Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die hele lewe bestaan uit nederlae, oorwinning deur opstaan, weer val en weer probeer. Oorwinning lê dus nie daarin dat jy nooit mag struikel nie, maar wel daarin dat jy sal opstaan elke keer as jy geval het.
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (11)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
In erdvarkgate voor 'n Engelse leer
J. G. de Jager
Dit was ongeveer 22 April 1902, iets meer as ’n maand voor die vredesluiting, dat die Engelse hul laaste “kraal” gemaak het waarin ons kommando van Bethlehem vasgekeer was.
Die Engelse het blokhuise gebou van Kroonstad oor Bethlehem na Harrismith tot aan die Drakensberge op die grens van Natal; dit was dan een “muur” van die “kraal”. Die ander “muur” was van Heilbron oor Frankfort en Vrede in die rigting van Bothaspas.
Die blokhuise was van sink gemaak in die vorm van ’n rondawel met skietgate in die mure en van binne met sandsakke opgevul om veilig te wees teen koeëls wat dalk deur die sink dring. Die blokhuise was meestal sowat duisend tree van mekaar opgerig, en tussen die blokhuise is doringdraadheinings gespan met baie lee blikke daaraan gehang, sodat die geringste aanraking met die draad ’n groot geraas veroorsaak het.
Dit het die soldate in die blokhuise gewaarsku dat die vyand aanwesig is. Ondanks hierdie voorsorgmaatreëls het die Boerekommando’s dikwels in die nag deur die blokhuislyne gebreek. Daar is verskeie sulke lyne in die Vrystaat en Transvaal gebou, wat die Engelse natuurlik baie geld gekos het.Nadat die “krale” voltooi was, het die Engelse met van omtrent dertig- tot vyftigduisend troepe ’n soort dryfjag op die Boere begin. Hulle het gewoonlik so dig by mekaar gemarsjeer dat daar byna geen haas kon vrykom nie. So het hulle dan alles voor hulle uitgedryf tot aan die ander kant van die kraal. Hulle het alles gevat wat tot nut van die Boere kon wees, maar die groot doel was natuurlik om die vegtende burgers te vang.
So het dit dan gebeur dat die Engelse weer besig was om kraal skoon te maak tussen die blokhuislyne Kroonstad, Harrismith, Heilbron, Vrede en Bothaspas. Die Engelse mag van omtrent vyftigduisend soldate het omstreeks 18 April van die spoorlyn tussen Kroonstad en Heilbron ingetrek en ’n soliede muur gevorm om in ’n oostelike rigting tussen die blokhuislyne alles voor hulle uit te dryf of te vang. Die Bethlehemse kommando onder assistentkommandant Bester was op daardie oomblik op die plaas Bolivia naby Reitz.
Die Engelse het hul linie daardie dag getrek van Bethlehem af al langs die Liebenbergsvleirivier tot aan die blokhuislyn by Frankfort. Dit was vir ons duidelik dat die Engelse daardie nag langs die Liebenbergsvlei sou kampeer. Omdat ek bekend was as ’n betroubare spioen, het kmdt. Bester my beveel om vir my ’n maat uit te soek en dan die Engelse linie te gaan bespied tot byna middernag en ’n moontlike opening in die vyand se geledere te vind. Daar sou ons dan nog dieselfde nag deurbreek sodat ons weer agter hulle kan kom. Gewoonlik het die Engelse nie teruggedraai as hulle besig was om kraal skoon te maak voordat hulle tot op die end daarvan was nie. Ek moes nie later as middernag nie aan kmdt. Bester kom rapporteer. Ek het onmiddellik klaargemaak en ’n getroue oorlogsmaat, J.B., gevra om saam te gaan.
Ons het eers ’n gebraaide skaapribbetjie en ’n paar vetkoeke weggeslaan en nog vir laas vir die kommandant gaan vra waar ons tussen elf en twaalf die nag aan hom moes rapporteer. Die kommandant het ons verseker dat hy op dieselfde plek sou bly tot ons terug is, “maar nie later as twaalfuur vannag nie”.
Om drie-uur die middag was ons op die hoogste punt van waar ons die bewegings van die vyand met verkykers goed kon dophou. Met skemer het ons ’n sekere voetdrif op die plaas Annieshome van naby besigtig en vasgestel dat die Engelse wagte dit verlaat het en dat ons maklik met ’n perdekommando daar sou kon deurgaan, omdat dit ’n taamlik breë klipplaatdrif was.
Om seker te maak dat die vyand nie later weer sou opdaag om die drif te bewaak nie, het ons tot tienuur die aand daar gebly. Daarna is ons haastig weg om aan kmdt. Bester te gaan rapporteer. Binne ’n uur het ons die afstand afgelê en die plek bereik waar ons die kommando moes kry om hulle terug na die Engelse linies te lei. Maar toe ons op Bolivia kom, was daar tot ons ontsteltenis nie ’n teken van die kommando nie. Hulle het selfs nie eens iemand agtergelaat om ons te sê waar ons die kommando kon vind nie. Ons het gou van swartes daar naby verneem dat die kommando in ’n oostelike rigting getrek het. Nadat ons ’n halfuur lank in die rigting gejaag het, het ons by ’n vrou wat nog op haar plaas was, verneem dat die kommando na die Wilgerivier vertrek het om deur die rivier te kom voordat dit te vol is.
Ons was baie teleurgesteld. Ons perde was al van drie-uur die middag af onder die saal sonder om te vreet. Die enigste uitweg was om die kommando te volg na die Wilgerivier, wat nog omtrent vier uur te perd ver was. Omstreeks drie-uur die more het ons by die rivier gekom, wat reeds afgekom het. My maat en ek het besluit om dadelik met die uitgeputte perde na Liebenbergsvlei om te draai en daar deur die Engelse linie te probeer kom. Ongelukkig het ons nie rekening gehou met die tyd nie. Dit was onmoontlik om die ent voor sonop af te lê met uitgeputte perde wat reeds twaalf uur onder die saal was. Die inspanning was vir hulle ook te veel. Hulle het naderhand lam geword en toe ons weer op Bolivia aankom, sowat vyf myl van die Engelse linie af, het die son net opgekom.
Ons was nou mooi vasgekeer in die “ramkraal”, soos ons die kraal genoem het. Daar was vir ons niks anders te doen nie as om ons uitgeputte perde af te saal en ’n bietjie te laat rus solank die Engelse kommando nog nie beweeg het nie. Ons was sonder kos, want al ons besittings was op ons pakperde, wat saam met die kommando deur die Wilgerivier is.
Omstreeks agtuur het die Engelse gereed maak om te vertrek, en ons het ons perde opgesaal en padgegee. Hoewel ons perde so afgemat was, het ons altyd die hoogste bulte bestyg om te sien waar die vyand die swakste was. Ongelukkig moes ons vasstel dat hul geledere goed aaneengeskakel was, en dit was dus net ’n kwessie van tyd voor ons in hulle hande sou kom.
So moes ons maar die hele dag in die grootste spanning, uitgehonger en met tam perde, verder ry. Teen eenuur die middag van 21 April het ons oortuig geraak dat die vyand weens die nat grond nie te vinnig kon voorttrek met hul konvooi nie en dat hulle dus nie nog dieselfde aand by die Wilgerivier kon kom nie. Ons sou dus nog tot die volgende dag kon vry bly. Ons besluit toe om ’n goeie afstand te ry en af te saal sodat die perde kon rus. Miskien sou ons die volgende dag ’n swak plek in die geledere van die vyand kry.
Voordat ons opsaal, ontmoet ons ene kmdt. Du Plessis, wat om die een of ander rede nie by die kommando was nie en nou ook in die kraal was. Nadat ons drie afgesaal het, het ons nuwe maat na ons perde gekyk en wag gehou sodat J.B. en ek ’n uurtjie kon slaap, wat ons toe sommer fris laat voel het.
Toe dit donker genoeg was, maar ongelukkig ’n maanligaand, het ons te perd die vyand so na as moontlik genader. Ons het toe die perde aan mekaar gebind en te voet nader gegaan. Toe ons die wagte kon sien, het ons gekruip. Gelukkig was die gras daar lank. Nader en nader het ons gekruip tot omtrent vyftig tree van hul posisies. Ons kon die wagte duidelik sien en hoor wanneer hulle mekaar die gerusstellende “All’s well!” toeroep. Nadat ons stilletjies raad gehou het, het ons besluit om soveel as moontlik van die wagte dood te skiet en dan deur die linie te hardloop en te verdwyn. Maar toe word daar sowat ’n myl van die plek af ’n paar sarsies met kleingewere afgevuur sodat die hele vyandelike linie in beweging kom. Nadat ons ’n halfuur gewag het, het ons besef dat ons maar in ons eie spore moes omdraai as ons nie doodgeskiet wil word nie. Teen eenuur die nag was ons terug by die perde. Omdat ek verskriklik honger was - ek was toe al 24 uur sonder kos - besluit ek om na ’n plaas ’n myl daarvandaan en anderhalf myl van die vyand te gaan om te sien of ek daar iets te ete kon kry.
Toe ek daar aankom, was die ou tante en haar dogter baie verskrik en verwonderd om te sien dat daar nog burgers so naby die Engelse linie en voor die vol rivier was. Die liewe tante het ons alles gegee wat sy nog in haar huis gehad het om te eet, naamlik gebakte kwepers. Sy wou hê ons moes ’n rukkie wag sodat sy kon koffie maak, maar ons wou haar nie die moeite aandoen in die middel van die nag nie. So het ons dan vertrek met ons bladsakke gevul met gebakte kwepers.
Ons het weer die vyand se posisies genader en nuwe planne gemaak. Ons het besluit om ons saals, tooms en gewere in ’n kuil water te gooi wat ons op ’n afstand van vyf honderd tree van die vyandelike linie gemerk het en die perde daar gelos.
Toe dit alles gedoen is, kruip ons versigtig nader en soek so naby as moontlik aan die vyandelike linie ou erdvarkgate, wat destyds volop was, om in te kruip. Dit het ons geluk om twee geskikte erdvarkgate te kry wat taamlik bedek was onder die lang gras.
Ons moes egter ’n derde ook hê en ek het baie rondgesoek. Teen dagbreek het dit my geluk om ’n nuwe erdvarkgat te ontdek. Maar dit was op ’n kaal plek en omtrent net vyf en twintig tree van die pad af waarlangs die grootste verkeer van die vyand sou gaan. Ek het byna radeloos daar gestaan, maar kry toe die ingewing om in ’n ou ploegland daar naby ’n klomp gras te gaan pluk en dit voor my in die opening te hou om dit na ’n verlate gat te laat lyk.
Hierna het ons afgespreek dat elkeen in die lang gras voor sy skuilplek sou gaan lê en waghou en wanneer dit lig genoeg word, agterstevoor in die erdvarkgat sou kruip. Omtrent ’n halfuur daarna was dit ook al so lig dat ek die vyand met my blote oog teen die lug afgeteken kon sien. Ek het dadelik koes-koes agteruit in die erdvarkgat verdwyn, maar darem af en toe so skelmpies geloer of die vyand nie al begin voortbeweeg nie.
Nagenoeg ’n uur na sonop het die Engelse in volle aantog aangekom, en tien minute na hul vertrek uit hul kamp kon ek hulle duidelik weerskante van ons sien verbygaan. Ek kon ook goed hoor wat hulle sê. Selfs ’n gesprek oor ons perde, wat nog daar in die buurt gewei het, kon ek duidelik hoor. ’n Rukkie later het die kanonne en daarna die proviandwaens begin verbykom.
Soos reeds gesê, was die gat waarin ek weggekruip het omtrent net vyf en twintig tree van die pad af waar die waens verbygery het. Aangesien die waens gewoonlik in twee of drie rye langs mekaar getrek het om die konvooi nie te lank uitgestrek te maak nie, het een ry waens maar sewe of agt voet van my wegkruipplek af verbygegaan. Ek was dus in groot gevaar dat een van die drywers of ’n voetganger my daar in die erdvarkgat ontdek of dat ’n wa wat nie in die spore van die ander hou nie, my doodtrap. Dit het amper met een van my makkers gebeur toe ’n kanon so skrams by sy erdvarkgat verbygery het.
Teen omtrent tienuur die more was die trek verby. Ek het so versigtig as moontlik uitgeloer en gewaar toe dat die agterhoede van die vyand reeds twee honderd tree by ons verby was. Nagenoeg vier uur het ons in die erdvarkgate weggekruip.
Ek het die vyand nog goed dopgehou totdat hulle nagenoeg duisend tree ver was en toe koes-koes na die kuil water gekruip waarin ek my bandelier, saal en toom gegooi het. Tot my verwondering sien ek dat die kuil byna leeg gesuip is deur die vyand se perde en dat my saal en buikgord nou bokant die water uitsteek. Ek was net van plan om te gaan kyk wat van my maats geword het, toe gewaar ek dat hulle gebukkend na die kuil toe aankom.
Ons het mekaar hartlik gelukgewens met ons ontkoming en met die feit dat ons weer die wapens kon opneem om ons plig teenoor ons volk te doen.
In die erdvarkgat waarin ek weggekruip het, was ek verplig om byna halflyf in die water te lê wat nog daarin was as gevolg van die stortreën wat ’n paar dae van te vore geval het. Daardeur het ek ’n kwaai verkoue opgedoen wat later tot inflammasie gelei het.
’n Paar dae later het ons kommando die nag van 26 April saam met genl. De Wet se kommando tussen die Witkoppe en Memel deur die vyand se linie gebreek, maar ’n groot aantal burgers het in die hande van die Engelse geval. Ook het hulle byna al ons perde van ons afgeneem. Die volgende dag het ons egter al weer elkeen ’n perd van die vyand buitgemaak en daarna blesbokke geskiet en die vleis uitgedeel onder die hongerige vroue en kinders wat nie deur die vyand gevang en weggestuur is nie. Dit was ook die laaste “kraal” wat die vyand in hierdie afdeling gemaak het.
Die Huisgenoot, 5 Februarie 1937.