Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om afskeid te neem is seker een van die moeilikste dinge wat die mens moet verwerk, en dit gebeur deurlopend in sy lewe. Daar is net een wyse waarop dit makliker word: aanvaar die pyn as 'n groeimiddel om tot die punt te kom waar dankbare herinneringe jou help om nie binne jouself te sterf nie.
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (6)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Die kinders
E.F. Rohm
Seuns van selfs jonger as tien jaar het hul aandeel aan die oorlog gehad as beeswagters en spioene. Spioenasiewerk het hulle veral gedoen vir hul eie gesinne of soms vrouelaers wat van plek tot plek gevlug het om aan die konsentrasiekampe te ontkom. Sommige van die kinders was oud genoeg om by die kommando's aan te sluit. Kinders wat as te jonk beskou is vir kommandodiens het weggeloop van plase, uit kampe en Basoetoland (die huidige Lesotho) om te gaan veg. Baie van hulle het op die ou einde in die krygsgevangenekampe beland.
Die vegtende seuns was oor al die kommando's versprei, maar daar was ook een geval waarin 'n klein veldkornetskap net uit seuns bestaan het - ongeveer 25. Die burgers het na hulle verwys as "die kinders". Die veldkornet van "die kinders" was E.F. Rohm, uit wie se artikel in Die Huisgenoot van 22 Januarie 1943 hierdie uittreksel gemaak is.
Rohm skryf dat die kinders so dapper geveg het soos die beste generaals en in hegte kameraadskap saamgesnoer is deur die doodsgevaar wat hulle daagliks getrotseer het sonder gedagte aan beloning of onderskeiding.Die eerste skermutseling waarvan Rohm melding maak, is 'n botsing met die "burgerpolisie," Burgher Police, oorloper-Boere in Britse diens, in die omgewing van Sannaspos in die Vrystaat:
1 ROOI FLIP
Buitengewoon knap onder “die kinders” was Rooi Flip Snyman. Hy was een van drie neefs, almal met dieselfde voornaam, wat onder my gedien het. Die ander twee was Vaal Flip Snyman en Flip Geering.
Voor ’n geveg was Rooi Flip gewoonlik baie stil, met ’n blos op sy wange en ’n flikkering in sy oë. In die geveg was hy onverskrokke.
Die burgerpolisie het van ons te hore gekom en af en toe klein skermutselings met ons gehad. Daar was vir ons van twee kante gevaar:
Sannaspos en Rietfontein, waar die burgerpolisiepos was. Ons het dus elke dag twee groepe uitgestuur om verkenningswerk te doen. Op ’n goeie dag het ons weer in twee groepies van tien verdeel: dié onder my sou na Rietfontein gaan en die ander, onder Rooi Flip Snyman, na Sannaspos.
Ek het die oggend ’n soort voorgevoel gehad, en hulle gewaarsku om die rant goed te bespied voordat hulle dit inneem. Gewaar hulle die vyand, moes hulle my die wete gee. Ons sou dieselfde doen. Hulle moes al op hul bestemming gewees het toe ons op ’n hoogte vertoef om te kyk of ons hulle sien. Daar val so ’n paar skote, maar ons meen dat hulle van die vyand raakgeloop het vir wie hulle mans genoeg was en wat hulle nie die moeite werd geag het om eers te rapporteer nie.
Dit het later geblyk dat hulle ’n klomp perde in ’n kamp gewaar het. Met ons groot tekort aan perde het hulle gemeen dat ek baie bly sou wees as hulle ’n klompie in die hande kry. Voordat hulle egter by die perde kom, verskyn ’n groot perdekommando op die pad na Bloemfontein, en hulle moes van die plan afsien.
Die plaasbewoners het reeds die plaas verlaat en in Bloemfontein gaan woon, maar die seuns het geweet van ’n buitekamer waar daar heerlike pere weggepak was. Nou gou eers pere gaan haal en dan die rant gaan verken. Voordat hulle die huis bereik, klim Rooi Flip Snyman en Christiaan Ebersöhn eers af om aan ’n dringende behoefte van die natuur te voldoen. Die een perd kry dit in sy kop om weg te hardloop, en Ebersöhn skiet dan links, dan regs van hom verby om hom nog ’n bietjie aan te druk. Hulle was ongeveer honderd tree van die huis af toe die perd weer gevang kon word. Met dié bars daar ’n geweldige sarsie op hulle los. Dadelik word omgepluk om in die rant posisie in te neem, maar die rant is al deur die burgerpolisie beset, en hulle kry daar net sulke heftige teenstand. Al genade is om terug te vlug met die pad waarlangs hulle gekom het. Terselfdertyd moet hulle van die perde af skiet op die Kakie-boere en kleurlinge wat hulle probeer injaag. So naby mekaar was hulle dat hulle kon hoor hoe die kleurlinge hulle vloek. Drie van hulle het tussen die seuns ingejaag en probeer om hulle van hul perde af te ruk. Maar dit was ook hul laaste probeerslag. So het dit ongeveer ’n myl ver aangehou: vlug en skiet, met party van die kinders reeds te voet, en ’n vyand veertig man sterk.
Hulle was toe nog sowat vyftig tree van die koppie, en Rooi Flip Snyman het gesien dat die voetgangers in die slag sou bly. Hy skree dat die ruiters die nek met geweld moet inneem sodat die ander onder hulle kans kon kry om nader te kom. Party van die Kakies het om die rant gejaag om die wat wou deurkom, voor te keer. Toe Rooi Flip afspring, is die naaste Kakie twintig tree van hom af. Maar die seuns was goeie skuts en kap nege stuks van die Kakies om, onderwyl hul maters voet vir voet sukkel om nader te kom. Luikes Holtzhausen was heel agter, met Vaal Flip Snyman sowat twee honderd tree van hom af. Vaal Flip het gesien dat Luikes baie moeg was en in ’n benarde posisie verkeer het met kleurlinge wat reg op hom afstorm. Vaal Flip meen egter dat Luikes mans genoeg is vir die kleurlinge: hy self sal maar op die voorste van die ander skiet om te verhoed dat hulle ook nog bykom. Met suurslym wat brand in sy keel, gooi Luikes sy uitgeputte liggaam teen ’n boom en lê aan op die naaste aanvaller. Dié is so naby dat hy sy lyf inmekaar krimp om die skoot te ontwyk. Hy, en die volgende, en die volgende aanvaller moes egter in die stof byt, en Luikes se pad is weer oop om ’n entjie te klim.
Intussen het ek onrustig geword oor die aanhoudende geskiet en daarheen weggespring. Op ’n paar duisend tree van die koppie af gewaar ons ’n klompie ruiters wat om die rant kom, en meen dis die seuns. Toe hulle ons gewaar, spring hulle egter kortom en ons merk onraad. Hulle wou natuurlik die seuns van agter aanval en die voetgangers skiet wat voor die ander die koppie sou verlaat. Toe ons op die toneel verskyn, laat die vyand spat. Maar die arme kinders was ook gedaan - hulle het gehuil van blydskap toe hulle ons sien. Nie een van hulle was eens gewond nie, terwyl daar veertien dooies van die vyand was.
In een van die gevegte was Rooi Flip van sy perd af, en besig om voetgangers te ontwapen. Hy het ver agter sy maats geraak en die Tommies het dit gemerk. Een van hulle, wat reeds ontwapen was, pak vir Flip en hou hom so styf vas dat hy nie sy geweer kan gebruik nie. Die Tommie roep sy maats om te kom help. Gou is ’n tweede by, wat Flip al in die gesig met ’n bajonet steek. Vier steke het hy daar gekry: bokant die oog, bokant die oor en in die nek. ’n Derde Tommie het op ’n afstand ook nog op hom geskiet, telkens wanneer die twee stoeiers in ’n geskikte posisie kom. Vir ’n ander man sou die haglike posisie seker noodlottig gewees het, maar nie vir Rooi Flip nie. Met ’n uiterste kragsinspanning beur hy hom los van die Tommie en trek die skoot uit sy oorgehaalde geweer sommer in die kêrel af. Die bajonetsteker kom toe aan die beurt, en toe Flip omdraai, staan die derde Tommie al gereed met sy hande in die lug.
Agt dae later het Rooi Flip weer geveg - nog met verbande om die kop. Hy en Martiens Mostert het daarin geslaag om in ’n geveg tot tagtig tree van ’n aantal Engelse kanonne te kruip en van agter ’n miershoop die kanonniers een vir een dood te skiet.
Op ’n dag het Rooi Flip, Gideon van Tonder en Holiday gaan verken. Laat die middag het hulle ’n Engelse mag van Thaba Nchu sien opruk, maar hulle wou vasstel watter rigting dié sou inslaan. Daardie nag het hulle dus nie teruggekom laer toe nie, maar gewag tot die volgende môre om dan beslissend te kan rapporteer.
Wat hulle nie geweet het nie, was dat die Engelse die nag aangehou het met trek, reg op hulle af. Toe die seuns dus die volgende môre na die rant ry om te verken, ry hulle om ’n rotsformasie en binne-in die drie voorste wagte van die Engelse vas. Verwoed het elkeen geveg vir sy lewe en mekaar met klippe bestook wanneer daar nie kans vir laai was nie. Een van die vyand val, en Holiday kry ’n maagskoot wat hom buite geveg stel. Gelyktydig met dié dat Gideon die tweede Tommie skiet, kry Rooi Flip ’n kopskoot. Gideon het aangehou met veg totdat die laaste Tommie oorgegee het. Hy het hom ontwapen en toe teruggejaag om rapport uit te bring.
Gedurende die oorlog het ek die burgers in allerhande omstandighede leer ken. Die lewe in die ope lug het hulle taai gemaak sodat hulle byna ongelooflike ontberings kon verduur. Tog het ek geharde krygers die dag sien huil by die tyding van die dood van Rooi Flip Snyman.
DIE BAASSPIOEN THYS VAN TONDER: Vervolg...