Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om dood te gaan, is geen kuns nie. Almal, selfs die slegstes, kry dit reg. Om reg voorbereid te wees, is ’n ander saak! Die Bybel leer ons nie net om reg te leef nie, maar ook om reg dood te gaan. Om te sterf is vir gelowiges ʼn ongelooflike avontuur maar vir ongelowiges ʼn ongekende verskrikking!
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (12)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Ceylon toe? Nee, nooit!
W.H. Boshoff
Teen die einde van die oorlog het klein klompies burgers in Transvaal en die Vrystaat rondgeswerf om waar moontlik die groot Engelse kolonnes lastig te val. In Maart 1902 het so ’n groepie oorblyfsels van die kommando’s van Ermelo, Bethal, Carolina en Middelburg onder kmdt. Davel een aand op die plaas Remhoogte, distrik Ermelo, gaan oornag.
Dae aaneen was ons al ongerus, want ons het verneem dat genl. Bruce Hamilton uit Ermelo gaan optrek om vir goed ’n einde te maak aan die lastige Boerekommando’tjies. Ons groot vrees was nie om op die slagveld te sterf nie, maar om gevange geneem en na Ceylon gestuur te word, Ceylon of enige van die Indiese kampe. Hoekom die vrees vir Ceylon so groot was, weet ek nie, maar van ons klompie was ek seker die bangste om van my land weggestuur te word. Liewer die dood as banneling in ’n vreemde land. Die vrees was byna ’n obsessie.
Die najaarsreëns het al dae lank geval. En daardie tyd het dit nog gereën hier in Transvaal! Die aarde was deurweek en die spruite en riviere tot oorlopens toe vol. ’n Goeie perd wat nie bang was vir water nie, was goud werd. Gelukkig dat ons genoeg Tommies kon gevange neem om hul jasse, komberse en ammunisie buit te maak, anders sou ons maar swaar gekry het met die reëns en koue nagte van die naderende winter.
Ons wou die nag op Remhoogte slaap, maar ons spioene bring ons vroeg die oggend al die tyding dat genl. Hamilton ons met ’n kolonne van I 800 man agtervolg. Ons het goed geweet dat hy gelei word deur ‘n paar joiners. Gou gewaar ons die voorhoede van die vyand. Kort daarna was daar ’n kwaai geveg. Ons was goed verskuil en ver van mekaar versprei sodat die vyand nie ons getalle kon skat nie. Tot omstreeks twee-uur die middag het ons hulle goed op ’n afstand gehou, en soos dit op baie ander plekke gegaan het waar ’n paar dapper Boere ’n hele kommando van die vyand teruggedryf het, geluk dit ons ook om hulle te sien omdraai en op die vlugslaan - of so het dit ten minste vir ons gelyk. Ons was nog meer in ons skik toe ons sien dat hulle heeltemal draai en koers vat terug na Ermelo.
Die hele dag het dit eenstryk deur gereën. Oral blink die water; die spruite het bruisende riviertjies geword. Stadig klaar die weer op, en weldra skyn die son. Hoe welkom is sy strale tog nie op ons nat klere nie! Die heerlike warmte is van korte duur, want die son sak vinnig. Nog ’n rukkie vertoef ons op die hoogtetjie tussen die klippe, en nadat elkeen sy stuk droë pap ingewurg het, vertrek ons in ’n rigting teenoorgesteld aan dié waarin die vyand ’n paar uur vantevore “gevlug” het.
Afgemat is ons vyftigtal burgers na Remhoogte. Ek het koud, nat en vol pyn op ’n stampende karretjie gesit wat deur vier muile getrek is. ’n Perd het my ’n ruk vantevore op die been geskop en ek het baie pyn verduur as ek moes perdry. Langs die muile het my drie swart perde gedraf.
Vroeg die aand het ons op Remhoogte aangekom, vuurgemaak, koffiewater gekook - ja, water vir swart, bitter mieliekoffie en ’n potjie pap gemaak vir die aandete en die volgende dag. Nadat die perde en muile gespan was, het daar stilte in die kampie gekom. Almal het gaan slaap en geen brandwag is uitgesit nie.
Natuurlik was dit nalatig. Maar ons het mos gedink dat ons die vyand teruggedryf het; hulle het wel verraderlike joiners by hulle gehad as gidse, maar ons het gereken hulle was net so moeg soos ons.
Intussen het die vyand omgespring van ’n plekkie waar hulle die middag gekampeer het. As gidse het hulle oorlopers gekies wat die wêreld goed geken het. In die helder maanlig kon hulle vinnig die vars spore op die nat grond volg.
Gelukkig het een van ons die gedreun van die perdepote gehoor en die slapende manne wakker geskud. Gou was dit net ’n geroep en gewerskaf om alles vir ’n haastige vlug gereed te kry. Daar galop party al weg; hier sukkel ’n ander nog met sy perd se nat spanrieme, en hier haas ek my om gou, baie gou, met ’n paar behendige vatte die tuie oor die vier muile te kry en my drie perde daaraan vas te maak. Vinnig nader die aanstormende vyand, maar ek kom darem betyds weg.
Dit skiet, raas en skreeu, maar ek voel nou veiliger, want die vyand bly agter op hulle uitgeputte diere. Helaas! Daar trek my muile skeef en swaai naderhand reg terug. Een van my perde het voor om die muile gespring, en voordat ek die spul uit die war kon bring, is die vyand op my.
“Hands up!” bulder ’n Tommie. Vinnig word ek ontwapen en sewe wagte om my geplaas. Die res van die vyand agtervolg nog die ander Boere. Dit geluk hulle om party te vang, maar die meeste spring vry.
Vroeg die oggend begin dit weer reën. Fyn sif die druppeltjies op ons neer. My muile staan nog ingespan, maar die drie perde is nou agter die kar aan hul halterrieme vasgemaak. Moedeloos staan ek die spul en aanskou. Sou hulle my nou ook Ceylon toe stuur, of miskien na St. Helena?
“Wat, dink jy, gaan hulle met ons maak?” vra ek aan een van die wagte. Blykbaar het hy my nie verstaan nie, want hy antwoord nie - hy verroer hom selfs nie eens nie. Versigtig loer ek in sy rigting totdat ek hom vol in die gesig kyk. Kan ’n mens so moeg wees dat jy kan staan en slaap? Nou en dan gaan die oë so half oop en staar leweloos voor hom uit. Ek neem so ongemerk ook die ander in oënskou. Ja, die laaste een is so te sê vas aan die slaap.
Nou is ek nie meer moedeloos nie, en my gedagtes werk vinnig om van die gulde geleentheid gebruik te maak. Nou nie meer Ceylon toe nie! Kom ek nie weg nie, wel, dan maar liewer dood! Dan het ek tog darem gebruik gemaak van die een kans uit honderd, en niemand sou my dit verwyt nie.
Ongemerk kom my hand uit my sak met my knipmes. En voordat jy kan sê “Knipmes!” was die rieme waarmee my perde vasgemaak was, afgesny. Geen tyd om nou aan ’n seer been te dink, ’n saal te soek of om net eers tou-in-die-bek te sit nie. Met een spring is ek op Prins se rug - hy was een van my drie perde - en nog voordat die Tommie wis wat gebeur, lê hy op sy rug in die modder, en daar trek ek met een van die twee ander perde aan die riem, terwyl die derde my volg. Nog geen tien tree was ek weg nie of daar knal die eerste skoot - maar dis mis. Nou gaan dit al hoe vinniger reguit af op ’n spruit wat ongeveer twee myl verder lê. Daar lê my enigste redding, want ek het geweet dat die spruitjie kant en wal loop en dat ’n perd hom moet ken om oor te kom. En my perd ken die ding!
Die hele kommando probeer van links en regs om my voor te keer, maar die swart perd lê plat soos hy haal om uit te kom. Die vyand kon op die oomblik nie skiet nie, uit vrees dat hulle hul maats aan die oorkant tref. Maar toe die agtervolgers begin uitdun en daar nog net een op ’n wit-blou perd my agtervolg, moes ek net lelik plat lê om nie getref te word nie. Die oggend het die vyand gelukkig, soos by so baie ander geleenthede, die visier seker op agt honderd tree gestel gehad en op twee honderd gemik, of andersom.
Wat my dronkslaan, is dat my agtervolger, ’n joiner, my nie kon tref nie. In elk geval, dis naderhand net ’n wedloop tussen my en hom, en die spruit nader vinnig. Die Engelse kommando het nou na links en regs uitgesprei en my teen die vol spruit probeer vaskeer. Ek, weer, pyl op die plek af waar ek weet die spruit op sy nouste is, want ek was goed bekend met daardie streek. Voordat ek nog wis wat gebeur, spring Prins met my byna skoon oor. Net sy agterpote het die water geraak. En daar jaag ek weer net so vinnig as wat die getroue dier kon loop.
’n Rukkie hierna kom my agtervolger ook by die spruit. So in die jaag sien ek hoe sy perd botstil gaan staan op die spruit se wal. Hy wou dus nie die sprong waag nie. Nou eers begin hy skiet - net een skoot tref my, maar gelukkig net deur ’n vou in die baadjie, net onderkant my hals soos ek plat op die perd se nek lê. Toe die kleingeweervuur naderhand ophou, hoor ek dat hulle met die bommeksims op my begin lostrek. Om nie getref te word nie, draai ek nou links en dan weer regs. Soms hou ek stil, en dan val die bom voor my. So het dit aangehou totdat ek oor die gesigseinder verdwyn het, nog altyd gevolg deur my twee ander perde.
Laat die aand kom ek toevallig by my swaer Willie de Jager. Hy is die nag ook gevang, en het die oggend ook daarin geslaag om te ontsnap. Die nag het ek en hy onder ’n dun tafelkleedjie geslaap - al wat ons op die verlate vlaktes kon optel. Daardie selfde nag was ons weer in groot gevaar om gevange geneem te word, want ons het in die riete op die rand van die pannetjie geslaap, terwyl die Engelse rand-om die pan getrek het.
’n Kort rukkie ná dié gebeurtenis is die vrede gesluuit, en ons moes gaan wapens neerlê op Remhoogte, en by dieselfde generaal Bruce Hamilton. Daar herken hy die drie swart perde en sê aan my: “Come on, my man, I’ll give you £300 for your three horses.” Ek het hom in gebroke Engels laat verstaan dat ek nooit my getroue diere, wat soos ware vriende vir my geword het, aan hom sou verkoop nie. Prins is in 1918 op my plaas Kromdraai van ouderdom dood nadat hy jare lank genadebrood geëet het. Die ander twee het ek afgestaan aan ’n goeie vriend wat hulle graag wou hê en wat hulle baie goed opgepas het.
Die Huisgenoot, 22 Januarie 1937.