Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Here gee ons krag na kruis. Moenie jou kruis sleep sodat almal jou kan bejammer nie. Moenie ‘n smartvraat wees nie! Aan die manier waarop ons hierdie kruis dra, kan mense sien of Jesus in jou leef of nie. As ons die kruis met geloof en volharding dra, sal dit ons aan die einde van ons lewe na ‘n ewige heerlikheid deurdra.
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (10)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Tussen water en vuur
G.D. Kotze
Swaar reëns het in die Vrystaat geval toe genl. De Wet ’n rapport van een van sy verkenners ontvang dat ’n groot Engelse mag in die rigting van die Sandrivierbrug opruk en heel moontlik die rivier sal oorsteek. Daar was wel ’n drif en ’n skuit ’n paar myl bokant die brug, maar mens kon net met groot gevaar daar deurtrek, en dit was onwaarskynlik dat die Tommies dit sou waag.
Dit het die Boeregeneraals nou ’n gulde geleentheid gebied om die Engelse in ’n hinderlaag te lei en hulle met ’n sekere mate van sukses teen die oormag te verdedig.
’n Groot Boeremag onder genl. De Wet en kommandante Froneman en Du Plooy het dus by die Sandrivier saamgetrek. Omdat die generaal niks aan die toeval wou oorlaat nie, het hy kmdt. Du Plooy beveel om saam met dertien burgers, my inkluis, die drif en skuit wat aan die oorkant van die rivier in vyandelike gebied gelê het, te gaan bewaak en hom dan dadelik te laat weet as daar gevaar van daardie kant dreig.
Die rivier was vinnig aan die afloop, en as die vyand ’n afdeling troepe by die drif sou deurstuur, kon hulle ons van die flanke af onder vuur kry.Net kort duskant die drif loop ’n braksloot in die rivier, en omdat die sloot en rivier begroei was met bome en struike het ons gedink ons perde sou in die sloot veiliger wees as op die wal. Hulle sou ook byderhand wees as ons skielik moes retireer. Gevolglik het ons hulle in ’n kring getrek en aan een man toevertrou.
Ons het ongeveer nege-uur daar aangekom. Die aanhoudende gevuur van ons en die vyand se artillerie was genoegsame bewys dat daar kwaai geveg word. Met tussenposes het ons onrustig begin word, want die Engelse mag was oorweldigend en ons het gevoel dat ons generaal langsamerhand moes retireer. Dit het ook werklik gebeur, maar weens ’n misverstand tussen die Boereoffisiere het hulle versuim om ons in kennis te stel om ons posisie te ontruim.
Omstreeks twaalfuur het kmdt. Du Plooy my beveel om te gaan verken, want die kanonvuur het heeltemal opgehou.
Die brug was nie sigbaar van die plek waar ons stelling ingeneem het nie, dus moes ek ’n paar honderd tree daarvandaan ’n koppie uitklim om die vegterrein te kan sien.
My verbasing was groot toe ek op die wal van die rivier uitkom en gewaar dat die Engelse, wat soos miere wemel, honderd tree of wat van die rivierwal af afsaal.
Ek het dadelik teruggegaan en ons mense van die gevaarlike situasie gesê. Ons was aan albei kante afgesny. Aan die een kant was die vol rivier, aan die ander kant die vyand en ’n braksloot waarvan die walle so hoog was dat ons onmoontlik daar kon uitkom.
Sommige van die manskappe wou oorgee, maar ek het voet by stuk gehou en hulle probeer oortuig dat ons ’n skrale kans op ontvlugting het as ons net wag tot die Engelse almal afgesaal het. Omdat ek so vasbeslote was om weg te kom, het die ander ook besluit om dit te waag deur die vyand te verras.
Ons het ons perde gereed gehou. Elkeen moes in ’n ander rigting jaag, sodat hulle nie die meksim of kanon op ons kon afvuur nie, wat baie doeltreffend sou gewees het as ons op ’n klomp gejaag het.
Ek het wag gehou, en die teken gegee toe sommige van die Kakies gaan water skep in die rivier - wat dus ons teenwoordigheid in elk geval sou verraai het.
Ons het ons perde die teuels en spore gegee, en soos ons verwag het, was die Engelse so verbaas dat hulle ons staan en aangaap het; net so hier en daar het party die teenwoordigheid van gees gehad en wapens gegryp. Ons perde het oor die saals van die vyand gespring wat hulle in rye gepak het, die een teen die ander.
Eers toe ons sowat honderd tree weg was, het sommige van die Tommies opgesaal, maar die meeste het nou op ons begin vuur. Die koeëls het gereën en oral om en voor ons het die stowwe opgeslaan soos hulle geskiet het. Ons perde, wat aan hierdie soort speletjie gewoond was, het hul kragte ingespan, maar dit het gelyk asof hulle vasgemaak is. Dit het na ’n ewigheid gelyk voordat ons uit die ergste gevaar uit was.
’n Ander gevaar het nou gedreig. ’n Paar lansiers wat opgesaal het en wie se perde vet en fris was, was nou in volle vaart agter ons aan en het ons vinnig begin inhaal. Ons perde was maer en swak en kon nie so ’n dodelike pas oor ’n lang afstand volhou nie.
Kmdt. Du Plooy, ’n ander burger en ek het nou langs mekaar gejaag, en aangesien my perd die swakste van die drie was, het ek begin agterraak. Die voorste lansier het op ’n groot swart perd gery en dit het gelyk asof hy oor die aarde heen vlieg en my perd stilstaan. Ek het begin voel soos ’n rot in ’n vanghok: magteloos en weerloos. Toe ek weer omkyk, was hy twintig, dertig tree agter my. Met ’n rooi en boosaardige gesig, asof van die duiwel besete, het hy uitgebulder: “Hands up or die!” ’n Sabel wat hy reeds uit sy skede getrek en wat geglinster het in die son, het hy bokant sy kop gehou. Die dood was op my hakke en ek het gedink dis my laaste dag; die lansiers was bekend as wrede kêrels.
’n Inspirasie ... en my magteloosheid het verdwyn soos mis voor die son. My besluit was geneem: ek sou sterf as dit daarop aankom, maar ek gaan myself verdedig. Die volgende oomblik het ek my geweer in sy sak gesteek en my rewolwer uitgeruk.
Die lansier het reeds sy sabel gelig en homself ook in sy stiebeuels gelig, klaar om te kap. Maar op daardie selfde oomblik het ek my perd dwars gedraai en hom vlak voor sy bors geskiet. Hy het agter op my perd geval, so naby was hy aan my. Sy maat wat nie te ver agter hom was nie, het skielik sy perd ingehou. My pistool was aangelê en ook hy moes die tyd met die ewigheid verwissel.
Ek het dadelik op die swart perd geklim en ons het gou oor ’n rant verdwyn.
Die veertien man wat Sandrivier se drif moes bewaak, het almal ontsnap. Die tweede dag daarna was ons weer op kommando. Die swart perd het, soos te verstaan was, myne geword. Ek het hom nog lank gery, en hy het my uit menige gevaar gedra totdat ’n vyandelike koeël hom ook neergevel het.
Die Huisgenoot, 19 Februarie 1937.