Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Deur allerhande luiheid versak die balkwerk, en deur slapheid van die hande lek die huis – so waarsku Prediker 10: 18. Daarom lek ons land se balkwerk nou...
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (13)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Saam met die vyand in gelid
Adriaan van der Walt - opgeteken deur Petrus Venter
Ek was ’n heliografis van die Transvaalse burgermag. Toe die guerrillastryd begin, is ek by die korps van die vermaarde Danie Theron ingedeel.
Op ’n keer het ons korps, wat destyds uit ongeveer tagtig burgers bestaan het, met ’n groot Engelse mag naby Losberg in die Gatsrand slaags geraak. Na ’n hewige geveg was ons verplig om die stryd teen die oormag gewonne te gee. Ons het gevlug en die aand op ’n plaas aangekom waar ons ook oornag het. Dit het aanhoudend gereën.
Die anderdagmôre teen dagbreek het kmdt. Theron vir Basie Enslin met omtrent veertig man uitgestuur om te gaan verken. Teen tienuur het ons nog geen berig van hulle ontvang nie en Danie het die bevel gegee dat ons moes opsaal en gaan kyk wat daar skeel.
Ek het omtrent vyftig tree voor gery om die ander burgers te kan waarsku as daar miskien gevaar skuil. Net toe ek die eerste rant uitkom, sien ek ’n paar perde ’n ent van my af wei. Dit het my voorgekom of dit plaasperde was, maar een was ’n pragtige dier en hy het nog ’n toom aangehad. Ek het sommer dadelik sin in hom gekry en wou hom vang. Maar toe ek nader kom, lig hy sy kop op en staan my ’n rukkie uit die hoogte en betrag. Ek het op ’n stappie by hom verby gery met die bedoeling om hom van die ander perde af te keer, maar toe gee hy ’n snork en draf weg. Ek het vinniger gery, maar die karnallie het op ’n stywe galop die wêreld begin skeur. Ons het gejaag dat die modder en water agter ons spat. Toe ons ’n ent teen die oorkantste rantjie uit was, moes ek noodgedwonge my perd inhou. Dit was klipperig. Hier het die perd my ontglip. Ek het gedink dat ek hom op die rantjie weer sou kry, en dus op ’n kort gangetjie verder gery.
Toe ek weer op die gelykte kom, het ek my perd op ’n galop getrok. Maar ek het hom net so gou weer ingehou. Vlak voor my het ’n afdeling Engelse ruiters verbygetrek, netjies in gelid, omtrent drie of vier tree van mekaar af!
Dit het nog eenstryk gereën en die ruiters het soos ’n klomp nat hoenders op hul perde gesit en voor hulle uit getuur. Hulle het afgemat gelyk, maar dat hulle my nie dadelik gesien het nie, is tot vandag toe vir my ’n wonder. Ek was geen tien tree van die naaste een af nie.
Hulle sê ’n Boer maak altyd ’n plan, maar daardie oggend het ek byna sonder plan gesit. Die eerste gedagte was om weg te jaag. Maar ek het my bedink, want die Engelse sou my herken en agtervolg het, ook met koeëls. Ek het meteens ’n ingewing gekry. Ek het my doodluiters gehou, my perd half regs gedraai en in gelid saam met hulle gery!
Dat die vyand my nie dadelik herken het nie, was seker daaraan te danke dat ek ’n kakiejas aangehad het. Maar ek het tog my burgerhoed opgehad, onmiskenbaar aan die linkerkant opgeslaan met drie vere (wit, rooi en swart - die kenteken van Danie Theron se korps) daaraan vasgesteek. Miskien het die Engelse ook in die koue reën sit en slaap. Maar daar ry ons toe ewe bedaard voort: ’n Engelse afdeling met ’n Boerespioen aan hul sy.
Dit het vir my gelyk na ’n oneindige tyd dat ons so saamgery het en ek het my afgevra waar en hoe die rit sou eindig. Padgeekans kon ek nie sien nie, en dit was vir my maar al of dit my doderit is. Die rooies ry doodstil voort; die perde stap klotsend deur die nat gras; af en toe struikel een en dan word die stilte verbreek deur ’n harde knoop van die ruiter wat amper van sy perd afgetuimel het.
Ek was in die duisendste nood: Sê nou die weer klaar op en hulle gewaar dat ek ’n Boer is? Die noodgedagtes het nog deur my kop geflits toe ons op die kant van die rantjie uitkom waarheen die ruiters koers gehou het.
En nou het die dinge weer net so vinnig gebeur as toe ek my in die Engelse vasgery het, want meteens het ek ’n hele afdeling Boere net vlak voor ons tussen die klippe sien opstaan. Ek het Danie Theron herken. Hy het sommer naby my opgestaan. My perd het eintlik agteroor geruk soos hy in sy spore vassteek.
Ook die Engelse het hul perde ingehou en toe verdwaas na die Boere voor hulle sit en staar.
Ek het vinnig van my perd afgeklim en Danie het na my kant gekyk en gevra: “Waar het jy al die tyd gebly, Basie?”
Saam met die vyand in gelid.
Hy het ons aangesien vir Basie Enslin met sy veertigtal ruiters wat hy die oggend vroeg uitgestuur het.
“Nee, magtie, Kommandant, dis Engelse!” roep ek saggies met ’n benoude stem uit.
Byna gelyktydig roep een van die Engelse offisiere Danie toe: “And who the devil are you?”
“They are Boers!” skree ’n Engelsman nog voordat Theron kon antwoord.
“Well, you better surrender!” gebied die Engelse offisier.
Maar Theron verontagsaam die offisier se bevel en beveel: “Neem posisie, burgers, en skiet!”
Ek het nooit in al my oorlogsaksie so vinnig agter ’n klip weggeduik as daardie môre nie. Ek was ook nouliks agter die skuiling of die koeëls het oor my kop gezip-zip. Gelukkig het my perd eenkant toe gehardloop en ’n entjie van my af agter ’n groot klip gaan staan.
Dit was ’n vinnige en venynige geveg. Byna nie een van daardie stomme Engelse het met die lewe daarvan afgekom nie. Aan ons kant was daar geen verliese nie, wat wonderbaarlik was, want ons was vlak voor die vyand.
Ons snelle geweervuur het net bedaar toe brand die kanonne uit die verte op ons los, terwyl die hoofmag van die Engelse vinnig aanruk en reeds naby ons hul verskyning gemaak het. Ons moes op ons perde spring en die hasepad kies.
Ek was nie onwillig om aan die vlug deel te neem nie. Aan avontuur het ek in daardie enkele uur genoeg gehad!
Die Huisgenoot, 9 Oktober 1942.