Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ook tot in julle ouderdom is Ek die HERE, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red – Jesaja 46:4
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (3)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
President Steyn vertel hoe hy ontsnap het
Een van die joiners het 'n Britse kolonne vroeg die môre van 10 Julie 1901 na die Noord-Vrystaatse dorp Reitz begelei om byna al die lede van die Vrystaatse regering te vang. Omdat pres. Steyn "die siel van die oorlog" was, soos genl. Louis Botha dit uitgedruk het, sou sy gevangeneming 'n nekslag vir die stryd gewees het.
Die lede van sy staf en kommando het altyd die grootste respek en liefde vir Steyn gehad. Meer as een maal het van hulle gesê dat die wyse waarop hy die agting van almal behou en die onderlinge vrede bewaar het, 'n wonderwerk was. Daar was soms meningsverskille tussen sy manne, maar Steyn kon met 'n paar woorde die eensgesindheid herstel. Sy kalm, deurdringende aanblik kon niemand weerstaan nie. "As President liewers wil raas of die sambok gebruik, dan kon ek my man beter staan," het een van sy vernaamste amptenare eendag gesê, maar daardie kyk!"
Pres. Steyn het 'n paar heliograaftoestelle gehad wat hy wou laat herstel, en het besluit om 'n dag of twee in Reitz te bly omdat daar nog 'n klein smidswinkel was. Die manskappe was uit die gemeente Reitz en kommandant P. Davel het hulle toegelaat om die nag in hul kerkhuise te slaap; dus was hulle oor die hele dorp versprei. Steyn het sy tent voor 'n huis laat opslaan en sy perd was in 'n stal, omtrent drie tot vierhonderd tree van die tent. In sy tent het die nag ook generaals A.P. Cronjè en J.B. Wessels, asook sy oudste broer, P.G. Steyn, geslaap.
Die President vertel self:
Teen twee-uur, soos my gewoonte was, het ek opgestaan om te sien alles in orde was. Daar was geen wagte uitgesit vir die nag nie, maar Kommandant het opdrag gegee dat die twee verkenners in die rigting van Broadwood moes gaan. Toe ek alles in orde gevind het, het ek weer gaan slaap. Ruiter, my kok en lyfjonge, het opgestaan om koffie te maak hoewel dit nog nie lig was nie.
Hy hoor toe ’n geraas en dag eers dat dit beeste was, maar bespeur tog gou dat dit die vyand was. Hy storm my deur binne met die uitroep: “Oubaas, hier is die Engelse.” Ek het natuurlik nie op my laat wag nie, dadelik uit my deur gespring en het gesien dat die vyand omtrent drie tot vier honderd tree ver op my tent afstorm. Ek het nie geweet waar my perd was nie. Ruiter het dit gelukkig geweet. Ek sê toe hom dat hy my daarheen moes bring.
’n Ander man met die naam Hans, het ek teruggestuur om my saal en rewolwer, wat aan my saal was, te bring. Hy is egter gevang voordat hy met my saal uit die tent kom. Gelukkig moes ek om ’n hoek gaan en het so uit die gesig van die vyand gekom, en gelukkig was die stal ook in ’n jaart, sodat ek my perd uit die stal kon bring sonder om gesien te word.
Ek het juis ’n tou in my perd se bek gesit, en was net van plan om bloots op te klim, toe ’n jong Curlewis, van die Paarl afkomstig, en tydens die oorlog onderwyser in die Vrystaat, met sy saal aankom en daarop staan dat ek sy saal moes neem. Daar was egter nie tyd om die stiebeuels langer te maak nie en Curlewis was maar kort. Ek het op my perd geklim en Ruiter gelas om op ’n ander perd te klim. Toe ek die jaart uitkom, was die dorp al vol met die vyand.
Ek wou eers reguit, langs die laagte op, deur die dorp, maar Ruiter het gesê: “Nee, Oubaas, kyk dit is vol Kakies daarlangs.” Ek sê toe: “Nou ja, kom, laat ons sommer hier oor die bult jaag.” Daarop het ek my perd gedraai.
Meteens hoor ek agter my “halt” roep. Ek het omgekyk en iemand ongeveer agt tree agter my gesien. Dit was toe al redelik lig, maar die son was nog nie op nie.
Ek gee my perd die spore en meteens hoor ek ’n skoot agter my. Ruiter het van sy perd afgeval of afgespring. Ek dag dat hy getref was. Ek het my perd drie of vier honderd tree laat hardloop so hard as hy kon en toe ek sien dat niemand my volg nie, het ek hom stadiger laatloop.
Hy was ’n ou perd en ’n bietjie styf. Die middag, toe ons Reitz binnegetrek het, het Gordon Fraser aan my gesê: “President, as die Engelse jou met hierdie perd skraap, dan sal jy nie vinnig kan wegkom nie.” Ek het geantwoord: “Die Engelse moet maar hulle skrapery laat staan, maar as dit moet, sal ek en Dapper darem probeer uitkom.”
Toe ek bo-op die bult was, kyk ek weer om, maar sien nog niks.
Ek het egter op ’n kort galop voortgery, totdat ek op die plaas van die heer Gräbe op die bult uitgekom het. Toe sien ek die vyand op die eerste bult by Reitz sy verskyning maak. Hy was toe te laat.
’n Entjie verder het ek die verkenners teëgekom wat die môre na die vyand uitgegaan het. Hulle het my vertel dat hulle in die donker op die vyand afgery het. Hulle het omgespring om ons kennis te gee, maar die vyand het hulle bemerk en hulle kort op die hakke gevolg - en so het die vyand saam met hulle Reitz binnegekom - soos ek gesien het. Deurdat die manskappe so versprei was in die dorp, was daar geen kans vir verset nie. Dit sou trouens ook nie veel gehelp het nie, want ons was almal tesame sowat dertig man teen sowat na skatting 800 man.
Saam met my saal het ook my baadjie en hoed in die slag gebly. Ek het egter op my kop ’n warm slaapmus gehad, wat deur my weggegooi is op weg na die stal omdat dit te warm was.
Een van die verkenners het my ’n sysakdoek gegee wat hy nog te Roodewal buitgemaak het om óm my kop te bind. Toe ek verder gaan, ontmoet ek ’n ander manskap van my wag wat op verlof was en teruggekeer het van Basoetoland, van waar hy klere, ensovoorts, gesmokkel het. Daaronder was ook ’n hoed, wat dadelik deur my gekommandeer is.
’n Ent verder het ek op die plaas van die heer De Jager gekom naby Hout-Koppie, waar ek allerliefs en met die grootste vriendelikheid ontvang is deur mev. De Jager. Sy was sy tweede vrou en hulle is kort tevore getroud. Daar ek geen baadjie aangehad het nie, het sy daarop gestaan dat ek die enigste baadjie wat in die huis was, naamlik haar man se troubaadjie, moes neem. Ek wou dit eers nie neem nie, maar op haar aandrang het ek dit uiteindelik gedoen. Mens kan begryp dat my uniform toe nie juis die goedkeuring van ’n Potsdammer-general sou weggedra het nie, maar dit was minder belangrik.
Ruiter en sommige van die ander volk is agtergelaat, want die Kakie was haastig, soos Ruiter my later vertel het. Van hom het ek toe gehoor dat hy nie gewond was nie, maar van sy perd afgespring het, omdat hy bang was. Hy het my ook vertel dat die offisier wat op ons geskiet het, by hom gekom en hom gevra het wie daar ry ( my bedoelende.)
Hy het toe gesê: “Dit is sommer ’n ou boer.”
“Waar is die President?”
“Hy het in sy tent geslaap.” “Kom, wys vir my”
"Lord, baas, kom maar saam.”
Hy het hom toe van die een plek na die ander gelei om my sodoende ’n bietjie tyd te gee om weg te kom, en eindelik het hy hom gebring by die tent waar die ander lede van die regering reeds gevange was. Terselfdertyd is ook Curlewis daar gebring, wat die gevangenes vertel het dat ek ontvlug het. Gordon Fraser het gesien hoe Ruiter die offisier om die bos gelei het maar het nie geweet dat ek ontsnap het nie en het aan verraad gedink, totdat hy van Curlewis gehoor het dat ek ontvlug het. Toe het hy Ruiter se spel ontdek.