Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gelowiges is anders as wêreldlinge; beproewings maak hul geloof sterk. Gelowiges wen deur hul verliese, ontvang krag in hul siekwees, wen vriende in hul beproewing en behaal oorwinning deur hul verliese.
WARE KWINKSLAE (20)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
Die volgende twee staaltjies uit C R de Wet, De Strijd tusschen Boeren Brit:
Daar was ook ’n paar Jode in Calvinia wat winkeleienaars was en wat glad nie gediend met die Boerelanddros en sy regstelsel was nie. Tewens soveel so dat hulle my glad nie gegroet het nie. Ek het dit 'n rukkie lank verdra en toe op 'n dag vervies ek my vir die Jode. Ek sê eendag vir my manne "Kyk, moreoggend bring julle almal van hulle — bring hulle voor die hof." Die volgende oggend is die hele ou spul daar en ek laat hulle onmiddellik weet dat ek hulle aankla van minagting van die landdros. Natuurlik het ek nie geweet of daar so 'n wet was of nie, maar nietemin dit is waarvoor ek hulle aangekla het. Ek vind hulle toe een na die ander skuldig en beboet hulle elkeen met £10. Hulle het geen opsie gehad nie en moes maar opdok. En daarna? Waar 'n Jood my ook al op die straat gesien het, of dit nou twee of drie blokke ver was, sê hy al: "Môre, miester Landdros, môre miester Landdros!"
***
Tydens die slag van Nicholsonsnek het die volgende toneeltjie hom afgespeel: Waar die rotsblokke redelik skaars was, kom 'n Jood na een van die Boere toe wat goed agter 'n rots verskuil is.
"Verkoop aan my jou rots vir 'n halfkroon," bied die Jood aan. "Loop!" roep die Boer uit. "Ek skuil self hier."
"Ek sal jou vyftien sjielings aanbied," kom die Jood se teenaanbod.
Hoewel die Boer seker nooit in sy lewe iets besit het wat so skielik in waarde toegeneem het nie, het hy nie juis lus gehad om tussen die fluitende koeëls met die Jood te argumenteer nie en wys die aanbod beslis en finaal van die hand.
Die oorlogsherinneringe van Lizzie Geldenhuys:
Nadat ou Dad gevang is, vra die kolonel aan hom hoe hy die Engelse behandel het as hy van hulle gevang het. Ai foei tog. Ewe openhartig vertel ou Dad toe hoe hulle die Engelse uitgeskud het of soos hy dit gesê het: "We stripped them but sometimes we let them go!"
Die kolonel bekyk hom en sê met 'n grynslag: "Allright, young man, then I'll do likewise, take off your breeches and march on!"
Foei tog, ou Dad het nie 'n keuse gehad nie. Uit is sy broek en hy moes maar ewe gedwee saam met die ander krygsgevangenes die dorp binnemarsjeer in sy long johns — tot groot vermaak van die plaaslike inwoners!
Jan H. Meyer, Kommando-jare, pp. 256-257:
Daar was allerhande vermaaklike insidente op Modderfontein daardie dag. Neem nou die geval van Heimie Cohen, een van die weinige Jode van wie ek weet wat saam met Boer die wapens opgeneem het. Ou Heimie was 'n karakter op sy eie. Hy was nie meer 'n jong man nie; naby die sestig met 'n groot bleskop, 'n paar tamaai wenkbroue en 'n mankerige linkerbeen. Hy was vir ons altyd 'n bron van vermaak, altyd opgeruimd en vol grappe en met die hande aan die beduie wanneer hy sy eie soort Engels of Afrikaans praat.
Hy was 'n vegter soos min, en ook hier op Modderfontein het hy die naam van sy rasgenote nie in oneer gelaat nie. Toe die groot stormloop op die Engelse kamp plaasvind, was hy onder die voorstes. Inderdaad, hy was een van die weinige 'Boere' wat hier gewond is, met 'n koëlskoot deur die enkel.
In ons geskarrel om buit kom ek by die klompie Engelse perde aangehaas, op soek na 'n nuwe rydier vir myself. En hier sit Heimie Cohen met 'n stuk of twintig perde aan 'n lang riemtou vasgemaak. Met beseerde enkel en al klou hy so wat hy kan aan die tou vas, terwyl hy aanhou uitroep: "Dese are all mine! Dese are all mine! Dey're all mine!"
Of ou Heimie enige munt uit die transaksie geslaan het, weet ek nie. Maar toe ek weer sien, het 'n klompie roofsugtige burgers op hom afgestorm, en die volgende sit die erg protesterende Cohen net met die riem in die hand! Dit sou eintlik jammer gewees het as sy ondernemingsgees glad geen vrugte afgewerp het nie. 'n Man met soveel sakevernuf het beslis beter verdien.
J.A. Smith, Ek rebelleer!, pp. 79-80:
In die suidelike distrikte van die Kaapkolonie het dit ook nie aan goedgevulde winkeltjies ontbreek nie. Klere, stewels en selfs snoeperye kon gekommandeer word en die eienaars kon in 'n oomblik hulle hele voorraad "uitverkoop" en dan die eis vir kompensasie "vir goedere deur die Boere geroof" aan die Britse owerheid stuur. Een ou winkelier het egter voorsorg getref dat die Boere nie sy voorraad in die hande kan kry nie. Sy klein smouswinkeltjie in 'n buitekamertjie sou miskien nie opgemerk word as hy sorgvuldig alles buite verwyder en deur en venster sluit nie. Hy het egter nie verwag dat sy voorkoms die aanwesigheid van die winkel sou verraai nie. Een van die burgers het hom gaan haal. Hier kom hy met handgebaar, krom neus, yl, swart baardjie, kort beentjies in 'n pap broek en plat voete aangestap. "Wot! Iek het gadienk daar is nog biesnies en het gasloeit die wienkel. Ja, iek sal oepmaak en oens maak net die lys."
Hy beduie nog van die "lys" toe van die burgers die deur oopstamp en die winkel binnegaan. Hy word onrustig en babbel een strook deur van "maak net die lys" en vertel in dieselfde asem dat hy al die Boere se vriend in die buurt is. Hy help almal en wil ook die Boere help.
"Maar, Ou Jakob, jy lieg mos, ons hoor jy gooi bont stokke in die water waar die Boer se vee suip," terg een van die platjies.
"Bont stokke?" vra hy verbaas. "Iek het net biesemstokke in die wienkel."
"O, dan is hulle in die water, jou ou karnallie. Kom ons skiet die vabond dood!"
Die ou word asvaal, bewe, soebat en wil huil.
"Ja, hy moet dood!" beaam een van die ander burgers.
Ou Jakob sak inmekaar, dop die binnekant van sy hand na buite, maar iets val hom skielik by: "Jullie hoef nie die lys te maak nie, jullie kan maar vat."
Hulle lag. Ou Jakob loer met 'n jakkalsogie onder die hand deur, kom orent en se ewe verleë: "Iek het gaskriek."
Meteens is sy besigheidsin weer vaardig en hy vertel van goed wat hy elders weggesteek het en voeg daarby: "Siet maar net op die lys. Jakob wiel graag help."
Vervolg...