
Darius knik net met sy kop. Hy besef die opoffering wat die ou man maak.
“Ek het nie ‘n skiettafel nie, maar as jy wil, kan jy op die gras lê. Daar is afstande gemerk, wat Henk, my seun, gebruik het. As ek reg is, was hy amper net so goed as jy met ‘n geweer?”
“Hy was Oom. Miskien beter, maar hy was die spotter, omdat hy beter as enigiemand afstand kon skat. Seker omdat hy hier in die oop vlaktes grootgeword het.”
*
Darius voel amper in ekstase na sy skietsessie op die oom se skietbaan. Die geweer is meer as wat hy verwag het. Die sogenaamde “minute of angle” (MOA) is onder ‘n duim (25,4mm) op een honderd meter. Nadat hy die geweer “gevoel” het, dit wil sê die hoeveelheid skop, die sneller, wat ligter is as die Timney van die Mauser wat hy verkoop het, die gladheid van die aksie en die helderheid van die teleskoop, skiet hy ‘n elf millimeter groepering op een honderd meter en minder as een honderd millimeter op vyf honderd meter, die verste wat hy kan skiet op hierdie baan.
Terug by die opstal maak hy die wapen skoon, sit terug in die leer dra-sak en met die vol pakke 147 grein spesiaal-gelaaide rondtes in 7,62X51 millimeter, afgerond met die groen plastiek puntjies, soos wat hy lank gelede in die townships gebruik het, maak hy gereed om te ry. Hy het sy uitstapdrag verruil vir ‘n gewone denim broek, kakie langmou hemp, en met sy 9mmP Browning Hi-Power pistool aangegord, groet hy vir oulaas.
“As jy nie omgee, nie, kan jy nog ‘n rukkie met my gesels? Daar is ‘n paar goedjies wat ek wil weet.”
“Ja, natuurlik.”
Sodra hulle gemaklik is, roep die oom: “Anna, wat van ‘n bietjie koffie?”
“Vertel my nou van die Franse meisie?”
Darius sit lank stil voordat hy praat. Dis asof die afgelope veertig jaar in ‘n bondel saamtrek en verdwyn, voordat hy weer daardie dag in Kwa-Thema lokasie beleef, iewers in die winter van 1985. Hy knik stadig met sy kop.
“Ja, sy was baie mooi.”
“Jy weet dat Henk tot bokant sy ore verlief was op haar?”
“Ja, Oom. Ek het half gehoop sy sou ook op hom verlief wees.”
“Maar sy was nie.” Hy sê dit nie as ‘n vraag nie, maar ‘n as ‘n harde, koue stelling.
“Henk het my sy weergawe van daardie dag vertel. Sal jy my joune kan vertel, of is dit te lank gelede?”
“Ja, veertig jaar. Maar ek onthou elke sekonde, asof dit gister of vanoggend gebeur het.