Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die gelykenis van die ponde in Lukas 19 vertel dat God ons nie almal ewe veel talente gegee het nie. Maar wie baie gekry het is veronderstel om net soos dié wat min gekry het, met alles daarvan te woeker, dit wil sê in die Here se diens hier op aarde te gebruik; daarvoor sal ons eendag voor die Troon verantwoording moet doen. Die verantwoordelikheid is vir sommiges net groter as ander s'n – span u al u talente in om ook hierdie volk tot Christus te laat terugkeer?
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (8)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
"Wil julle Boere sien wegloop?"
D.J. du Toit
D.J. du Toit skryf dat hy letterlik drie jaar in ballingskap was. Hy is op 21 Oktober 1899 met die Slag van Elandslaagte gevang en het St. Helena op 21 Oktober 1902 verlaat op pad terug na Suid-Afrika. Van Elandslaagte af is hy en ander krygsgevangenes na Durban gebring, daar op 'n smerige skip gelaai en na Simonstad vervoer, waar hulle op 'n skoon oorlogskip, die Penelope, oorgeplaas is. Die lewe op die skip was maar baie eentonig daar in die hawe, maar aangesien die gevangenes van 'n hele aantal nasionaliteite was, kon hulle die tyd met 'n groot verskeidenheid speletjies verdryf. Bolandse vriende het allerhande lekker kossoorte gestuur sodat hulle in plaas van skeepskos lekkernye kon geniet soos heerlike vet skaapvleis, boerbeskuit, koek, lekker Bolandse vrugte, konfyt en botter. Eendag het daar soveel hoendereiers aangekom dat elkeen vyftien gekry het.
Hy vertel self:
Die opwindendste gebeurtenis was toe een van die gevangenes, Keppel de Meillion, daarin geslaag het om te ontsnap. Ons moes in groepe van twaalf aan een tafel eet. Elke oggend om nege-uur het die beuel geblaas en dan moes die groepe op dek aantree om getel te word.Daardie oggend was daar een kort nadat die offisier en sy sersant ons getel het. Ons kyk langs die ry af: Keppel makeer. Henry de Meillion, ’n neef van Keppel, sê vir die offisier dat daar ’n man by die dokter is. Die offisier stuur sy sersant om te gaan kyk, maar nee, hy is nie daar nie. Henry sê in die stilligheid dat Keppel die vorige aand weggeloop het.
Nou is dit ’n opgewondenheid van die ander wêreld. Die hele skip word deurgesoek, maar Keppel is skoonveld. Henry vertel ons dat Keppel uitgeswem het. Hy was by toe Keppel met ’n tou langs die skip in die water afgesak het. Keppel het die vorige dag al aan hom gesê wat sy plan was. Tussen die skip en die land het ’n skuitjie gelê. Hy sou tot by die skuit swem, daarin klim, ’n bietjie rus en verder swem.
Die beuel word geblaas. Ons moet weer aantree. Nou word ons name afgelees en weet hulle dat Keppel weg is.
’n Hollander kom ewe ongeërg en met doodonskuldige gesig by die offisiere en sê dat hy die vorige aand omstreeks elfuur iemand om hulp hoor roep het - wat natuurlik ’n leuen was. Die offisiere het egter die kluitjie gesluk, want dis nie lank nie of ’n skuit kom langs die skip aan. ’n Duiker word in ’n duikpak gestop en in die water gelaat. Die soekery al om die skip het seker meer as twee uur geduur en moes uiteindelik maar gestaak word.
Die ontsnapte Keppel het intussen daarin geslaag om by sy oom in Kaapstad uit te kom. Die koerante was vol van die gevangene wat op so ’n dramatiese wyse verdwyn het.
Hy was ’n paar dae by sy oom toe ’n goedgesinde Engelse dame, ’n buurvrou van sy oom, hulle kom waarsku het dat die polisie op sy spoor is. Goed voorsien van geld het hy dadelik afgesit stasie toe. Toe hy daar kom, staan daar net ’n trein klaar om te vertrek. Hy klim sommer op sonder om ’n kaartjie te koop. Die trein vertrek. Nou verneem hy eers waarheen die trein gaan. Tot sy ontsteltenis vind hy uit dis Simonstad. Daar op die trein is hy gevang en teruggeneem Kaapstad toe, waar hy in die tronk gestop en geruime tyd aangehou is.
Intussen is ons oorgebring na ’n kamp. Wat was ons blydskap groot toe ons op ’n dag ons held Keppel by die kamp sien inkom! Hy is van alle kante bestorm en met vrae bestook. Hy het vertel hoe die speurder hom geboei het, hoe die mense van Kaapstad die speurder uitgejou en hom sleggesê het daaroor en hoe hy in die tronk gestop is, waar die vlooie en luise hom byna opgevreet het.
“Wel, kêrels, ek verseker julle dat die Kakies my nie in hierdie kamp sal hou nie,” het hy ten slotte gese.
’n Week of twee nadat Keppel in die kamp gekom het, loop ek en Johnnie Young kort voor sononder in die kamp en sien Keppel tussen die tente, netjies uitgedos. Ons kry ’n vermoede dat hy weer iets in die skild voer. “Nee, wat, hy het seker maar ’n nuwe pak klere van sy oom gekry en wil nou net ’n bietjie spog,” dink ander. Na ’n rukkie gaan ons in Johnnie se tent sit. Ons was seker nie meer as 10 minute daar nie toe oom Hans Mentz inkom en sê: “Wil julle Boere sien wegloop?”
Hy sê vir ons van waar die weglopery plaasvind en ons stap soontoe. Ja, waarlik, daar langs die kookhuis staan ’n klomp Boere in ’n ry. Hulle deel ons mee dat Keppel en ’n paar ander al deur die drade gekruip het. Toe blyk dit dat Keppel die vorige nag die drade, wat kruis en dwars gespan was, afgesny en weer so aan mekaar gevleg het dat dit amper nie sigbaar was nie. Met die weglopery het hy twee van ons mense gekry om elkeen by twee hoeke van die kamp ’n geselsie aan te knoop met die wagte om hul aandag af te trek.
Om sesuur kom die wagte wat die voornag op wag moes staan, om die hoek van die kamp net toe ene Van Bart besig is om deur te kruip. Die Tommies gewaar hom en bestorm en vang hom net toe hy deur is. Alarm word gemaak en ekstra wagte word om die kamp geplaas. Daar was nou ’n verskriklike verwarring buite en binne-in die kamp. Daar word jag gemaak op die ontvlugtes. ’n Klompie word weer gevang. Een kêrel, ene Petersen, is met ’n bajonet gesteek en na die hospitaal gebring. Hy het gelukkig gou herstel. Die ander wat weer gevang is, is ’n tydjie aangehou en teruggestuur kamp toe.
’n Hele paar het heeltemal weggekom. Van twee van hulle het ek later weer iets verneem. Ene Kannemeyer het daarin geslaag om op ’n Franse skip te kom wat in Port Elizabeth geanker was. Terwyl hy nog op die skip was, het iemand, glo ’n speurder, na hom gegaan, hom gegroet en gese: “Hallo, Kannemeyer, hoe gaan dit nog?”
“Dit spyt my ou vriend, maar ek dink jy misgis jou. Ek ken jou nie,” antwoord Kannemeyer.
Die man het sy bes gedoen om Kannemeyer sover te kry om hom te herken. Omdat dit ’n Franse en dus neutrale skip was, kon hy Kannemeyer nie sonder meer daar afhaal nie, en was verplig om die skip te verlaat sonder om iets uit te rig.
Keppel de Meillion was die ander man van wie ek gehoor het. In 1904 was ek met besoek by familie in die hartjie van die Karoo. My neefs vertel toe dat daar op ’n aand teen sononder ’n kêrel na hulle toe aangestap gekom het waar hulle voor die stal sit en gesels het nadat hulle die perde versorg het. Hy het hom aan hulle bekend gestel - eers onder ’n ander naam. Hy moes eers vasstel wat hulle gevoelens was, want daar was Afrikaners in die Kaapkolonie wat Engelsgesind was. Toe die vreemdeling agterkom dat hulle die Boeresaak goedgesind was, het hy aan hulle gese dat hy De Meillion is en dat, hy uit die krygsgevangenekamp ontsnap het.
Hy het die aand by hulle gebly. Die volgende oggend het hulle hom ’n perd gegee om mee dorp toe te ry, waar ’n broer van hulle in ’n winkel gewerk het. Hulle het ook ’n brief saam met hom na die broer gestuur en hom gesê om sy fiets aan De Meillion te gee om verder te vlug. Ook het hulle hom goed van geld voorsien.
Hy het met die fiets deurgesukkel tot hy uiteindelik in Transvaal by genl. Chris Botha se kommando uitgekom het. Saam met ’n broer van my wat sekretaris van genl. Botha was, het hy die oorlog deurgeveg tot die bitter einde. Dis nogal toevallig dat hy en ek groot vriende was en dat hy nou juis by my broer moes uitkom. Ná die oorlog het hy ons nog dikwels kom besoek. Met die Herero-opstand in Duits-Suidwes-Afrika is hy daarheen. In die Eerste Wêreldoorlog was hy kaptein van ’n verkennerskorps en het hy in dié gebied gesneuwel.
Die Huisgenoot, 22 Maart 1946.