Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons is vandag slawe, en die land wat U aan ons vaders gegee het om die vrug en die volle seën daarvan te geniet – daarin is ons slawe – Neh 39:6
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (5)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Ons ontvlug uit die trein
J.M. du Plessis
Ons was 39 krygsgevangenes in die Rustenburgse tronk aan die einde van Junie 1901. Teen die einde van Augustus het genl. Christiaan de Wet Rustenburg van Potchefstroom se kant af bedreig, en genl. R.S.S. Baden-Powell het ons dorp met ’n kommando verlaat en die krygsgevangenes na Pretoria saamgeneem. Ons moes ’n afstand van 70 myl loop hoewel daar genoeg waens en ander voertuie beskikbaar was. In Pretoria is ons ’n paar dae in die tronk aangehou en toe per trein weggestuur Kaap toe. Ons het in ’n oop trok agter die lokomotief gery, met net agter ons ’n tweede oop trok met ongeveer twintig Tommies wat ons moes oppas.
In Bloemfontein het ek aan my jonger broer Theunis en ons vriend Hansie Riekert dit voorgestel om te ontvlug deur van die trein af te spring as ons ’n kans kry.
Riekert het ingewillig, maar my broer was huiwerig. Dit was verstandig van hom, want as ons dit gedoen het, sou ons waarskynlik heel gou gevang gewees het, aangesien die Vrystaat vol Engelse was en daar op dié tydstip geen Boerekommando’s meer was nie.Op Norvalspont het ek weer met die twee gepraat. Hulle het toe albei ingewillig. Laat die middag vertrek ons. Ons was weer agter die lokomotief en die wagte agter ons, en daaragter passasierswaens met die burgers van genl. Marthinus Prinsloo. Ongelukkig het ek die nag so ’n tandpyn gekry dat daar geen sprake was van ontvlugting nie en dus moes ons die plan voorlopig laat vaar.
Die volgende dag maak ek vir die derde keer die voorstel. My maats was huiwerig, want, sê hulle, ons is al te ver in die Kaapkolonie in en ken ook nie die omgewing nie. Op Prins Albert-stasie [Prins Albertweg, ongeveer 45 km van die dorp Prins Albert] vra die offisier van die wag daardie middag om met veldkornet Kruger te praat, en laasgenoemde klim af en staan ongeveer vyf tree van die trok op die perron met die offisier en gesels. Almal se aandag was op hulle twee gevestig. Toe sien ek ’n jong man wat van die agterkant van die trein langs die perron aangeslap kom en belangstellend na die gevangenes kyk. Met sy naderkoms wink ek hom met die voorvinger en begin met hom praat toe hy by my kom staan. So iets was ontoelaatbaar, maar ek vra hom of hy my kan beduie watter rigting ek moet inslaan as ons daarin kan slaag om van die trein af te spring. Hy wys toe met die duim oor die skouer na die blou berge in suidoostelike rigting en vra: “Sien jy die blou berge? Nou ja, loop in daardie rigting, en as julle hy Prins Albert kom, verneem dan na Van der Merwe, die posryer.”
Toe loop hy verder op langs die trein, en ek vertel aan my broer en Riekert wat hy aanbeveel het. Ons sien hom toe terugkom van die lokomotief se kant af. Ek loop nader na die kant van die trok en hy kom ook weer nader, druk my hand en sê ek moet my bes doen. Ons maak daarna planne en besluit om die nag te probeer afspring.
Voordat ons van Prins Albert-stasie vertrek, gee my broer aan die offisier van die wag ’n pond en vra hom om ’n bottel brandewyn vir hom te koop, omdat dit bitter koud was en ons so bedruk gevoel het dat ons ’n opknappertjie nodig gehad het. Nadat die trein teen sononder vertrek het, vra my broer die offisier die brandewyn, maar die wis daar toe niks van nie!
Na gewoonte eet ons voordat dit donker is, sing ’n paar psalms en gaan maar lê. Daardie aand sing ons weer ’n paar psalms, en toe ons daarmee klaar was, kom die offisier van die wag en vra of dit die Volkslied was. Hy vra ons om dit te sing,en hy staan eerbiedig met sy helmhoed in sy hand en luister. Toe ons klaar gesing het, hou hy ’n klein, toespraak en prys ons volk dat ons so lank kon weerstand bied teen die Engelse oormag, en sê verder dat as daar nie ontrouheid in ons eie geledere was nie, Engeland ons nooit sou oorweldig het nie.
Ons maak daarna aanstaltes om te gaan slaap. Ons het aan die agterkant gaan lê met die kop teen die kant en ons voete na binne. Die wagte was net langsaan in die trok agter ons, en ons het nogal gesels met mekaar. Die offisier was baie vriendelik teenoor ons, en voordat hy terugklim na sy trok, vra hy of ons nie elkeen ’n snapsie wil neem nie. Ons het die vriendelike aanbod aangeneem, en hy gaan haal toe ’n verseëlde bottel gemmerbrandewyn en gee ons elkeen ’n beurt uit die bottel. Onderwyl ek drink, dink ek: “Engelsman, dis die afskeid hierdie!”
Nadat ons van Prins Albert-stasie weg is, het ons ons beste klere aangetrek, waarop ons vriende vra wat, dit dan beteken. Ons antwoord was dat ons naby Kaapstad is en nie graag as “vuil Boere” uitgeskel wil word nie; en die volgende môre sal dit te koud wees om aan te trek. Ons was vyf wat van die plan geweet het, want ons kon nie almal vertrou nie. Ons lê onder die kombers ingekrimp, want ons moes ons koppe toehou teen die steenkoolrook.
By my voete het ’n man gelê wat nie sy kop toegetrek het nie, en oor hom het ek onrustig gevoel, want hy het juis van sy kommando na die Engelse weggeloop om oor te gee. Ek lê ’n rukkie vir hom en loer onder die kombers deur, en hy merk ook dat ek nie my kop heeltemal toe het nie. Ek vra hom toe - want hy was bekend met daardie omgewing - hoe ver ons nog van die tonnel af is. Hy sê hy dink ons sal eers omtrent twaalfuur daar wees. Ek sê: “Ek dag ons is al naby, maar as ons nog so lank moet wag, gaan ek maar slaap.” Ek trek my kop toe en lê ongeveer vyftien minute met die kop na die agterkant van die trok. Ek loer daarna weer na hom en sien hy het sy kop nou toegetrek. Ek lig my effens op om te sien of die wagte nog regop staan in die twee hoeke van die trok, maar ek merk dat hulle nou met die rug na ons toe staan om hulle effens teen die koue te beskerm. Die maan het helder geskyn en dus kon ek mooi sien wat aangaan.
Ek trek my kop weer toe en wag. Na nog sowat vyftien minute kyk ek weer, eers na ons ou vriend hier by my voete, wat nou egter stil lê, en toe weer na die wagte. Hulle was nie meer te sien nie en het blykbaar gaan lê om teen die koue wind beskut te wees. Ek stoot aan my broer, en klouter met my bondeltjie oor die rand van die trok. Ek het nie dadelik gelos nie, maar eers so ’n ent gehang, totdat ek merk dat my broer en Riekert ook al halfpad oor die kant was. Toe het ek gelos.
Die trein het daar so vinnig geloop dat as ek my voet tot op die grond laat afsak, dit voel soos ’n sterk stroom water wat verbygly. My broek was stukkend van die val en my waterbottel, wat ek by my klere in ’n sloop gehad het, was ook stukkend. Ek het bly lê totdat die trein verby was. Daarna spring ek op en hardloop so vinnig moontlik agter die trein aan om te sien waar my maats is. Ek vind hulle bymekaar langs die spoor. Ons sien toe ’n trein aankom en gee daarom pad van die spoor af. Dit was op 22 Augustus.
Ons het maar aangestap in die rigting wat ons vriend op Prins Albert-stasie aangedui het. Die dors het ons gou begin pla, want al ons waterbottels het met die val gebreek. Teen halfdrie het ons by water in ’n droë sandrivier, die Dwyka, aangekom. Onderwyl ons water drink, hoor ons hoenders kraai. Ons loop in hul rigting en kom teen drie-uur die môre by die woning van ene mnr. Koortse. Riekert loop na die huis en stel hom voor as beeskoper. Ek loop agterna, en toe hy binne is, staan ek voor die deur en luister na wat hy en Koortse gesels. Ek hoor Riekert sê hy het ook twee maats, en Koortse vra dadelik waarom hulle nie ook inkom nie.
In die huis vra ek watter berigte hy uit Transvaal hoor. Aan sy antwoord merk ek dat hy nie heeltemal gerus is nie, maar hy voeg darem by dat dit lyk of die Engelse maar swaarkry. Dit moedig my aan om te vertel dat ons van die trein afgespring het en weer wil koers vat Transvaal toe. Maar was die man nie bly toe hy dit hoor nie!
Hy het dadelik sy vrou en haar suster gaan wakker maak, ketel gekook en kos gemaak. My stukkende broek het ek vir ’n hele omgeruil en my maats het ook kenbare tekens met mnr. Koortse verwissel. Riekert het sy horlosie met dié van ons gasheer geruil.
Met die hulp van goedgesinde boere is ons verder; die een boer het ons na 'n ander weggebring. Op 'n dag het ons by ene mnr. Bester aangekom, wat elkeen van ons se regterhand met sy twee hande gevat het met die woorde: "Dag, Afrikaner, dag, Afrikaner!" Die vyftiende dag nadat ons van die trein afgespring het, is onsoor die Grootrivier. Die rivier was daar breed en ons het tot ons heupe in die water geloop met ons klere in bondeltjies op die kop. Dit was in die aand, en toe ons deur was, het ons met vuurhoutjies die teken gegee aan ons Kolonie-vriende oorkant die rivier, en die het ook weer met vuurhoutjies geantwoord. Die Kaapse vriende het met geld gehelp, en daarmee en met ons eie geld kon ons in die Vrystaat drie perde en een saal koop.
Ons het beurte gemaak om met die saal te ry totdat ons die volgende dag al drie saals gehad het. Op 22 September was ons by genl. De la Rey se kommando, maar is dieselfde nag na familie in Rustenburg. Omtrent twee-uur die oggend het die Du Plessis-seuns hul ou moeder opgeklop, wat gedink het hulle is in 'n krygsgevangenekamp.
Die volgende môre is J.M. du Plessis na die pastorie en kerk om die klok te lul, aangesien hy destyds koster was. Dit was sowat 'n uur voordat die kerk sou begin. Die predikant, ds. Postma, was verstom, want hy het ons nooit verwag nie. Hy het dadelik besluit om 'n ander preek te lewer, en die skrywer onthou nog goed hoe hy na aanleiding van 'n Bybelteks van die preekstoel iets gesê het soos: "Hierdie ellendiges het geroep, en die Here het hulle gehoor en uit alle benoudheid verlos."
Die Huisgenoot, 12 Februarie 1937.